Jesaja 33:1-24

Jesaja 33:1-24 ABA

Daar is 'n volk wat ander volke se lande verwoes het, maar niemand het daardie volk se land verwoes nie. Daar is 'n volk wat ander volke verraai het, maar niemand het daardie volk verraai nie. Dit sal sleg gaan met daardie volk. Wanneer hulle klaar verwoes het en klaar verraai het, dan sal ander volke daardie volk verraai en hulle sal daardie volk se land verwoes. Here, wees asseblief genadig vir ons, ons wag dat U ons moet help. Maak ons elke oggend sterk, red ons, want ons kry swaar. Wanneer U praat en die volke hoor u stem, dan vlug hulle. Wanneer U opstaan en nader kom, dan vlug die volke. Ander volke sal die goed wegvat wat daardie volk gevat het. Die ander volke sal soos sprinkane kom en hulle sal alles wegvat. Die Here is bo almal, want Hy woon in die hemel. Hy sal sê, en die mense in Sion sal almal weer reg doen en regverdig wees. Hulle sal altyd die Here vertrou. Hy sal hulle red en Hy sal vir hulle wysheid en kennis gee. Hulle sal die Here dien, dit sal hulle ryk maak. Luister hoe roep die mense van Jerusalem. Hulle vra dat die Here hulle moet kom help. Luister hoe huil die boodskappers wat moet sê daar is vrede. Niemand loop op die paaie nie, niemand kom verby nie. Die vyand het sy ooreenkoms met ons gebreek. Hulle het ons stede maklik oorwin, ons mense kon hulle nie keer nie. Die land treur, alles word droog, die Libanon-berg lyk soos 'n mens wat bleek is, die plante op die berg word droog. Die Saron-vlakte is soos die woestyn. Die bome in die land Basan en op die Karmel-berg se blare val af. Die Here sê: “Ek sal nou opstaan en doen wat Ek wil doen. Alles wat julle doen, is soos droë gras en kaf. Julle het self 'n vuur aangesteek, maar julle sal brand in daardie vuur. Volke sal verbrand en hulle sal as word soos doringbossies wat iemand afkap en aan die brand steek. Volke wat ver is, volke wat naby is, julle moet hoor wat Ek doen, julle moet weet hoe sterk Ek is.” Die sondaars in Sion skrik, die slegte mense begin bewe. Hulle sê: “Watter mense kan woon by 'n vuur wat alles verbrand? Wie kan woon by 'n vuur wat altyd aanhou brand? Dit is die mense wat reg lewe en wat die waarheid praat, die mense wat nie ander mense se goed vat om hulleself ryk te maak nie, die mense wat nie presente vat om verkeerd te doen aan ander mense nie, die mense wat nie luister na planne om mense te vermoor nie, die mense wat nie verkeerd wil doen nie. Hierdie mense sal hoog in die berge woon en hulle sal veilig wees agter die rotse. Hulle sal kos kry, en hulle sal altyd water hê.” Julle sal self 'n koning sien wat mooi klere dra, en julle sal sien die land is groot. Dan sal julle onthou hoe julle geskrik het toe die vyande julle goed getel en geweeg het om dit saam te vat, en die torings getel het om dit af te breek. Maar julle sal nie weer daardie hoogmoedige volk sien nie, daardie volk wat 'n taal praat wat julle nie kan verstaan nie. Kyk na Sion, na Jerusalem, die stad waar ons bymekaarkom om fees te vier. Julle sal sien dit is 'n plek waar julle veilig kan woon. Dit is soos 'n tent wat niemand afslaan nie, niemand trek die tent se penne uit nie, en die toue breek nie. Die Here sal daar vir ons die God wees wat Koning is, dit sal 'n plek wees waar daar riviere en groot waterstrome is, maar die roeibote en die oorlogskepe van die vyande sal nie daar kom nie. Ja, die Here is ons Regter, die Here is ons Leier, die Here is ons Koning. Hy sal ons red. Die toue van die vyande se skepe hang pap, die toue hou nie die maspaal van die skip regop nie, die maspaal waaraan die seile is, en die toue hou nie die seile styf nie. Daar is baie goed wat julle kan vat, ook die lam mense sal alles vat wat hulle wil. Niemand in Jerusalem sal sê hy is siek nie. Die Here het die sonde vergewe van die mense in die stad.