RIGTERS 6:1-40

RIGTERS 6:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Israeliete het weer begin doen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hy het hulle sewe jaar lank aan die Midianiete onderwerp. Die Midianiete het die Israeliete so hard behandel dat hulle die berge in gevlug het. Daar het hulle vir hulle skuilplekke in grotte en ontoeganklike plekke teen die Midianiete gebou. Sodra hulle iets geplant het, het die Midianiete, Amalekiete en die ander mense uit die ooste op hulle toegesak en hulle aangeval. Hulle het daar kom kamp opslaan en alles wat in die grond was, vernietig, selfs so ver as tot by Gasa. Hulle het nie ’n ding agtergelaat waarvan Israel kon lewe nie, selfs nie eers ’n skaap of ’n bees of ’n donkie nie. Die hordes Midianiete het met hulle veetroppe gekom en soos ’n swerm sprinkane hulle tente oral opgeslaan. Hulle kamele kon nie eers getel word nie. Waar hulle ook al gekom het, het hulle die land kaalgestroop. As gevolg van die Midianiete was die Israeliete totaal teen die grond. Die Israeliete het toe by die HERE om hulp begin smeek. Toe die Israeliete vanweë die Midianiete so by die HERE begin soebat om hulle te help, het Hy ’n profeet na hulle gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Dit is wat die HERE, die God van Israel, vir julle sê: ‘Ek het julle uit Egipte laat trek. Ek het julle bevry van die slawerny in Egipte. Ek het julle gered uit die hand van Egipte en hulle wat julle onderdruk het. Ek het hulle voor julle uit verdryf en Ek het hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: Ek is die HERE julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie. Maar julle wou nie na My luister nie.’” Die Engel van die HERE het onder die eikeboom in Ofra kom sit. Dit het aan Joas van die Abiëserfamilie behoort. Sy seun Gideon was besig om onder op die vloer van ’n parskuip koring uit te slaan. Hy het daar vir die Midianiete weggekruip. Die Engel van die HERE het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: “Die HERE is by jou, dapper man!” “Meneer,” het Gideon vir hom gesê, “as die HERE wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al die wonderlike dinge wat Hy gedoen het waarvan ons voorouers ons vertel het? Hulle het vertel: ‘Die HERE het ons uit Egipte bevry.’ Maar nou het die HERE sy rug op ons gedraai. Hy het ons uitgelewer aan die mag van die Midianiete.” Die HERE het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Ek stuur jou.” Maar Gideon sê vir Hom: “Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid in my pa se familie.” “Ek is dan saam met jou!” het die HERE vir hom gesê. “Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.” Gideon het vir Hom gesê: “As ek U nog net een ding kan vra: Gee tog vir my ’n teken waardeur ek seker kan wees dat dit U is, HERE, wat met my praat! Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek na U teruggekom het om my offer hier voor U te kom neersit nie.” Die HERE sê toe: “Ek sal hier vir jou wag tot jy terug is.” Gideon is terug huis toe. Hy het ’n bokkie gaargemaak en uit sestien kilogram meel ’n ongesuurde brood gebak. Hy het die vleis in ’n mandjie gepak en die sous in ’n pot gegooi. Hy het daarmee teruggekom na die Engel onder die eikeboom en dit daar neergesit. God se Engel sê toe vir Gideon: “Vat die vleis en die brood en sit dit op hierdie rots neer. Gooi die sous daaroor uit.” Gideon het so gemaak. Die Engel van die HERE het toe met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood geraak. Vuur het uit die rots opgevlam en die vleis en die brood weggebrand. Die Engel van die HERE het toe verdwyn. Toe Gideon agterkom dat dit die Engel van die HERE was, het hy hardop uitgeroep: “Ag tog, oppermagtige HERE, ek het dan die Engel van die HERE in die oë gekyk!” “Dit is alles in orde,” het die HERE vir Gideon gesê. “Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!” Gideon het net daar ’n altaar vir die HERE gebou. Hy het dit genoem “Die HERE is Vrede”. Die altaar is nog al die tyd daar in Ofra van die Abiësriete. Daardie nag het die HERE vir Gideon gesê: “Gaan vat jou pa se tweede beste bul, die een wat sewe jaar oud is. Breek jou pa se altaar vir Baäl af. Kap die gewyde paal vir Asjera daar langsaan af. Kom bou dan ’n stewige altaar vir die HERE jou God hier by hierdie skans bo-op die heuwel. Offer die bul op die altaar as ’n brandoffer. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het.” Gideon het tien mans uit sy werkers gevat en gedoen wat die HERE vir hom gesê het. Hy het dit gedurende die nag gedoen omdat hy te bang was vir sy eie huisgesin en vir die stad se mense om dit gedurende die dag te doen. Toe die mense van die stad vroeg die volgende môre opstaan, sien hulle dat Baäl se altaar afgebreek is en die gewyde paal daar langsaan afgekap is. Die tweede bul was ’n brandoffer op die nuutgeboude altaar. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het oral gevra en na die persoon gesoek. Hulle het uitgevind dat dit Gideon, die seun van Joas, was wat dit gedoen het. “Laat jou seun uitkom,” het die stad se mense van Joas geëis. “Hy moet tereggestel word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die Asjerapaal daar langsaan afgekap.” Joas het vir die skare wat om hom saam gebondel het, geantwoord: “Moet julle nou Baäl se saak verdedig? Moet julle sy saak red? Die persoon wat dink hy moet vir Baäl instaan, moet sommer vanoggend nog tereggestel word. As Baäl ’n god is, kan hy mos vir sy eie saak veg. Dis tog sý altaar wat afgebreek is.” Van daardie dag af het hulle Gideon “Jerubbaäl” genoem. Dit beteken: “Laat Baäl self sy saak behartig.” Dit is Gideon wat Baäl se altaar afgebreek het. Kort daarna het al die magte van Midian, Amalek en die ander mense uit die ooste ’n alliansie teen Israel gevorm. Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en gaan kamp opslaan in die Jisreëlvlakte. Die Gees van die HERE het oor Gideon gekom. Hy het op die ramshoring die oproep vir oorlog geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg. Hy het boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur. Hy het hulle ook opgeroep om hom te volg. Hulle het almal by hom aangesluit. Gideon het vir God gesê: “As dit regtig so is soos U gesê het dat U die Israeliete deur my gaan bevry, wys dit tog vir my. Ek sal vannag ’n stuk wol op die dorsvloer los. As daar dou op die wol kom, maar die grond rondom bly droog, sal ek weet dat U my wil gebruik om die Israeliete te bevry.” Dit het so gebeur. Gideon het die volgende môre vroeg opgestaan. Hy het die wol uitgedruk en ’n hele bak vol water daaruit gewring. Toe sê hy vir God: “Moenie ongeduldig met my word nie. Kan ek nog net een keer vra. Laat die wol hierdie keer droog wees, terwyl die grond rondom vol dou is.” God het dit daardie nag net so laat gebeur. Die wol was droog, maar die grond rondom was vol dou.

