Rigters 6:11-18

Rigters 6:11-18 CAB23

En daar het 'n engel van die HERE gekom en gaan sit onder 'n terpentynboom wat in Ofra was, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort; en sy seun Gídeon het koring by die parskuip gedors om dit vir die Midianiete weg te steek. En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe sê Gideon vir hom: Ag, my Meester, as die HERE met ons is, waarom het dit alles dan oor ons gekom? en waar is al sy wondertekens waarvan ons vaders ons vertel het deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? maar nou het die HERE ons verlaat en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. En die HERE het hom aangekyk en gesê: Gaan in hierdie krag van jou, en jy sal Israel verlos uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie? En hy sê vir hom: Ag, my HERE, waarmee sal ek Israel verlos? kyk, my familie is arm in Manasse, en ek is die geringste in die huis van my vader. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal sekerlik met jou wees, en jy sal die Midianiete soos een man verslaan. En hy sê vir hom: As ek nou genade in u oë gevind het, gee my dan 'n teken dat U met my praat. Moenie hiervandaan weggaan nie, totdat ek na jou toe kom en my geskenk bring en dit voor jou neersit. En hy sê: Ek sal vertoef totdat jy terugkom.