JESAJA 43:1-4
JESAJA 43:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos, Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne. As jy deur die water gaan, sal Ek by jou wees; en deur die riviere, hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy nie verbrand word nie; en die vlam sal jou nie aansteek nie. Want Ek is die HERE jou God, die Heilige van Israel, jou Redder: Ek het Egipte as jou losprys gegee, Ethiopië en Seba vir jou. Aangesien jy kosbaar was in my oë, was jy eerbaar, en Ek het jou liefgehad; daarom sal Ek mense vir jou gee en mense vir jou lewe.
JESAJA 43:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Maar, Israeliete, nageslag van Jakob, nou sê die Here, Hy wat julle gemaak het: “Julle moenie bang wees nie, want Ek maak julle vry. Ek het julle geroep, Ek het julle name genoem, julle is Myne. Wanneer julle deur water moet gaan, dan is Ek by julle, riviere sal nie oor julle vloei nie. Wanneer julle deur vuur moet gaan, dan sal die vlamme julle nie brand nie. Ja, Ek is julle God die Here, Ek is die Heilige God van Israel wat julle red. Ek gee die mense van die lande Egipte, Kus en Seba in julle plek sodat julle vry kan word. Ek gee ander volke in julle plek, want julle is baie belangrik vir My, en Ek is lief vir julle.
JESAJA 43:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere — hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.
JESAJA 43:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.
JESAJA 43:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Maar nou,” so sê die HERE, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser. Ek gee Egipte as jou losprys, Kus en Seba gee Ek in jou plek. Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.
JESAJA 43:1-4 Die Boodskap (DB)
Die Here het jou gemaak, Jakob. Hy het jou ’n volk gemaak, Israel. Hy sê vir jou: Moenie bang wees nie. Ek sal jou red. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees. As jy oor ’n rivier moet kom, sal die water jou nie wegspoel nie. As jy naby ’n vuur moet verbygaan, sal die hitte jou nie verskroei nie. Die vlamme sal jou nie brand nie. Ek is mos die Here jou God wat vir jou sorg. Die hoë God van Israel red jou. Ek het Egipte ter wille van jou opgeoffer. Ek het Kus en Seba vir jou geruil en hulle gestraf. Ek het ander mense in jou plek laat doodgaan. Ek het ander volke laat doodgaan sodat jy kan bly lewe. Jy is so dierbaar vir My. Jy is belangrik vir My. Ek is baie lief vir jou.
JESAJA 43:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar nou, Jakob, sê die HERE wat jou geskep het, Hy wat jou gevorm het, Israel: “Moenie bang wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou by jou naam geroep. Jy behoort aan My. Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie. Die vlamme sal jou nie verteer nie. Want Ek is die HERE jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte, Kus en Seba as ’n losprys vir jou vryheid. Omdat jy vir My kosbaar en belangrik is, omdat Ek jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, in ruil vir jou lewe.