Rigters 6:1-40

Rigters 6:1-40 AFR20

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, en Hy het hulle sewe jaar lank oorgegee in die hand van die Midianiete. Die hand van die Midianiete het swaar op Israel gerus. Vanweë die Midianiete het die Israeliete vir hulle skuilplekke in die berge ingerig, ook grotte en bergvestings. Telkens wanneer die Israeliete gesaai het, trek die Midianiete, die Amalekiete en mense uit die ooste op. Hulle trek teen Israel op, slaan by hulle kamp op en verwoes die opbrengs van die land tot by Gasa. Hulle laat dan geen lewensmiddele in Israel oorbly nie, ook nie 'n skaap, 'n bees of 'n donkie nie. Want hulle, met hulle veetroppe en tente, het opgetrek en soos groot swerms treksprinkane ingekom – hulle en hulle kamele was ontelbaar. Hulle het die land binnegeval om dit te verwoes. Israel het heeltemal verarm vanweë die Midianiete, en die Israeliete het na die HERE om hulp geroep. Toe die Israeliete na die HERE om hulp roep oor die Midianiete, het die HERE iemand, 'n profeet, na die Israeliete gestuur. Hy het vir hulle gesê: “So sê die HERE, die God van Israel, ‘Dit is Ek wat julle uit Egipte laat optrek het; Ek het julle laat wegtrek uit die plek van slawerny. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en van almal wat julle mishandel. Ek het hulle voor julle uitgedryf en hulle land vir julle gegee. Ek het vir julle gesê: “Ek, die HERE, is julle God. Julle mag nie ontsag hê vir die gode van die Amoriete in wie se land julle woon nie.” Maar julle het na my stem nie geluister nie.’ ” Daarna het die •Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terebintboom by Ofra, wat aan Joas van die familie van Abiëser behoort. Sy seun Gideon was juis besig om koring uit te slaan in die parskuip, om dit vinnig teen die Midianiete te beveilig. Die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die HERE is met jou, dapper kryger!” Maar Gideon sê vir hom: “Asseblief, my Heer, as die HERE dan werklik met ons is, waarom tref al hierdie dinge ons? En waar is al sy wonderwerke waarvan ons voorouers ons vertel het toe hulle gesê het, ‘Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie?’ Maar nou het die HERE ons verstoot en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” Toe draai die HERE na hom en sê: “Gaan met die krag wat jy het, en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie?” Maar hy het Hom geantwoord: “Asseblief, my Heer! Hoe kan ek Israel verlos? Kyk, my familiegroep is die onbenulligste in Manasse, en ek is die jongste in my familie.” Die HERE sê toe vir hom: “Omdat Ek met jou sal wees, sal jy die Midianiete verslaan asof hulle net een man is.” Maar hy het vir die HERE gesê: “As ek dan guns gevind het in u oë, gee vir my 'n teken dat dit U is wat met my praat. Moet asseblief nie hiervandaan weggaan totdat ek by U terug is, my offer saamgebring en dit voor U neergesit het nie. ” Hy het geantwoord: “Goed, Ek sal bly totdat jy terugkom.” Gideon gaan toe en berei 'n boklam voor en ongesuurde brood van 'n efa meel. Die vleis het hy in 'n mandjie gesit en die sous het hy in 'n pot gegooi. Hy het dit na Hom uitgebring onder die terebintboom en dit aangebied. Daarop sê die Engel van God vir hom: “Neem die vleis en die ongesuurde brood, sit dit hier op die rots neer en gooi die sous daaroor.” Hy het toe so gemaak. Toe steek die Engel van die HERE die wandelstok in sy hand uit en raak met die punt aan die vleis en die ongesuurde brood. Vuur het uit die rots opgeslaan en die vleis en ongesuurde brood verteer. Die Engel van die HERE het voor sy oë verdwyn, en Gideon het besef dat dit die Engel van die HERE was. Toe sê Gideon: “Ag, HERE, my Heer! Want nou het ek die Engel van die HERE van aangesig tot aangesig gesien! ” Maar die HERE sê vir hom: “Vrede vir jou! Moenie bang wees nie; jy sal nie sterf nie! ” Gideon het toe daar 'n altaar vir die HERE gebou en dit genoem “Die HERE is vrede”. Tot vandag toe is dit nog daar in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort. Nog in daardie selfde nag het die HERE vir hom gesê: “Neem die bul wat aan jou vader behoort, die tweede bul, wat sewe jaar oud is. Sloop die altaar van Baäl wat aan jou vader behoort. Die asjera wat langsaan is, moet jy afkap. Bou dan vir die HERE jou God 'n altaar op die hoogste punt van hierdie vesting – netjies gestapel. Neem daarna die tweede bul en offer hom as •brandoffer met die hout van die asjera wat jy gaan afkap.” Gideon het tien manne van sy dienaars geneem en gedoen wat die HERE vir hom gesê het. Maar aangesien hy te bang was vir sy familie en die manne van die dorp om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen. Toe die manne van die dorp vroeg die oggend opstaan – kyk, die altaar van Baäl is afgebreek, die asjera wat langsaan was, is afgekap, en die tweede bul is as brandoffer gebring op die nuutgeboude altaar! Hulle vra toe vir mekaar: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het ondersoek ingestel en navraag gedoen. Daar is toe gesê: “Gideon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen.” Toe sê die mense van die dorp vir Joas: “Bring jou seun uit, want hy moet sterf omdat hy die altaar van Baäl afgebreek en omdat hy die asjera langsaan afgekap het.” Maar Joas sê vir almal wat om hom saamgedrom het: “Wil julle vir Baäl die stryd voer? Of moet julle hom red? Wie ook al vir hom die stryd voer, sal vanoggend nog sterf! As hy 'n god is, laat hy vir homself die stryd voer wanneer iemand sy altaar omgegooi het.” Op daardie dag het hulle vir Gideon die naam Jerubbaäl gegee, met die woorde: “Laat Baäl teen hom die stryd voer, want hy het sy altaar afgebreek.” Al die Midianiete, die Amalekiete en mense uit die ooste het intussen hulle magte saamgesnoer, die grens oorgesteek en kamp opgeslaan in die Jisreëlvlakte. Die Gees van die HERE het van Gideon besit geneem; hy het op die •ramshoring geblaas, en die familie van Abiëser is opgeroep om hom te volg. Hy het boodskappers deur die hele Manasse gestuur, en ook hulle is opgeroep om hom te volg. Hy het boodskappers deur Aser, Sebulon en Naftali gestuur, en hulle het by hulle aangesluit. Toe sê Gideon vir God: “As U werklik deur my toedoen Israel wil verlos, soos U gesê het – kyk, ek sit 'n pasgeskeerde vag op die dorsvloer; as daar net op die vag dou is, maar al die grond is droog, sal ek weet dat U Israel deur my toedoen gaan verlos, soos U gesê het.” Dit was toe so: Toe hy vroeg die volgende oggend die vag uitwring, het hy 'n kom vol water uit die vag gepers. Toe sê Gideon vir God: “Laat u toorn tog nie teen my ontbrand nie. Ek wil net nog een keer praat. Ek wil asseblief net nog 'n keer met die vag 'n toets doen. Laat dit tog net op die vag droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.” God het dit daardie nag so gedoen: Dit was net op die vag droog, terwyl daar oral op die grond dou was.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Rigters 6:1-40