RIGTERS 6:1-40 Bybel vir almal (ABA)

Die Israeliete het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Daarom het Hy die Midianiete gestuur om die Israeliete sewe jaar lank te verdruk. Die Midianiete het die Israeliete laat swaarkry. Die Israeliete het hulle goed vir die Amalekiete probeer wegsteek in grotte en in plekke in die berge waar mense nie maklik kon kom nie. Hulle het dit gedoen omdat die Midianiete en die Amalekiete en die Oosmense elke maal gekom het wanneer die Israeliete klaar hulle koring gesaai het. Hulle het dan hulle tente opgeslaan en hulle het die hele land verwoes, tot by die stad Gasa. Hulle het niks laat oorbly wat die Israeliete kon eet nie, ook nie skape of beeste of donkies nie. Die Midianiete en die ander vyande het hulle eie skape en bokke en beeste en tente saamgebring. Hulle was so baie soos sprinkane. 'n Mens kon hulle en hulle kamele nie tel nie. Hulle het gekom en hulle het die land verwoes. Die Israeliete het baie arm geword omdat die Midianiete en die ander vyande altyd hulle goed gevat het. Die Israeliete het gebid en gevra dat die Here hulle moet help. Toe hulle dit gedoen het, het die Here 'n profeet na hulle toe gestuur. Die profeet het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: Ek het julle uit Egipte gebring waar julle slawe was. Ek het julle gered van die Egiptenaars en van almal in hierdie land wat vir julle laat swaarkry het. Ek het hierdie mense weggejaag sodat julle plek kon kry om te woon, Ek het hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: Ek is julle God die Here. Julle woon in die Amoriete se land, maar julle moenie hulle gode dien nie. Julle was nie gehoorsaam aan My nie.” Die Engel van die Here het gekom en het gaan sit onder die groot boom by die stad Ofra. Die plek het behoort aan Joas, 'n man uit die familie Abiëser. Joas se seun Gideon was besig om koring uit te slaan binne-in 'n parskuip. Hy het dit daar gedoen sodat die Midianiete dit nie kon sien nie. Die Engel van die Here het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy is 'n man wat kan oorlog maak, en die Here is by jou.” Gideon het vir die Engel van die Here gesê: “Asseblief, Meneer, as die Here by ons is, sê vir my hoekom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al sy wonderwerke? Ons voorvaders het ons daarvan vertel. Hulle het altyd gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gebring.’ Maar nou het die Here ons gelos. Hy het die Midianiete gestuur om ons te verdruk.” Die Here het na Gideon gekyk en vir hom gesê: “Jy is sterk. Jy moet die Israeliete gaan red van die Midianiete. Ek stuur jou om dit te doen.” Toe sê Gideon vir Hom: “Asseblief, Here, ek kan nie die Israeliete red nie. My familie is die kleinste familie in die Manasse-stam, en ek is die jongste seun in my pa se huisgesin.” Die Here het vir Gideon gesê: “Jy sal dit doen omdat Ek by jou sal wees. Jy sal die Midianiete oorwin. Dit sal so maklik wees soos wanneer jy teen een man veg.” Toe sê Gideon vir Hom: “As U goed wil wees vir my, doen dan vir my 'n wonderwerk wat wys dat U met my gepraat het. Asseblief, moenie hier weggaan nie, ek wil eers na U toe kom en my present bring en voor U neersit.” Die Here het gesê: “Ek sal wag totdat jy kom.” Gideon het 'n bok-lam en 'n efa meel gaan haal en die vleis gekook en brood gebak. Daar was nie suurdeeg in die meel nie. Hy het die vleis in 'n mandjie gesit en die sous in die pot gehou en dit na die Here gebring onder die boom. Toe hy dit nader bring, het die Engel van God vir hom gesê: “Sit die vleis en die brood daar op die rots en gooi die sous daaroor.” Gideon het dit gedoen. Toe steek die Engel van die Here sy kierie uit en raak met die punt van die kierie aan die vleis en die brood. Daar het vuur uit die rots gekom en dit het die vleis en die brood verbrand. Toe het Gideon nie meer die Engel van die Here gesien nie. Gideon het besef dit is die Engel van die Here, en hy het gesê: “Ag, Here, my Here, ek sal sterf, want ek het regtig die Engel van die Here gesien, Hy was hier voor my.” Maar die Here het vir hom gesê: “Moenie bekommerd wees nie, moenie bang wees nie, jy sal nie sterf nie.” Gideon het daar 'n altaar gebou vir die Here. Hy het die altaar genoem: “Die Here het gesê ek moenie bekommerd wees nie.” Daardie altaar is nog in Ofra, die familie Abiëser woon daar. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Jy moet jou pa se bul vat, die bul wat sewe jaar oud is, en dan moet jy die Baäl-altaar van jou pa afbreek en die gewyde paal afkap wat daarby is. Jy moet vir My, jou God die Here, 'n altaar bou op die hoogste plek in hierdie stad. Jy moet die klippe van die altaar netjies opmekaar pak. Jy moet die hout van die gewyde paal wat jy afgekap het, gebruik om vuur te maak, en dan moet jy die bul op die altaar offer.” Gideon het tien van sy slawe geneem en hy het gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy was bang vir sy pa se familie en vir die mense van die stad, daarom het hy dit in die nag gedoen, nie in die dag nie. Die mense van die stad het die volgende oggend vroeg opgestaan. En wat het hulle gesien? Iemand het die Baäl-altaar afgebreek en die gewyde paal afgekap en 'n nuwe altaar gebou en die bul ge-offer. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?” Hulle het gesoek en vir almal gevra, en iemand het gesê: “Joas se seun Gideon het dit gedoen.” Toe sê die mense van die stad vir Joas: “Jy moet jou seun bring. Hy moet sterf omdat hy die Baäl-altaar afgebreek het en die gewyde paal afgekap het wat daarby was.” Joas sê toe vir almal wat daar by hom staan: “Wil julle vir Baäl beskerm? Wil julle hom red? Die persoon wat vir Baäl wil beskerm, sal môre sterf. As Baäl 'n god is, dan moet hy homself beskerm teen die man wat sy altaar afgebreek het.” Joas het daardie dag gesê Gideon se naam is nou Jerub-Baäl, want Baäl moet homself beskerm teen Gideon wat sy altaar afgebreek het. Al die Midianiete en die Amalekiete en die Oosmense het bymekaargekom en oor die Jordaan-rivier gegaan. Hulle het hulle tente opgeslaan in die Jisreël-vallei. Toe het die Gees van die Here in Gideon gekom. Hy het die ramshoring geblaas en die familie Abiëser geroep om saam met hom te kom en hom te help. Hy het boodskappers gestuur na die hele Manasse-stam en hy het hulle ook geroep om saam met hom te kom en hom te help. Hy het ook boodskappers gestuur na die Aser-stam en die Sebulon-stam en die Naftali-stam, en hulle het ook na Gideon toe gekom. Gideon het vir God gesê: “U het gesê U wil my gebruik om die Israeliete te red. Ek sal 'n skaap se wol oopgooi op die dorsvloer. As daar net op die wol dou is en die grond is droog, dan sal ek weet U wil my gebruik om die Israeliete te red, soos U gesê het.” Dit het toe gebeur. Toe Gideon die volgende oggend opstaan en die dou uit die wol druk, het daar 'n skottel vol water uit die wol gekom. Maar Gideon het vir God gesê: “U moenie kwaad word vir my nie, ek wil nog een maal iets vra, ek wil U nog een maal toets met die wol. U moet die wol droog laat bly, en môre-oggend moet die dou op die grond wees.” God het dit daardie nag so gedoen. Die wol was droog, en daar was dou op die grond.

RIGTERS 6:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Midianiete, sewe jaar lank. En die Midianiete het die oorhand oor Israel gekry; vanweë die Midianiete het die kinders van Israel vir hulle die slote gemaak wat op die berge is, en die gate en die bergvestings. Want as Israel gesaai het, dan trek die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste uit, en trek teen hulle op: slaan laers teen hulle op en verwoes die opbrings van die land in die rigting na Gasa, en hulle laat geen lewensmiddele, geen skaap of bees of esel in Israel oorbly nie. Want hulle het met hul vee en hul tente opgetrek en gekom soos sprinkane in menigte, terwyl hulle en hul kamele ontelbaar was; so het hulle dan die land ingekom om dit te verwoes. En Israel het deur die Midianiete baie arm geword, maar die kinders van Israel het die HERE aangeroep. En toe die kinders van Israel die HERE aanroep vanweë die Midianiete, het die HERE 'n profeet na die kinders van Israel gestuur, en dié het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek self het julle laat optrek uit Egipte en julle uit die slawehuis uitgelei en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al julle verdrukkers en hulle voor julle uit verdrywe en hulle land aan julle gegee. En Ek het aan julle gesê: Ek is die HERE julle God; julle mag die gode van die Amoriete in wie se land julle woon, nie vrees nie. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Toe het die Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gídeon juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete. En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe vra Gídeon Hom: Ag, my heer, as die HERE met ons is, waarom het al hierdie dinge ons dan oorgekom? En waar is al sy wonders waar ons vaders ons van vertel het, deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? Maar nou het die HERE ons verwerp en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie? Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan. En hy antwoord Hom: As ek dan guns in u oë gevind het, doen vir my 'n teken, dat U dit is wat met my spreek. Verwyder U tog nie hiervandaan voordat ek by U kom en my gawe uitbring en voor U neersit nie. Hy sê toe: Ek sal bly totdat jy terugkom. Toe het Gídeon ingegaan en 'n bokkie berei, en van 'n efa meel ongesuurde koeke; die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous in 'n pot gegooi; en hy het dit na Hom uitgebring onder die terpentynboom en dit naby neergesit. Maar die Engel van God het vir hom gesê: Neem die vleis en die ongesuurde koeke, en sit dit op hierdie rots neer en gooi die sous daaroor uit. En hy het so gedoen. Daarop steek die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde koeke aan; toe gaan daar vuur op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde koeke. Intussen het die Engel van die HERE verdwyn uit sy oë. Toe Gídeon bemerk dat dit die Engel van die HERE was, sê Gídeon: Ag, Here HERE! want ek het die Engel van die HERE gesien van aangesig tot aangesig! Maar die HERE sê vir hom: Vrede vir jou! Vrees nie! Jy sal nie sterwe nie. Toe bou Gídeon daar 'n altaar vir die HERE en noem dit: Die HERE is vrede! Dit staan vandag nog daar by Ofra van die Abiësriete. En in dieselfde nag het die HERE vir hom gesê: Neem die bul van jou vader, naamlik die tweede bul van sewe jaar, en breek die altaar van Baäl af wat aan jou vader behoort, en kap die heilige boomstam af wat daar langsaan staan. En bou vir die HERE jou God 'n altaar op die top van hierdie vesting deur opstapeling, en neem die tweede bul en bring dit as 'n brandoffer met die hout van die heilige boomstam wat jy moet afkap. Toe het Gídeon tien man van sy dienaars geneem en