RIGTERS 13:1-5
RIGTERS 13:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete het weer dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, en die Here het die Filistyne gehelp om die Israeliete 40 jaar lank te verdruk. Daar was 'n man in Sora, sy naam was Manoag en hy was van die nageslag van Dan. Manoag se vrou kon nie kinders kry nie. Die Engel van die Here het na die vrou toe gekom en vir haar gesê: “Jy kon nie kinders kry nie, maar jy sal nou swanger word en jy sal 'n seun kry. Maar nou moet jy oppas, jy moenie wyn of bier drink nie en jy moenie iets eet wat onrein is nie. Ja, jy is swanger en jy sal 'n seun kry, en hy moenie sy hare laat afskeer nie, want hy sal 'n nasireër van God wees vandat hy gebore is. En dit is hy wat sal begin om die Israeliete te red van die Filistyne.”
RIGTERS 13:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank. En daar was 'n man uit Sórea, uit die geslag van die Daniete, met die naam van Manóag; en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie. Maar die Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en 'n seun baar. Neem jou dan nou tog in ag en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks wat onrein is nie. Want kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar, en geen skeermes mag op sy hoof kom nie; want die seun sal van die moederskoot af 'n nasireër van God wees, en hy sal Israel begin verlos uit die hand van die Filistyne.
RIGTERS 13:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, en Hy het hulle veertig jaar lank oorgegee in die mag van die Filistyne. Daar was 'n man uit Sora uit die stam van Dan. Sy naam was Manoag. Sy vrou was kinderloos. Die Engel van die Here het aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy is nou kinderloos, maar jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink nie en ook nie iets onreins eet nie. Trouens, jy is reeds swanger en jy sal 'n seun in die wêreld bring. Sy hare mag nie geskeer word nie, want die kind sal van sy geboorte af aan God gewy wees. Hy sal die Israeliete begin red uit die mag van die Filistyne.”
RIGTERS 13:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Die HERE het hulle toe veertig jaar lank oorgegee in die hand van die Filistyne. Daar was 'n sekere man uit Sora, uit 'n familiegroep van Dan; sy naam was Manoag. Sy vrou was onvrugbaar en kon nie kinders kry nie. Die •Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: “Kyk, jy is onvrugbaar en kan nie kinders kry nie, maar jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Daarom, wees nou versigtig; moenie wyn of sterk drank drink nie en moenie enigiets •onreins eet nie. Ja, kyk, jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. 'n Skeermes mag nie naby sy kop kom nie, want die seun sal 'n •nasireër van God wees van die moederskoot af. Hy sal begin om Israel te red uit die hand van die Filistyne.”
RIGTERS 13:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE; en die HERE het hulle in die hand van die Filistyne gegee, veertig jaar lank. En daar was 'n sekere man uit Sore, uit die geslag van die Daniete, wie se naam Manóag was; en sy vrou was onvrugbaar en het nie gebaar nie. En die Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk tog, jy is onvrugbaar en baar nie, maar jy sal swanger word en 'n seun baar. Pas julle dan nou tog op en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks wat onrein is nie. Want kyk, jy sal swanger word en 'n seun baar; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie, want die seun sal van die moederskoot af 'n Nasireër vir God wees; en hy sal begin om Israel uit die hand van die Filistyne te verlos.
RIGTERS 13:1-5 Die Boodskap (DB)
Die Israeliete het weer dinge gedoen wat nie die Here se goedkeuring weggedra het nie. Daarom het die Here hulle vir 40 jaar in die mag van die Filistyne oorgegee. Daar was ’n man uit Sora uit die stam van Dan met die naam Manoag. Hy en sy vrou was kinderloos omdat sy nie swanger kon raak nie. Daar het toe ’n Boodskapper van die Here aan haar verskyn en vir haar gesê: “Jy kon nog nooit swanger word nie, maar binnekort gaan jy wel swanger word en geboorte gee aan ’n seun. Jy moet jouself goed oppas en nie wyn of bier drink of enige verbode kos eet nie. Soos ek gesê het, jy sal geboorte gee aan ’n seun. Sy hare mag nooit gesny word nie, want dié kind sal van sy geboorte af net vir God se diens opsy gesit wees. Dit sal hy wees wat die Israeliete uit die mag van die Filistyne red.”
RIGTERS 13:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Israeliete het weer voor die HERE kwaad gedoen. Hy het hulle vir 40 jaar lank aan die Filistyne onderwerp. Daar was ’n man in Sora met die naam Manoag. Hy was uit die stam van Dan. Sy vrou kon nie kinders hê nie. Die engel van die HERE het by haar gekom en vir haar gesê: “Jy kon nie tot dusver kinders kry nie, maar jy sal binnekort verwag en ’n seun hê. Wees versigtig. Moenie wyn of sterk drank drink nie. Moenie iets eet wat onrein is nie. Jy gaan binnekort geboorte gee aan ’n seun. Jou seun se hare mag nooit geskeer word nie. Hy sal van geboorte af ’n nasireër van God wees. Hy sal die Israeliete uit die hand van die Filistyne bevry.”