JESAJA 33:1-24

JESAJA 33:1-24 Die Boodskap (DB)

Jou ondergang wag op jou, verwoester, want al het niemand jou verwoes nie, het jy nie omgegee om ander nasies uit te roei nie. Jy verwag dat ander jou moet respekteer en hulle beloftes moet nakom, maar jý leef van leuens en ontrou. Wel, nou is dit jou beurt om verraai en vernietig te word, net soos jy met die ander nasies gedoen het. Here, help ons, want ons het ons hoop op U gevestig! Beskerm ons elke dag en red ons as ons in die moeilikheid beland. Slegs die klank van u stem is genoeg om die vyand uitmekaar te laat spat en te laat vlug. Die mense sal op die buit wat hulle agterlaat, toesak en dit plunder soos ’n swerm sprinkane op ’n groen land. Die Here is groot en Hy regeer oor die hele aarde. Hy sal sorg dat daar reg en geregtigheid in Jerusalem geskied. In daardie tyd sal Hy die fondament wees waarop julle met vertroue kan bou. Hy sal julle oorlaai met ’n skat van wysheid en kennis wat tot julle verlossing sal lei. Maar die sleutel tot hierdie skat is die ontsag wat julle vir die Here het. Die soldate is verslae omdat hulle Jerusalem nie kon verdedig teen die vyand se oormag nie. Die ambassadeurs wat gestuur is om ’n vredesooreenkoms te probeer bewerk huil van teleurstelling omdat hulle dit nie kon regkry nie. Die paaie sal verlate lê omdat dit te gevaarlik sal wees om te gebruik. Die verwoester steur hom nie aan ooreenkomste of kontrakte wat hy voor getuies aangegaan het nie, hy doen net wat hy wil, want hy het geen respek vir enigiemand nie. Die land verdroog en gaan agteruit. Op die Libanon is die bome in die woud besig om dood te gaan. Die vrugbare vlakte van Saron lyk soos ’n woestyn. In Basan en op die berg Karmel val die bome se blare af soos hulle doodgaan. Nou gaan Ek ingryp, sê die Here, Ek sal julle wys hoe magtig Ek is! Al die planne wat julle gemaak het, is nutteloos, julle sal niks regkry nie. Die verskriklike goed waarmee julle ander nasies gedreig het, sal omgekeer word en soos ’n verwoestende vuur op julle neerkom. Julle mense sal totaal vernietig word soos die klippe wat verbrand word om kalkpoeier te maak. Hulle sal tot as verbrand word soos ’n hoop droë doringtakke wat aan die brand gesteek word. Vertel vir al die volke wat Ek gedoen het, of hulle naby is of ver, sodat hulle my mag sal erken. Maar ook die sondaars en slegte mense in Jerusalem bewe van vrees. Hulle sê: “Die Here se oordeel is soos ’n verwoestende vuur wat vir ewig bly brand. Hoe kan ons hoop om in sy teenwoordigheid te oorleef?” Slegs iemand wat ’n eerlike lewe lei en die waarheid praat, wat nie ander afpers om geld te maak nie en niks met omkopery te doen het nie, het die reg om naby die Here te kom. Moenie eers na iemand luister wat ’n moord of misdaad beplan nie. As ’n mens so lewe, sal jy so veilig wees soos iemand wat in ’n sterk fort bly wat van klip gebou is en hoog op ’n berg staan met ’n oorvloed kos en water. Met julle eie oë sal julle ’n koning sien wat in al sy koninklike majesteit oor ’n groot en uitgestrekte land regeer. Die gedagte aan die tye van vreemde belastinggaarders en spioene wat die stad se militêre mag kom verken het, sal net ’n vae herinnering wees. Julle sal daardie vermetele volk met die taal wat julle nie kan verstaan nie, nooit weer sien nie. Maar kyk na Jerusalem, die stad waarin die feeste vir die Here gehou word. Jerusalem, ’n veilige, permanente blyplek. Dit is soos ’n tent wat nooit geskuif word nie, waarvan die tentpenne stewig en vas in die grond ingekap is en die toue wat dit regop hou, nooit breek nie. Daar sal die Here vir ons sy mag wys. Ons sal langs breë riviere en strome bly, maar daar sal nie vyandige skepe op vaar wat ons kan aanval nie, want die Here is ons Regter, ons Wetgewer en ons Koning. Hy sal ons red. Die vyand se skepe sal nutteloos wees, die toue wat die maste stewig en regop moet hou, sal los hang en die seile sal nie gespan kan word nie. Nie een van die stad se inwoners sal siek wees nie. En die Here sal almal wat in Jerusalem bly, se sonde vergewe.