gedoen soos die HERE aan hom gesê het; maar omdat hy te bang was vir sy familie en vir die manne van die stad, om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen. En toe die manne van die stad die môre vroeg opstaan, lê die altaar van Baäl daar omgegooi en die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap en die tweede bul geoffer op die altaar wat daar gebou was! Toe sê hulle, die een vir die ander: Wie het hierdie ding gedoen? En onderwyl hulle ondersoek en uitvra, sê hulle: Gídeon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen! Toe sê die manne van die stad vir Joas: Bring jou seun uit, hy moet sterwe, omdat hy die altaar van Baäl omgegooi het, en omdat hy die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap het. Maar Joas sê vir almal wat by hom staan: Wil júlle vir Baäl veg? Of wil julle hom help? Die wat vir hom veg, sal vanmôre nog gedood word. As hy 'n god is, laat hy vir homself veg, omdat hy sy altaar omgegooi het. Daarom het hy hom op dié dag Jerúbbaäl genoem en gesê: Laat Baäl teen hom veg, omdat hy sy altaar omgegooi het. Toe het al die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste aanmekaargesluit en deurgetrek en in die laagte van Jísreël laer opgeslaan. En die Gees van die HERE het Gídeon vervul; en hy het op die ramshoring geblaas, en die Abiësriete is agter hom aan opgeroep. Ook het hy boodskappers gestuur in die hele Manasse, en dié is ook agter hom aan opgeroep; ook het hy boodskappers gestuur in Aser en in Sébulon en in Náftali, en hulle het opgetrek, hulle tegemoet. Toe het Gídeon met God gespreek: As U werklik deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het — ek sal die wolvlies op die dorsvloer neerlê: as daar net op die vlies dou is, terwyl die grond oral droog is, dan sal ek weet dat U deur my hand Israel wil verlos soos U gespreek het. En dit was so: toe hy die volgende môre vroeg opstaan, het hy die vlies uitgewring en die dou uit die vlies uitgedruk, 'n kom vol water. Toe het Gídeon met God gespreek: Laat u toorn nie teen my ontvlam nie, en laat my net hierdie keer mag spreek; laat my tog net hierdie keer met die vlies 'n proef neem: laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond oral dou is. En die HERE het daardie nag so gedoen: op die vlies alleen was dit droog, maar oral op die grond was daar dou.

RIGTERS 6:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle sewe jaar lank oorgegee in die mag van die Midianiete. Hulle het die Israeliete hard behandel, en daarom het hulle langs die bergstroompies, in grotte en in ander ontoeganklike plekke gaan bly. Wanneer die Israeliete iets gesaai het, het die Midianiete teen hulle opgetrek saam met die Amalekiete en ander mense uit die ooste. Dan slaan die Midianiete kamp op en vernietig die opbrengs van die land selfs tot by Gasa se wêreld. Hulle het nie 'n dier in Israel lewend agtergelaat nie, nie 'n skaap of 'n bees of 'n donkie nie. Die Midianiete het met hulle veetroppe gekom en kom tent opslaan. Hulle was so baie soos sprinkane: hulle en hulle kamele kon nie getel word nie. Hulle het die land kaalgestroop. Hulle het die Israeliete arm laat word, en toe het die Israeliete tot die Here geroep om hulp. Toe hulle tot die Here roep om hulp teen die Midianiete, het Hy 'n man gestuur om onder die Israeliete as profeet op te tree, en hy het vir hulle gesê: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte laat wegtrek en Ek het julle uit die plek van slawerny bevry. Ek het julle gered uit die mag van Egipte en van almal deur wie julle verdruk is. Ek het hulle laat plek maak vir julle en Ek het hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.” Daarna het 'n Engel van die Here gaan sit onder die groot boom in Ofra wat behoort het aan Joas die Abiësriet. Sy seun Gideon was besig om koring uit te slaan in 'n parskuip waar hy weggekruip het vir die Midianiete. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Maar Gideon het vir die Engel gesê: “Ekskuus, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons? Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: ‘Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?’ Nou het die Here ons in die steek gelaat: Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.” Toe het die Here na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!” Maar Gideon sê vir Hom: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.” Die Here het hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie.” Gideon het vir Hom gesê: “As U so vriendelik wil wees, doen tog vir my 'n wonder dat ek seker kan wees dit is U, Here, wat met my praat! Moenie hiervandaan af padgee nie dat ek tog net gou 'n offer voor U kan kom neersit.” Toe sê die Here: “Ek sal wag tot jy terug is.” Gideon het toe 'n bokkie gaan gaar maak, en van sestien kilogram meel het hy brood sonder suurdeeg gebak. Hy het die vleis in 'n mandjie gepak en die sous in 'n pan gegooi en vir die Engel van die Here gebring onder die groot boom. Toe Gideon dit naderbring, sê die Engel van God vir Gideon: “Vat die vleis en die brood sonder suurdeeg en sit dit op hierdie rots en gooi die sous daaroor.” Hy het so gemaak, en toe raak die Engel van die Here met die punt van die stok in sy hand aan die vleis en die brood. 'n Vuur het uit die rots uit opgevlam en die vleis en die brood verteer. Daarna is Hy van Gideon af weg. Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was, en hy het uitgeroep: “Ag, Here my God, ek het die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien!” Toe sê die Here vir Gideon: “Wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!” Gideon het net daar 'n altaar vir die Here gebou en dit genoem: “Die Here gee rus!” Die altaar staan vandag nog in Ofra van die Abiësriete. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat 'n groot bul, die sewe jaar oud bul van jou pa, sy tweede bul, breek jou pa se altaar vir Baäl af en kap die gewyde paal daar langsaan af. Bou dan 'n netjiese altaar vir die Here jou God bo-op daardie versterkte plek en vat die bul en offer dit as brandoffer. Jy moet die hout gebruik van die gewyde paal wat jy afgekap het.” Gideon het tien van sy slawe gevat en gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het dit in die nag gedoen: hy was bang vir sy pa se familie en vir die stad se mense om dit oordag te doen. Toe die stad se mense die volgende môre opstaan, was Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap en was die bul 'n brandoffer op die altaar wat gebou is. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?” Hulle het oral navraag gedoen, en daar is gesê: “Dit is Gideon seun van Joas! Hy het dit gedoen!” Toe sê die stad se mense vir Joas: “Bring jou seun uit jou huis uit! Hy moet doodgemaak word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap.” Maar Joas het vir almal wat daar by hom gestaan het, gesê: “Wil julle Baäl se saak behartig? Wil julle hom red? Wie Baäl se saak behartig, moet vanmôre nog doodgemaak word. As hy 'n god is, kan hy sy eie saak behartig. Dis sý altaar wat afgebreek is.” Daardie dag het hulle vir Gideon genoem Jerubbaäl , “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy saak teen Gideon behartig, want dis hý wat Baäl se altaar afgebreek het.” In daardie tyd het die hele Midian en Amalek saam met ander mense uit die ooste bymekaargekom en deur die Jordaanrivier getrek. Hulle het in die Jisreëlvlakte kamp opgeslaan. Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem, en hy het die ramshoring geblaas en die Abiësriete opgeroep om hom te volg. Hy het ook boodskappers na Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur en hulle ook opgeroep om hom te volg, en hulle het almal bymekaargekom. Gideon het vir God gesê: “Ek sal weet dat U deur my vir Israel wil red soos U beloof het, as ek 'n stukkie vlieswol op die dorsvloer sit en daar kom dou op die wol terwyl die grond droog bly.” En dit het toe gebeur: toe Gideon die volgende môre opstaan, het hy die stukkie wol uitgedraai en dou daaruit gedruk, 'n hele kom vol water. Toe sê hy vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie! Ek wil nog 'n keer iets vra. Laat my tog net nog een toets met die vlieswol toe: net die wol moet droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.” Daardie nag het God dit so laat gebeur: net die wol was droog en oral op die grond was daar dou.

RIGTERS 6:1-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, en Hy het hulle sewe jaar lank oorgegee in die hand van die Midianiete. Die hand van die Midianiete het swaar op Israel gerus. Vanweë die Midianiete het die Israeliete vir hulle skuilplekke in die berge ingerig, ook grotte en bergvestings. Telkens wanneer die Israeliete gesaai het, trek die Midianiete, die Amalekiete en mense uit die ooste op. Hulle trek teen Israel op, slaan by hulle kamp op en verwoes die opbrengs van die land tot by Gasa. Hulle laat dan geen lewensmiddele in Israel oorbly nie, ook nie 'n skaap, 'n bees of 'n donkie nie. Want hulle, met hulle veetroppe en tente, het opgetrek en soos groot swerms treksprinkane ingekom – hulle en hulle kamele was ontelbaar. Hulle het die land binnegeval om dit te verwoes. Israel het heeltemal verarm vanweë die Midianiete, en die Israeliete het na die HERE om hulp geroep. Toe die Israeliete na die HERE om hulp roep oor die Midianiete, het die HERE iemand, 'n profeet, na die Israeliete gestuur. Hy het vir hulle gesê: “So sê die HERE, die God van Israel, ‘Dit is Ek wat julle uit Egipte laat optrek het; Ek het julle laat wegtrek uit die plek van slawerny. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en van almal wat julle mishandel. Ek het hulle voor julle uitgedryf en hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: “Ek, die HERE, is julle God. Julle mag nie ontsag hê vir die gode van die Amoriete in wie se land julle woon nie.” Maar julle het na my stem nie geluister nie.’ ” Daarna het die •Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terebintboom by Ofra, wat aan Joas van die familie van Abiëser behoort. Sy seun Gideon was juis besig om koring uit te slaan in die parskuip, om dit vinnig teen die Midianiete te beveilig. Die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die HERE is met jou, dapper kryger!” Maar Gideon sê vir hom: “Asseblief, my Heer, as die HERE dan werklik met ons is, waarom tref al hierdie dinge ons? En waar is al sy wonderwerke waarvan ons voorouers ons vertel het toe hulle gesê het, ‘Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie?’ Maar nou het die HERE ons verstoot en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” Toe draai die HERE na hom en sê: “Gaan met die krag wat jy het, en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie?” Maar hy het Hom geantwoord: “Asseblief, my Heer! Hoe kan ek Israel verlos? Kyk, my familiegroep is die onbenulligste in Manasse, en ek is die jongste in my familie.” Die HERE sê toe vir hom: “Omdat Ek met jou sal wees, sal jy die Midianiete verslaan asof hulle net een man is.” Maar hy het vir die HERE gesê: “As ek dan guns gevind het in u oë, gee vir my 'n teken dat dit U is wat met my praat. Moet asseblief nie hiervandaan weggaan totdat ek by U terug is, my offer saamgebring en dit voor U neergesit het nie. ” Hy het geantwoord: “Goed, Ek sal bly totdat jy terugkom.” Gideon gaan toe en berei 'n boklam voor en ongesuurde brood van 'n efa meel. Die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous het hy in 'n pot gegooi. Hy het dit na Hom uitgebring onder die terebintboom en dit aangebied. Daarop sê die Engel van God vir hom: “Neem die vleis en die ongesuurde brood, sit dit hier op die rots neer en gooi die sous daaroor.” Hy het toe so gemaak. Toe steek die Engel van die HERE die wandelstok in sy hand uit en raak met die punt aan die vleis en die ongesuurde brood. Vuur het uit die rots opgeslaan en die vleis en ongesuurde brood verteer. Die Engel van die HERE het voor sy oë verdwyn, en Gideon het besef dat dit die Engel van die HERE was. Toe sê Gideon: “Ag, HERE, my Heer! Want nou het ek die Engel van die HERE van aangesig tot aangesig gesien! ” Maar die HERE sê vir hom: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie! ” Gideon het toe daar 'n altaar vir die HERE gebou en dit genoem “Die HERE is vrede”. Tot vandag toe is dit nog daar in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort. Nog in daardie selfde nag het die HERE vir hom gesê: “Neem die bul wat aan jou vader behoort, die tweede bul, wat sewe jaar oud is. Sloop die altaar van Baäl wat aan jou vader behoort. Die asjera wat langsaan is, moet jy afkap. Bou dan vir die HERE jou God 'n altaar op die hoogste punt van hierdie vesting – netjies gestapel. Neem daarna die tweede bul en offer hom as •brandoffer met die hout van die asjera wat jy gaan afkap.” Gideon het tien manne van sy dienaars geneem en gedoen wat die HERE vir hom gesê het. Maar aangesien hy te bang was vir sy familie en die manne van die dorp om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen. Toe die manne van die dorp vroeg die oggend opstaan – kyk, die altaar van Baäl is afgebreek, die asjera wat langsaan was, is afgekap, en die tweede bul is as brandoffer gebring op die nuutgeboude altaar! Hulle vra toe vir mekaar: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het ondersoek ingestel en navraag gedoen. Daar is toe gesê: “Gideon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen.” Toe sê die mense van die dorp vir Joas: “Bring jou seun uit, want hy moet sterf omdat hy die altaar van Baäl afgebreek en omdat hy die asjera langsaan afgekap het.” Maar Joas sê vir almal wat om hom saamgedrom het: “Wil julle vir Baäl die stryd voer? Of moet julle hom red? Wie ook al vir hom die stryd voer, sal vanoggend nog sterf! As hy 'n god is, laat hy vir homself die stryd voer wanneer iemand sy altaar omgegooi het.” Op daardie dag het hulle vir Gideon die naam Jerubbaäl gegee, met die woorde: “Laat Baäl teen hom die stryd voer, want hy het sy altaar afgebreek.” Al die Midianiete, die Amalekiete en mense uit die ooste het intussen hulle magte saamgesnoer, die grens oorgesteek en kamp opgeslaan in die Jisreëlvlakte. Die Gees van die HERE het van Gideon besit geneem; hy het op die •ramshoring geblaas, en die familie van Abiëser is opgeroep om hom te volg. Hy het boodskappers deur die hele Manasse gestuur, en ook hulle is opgeroep om hom te volg. Hy het boodskappers deur Aser, Sebulon en Naftali gestuur, en hulle het by hulle aangesluit. Toe sê Gideon vir God: “As U werklik deur my toedoen Israel wil verlos, soos U gesê het – kyk, ek sit 'n pasgeskeerde vag op die dorsvloer; as daar net op die vag dou is, maar al die grond is droog, sal ek weet dat U Israel deur my toedoen gaan verlos, soos U gesê het.” Dit was toe so: Toe hy vroeg die volgende oggend die vag uitwring, het hy 'n kom vol water uit die vag gepers. Toe sê Gideon vir God: “Laat u toorn tog nie teen my ontbrand nie. Ek wil net nog een keer praat. Ek wil asseblief net nog 'n keer met die vag 'n toets doen. Laat dit tog net op die vag droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.” God het dit daardie nag so gedoen: Dit was net op die vag droog, terwyl daar oral op die grond dou was.

RIGTERS 6:1-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en die HERE het hulle sewe jaar lank in die hand van Mídian gegee. En die hand van die Midianiete het die oorhand gekry oor Israel, en ter wille van die Midianiete het die kinders van Israel vir hulle die kuile gemaak wat op die berge is, en spelonke en vestings. En toe Israel gesaai het, het die Midianiete opgetrek, en die Amalekiete en die kinders van die Ooste, hulle het teen hulle opgetrek; En hulle het laer opgeslaan teen hulle en die opbrings van die aarde vernietig totdat jy in Gasa kom, en vir Israel geen lewensmiddele nagelaat nie, geen kleinvee of bees of esel nie. Want hulle het opgetrek met hulle vee en hulle tente, en hulle het soos sprinkane in menigte gekom; want hulle sowel as hulle kamele was ontelbaar, en hulle het in die land ingegaan om dit te vernietig. En Israel was baie verarm vanweë die Midianiete; en die kinders van Israel het die HERE aangeroep. En toe die kinders van Israel die HERE aanroep vanweë die Midianiete, dat die HERE 'n profeet na die kinders van Israel gestuur het, wat vir hulle gesê het: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle uit die slawehuis uitgelei; En Ek het jou gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van almal wat jou verdruk het, en Ek het hulle voor jou uit verdryf en hulle land aan jou gegee; En ek het vir julle gesê: Ek is die HERE julle God; vrees nie die gode van die Amoriete in wie se land julle woon nie, maar na my stem het julle nie geluister nie. En daar het 'n engel van die HERE gekom en gaan sit onder 'n terpentynboom wat in Ofra was, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort; en sy seun Gídeon het koring by die parskuip gedors om dit vir die Midianiete weg te steek. En die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: Die HERE is met jou, dapper held! Toe sê Gideon vir hom: Ag, my Meester, as die HERE met ons is, waarom het dit alles dan oor ons gekom? en waar is al sy wondertekens waarvan ons vaders ons vertel het deur te sê: Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie? maar nou het die HERE ons verlaat en ons oorgegee in die hand van die Midianiete. En die HERE het hom aangekyk en gesê: Gaan in hierdie krag van jou, en jy sal Israel verlos uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie? En hy sê vir hom: Ag, my HERE, waarmee sal ek Israel verlos? kyk, my familie is arm in Manasse, en ek is die geringste in die huis van my vader. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal sekerlik met jou wees, en jy sal die Midianiete soos een man verslaan. En hy sê vir hom: As ek nou genade in u oë gevind het, gee my dan 'n teken dat U met my praat. Moenie hiervandaan weggaan nie, totdat ek na jou toe kom en my geskenk bring en dit voor jou neersit. En hy sê: Ek sal vertoef totdat jy terugkom. En Gideon het ingegaan en 'n bokkie berei en ongesuurde koeke van 'n efa meel; die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous in 'n pot gegooi en dit na hom uitgebring onder die terpentynboom en dit gebring. En die engel van God sê vir hom: Neem die vleis en die ongesuurde koeke en lê dit op hierdie rots neer en giet die sous uit. En hy het so gedoen. Toe het die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en die vleis en die ongesuurde koeke aangeraak; en daar het vuur uit die rots opgegaan en die vleis en die ongesuurde koeke verteer. Toe het die Engel van die HERE van sy oë weggegaan. Toe Gídeon bemerk dat hy 'n engel van die HERE was, het Gídeon gesê: Ag, HERE HERE! want omdat ek 'n engel van die HERE van aangesig tot aangesig gesien het. Toe sê die HERE vir hom: Vrede vir jou! wees nie bevrees nie: jy sal nie sterwe nie. Toe het Gídeon daar 'n altaar vir die HERE gebou en dit genoem: JaHWeH, vrede; tot vandag toe is dit nog in Ofra van die Abiësriete. En dit het gebeur in dieselfde nag dat die HERE vir hom gesê het: Neem jou vader se jong bul, die tweede bul van sewe jaar oud, en gooi die altaar van Baäl af wat jou vader het, en kap die bos af wat daardeur: En bou 'n altaar vir die HERE jou God op die top van hierdie rots, op die geordende plek, en neem die tweede bul en bring 'n brandoffer saam met die hout van die bos wat jy moet afkap. Gideon het toe tien man van sy dienaars geneem en gedoen soos die HERE aan hom gesê het; en omdat hy die huis van sy vader en die manne van die stad gevrees het, dat hy dit bedags nie kon doen nie, het hy dit gedoen en dit in die nag. En toe die manne van die stad die môre vroeg opstaan, kyk, was die altaar van Baäl omgegooi, en die bos wat daarby was, is afgekap, en die tweede bul is geoffer op die altaar wat gebou is. En hulle sê vir mekaar: Wie het hierdie ding gedoen? En toe hulle navraag doen en vra, sê hulle: Gideon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen. Toe sê die manne van die stad vir Joas: Bring jou seun uit, dat hy kan sterwe, want hy het die altaar van Baäl omgegooi en hy het besit die bos wat daarby was. En Joas sê vir almal wat teen hom staan: Sal julle vir Baäl pleit? sal julle hom red? wie vir hom wil pleit, laat hom gedood word solank dit nog môre word; as hy 'n god is, laat hy vir homself pleit, want iemand het sy altaar neergewerp. Daarom het hy hom op dié dag Jerubbaäl genoem en gesê: Laat Baäl teen hom pleit, want hy het sy altaar afgebreek. Toe het al die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste bymekaargekom, en hulle het oorgetrek en laer opgeslaan in die dal van Jísreël. Maar die Gees van die HERE het oor Gídeon gekom, en hy het op die basuin geblaas; en Abiëser is agter hom versamel. En hy het boodskappers deur die hele Manasse gestuur; en hy het boodskappers gestuur na Aser en Sébulon en Naftali; en hulle het opgekom om hulle te ontmoet. Toe sê Gideon vir God: As U Israel deur my hand verlos soos U gesê het, Kyk, Ek sal 'n vlies van wol op die vloer sit; en as die dou net op die vlies is en dit droog word op die hele aarde daarbuite, dan sal Ek weet dat U Israel deur my hand sal verlos, soos U gesê het. En dit was so: want hy het die volgende dag vroeg opgestaan en die vlies saamgestoot en die dou uit die vlies gewring, 'n bak vol water. Toe sê Gideon vir God: Laat u toorn nie teen my ontvlam nie, en ek sal net hierdie een keer spreek; laat my tog toets, maar hierdie een keer met die vlies; laat dit nou net droog word op die vlies, en op die hele grond moet daar dou wees. En God het daardie nag so gedoen, want dit was droog op die vlies alleen, en daar was dou op die hele grond.

RIGTERS 6:1-40 Die Boodskap (DB)

Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Daarom het die Here hulle sewe jaar lank in die mag van die Midianiete oorgegee. Die Midianiete het die Israeliete so wreed behandel dat hulle na die berge toe gevlug het waar hulle in grotte en ander moeilik bereikbare plekke gaan bly het. Elke keer as die Israeliete hulle oeste geplant het, het die Midianiete en die Amalekiete en van die ander mense uit die ooste hulle land binnegeval. Dan het hulle kamp opgeslaan en al die oeste verwoes tot so ver as by Gasa. Hulle het die Israeliete agterlaat met niks om te eet nie, want hulle het ook die skape, beeste en donkies saam met hulle gevat. Die soldate van Midian het met al hulle vee en tente gekom. Dit het soos ’n swerm sprinkane gelyk, so baie was hulle. Dit was onmoontlik om hulle en hulle kamele te probeer tel. Hulle het in die land gebly totdat hulle dit kaal gestroop het. Hulle het die Israeliete heeltemal laat verarm. Toe het die Israeliete by die Here hulp gaan soek. Toe hulle by die Here hulp teen die Midianiete soek, het Hy vir hulle ’n profeet gestuur wat vir hulle gesê het: “So sê die Here die God van Israel: Ek het julle uit Egipte gered waar julle slawe was. Ek het julle uit die mag van die Egiptenaars verlos en julle vrygemaak van al die volke wat julle in hierdie land verdruk het. Ek het hulle voor julle uit weggejaag en hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: ‘Ek is die Here julle God. Julle mag glad nie die gode van die Amoriete in wie se land julle bly, aanbid nie.’ Maar julle het nie na My geluister nie.” Daarna het die Engel van die Here onder die eikeboom in Ofra gaan sit wat aan Joas die Abiësriet behoort het. Sy seun Gideon was besig om koring in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.” Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!” “Ekskuus, Meneer,” sê Gideon, “maar waarmee moet ek die Israeliete red? My familie is die armste in die stam van Manasse en in my eie gesin is ek nie juis belangrik nie.” Toe sê die Here: “Jy kan hulle red, want Ek gaan jou help. Jy sal die Midianiete so maklik verslaan asof dit net een mens is teen wie jy baklei.” Toe sê Gideon: “Mag ek U ’n guns vra: doen asseblief vir my ’n wonderwerk dat ek seker kan wees dat U wel die Here is wat nou met my praat. Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek terug is en vir U ’n offer kon bring nie.” “Ek sal wag tot jy terugkom,” het die Here geantwoord. Gideon is terug huis toe, waar hy ’n jong bokkie gaargemaak en ’n brood gebak het. Vir die brood het hy ongeveer sestien kilogram meel sonder suurdeeg gebruik. Hy het die vleis in ’n mandjie gesit en die sous in ’n bakkie gegooi. Toe gaan hy terug na die Engel onder die eikeboom. Toe hy daar kom, sê die Engel van God vir hom: “Sit die vleis en die brood op die rots neer en gooi die sous daaroor uit.” Gideon het dit gedoen. Die Engel van die Here raak toe met die punt van die stok wat Hy in sy hand gehad het aan die vleis en die brood. Skielik kom daar ’n vlam uit die rots uit wat die vleis en die brood heeltemal verbrand. Toe Gideon weer kyk, was die Engel van die Here weg. Toe Gideon agterkom dat hy die Engel van die Here gesien het, het hy baie benoud gesê: “O, Here my God, ek het die Engel van die Here met my eie oë gesien. Nou is ek in groot moeilikheid!” Toe sê die Here vir Gideon: “Toemaar, moenie bang wees nie, jy sal niks oorkom nie.” Gideon het daar op die plek vir die Here ’n altaar gebou. Hy het dit genoem: “Die Here gee vrede.” Die altaar staan nou nog daar in Ofra in die gebied van die Abiësriete. Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat jou pa se bul in die kraal, die een wat sewe jaar oud is. Breek dan die altaar af wat hy vir Baäl gebou het en kap die paal wat hy vir die godin Asjera opgerig het, wat langs die altaar staan, ook af. Bou dan ’n behoorlike altaar vir die Here jou God op hierdie heuwel. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het om vuur te maak en offer die bul as ’n brandoffer aan My.” Gideon het tien van die mense wat vir hom gewerk het, gevat en gedoen wat die Here gesê het. Omdat hy bang was vir die reaksie van sy eie familie en van die mense van die dorp, het hy dit in die donker gedoen. Toe die dorpsmense die volgende oggend wakker word, het hulle agtergekom dat die Baälaltaar en die Asjerapaal wat langsaan gestaan het, afgebreek is. In die plek daarvan was daar ’n splinternuwe altaar met die oorblyfsels van ’n brandoffer daarop. Almal het gewonder: “Wie het dit gedoen?” Nadat hulle oral navraag gedoen het, het hulle ontdek dat dit Joas se seun Gideon was. Hulle skreeu toe vir Joas: “Bring jou seun daar uit die huis uit! Hy het Baäl se altaar afgebreek en Asjera se paal afgekap. Daarom moet hy doodgemaak word!” Toe sê Joas vir die oproeriges wat daar buite staan: “Wil julle nou skielik Baäl se saak vir hom behartig? Gaan julle hom verdedig? Weet net, wie ook al Baäl se saak probeer verdedig, sal teen môreoggend reeds dood wees. As Baäl ’n god is, laat hy homself verdedig. Dis tog sy altaar wat Gideon afgebreek het!” Hulle het Gideon toe Jerubbaäl genoem, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy probleem met Gideon oplos, want dit is mos Gideon wat sy altaar afgebreek het.” Kort daarna het die Midianiete, die Amalekiete en die mense van die ooste ’n samewerkingsooreenkoms met mekaar gesluit. Hulle het oor die Jordaanrivier getrek en kamp opgeslaan in die vlakte van Jisreël. Die Gees van die Here het oor Gideon gekom. Hy het die trompet laat blaas om die Abiësriete vir die oorlog op te roep. Hy het ook boodskappers na die gebiede van Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur om die soldate van hierdie gebiede op te roep om hom te volg. Hulle het toe na hom toe gekom. Toe sê Gideon vir God: “As U my regtig gaan gebruik om Israel te verlos soos U belowe het, bewys dit vir my. Ek sit hierdie stukke wolmat op die dorsvloer neer. As die mat môre nat is van die dou en die grond rondom is droog, sal ek weet dat U my gaan help soos U belowe het.” Dit is presies wat gebeur het. Toe Gideon die volgende môre opstaan en die mat uitdroog, het hy ’n hele skottel vol water uitgedruk. Toe sê Gideon vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie, maar ek wil graag nog een keer ’n guns vra. Kan ek vra dat die mat hierdie keer droog bly en die grond rondom nat van die dou moet wees?” Daardie nag het God gedoen wat Gideon gevra het. Die volgende môre was die mat kurkdroog, maar die grond was nat gedou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid