JESAJA 57:15-21
JESAJA 57:15-21 Bybel vir almal (ABA)
Ja, die Here praat. Hy woon hoog in die hemel en Hy lewe vir altyd. Sy Naam is Heilige God, en Hy sê: “Ek woon in die hoë hemel, in die heilige hemel, maar Ek is ook by die mense wat nederig is, by mense wat weet hulle is onbelangrik en niks. Ek gee vir hulle nuwe lewe. Ja, Ek sal nie aanhou om hulle te straf nie, Ek sal nie altyd kwaad bly nie, want as Ek kwaad bly, sal hulle nie kan aanhou lewe nie. Die asem wat Ek vir hulle gegee het, sal verdwyn. Ek was kwaad omdat hulle nooit tevrede was met die dinge wat hulle het nie. Daarom het Ek hulle geslaan en Ek wou hulle nie sien nie. Hulle was opstandig, hulle het gelewe soos hulle self besluit het. Ek het gesien hoe dit met hulle gaan, maar Ek sal hulle gesond maak. Ek sal hulle lei en dit sal weer goed gaan met hulle. Hulle huil en treur nou, maar Ek sal hulle laat sing. Dit sal weer goed gaan met hulle, oral waar hulle is, ver of naby. Ek sal hulle gesond maak.” Dit sê die Here. “Maar mense wat aanhou om verkeerd te doen, is soos die see wanneer daar 'n storm is. Dan is die water vuil en vol modder. Dit sal nie goed gaan met mense wat aanhou om verkeerd te doen nie.” Dit sê my God.
JESAJA 57:15-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het. Ek was toornig vanweë die ongeregtigheid van hulle hebsug en het hulle geslaan terwyl Ek My toornig verberg het; ewenwel het hulle afkerig voortgegaan op hulle eie weg. Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges. Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees. Maar die goddelose is soos 'n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op. Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!
JESAJA 57:15-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in 'n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes. Ek reken nie vir altyd sondes toe nie, Ek bly nie vir altyd toornig nie, want anders sou dit die einde beteken van die mens, die mens aan wie Ek die asem gegee het. Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug, Ek het hom geslaan en hom verlaat omdat Ek toornig was. Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan. Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee. Ek stel hulle in staat om My weer te loof. Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is, sê die Here. Ek sal hulle genees. Maar die goddeloses is soos die onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot. Vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê my God.
JESAJA 57:15-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ja, so sê Hy wat hoog en verhewe is, wat vir ewig woon, wie se Naam die Heilige is: “In die hoogte, in 'n heilige plek, woon Ek, en ook by hulle wat verpletter en nederig is, om die gees van nederiges te laat herleef, om die hart van verpletterdes te laat herleef. Want Ek sal nie vir altyd 'n regstryd voer, en nie vir ewig toornig wees nie. Want menslike geeste sal voor My wegkwyn, ook die lewensasems wat Ek self gemaak het. “ Oor die sondeskuld as gevolg van sy gierigheid het Ek toornig geword en hom geslaan, het Ek My verberg terwyl Ek toornig was. Maar hy het afvallig geword, die pad van sy hart geloop. Sy paaie het Ek gesien, maar Ek sal hom genees. Ek sal hom lei en hom met vertroosting vergoed. En vir hulle wat oor hom treur, gee Ek 'n loflied op die lippe. “Vrede, vrede, vir dié wat naby is en vir dié wat ver is,” sê die HERE, “Ek sal hulle genees.” Die goddeloses is soos die onstuimige see. Ja, dit kan nie rustig wees nie, en sy waters spoel vullis en modder uit. “Daar is geen vrede vir die goddeloses nie,” sê my God.
JESAJA 57:15-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want so sê die Hoë en Verhewe wat in die ewigheid woon, wie se Naam Heilig is; Ek woon in die hoogte en in die heiligdom, ook by die verbryselde en nederige van gees, om die gees van die nederiges te laat herlewe en die hart van die verbryseldes te laat herlewe. Want ek sal nie vir ewig twis nie, en ek sal nie altyd toornig wees nie, want die gees sal voor my beswyk en die siele wat ek gemaak het. Ek het toornig geword oor die ongeregtigheid van sy hebsug en hom getref; Ek het sy weë gesien en sal hom genees; Ek sal hom ook lei en aan hom en sy treurendes vertroostinge teruggee. Ek skep die vrug van die lippe; Vrede, vrede vir hom wat ver is en vir hom wat naby is, spreek die HERE; en Ek sal hom genees. Maar die goddelose is soos die onstuimige see, wanneer dit nie kan rus nie, wie se waters modder en modder opgooi. Daar is geen vrede, spreek my God, vir die goddelose nie.
JESAJA 57:15-21 Die Boodskap (DB)
So sê die Here wat daar hoog bo bly en wie se Naam die hoë God is, Hy wat vir altyd leef en wat totaal anders is: Ek bly wel hoog daar bo, maar Ek bly ook by mense hier onder wat verneder en nederig is. Ek laat hulle weer uit die grond uit opstaan. Ek gee vir hulle nuwe hoop. Ek sal nie aanhou stry met hulle nie. Ek sal ook nie vir altyd vir hulle kwaad bly nie. Geen mens wat Ek gemaak het, sou dan kon bly lewe nie. Ek was kwaad vir my volk oor hulle altyd alles net vir hulleself wil hê. Ek het hulle gestraf. Ek het My eenkant gehou, maar hulle het maar net aangegaan en gemaak wat hulle wou. Ek het gesien wat toe met hulle gebeur het. Ek sal hulle weer herstel. Ek sal hulle teruglei en alles weer regmaak. Ek sal hulle wat huil, kom troos. Ek sal hulle weer laat sing. Alles sal weer reg wees vir dié wat hier naby is en dié wat nog daar ver weg is. Ek sal hulle gesond maak. Hulle wat sonder My probeer klaarkom, sal so onrustig wees soos die see wat nooit tot rus kan kom nie. Hulle sal soos die branders wees wat een laag opdrifsels na die ander op die strand uitstoot. Vir sulke mense sal daar net nooit kalmte kom nie, sê die Here.
JESAJA 57:15-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
So sê die hoë, verhewe Een wat vir altyd bestaan, wie se Naam die Heilige is: “Ek woon in ’n hoë, heilige plek, maar ook saam met die mens wat berouvol en nederig is. Ek gee nuwe krag aan dié wat nederig is en aan dié wat verdruk word, en nuwe krag aan dié wat berouvol is. Want Ek kla nie vir altyd aan nie en bly nie vir lank kwaad nie. Want dan sou dit die einde wees van die mens wat Ek geskep het en aan wie Ek die lewensasem gegee het. Ek was baie kwaad oor my volk se sonde en hebsug. Ek het hulle gestraf en Myself in woede onttrek aan hulle. Maar hulle het net bloot aangehou om te sondig. Ek het gesien wat hulle doen, maar nogtans sal Ek hulle gesond maak! Ek sal hulle begelei en dié wat treur, vertroos. Dan sal hulle My weer loof. En hulle sal vrede hê, almal van ver en naby. Want Ek sal hulle almal genees,” sê die HERE. “Maar die goddeloses is soos die onstuimige see. Dit kom nooit tot rus nie. Die golwe hou aan om slyk en modder uit te stoot. Daar is geen vrede vir die bose mense nie,” sê my God.