JESAJA 33:1-24 Bybel vir almal (ABA)

Daar is 'n volk wat ander volke se lande verwoes het, maar niemand het daardie volk se land verwoes nie. Daar is 'n volk wat ander volke verraai het, maar niemand het daardie volk verraai nie. Dit sal sleg gaan met daardie volk. Wanneer hulle klaar verwoes het en klaar verraai het, dan sal ander volke daardie volk verraai en hulle sal daardie volk se land verwoes. Here, wees asseblief genadig vir ons, ons wag dat U ons moet help. Maak ons elke oggend sterk, red ons, want ons kry swaar. Wanneer U praat en die volke hoor u stem, dan vlug hulle. Wanneer U opstaan en nader kom, dan vlug die volke. Ander volke sal die goed wegvat wat daardie volk gevat het. Die ander volke sal soos sprinkane kom en hulle sal alles wegvat. Die Here is bo almal, want Hy woon in die hemel. Hy sal sê, en die mense in Sion sal almal weer reg doen en regverdig wees. Hulle sal altyd die Here vertrou. Hy sal hulle red en Hy sal vir hulle wysheid en kennis gee. Hulle sal die Here dien, dit sal hulle ryk maak. Luister hoe roep die mense van Jerusalem. Hulle vra dat die Here hulle moet kom help. Luister hoe huil die boodskappers wat moet sê daar is vrede. Niemand loop op die paaie nie, niemand kom verby nie. Die vyand het sy ooreenkoms met ons gebreek. Hulle het ons stede maklik oorwin, ons mense kon hulle nie keer nie. Die land treur, alles word droog, die Libanon-berg lyk soos 'n mens wat bleek is, die plante op die berg word droog. Die Saron-vlakte is soos die woestyn. Die bome in die land Basan en op die Karmel-berg se blare val af. Die Here sê: “Ek sal nou opstaan en doen wat Ek wil doen. Alles wat julle doen, is soos droë gras en kaf. Julle het self 'n vuur aangesteek, maar julle sal brand in daardie vuur. Volke sal verbrand en hulle sal as word soos doringbossies wat iemand afkap en aan die brand steek. Volke wat ver is, volke wat naby is, julle moet hoor wat Ek doen, julle moet weet hoe sterk Ek is.” Die sondaars in Sion skrik, die slegte mense begin bewe. Hulle sê: “Watter mense kan woon by 'n vuur wat alles verbrand? Wie kan woon by 'n vuur wat altyd aanhou brand? Dit is die mense wat reg lewe en wat die waarheid praat, die mense wat nie ander mense se goed vat om hulleself ryk te maak nie, die mense wat nie presente vat om verkeerd te doen aan ander mense nie, die mense wat nie luister na planne om mense te vermoor nie, die mense wat nie verkeerd wil doen nie. Hierdie mense sal hoog in die berge woon en hulle sal veilig wees agter die rotse. Hulle sal kos kry, en hulle sal altyd water hê.” Julle sal self 'n koning sien wat mooi klere dra, en julle sal sien die land is groot. Dan sal julle onthou hoe julle geskrik het toe die vyande julle goed getel en geweeg het om dit saam te vat, en die torings getel het om dit af te breek. Maar julle sal nie weer daardie hoogmoedige volk sien nie, daardie volk wat 'n taal praat wat julle nie kan verstaan nie. Kyk na Sion, na Jerusalem, die stad waar ons bymekaarkom om fees te vier. Julle sal sien dit is 'n plek waar julle veilig kan woon. Dit is soos 'n tent wat niemand afslaan nie, niemand trek die tent se penne uit nie, en die toue breek nie. Die Here sal daar vir ons die God wees wat Koning is, dit sal 'n plek wees waar daar riviere en groot waterstrome is, maar die roeibote en die oorlogskepe van die vyande sal nie daar kom nie. Ja, die Here is ons Regter, die Here is ons Leier, die Here is ons Koning. Hy sal ons red. Die toue van die vyande se skepe hang pap, die toue hou nie die maspaal van die skip regop nie, die maspaal waaraan die seile is, en die toue hou nie die seile styf nie. Daar is baie goed wat julle kan vat, ook die lam mense sal alles vat wat hulle wil. Niemand in Jerusalem sal sê hy is siek nie. Die Here het die sonde vergewe van die mense in die stad.

JESAJA 33:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WEE jou, verwoester, wat self nie verwoes is nie, en troubreker teen wie nie troueloos gehandel is nie! As jy klaar is met verwoes, sal jy verwoes word; en as jy klaar is met troubreuk, sal hulle troueloos teen jou handel. HERE, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid! Vir die dawergeluid vlug die volke; vanweë u verheffing word die nasies verstrooi. Dan word julle buit weggeskraap soos sprinkane wegskraap; soos sprinkane hardloop, hardloop hulle daarop los. Die HERE is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid. En daar sal bestendigheid van jou tye wees, 'n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die HERE sal sy skat wees. Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik. Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie. Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron het geword soos 'n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare. Nou sal Ek opstaan, sê die HERE; nou sal Ek My verhef, nou sal Ek My oprig. Julle gaan swanger van strooi, julle sal stoppels baar; julle geblaas is 'n vuur wat julle sal verteer. Dan word die volke 'n kalkbrandery, afgekapte doringbosse wat met vuur verbrand word. Hoor, julle wat ver is, wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my mag! Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by 'n verterende vuur, wie van ons kan woon by 'n ewige gloed? Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie — hy sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis. Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou, dit sal 'n wyd uitgestrekte land sien. Jou hart sal die deurgestane verskrikking oordink en sê: Waar is hy wat getel het? Waar is hy wat geweeg het? Waar is hy wat die torings opgeskryf het? Jy sal die onbeskaamde volk nie meer sien nie, die volk met duister, onverstaanbare spraak, met onbegryplike hakkeltong. Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie. Maar daar sal die HERE vir ons heerlik wees; dit sal 'n plek van riviere wees, van breë strome; geen vloot van roeiskepe sal daarop vaar nie, en geen trotse skip sal daaroor gaan nie. Want die HERE is ons Regter, die HERE is ons Aanvoerder, die HERE is ons Koning: Hý sal ons verlos. Jou toue hang slap, hulle hou die voetstuk van hulle mas nie styf nie, hulle ontplooi nie die banier nie; dan word roofbuit verdeel in menigte, selfs die lammes maak buit. En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.

JESAJA 33:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ellende wag vir jou, jy wat verwoes het en self nie verwoes is nie, jy wat ontrou was hoewel niemand aan jou ontrou was nie. Wanneer jy klaar verwoes het, sal jy verwoes word. Wanneer daar 'n end kom aan jou ontrou, sal ander ontrou wees aan jou. Wees ons genadig, Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood. Wanneer U u stem laat hoor, vlug volke, wanneer U te voorskyn kom, spat nasies uitmekaar. Wat julle vir julleself gebuit het, sal weggeraap word asof sprinkane daarop toegesak het; mense sal soos 'n swerm sprinkane daarop afstorm. Die Here is hoog verhewe, Hy woon in die hoogte; Hy sal sorg dat daar in Sion reg geskied en reg gedoen word. Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou. Die kosbare besitting wat werklik kan help, is wysheid en kennis; die rykdom waarop Sion hom kan verlaat, is die diens van die Here. Die inwoners van Jerusalem roep om hulp daarbuite, dié wat die boodskap bring dat daar vrede is, huil onbedaarlik. Die paaie lê verlate, niemand kom met die pad verby nie. Die verdrag is verbreek, stede is met minagting behandel, geen mens is ontsien nie. Die land treur, hy is verdor; die Libanon het verwelk, hy is vol insekte; die Saron lyk soos 'n woestynvlakte; op Basan en Karmel staan die bome kaal. Ek gaan nou ingryp, sê die Here, Ek gaan optree, Ek gaan my mag laat geld. Al wat julle voortbring, is strooi, al wat julle oplewer, is kaf, en julle asem is die vuur waardeur julle verteer sal word. Die volke gaan 'n kalkbrandery word, hulle gaan aan die brand gesteek word soos afgekapte doringbosse. Julle daar ver, hoor wat Ek gedoen het, julle hier naby, erken my mag. Die sondaars staan verskrik in Sion, die godloses is angsbevange: wie van ons kan dit by 'n verterende vuur uithou, wie van ons kan dit uithou by 'n vuur wat brand sonder ophou? Net dié mens wat reg bly doen en opreg is in wat hy sê, wat weier om wins te maak deur mense uit te buit, wat omkoopgeld weier, nie na moordplanne luister nie en nie geleentheid soek om misdade te pleeg nie. So 'n mens sal sy woonplek in die hoë berge hê, sy skuilplek sal 'n rotsvesting wees. Kos sal hy kry en sy drinkwater sal nie opraak nie. Jou eie oë sal 'n koning sien in al sy prag en 'n land wat wyd lê. Jy sal terugdink aan die vrees wat jy gehad het: “Waar is die een wat ons goed moes opskryf, waar is die een wat dit moes afweeg, waar is die een wat moes opskryf watter torings afgebreek moes word?” Jy sal daardie vermetele mense nie weer sien nie, daardie volk met sy onverstaanbare, moeilike taal wat jy nie begryp nie. Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste vier: jou eie oë sal Jerusalem sien, 'n veilige woonplek waar jou tent nie versit hoef te word nie, sy tentpenne nooit uitgetrek hoef te word nie, sy toue nooit meer breek nie. Daar sal die Here vir ons die magtige God wees, daar waar die strome, die riviere, breed sal vloei sonder dat die vyand se roeibote daarop vaar, die oorlogskepe daar verbykom. Die Here is ons Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning, Hy sal ons red. Die toue van die vyand se skepe hang slap, hulle hou nie die maste regop nie, en die seile kan nie gespan word nie. Daar word buit in oorvloed verdeel, selfs lammes vat wat hulle wil. Niemand in die stad sal meer sê: “Ek is siek” nie; die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe.

JESAJA 33:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wee jou, verwoester, jy wat nie verwoes is nie, trouelose, aan wie niemand ontrou was nie! Wanneer jy jou verwoestingswerk voltooi het, sal jy verwoes word; wanneer jy ophou om troueloos te wees, sal daar troueloos teen jou opgetree word. HERE, wees ons genadig! Op U wag ons. Wees elke oggend ons krag, ja, ons verlossing in 'n tyd van nood. Vir die geluid van 'n gedreun vlug volke; vanweë u verhewenheid word nasies verstrooi. Wat julle gebuit het, nasies, word bymekaargemaak, soos kaalvretersprinkane bymekaarmaak. Soos swerms toesak, word op julle buit toegesak. Die HERE is verhewe, ja, Hy woon in die hoogte. Hy vul Sion met reg en geregtigheid. Hy sal bestendigheid aan jou tye bied, 'n rykdom van bystand, wysheid en kennis, ontsag vir die HERE – dit is sy skatte. Kyk, die mense van Jerusalem roep om hulp op straat, die boodskappers van vrede huil bitterlik. Gebaande weë was verlate, niemand het meer op die pad verbygegaan nie. Hy het verdrae verbreek, hy het stede geminag, hy het mense nie geag nie. Dit het droog geword, die land was uitgedor; die Libanon was verbluf, het swart geword. Saron het soos die Araba geword; Basan en Karmel het hulle blare verloor. “Nou gaan Ek opstaan,” sê die HERE, “nou gaan Ek Myself verhef, nou gaan Ek My oprig. Julle raak swanger van droë gras, gee geboorte aan kaf; julle asem is 'n vuur wat julle sal verteer. Die volke sal 'n kalkbrandery word – afgekapte doringstruike wat 'n vuur aan die brand moet kry. Luister, julle wat ver is, na wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my mag.” In Sion sidder sondaars van angs; bewing pak hulle beet, hulle wat vervreemd is van God: “Wie van ons kan by 'n verterende vuur vertoef? Wie van ons kan by 'n ewig brandende vuurherd vertoef?” Hy wat eerlik leef en spreek wat reg is, wat wins uit afpersing afwys, wat sy handpalms daarvan weerhou om omkoopgeld te aanvaar, wat niks van bloedvergieting wil hoor nie, niks wat boos is, wil aanskou nie – dit is hy wat op die hoogtes sal woon. Bergvestings in kranse is sy toevlugsoord; sy kos word vir hom voorsien, sy watervoorraad is standhoudend. Jou eie oë sal 'n koning in sy skoonheid sien, sal uitkyk oor 'n wyd uitgestrekte land. Jou hart sal die verskrikking oordink: Waar is hy wat neerskryf, waar hy wat weeg? Waar is hy wat die getal van die torings neerskryf? Dié aanmatigende volk sal jy nie weer sien nie, die volk met spraak wat te moeilik is om te volg, met 'n gestamel van tong wat onverstaanbaar is. Kyk na Sion, die stad van ons feestelike byeenkomste! Jou oë sal Jerusalem sien – 'n ongestoorde tuiste, 'n tent wat nie afgeslaan sal word, waarvan die tentpenne nooit uitgetrek, en die tentlyne nooit losgeruk sal word nie; want daar sal 'n magtige, die HERE, by ons wees, by 'n plek van riviere, met breë strome aan alle kante. 'n Boot met spane sal nie daarop vaar nie, 'n magtige skip sal dit nie oorsteek nie. Ja, die HERE is ons Regter, die HERE is ons Regeerder, die HERE is ons Koning – Hy sal ons verlos. Al hang jou takelwerk nou slap, al hou dit nie die mas se voetstuk stewig nie, al span dit nie die banier oop nie, dan sal daar buit in oorvloed verdeel word; selfs lammes sal wat te roof is, plunder. Geen inwoner sal sê, “Ek is siek” nie. Die volk wat in Jerusalem woon, se sondeskuld is vergewe.

JESAJA 33:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Wee jou wat plunder, en jy is nie geplunder nie; en hulle het troueloos gehandel, en hulle het nie troueloos teen jou gehandel nie! as jy ophou om te buit, sal jy geplunder word; en as jy 'n einde maak om troueloos te handel, sal hulle troueloos teen jou handel. O HERE, wees ons genadig; ons het op U gewag; wees U elke môre hulle arm, ons heil ook in die tyd van benoudheid. Van die geraas van die rumoer het die volk gevlug; by die opheffing van Uself is die nasies verstrooi. En jou buit sal ingesamel word soos die insameling van die ruspes; soos die heen en weer gehardloop van sprinkane sal hy op hulle hardloop. Die HERE is hoog; want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid. En wysheid en kennis sal 'n standvastigheid van jou tye wees en 'n sterkte van verlossing: die vrees van die HERE is sy skat. Kyk, hulle dapperes roep daarbuite; die gesante van vrede sal bitterlik ween. Die grootpaaie lê puin, die wandelende man hou op; hy het die verbond verbreek, die stede verag, hy sien niemand aan nie. Die aarde treur en kwyn, die Líbanon staan in die skande en word uitgekap; Saron is soos 'n woestyn; en Basan en Karmel skud hulle vrugte af. Nou sal Ek opstaan, spreek die HERE; nou sal ek verhef word; nou sal ek myself ophef. Kaf sal julle swanger word, stoppels sal julle baar; julle asem sal julle verteer soos vuur. En die volke sal wees soos kalkbrande; soos dorings wat omgekap word, sal hulle met vuur verbrand word. Hoor, julle wat ver is, wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my mag. Die sondaars in Sion is bang; vrees het die geveinsdes verras. Wie van ons sal by die verterende vuur woon? wie van ons sal by ewige brande woon? Hy wat regverdig wandel en opreg spreek; hy wat die wins van verdrukkinge verag, wat sy hande skud van die aanhouding van omkoopgeskenke, wat sy ore toehou om bloed te hoor en sy oë toehou om onheil te sien; Hy sal in die hoogte woon; sy plek van verdediging sal die wapenrusting van rotse wees; brood sal aan hom gegee word; sy waters sal seker wees. Jou oë sal die koning in sy prag aanskou: hulle sal die land aanskou wat baie ver is. Jou hart sal verskrikking oordink. Waar is die skriba? waar is die ontvanger? waar is hy wat die torings getel het? Jy sal nie 'n vurige volk sien nie, 'n volk met 'n dieper spraak as wat jy kan sien; van 'n hakkelende tong, wat jy nie kan verstaan nie. Kyk na Sion, die stad van ons feesvieringe: jou oë sal Jerusalem sien as 'n rustige woning, 'n tabernakel wat nie afgebreek sal word nie; nie een van sy stokke sal ooit verwyder word nie, en geen van sy toue sal gebreek word nie. Maar daar sal die heerlike HERE vir ons wees 'n plek van breë riviere en strome; waarin geen galei met roeispane sal gaan nie, en geen dapper skip sal daar verbygaan nie. Want die HERE is ons Regter, die HERE is ons Wetgewer, die HERE is ons Koning; hy sal ons red. Jou take is losgemaak; hulle kon hul mas nie goed versterk nie, hulle kon die seil nie uitsprei nie; dan word die prooi van 'n groot buit verdeel; die kreupeles neem die prooi. En die inwoner sal nie sê: Ek is siek nie; die volk wat daarin woon, sal hulle ongeregtigheid vergewe word.

JESAJA 33:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die verwoesting is vir jou, verwoester wat self nie verwoes is nie. Ellende wag vir jou, verraaier wat self nie verraai is nie! Wanneer jy opgehou het om te verwoes, sal jy self verwoes word. Wanneer jy ophou om te verraai, sal jy self verraai word. HERE, wees ons genadig! Ons wag op U! Wees elke dag ons krag, ons redding in tye van nood. Die vyand vlug wanneer hulle u stem hoor. Wanneer U opstaan, vlug die volke. Wat julle vir julleself versamel het, sal verorber word soos sprinkane daarop toesak. Soos ’n swerm sprinkane sal Israel daarop toesak. Die HERE is hoog verhewe. Hy woon in die hemel. Hy sal Jerusalem met reg en geregtigheid vul. Lewenslank is Hy jou vaste fondament, ’n ryke voorraad van redding, wysheid en kennis. As jy die Here dien, sal jy al hierdie skatte kry. Jou ambassadeurs huil van teleurstelling, want Assirië het jou versoek vir vrede summier verwerp. Jou weë is verlate. Niemand reis op die paaie nie. Assirië het hulle ooreenkoms met jou verbreek en gee niks om vir die beloftes wat hulle voor getuies gemaak het nie. Hulle het respek vir niemand nie. Die hele land huil en vergaan. Die Libanonberge verwelk. Die Saronvlakte is soos ’n woestyn. Die bome in Basan en Karmel staan kaal. “Nou sal Ek opstaan,” sê die HERE. “Nou staan Ek op en laat my mag geld. Wat julle voortbring, is kaf en julle gee geboorte aan strooi. Julle asem is soos vuur wat julleself verteer. Jou mense sal soos kalk verbrand word. Soos afgekapte doringbosse sal hulle verbrand word. “Luister na wat Ek gedoen het, julle nasies wat daar ver is. En julle hier naby, erken my mag.” Die sondaars in Sion bewe van vrees. Die goddeloses is vol angs: “Wie van ons kan dit uithou in ’n verterende vuur? Wie van ons kan uithou in ’n vuur wat aanhou brand?” Net mense wat reg lewe en sê wat reg is, wat weier om deur bedrieëry wins te maak, wat wegbly van omkopery, wat nie luister na moordplanne nie en hulle oë toemaak vir die beplanning van misdade. Sulke mense sal veilig wees. Die rotsvesting beskerm hulle. Hulle sal altyd kos en water in oorvloed hê. Daar kom ’n tyd dat jy self die koning sal sien in al sy glorie. Jy sal ’n land sien wat strek tot in die verte. Jy sal dan terugdink aan die tyd van angs: “Waar is die een wat ons getel het? Waar is die een wat buit moes weeg? Waar is die een wat ons torings moes opskryf?” Hierdie gewelddadige mense sal skielik weg wees, daardie mense met ’n vreemde, onverstaanbare taal. Jerusalem sal die plek van aanbidding en feeste wees. Jerusalem sal ’n veilige plek wees waar jou tent nie verskuif sal word en sy tentpenne nie uitgetrek sal word of enige van sy toue sal breek nie. Daar sal die HERE jou magtige Beskermer wees. Hy sal soos ’n wye rivier wees waarop geen vyand kan oorvaar teen jou nie. Want die HERE is ons Regter. Die HERE is ons Regeerder. Die HERE is ons Koning. Hy is die een wat ons sal red. Die vyand se skeepstoue hang slap. Die maste staan nie regop nie. Die seile is nie gespan nie. God se volk verdeel die oorvloedige buit. Selfs mense wat verlam is, kry genoeg. Die mense van Israel sal nooit weer sê: “Ek is hulpeloos en siek” nie, want die sonde van mense is vergewe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid