JESAJA 10:1-27

JESAJA 10:1-27 Die Boodskap (DB)

Die ongeluk gaan julle tref, julle wat al hierdie onregverdige wette en nuwe regulasies maak om my mense te laat swaarkry. Julle ontsê die armes en die weduwees en die weeskinders hulle regte en steel op hierdie oneerlike manier hulle laaste besittings. Wat gaan julle doen die dag wanneer die Here ’n volk van ver af stuur om julle te kom straf? Na wie toe sal julle dan hardloop om julle te help, en waar gaan julle al julle rykdom wegsteek? Een van twee dinge gaan met julle gebeur: julle sal óf tussen die krygsgevangenes voortstrompel óf tussen die lyke op die grond bly lê. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf. Alhoewel Ek Assirië se militêre mag gebruik soos ’n stok waarmee Ek die volke kan slaan, wag daar vir hulle ook swaarkry omdat hulle die mag wat Ek hulle gegee het, misbruik het. Ek het Assirië na my goddelose volk toe gestuur omdat Ek vir hulle kwaad was, met die opdrag om hulle te beroof en die mense soos modder in die strate te vertrap. Maar die koning van Assirië het sy eie idees hieroor. Sy plan is om verwoesting te saai en baie nasies in die proses uit te roei. Hy spog en sê: “Al my offisiere gaan nog konings word wat oor ’n gebied regeer wat ek verower het. Die een hoofstad na die ander moes die knie voor my mag buig. Karkemis, Hamat, Arpad, Samaria en Damaskus, nie een van hulle kon weerstand bied nie. Ek het lande ingeneem wat selfs nog meer afgode gedien het as Jerusalem en Samaria. Ek het klaar met Samaria en sy gode afgereken, nou is dit Jerusalem en sy gode se beurt!” Wat die koning van Assirië nie besef nie, is dat nadat die Here hom gebruik het om sy doel met Sion en Jerusalem te bereik, Hy teen hom gaan draai en hom gaan straf omdat hy so vol is van homself. Want hy spog mos: “Ek het dit alles op my eie gedoen. Ek is sterk en slim en wêreldwys. Ek het volk na volk platgeloop, hulle voorrade geplunder en hulle mense soos ’n verwoede bul voor my weggestamp en platgetrap. Die koninkryke van die wêreld was vir my soos ’n voëlnessie, ek het hulle rykdom so maklik by hulle afgevat as wat ’n mens eiers uit ’n nes uithaal. Soos ’n verskrikte voël het nie een van hierdie lande ’n vlerk geklap om my te probeer afskrik nie.” Die Here vra egter: Kan ’n byl hom ooit verbeel dat hy belangriker is as die een wat met hom kap? Of kan ’n saag dink hy kan iets afsaag sonder die mens wat hom gebruik? Dis tog nie die lat wat die persoon wat dit opgetel het, rondswaai nie? Kan ’n kierie dalk op sy eie opstaan en loop? Daarom gaan die Here die Almagtige die verwaande mense van Assirië laat krepeer van ellende en al die koning se skatte wat hy bymekaargemaak het, vernietig met ’n onblusbare vuur. God, die Lig van Israel, sal die vuur wees, die heilige God van Israel is die vlam wat hulle onbelangrike mense, die dorings en die onkruid, in ’n oogwink tot as verbrand. Ook Assirië se magtige leër, wat soos ’n magtige bos is wat op vrugbare grond geplant is, sal vernietig word. Die Here sal hulle laat agteruitgaan soos iemand wat deur ’n ongeneeslike siekte aangetas is. Daar sal so min bome in hierdie magtige bos wat Assirië was, oorbly dat selfs ’n klein kindjie hulle sal kan tel. In daardie tyd sal die klein groepie Israeliete wat uit die nageslag van Jakob oorgebly het, nie meer hulp gaan soek by Assirië wat hulle in die grond in vertrap het nie. Nou sal hulle net op die Here, die heilige God van Israel, vertrou. ’n Klein groepie van die nageslag van Jakob sal na hulle magtige God toe terugkom. Alhoewel die bevolking van Israel nou so baie is soos die sand van die see, sal net ’n klein groepie van hulle oorbly en terugkom na hulle land toe. Die Here het klaar besluit om hulle te vernietig en dit is hulle verdiende loon. En dit wat die Here, die Almagtige, besluit het, doen Hy; Hy verander nie van plan nie. Daarom, so sê die Here, die almagtige God, vir sy volk wat in Jerusalem woon: Moenie bang wees vir die Assiriërs nie, selfs al laat hulle julle swaarkry soos destyds toe julle slawe in Egipte was. Dit sal nie te lank aanhou nie, en dan sal Ek al my woede op hulle uithaal en hulle vernietig. Ek, die Here die Almagtige, sal hulle met ’n sweep slaan, soos toe Gideon die Midianiete by die rots van Oreb verslaan het. Ek sal hulle vernietig soos toe Ek die Egiptenaars in die see laat verdrink het toe Moses sy kierie uitgesteek het. Daardie dag sal Ek julle uit die mag van Assirië bevry en die juk van slawerny wat so swaar op julle skouers druk heeltemal wegvat.

JESAJA 10:1-27 Bybel vir almal (ABA)

Dit sal sleg gaan met julle wat verkeerde wette maak, wette wat party mense verkeerd laat doen en ander mense swaar laat kry. Julle doen nie reg aan die arm mense nie, julle doen nie reg aan die mense wat hulleself nie kan help nie, julle vat die weduwees en die weeskinders se goed. Wat sal julle doen wanneer die Here julle straf en dit sleg laat gaan met julle? Na wie toe sal julle hardloop om julle te help? Waar sal julle al julle goed wegsteek? Die vyande sal julle vang en julle sal voor hulle moet buig, of julle sal sterf in die oorlog. Maar dit was nie genoeg vir die Here nie. Hy het kwaad gebly en Hy het aangehou om hulle te straf. Dit sal sleg gaan met die Assiriërs. Hulle was vir My 'n kierie en 'n stok. Ek slaan my volk met die kierie, want Ek is kwaad vir hulle. Ek stuur die Assiriërs na hierdie slegte volk toe, na die mense vir wie Ek kwaad is. Die Assiriërs moet my volk se goed vat en op hulle trap soos 'n mens trap op modder in die strate. Maar dit is nie genoeg vir die Assiriërs nie, hulle wil mense doodmaak, hulle wil baie volke doodmaak. Die koning van Assirië sê: “My amptenare is konings van ander volke. Ek het baie stede oorwin: Kalno, Karkemis, Hamat, Arpad, Samaria en Damaskus. Ek het die afgode se stede oorwin, en daar is meer beelde in die ander stede as in Jerusalem en Samaria. Ek sal met Jerusalem en die beelde van sy afgode doen soos ek gedoen het met Samaria en sy afgode.” Die Here sal die werk klaarmaak wat Hy wil doen op Sionsberg en in Jerusalem, en dan sal Hy die koning van Assirië straf, die koning wat so hoogmoedig is. Want die koning van Assirië het gesê: “Ek is sterk en ek is slim, ek het ander mense se lande en goed gevat. Daardie mense is nou my slawe. Ek het alles vir myself gevat wat aan die ander volke behoort, en al hulle lande het my lande geword. Dit was soos wanneer iemand eiers uit 'n nes vat maar die voël klap nie sy vlerke nie, en hy maak nie sy bek oop en skree nie.” 'n Byl kan nie spog teen die man wat met die byl kap nie, 'n saag kan hom nie verbeel hy is beter as die man wat met hom saag nie, 'n kierie kan nie die man swaai wat die kierie optel nie, 'n stok kan nie die man optel wat die stok vashou nie. Daarom sal die Here die Assiriërs straf. Die Here wat oor alles regeer, sal die vet Assiriërs maer laat word en Hy sal al hulle mooi goed verbrand. Die Lig van Israel, die Heilige God van Israel, sal 'n vuur word wat op een dag die dorings en bossies sal verbrand. Hy sal ook die mooi bosse en bome verbrand. Dit is al die Assiriërs, almal wat asemhaal en lewe. Hulle sal verdwyn soos iets wat niks beteken nie. Assirië is die bos, en daar sal min bome oorbly, 'n kind sal die bome kan tel. Daardie dag sal die Israeliete wat oorgebly het, die nageslag van Jakob wat nog lewe, ophou dink dat Assirië hulle kan help. Dit was Assirië wat slegte dinge gedoen het aan hulle. Hulle sal weet die Here kan hulle help, die Heilige God van Israel. Die mense wat oorgebly het, sal terugkom, die mense van die nageslag van Jakob wat oorgebly het. Hulle sal terugkom na die God wat oorlog kan maak. Israeliete, julle was so baie soos die sand by die see, maar min van julle sal oorbly en terugkom. Die Here het besluit baie van julle moet sterf, julle straf kom soos 'n watervloed wat oor alles stroom. Die Here wat oor alles regeer, het dit klaar besluit, en Hy sal nie sy plan verander nie. Hy sal al die mense van die land straf. Maar die Here wat oor alles regeer, sê: “My volk wat in Sion woon, julle moenie bang wees vir die Assiriërs nie. Hulle doen slegte dinge aan julle soos die Egiptenaars aan julle voorvaders gedoen het, maar dit sal nie lank aanhou nie. Dan sal Ek nie meer kwaad wees vir julle nie. Ek sal kwaad wees vir die Assiriërs en Ek sal hulle almal doodmaak. Ek, die Here wat oor alles regeer, sal hulle slaan met 'n sweep soos Ek die Midianiete by die Oreb-rots geslaan het. Ek sal my kierie oor die water uitsteek soos toe Ek die Egiptenaars laat sterf het. Wanneer Ek dit gedoen het, dan sal die Assiriërs julle nie meer laat swaarkry nie. Ek sal hulle juk wegvat van julle nek, dan sal julle nie meer hulle slawe wees nie.”

JESAJA 10:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WEE hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite ywerig voorskrywe, om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder. Maar wat sal julle doen op die dag van besoeking en by die verwoesting wat van ver af sal kom? Na wie sal julle vlug om hulp, en waar julle rykdom wegbêre? Hulle kan net maar buig soos geboeides en val soos diegene wat gedood is. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek. WEE Assur! die roede van my toorn en 'n stok is hy — in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen 'n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot 'n vertrapping te maak soos modder van die strate. Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie. Want hy sê: Is my vorste nie almal saam konings nie? Het dit met Kalno nie gegaan soos met Kárkemis, met Hamat soos met Arpad, met Samaría soos met Damaskus nie? Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría, sou ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem en sy afgode kan doen nie? Maar as die HERE al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos 'n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na 'n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos 'n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat 'n vlerk verroer of 'n bek oopgemaak of gepiep het nie. Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof 'n staf húlle swaai wat hom ophef, asof 'n stok hóm ophef wat nie hout is nie! Daarom sal die Here HERE van die leërskare onder sy vettes 'n maerte stuur; en onder sy heerlikheid sal Hy 'n brand laat uitslaan soos die brand van vuur. En die Lig van Israel sal 'n vuur wees, en sy Heilige 'n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag. Ook sal Hy die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteboord verteer, van die siel af tot die vlees toe, sodat dit is soos wanneer 'n kranke wegkwyn. En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en 'n seuntjie sal hulle kan opskrywe. En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die HERE, die Heilige van Israel, in opregtheid. Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe. Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid. Want 'n verdelging wat vas besluit is, sal die Here HERE van die leërskare voltrek in die midde van die hele aarde. Daarom, so sê die Here HERE van die leërskare: O My volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir Assur wat jou met die staf slaan en sy stok teen jou ophef op die manier van Egipte nie. Want nog 'n baie kort rukkie, dan is die grimmigheid ten einde, en my toorn gaan uit om húlle te vernietig. En die HERE van die leërskare sal oor hom die gésel swaai soos Mídian verslaan is by die rots Oreb; en sy staf sal wees oor die see, en Hy sal dit ophef op die manier van Egipte. En in dié dag sal sy las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid.

JESAJA 10:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ellende wag vir julle wat kwaad bevorder met die wette wat julle maak, wat met julle ordonnansies mense laat ly: julle verdraai die reg van die armes, julle ontsê die armes van my volk hulle regte, julle buit weduwees uit, julle plunder weeskinders. Wat gaan julle doen op die dag van afrekening wanneer die straf wat nou nog ver is, julle tref? Na wie toe sal julle hardloop om hulp, en waar sal julle julle besittings wegsteek? Al wat vir julle sal oorbly, is om te buig soos 'n gevangene of om te sterf. Ondanks dit alles bedaar die toorn van die Here nie; sy hand bly uitgesteek teen hulle. Ellende wag vir Assirië, Assirië, die stok waarmee Ek sal straf, die werktuig van my toorn! Ek stuur hom teen die godlose nasie, Ek beveel hom om op te trek teen die volk vir wie Ek kwaad is, om hulle te beroof en te plunder, om hulle te vertrap soos modder in die strate. Maar dit is nie wat Assirië in gedagte het nie, ook nie wat hy beplan nie. Sý bedoeling is om te vernietig, om baie nasies uit te roei. Hy vra: “Is al my vorste nie konings nie? Het dit nie met Kalne gegaan soos met Karkemis nie, met Hamat soos met Arpad nie, met Samaria soos met Damaskus nie? Ek het nog altyd die koninkryke van ander gode ingeneem, gode wie se beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaria. Sal ek nie met Jerusalem en sy gode kan doen wat ek met Samaria en syne gedoen het nie?” Maar wanneer die Here alles wat Hy op Sionsberg en in Jerusalem wil doen, afgehandel het, sal Hy die koning van Assirië straf oor sy trots en selfversekerdheid, want die koning van Assirië het gesê: “Ek het dit met my eie mag gedoen, met my eie insig en verstand. Ek het die grenslyne van volke verskuif en hulle voorrade geplunder; ek het hulle inwoners met my mag onderwerp. Asof ek my hand in 'n nes steek, het ek die rykdomme van volke gevat; soos iemand eiers wat rondlê, bymekaarmaak, so het ek al die lande van die aarde onder my verenig. Nie een het 'n vlerk geklap of sy bek oopgemaak en geskree nie.” Kan 'n byl grootpraat teen die een wat met hom kap? Of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag? Kan 'n stok die een swaai wat hom optel, kan 'n lat die een oplig wat hom gebruik? Daarom sal die Here ons God, die Almagtige, die vernames van Assirië laat krepeer van ellende en sy besittings laat verteer deur 'n vuur wat aanhou brand. Die Lig van Israel sal die vuur wees, die Heilige van Israel die vlam: in 'n enkele oomblik sal die vlam hulle geringes, die dorings en dissels, verbrand en verteer, en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig. Die bome wat in die bos, Assirië, oorbly, sal so min wees dat 'n klein seuntjie dit sal kan tel. In dié tyd sal dié wat in Israel, in Jakob oorgebly het en ontkom het, nie meer hulle vertroue stel in Assirië deur wie hulle vertrap is nie, maar hulle sal net op die Here, die Heilige van Israel, vertrou. Daar sal 'n oorblyfsel terugkom na die magtige God toe, die oorblyfsel van Jakob. Al sou jou mense, Israel, so baie wees soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel sal na die land toe terugkom. Maar die verdelging staan vas, die vergelding kom aan soos 'n vloed: Die Here ons God, die Almagtige, het vas besluit om die hele land te verdelg. Daarom, so sê die Here ons God, die Almagtige: My volk wat op Sion woon, moenie bang wees vir die Assiriërs nie, vir dié wat vir julle vertrap het en slawe gemaak het van julle, soos Egipte gedoen het. My toorn teen julle sal nog net 'n kort rukkie duur, dan sal dit die Assiriërs uitroei. Die Here die Almagtige sal hulle met 'n sweep slaan, soos vir Midian by die Orebrots; Hy sal sy stok oor die water uitsteek en die Assiriërs tref soos Hy met die Egiptenaars gedoen het. In dié tyd sal Hy die las verwyder wat hulle op julle skouers gelê het, en ook hulle juk van julle nek af; die juk sal heeltemal van julle af afgeruk word.

JESAJA 10:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wee hulle wat vaste voorskrifte van onreg uitvaardig, skrywers wat voortdurend iets neerskryf wat moeite besorg – om die regte van armes te dwarsboom, om die magteloses van my volk van hulle reg te ontneem, sodat weduwees hulle buit kan word, en hulle die vaderloses kan beroof. Wat gaan julle doen op die dag van afrekening, tydens die storm wat uit die verte aankom? Na wie sal julle vlug vir hulp, en waar gaan julle julle rykdom agterlaat? Niks daarvan nie! Hulle sal tussen gevangenes die rug buig, en tussen gesneuweldes val. Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek. “Wee Assirië, die stok van my toorn! My verontwaardiging – 'n staf is dit in hulle hand. Teen 'n nasie, vervreem van God, stuur Ek hom; teen die volk op wie my gramskap rus, gee Ek hom volmag, om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om van hulle 'n vertrapte ding, soos die kleigrond van strate, te maak. Maar hy het dit nie so bedink nie, sy hart het dit nie so beplan nie; want sy voorneme was om uit te delg, om tallose nasies uit te roei. Hy het immers gesê, ‘Is my bevelvoerders nie almal konings nie? Is Kalno nie soos Karkemis, en Hamat soos Arpad of Samaria soos Damaskus nie? Soos my hand die koninkryke van nuttelose afgode bekom het, hulle wie se gesnede beelde dié van Jerusalem en Samaria oortref het – sal ek dan nie met Jerusalem en haar afgode maak net soos ek met Samaria en haar nuttelose afgode gemaak het nie?’ ” En dan, wanneer my Heer al sy werk op die berg Sion en in Jerusalem voltooi het, sal Hy afreken met die vrug van die grootheidswaan van die koning van Assirië en met die verwaande blik in sy oë, omdat hy gesê het: “Met die krag van my hand het ek opgetree, en in my wysheid – ja, ek het insig. Ek verwyder die grense van volke, hulle voorraadkamers plunder ek, en, as die sterke, slaan ek wie op trone sit, neer. Asof dit 'n voëlnes is, het my hand die rykdom van die volke bekom; soos mens eiers insamel wat in 'n nes agtergelaat is, het ek die hele aarde ingesamel. Daar was nie 'n vlerk wat geklap het, 'n bek wat oopgegaan of getjirp het nie.” Kan 'n byl spog teen die een wat met hom kap; of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag, asof 'n stok die een swaai wat hom optel, of 'n staf die een optel wat nie hout is nie? Daarom sal die Heer, die HERE, Heerser oor alle magte, onder Assirië se vet mense 'n uitterende siekte instuur, en onder sy geëerdes sal 'n brand uitbreek wat soos 'n egte vuur sal brand. Die Lig van Israel sal 'n vuur word, en sy Heilige 'n vlam. Die vlam sal brand en hulle onkruid en doringstruike op een dag verteer. Dit sal die geëerdes van sy bos en wingerd vernietig – siel sowel as liggaam. Dit sal wees soos 'n invalide wat wegkwyn. Wat oorbly van die bome van sy bos, sal so min wees dat 'n kind dit sal kan neerskryf. Op daardie dag sal hulle wat oorgebly het van Israel, en hulle van die huis van Jakob wat vrygekom het, nie verder steun op die een wat hulle slaan nie, maar met getrouheid steun op die HERE, die Heilige van Israel. 'n Oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die Magtige God. Ja, al was jou volk, Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel daarvan sal terugkeer. Vernietiging is bepaal, in geregtigheid stroom dit – ja, volslae vernietiging is wat bepaal is. My Heer, die HERE, Heerser oor alle magte, gaan dit midde-in die hele land voltrek. Daarom, so sê my Heer, die HERE, Heerser oor alle magte: “My volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir Assirië nie! Hy slaan jou met 'n stok; hy lig 'n staf op teen jou, op dieselfde manier as Egipte. Ja, nog net 'n rukkie, dan sal die vervloeking tot 'n einde kom, en my toorn sal gerig wees op hulle uitwissing.” Die HERE, Heerser oor alle magte, sal 'n sweep oor hom swaai soos met die aanval op Midian by die rots van Oreb. Sy staf sal oor die see wees; Hy sal dit ophef op dieselfde manier as in Egipte. Op daardie dag sal Assirië se las van jou skouer val, sy juk van jou nek, ook die strop van die juk voor die skof.

JESAJA 10:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Wee hulle wat onregverdige verordeninge bepaal en wat die swaarkry skrywe wat hulle voorgeskryf het; Om die behoeftiges van die reg af te keer en die reg van die armes van my volk weg te neem, sodat weduwees hulle prooi kan word en die wees kan beroof! En wat sal julle doen in die dag van besoeking en in die verwoesting wat van ver af sal kom? na wie toe sal julle vlug vir hulp? en waar sal julle julle heerlikheid laat? Sonder My sal hulle neerbuig onder die gevangenes, en hulle sal val onder die gesneuweldes. Oor dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek. O Assiriër, die roede van my toorn, en die staf in hulle hand is my grimmigheid. Ek sal hom stuur teen 'n skynheilige nasie, en teen die volk van my toorn sal Ek hom 'n bevel gee om die buit te neem en die prooi te neem en hulle te vertrap soos die modder van die strate. Maar hy bedoel dit nie, en sy hart dink nie so nie; maar dit is in sy hart om nie 'n paar nasies te vernietig en uit te roei nie. Want hy sê: Is my vorste nie heeltemal konings nie? Is Calno nie as Karkemis nie? is Hamat nie as Arpad nie? is Samaria nie soos Damaskus nie? Soos my hand die koninkryke van die afgode gevind het, en wie se gesnede beelde hulle oortref het, van Jerusalem en van Samaria; Sal Ek nie, soos Ek aan Samaria en haar drekgode gedoen het, so met Jerusalem en sy drekgode doen nie? Daarom sal dit gebeur dat wanneer die HERE sy hele werk op die berg Sion en op Jerusalem gedoen het, Ek besoeking sal doen oor die vrug van die sterk hart van die koning van Assirië en die heerlikheid van sy hoë aansien. Want hy sê: Deur die sterkte van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid; want Ek is verstandig, en Ek het die grense van die volk verwyder en hulle skatte beroof, en Ek het die inwoners vernietig soos 'n dapper man. En my hand het soos 'n nes die rykdom van die volk gevind, en soos 'n mens eiers bymekaarmaak wat oorgebly het, het Ek die hele aarde bymekaargemaak; en daar was niemand wat die vlerk beweeg of die mond oopgemaak of geloer het nie. Sal die byl hom roem teen hom wat daarmee kap? Of sal die saag hom groot maak teen hom wat dit skud? asof die staf homself bewe teen die wat dit ophef, of asof die staf homself ophef asof dit geen hout is nie. Daarom sal die HERE, die HERE van die leërskare, maer onder sy vettes stuur; en onder sy heerlikheid sal hy 'n brand aansteek soos die brand van 'n vuur. En die lig van Israel sal 'n vuur wees en sy Heilige 'n vlam; en dit sal op een dag brand en sy dorings en distels verteer; en sal die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteland verteer, siel sowel as liggaam, en hulle sal wees soos wanneer 'n vaandeldraer beswyk. En die oorblywende bome van sy woud sal min wees, sodat 'n seun dit kan opskryf. En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel, en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer bly op hom wat hulle verslaan het nie; maar sal in waarheid op die HERE, die Heilige van Israel, bly. Die oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die magtige God. Want al was u volk Israel soos die sand van die see, tog sal 'n oorblyfsel van hulle terugkeer; Want die HERE HERE van die leërskare sal 'n verbruik, ja, vasbeslote maak in die middel van die hele land. Daarom, so sê die HERE HERE van die leërskare, o my volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir die Assiriër nie; Want nog 'n baie kort tydjie, en die grimmigheid sal ophou, en my toorn in hulle vernietiging. En die HERE van die leërskare sal vir hom 'n gésel aansteek soos die Mídian verslaan is by die rots Oreb; en soos sy staf op die see was, so sal Hy dit ophef volgens die gebruik van Egipte. En dit sal gebeur in dié dag dat sy las van jou skouer af weggeneem sal word en sy juk van jou nek af, en die juk sal vernietig word weens die salwing.

JESAJA 10:1-27 Die Boodskap (DB)

Die ongeluk gaan julle tref, julle wat al hierdie onregverdige wette en nuwe regulasies maak om my mense te laat swaarkry. Julle ontsê die armes en die weduwees en die weeskinders hulle regte en steel op hierdie oneerlike manier hulle laaste besittings. Wat gaan julle doen die dag wanneer die Here ’n volk van ver af stuur om julle te kom straf? Na wie toe sal julle dan hardloop om julle te help, en waar gaan julle al julle rykdom wegsteek? Een van twee dinge gaan met julle gebeur: julle sal óf tussen die krygsgevangenes voortstrompel óf tussen die lyke op die grond bly lê. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf. Alhoewel Ek Assirië se militêre mag gebruik soos ’n stok waarmee Ek die volke kan slaan, wag daar vir hulle ook swaarkry omdat hulle die mag wat Ek hulle gegee het, misbruik het. Ek het Assirië na my goddelose volk toe gestuur omdat Ek vir hulle kwaad was, met die opdrag om hulle te beroof en die mense soos modder in die strate te vertrap. Maar die koning van Assirië het sy eie idees hieroor. Sy plan is om verwoesting te saai en baie nasies in die proses uit te roei. Hy spog en sê: “Al my offisiere gaan nog konings word wat oor ’n gebied regeer wat ek verower het. Die een hoofstad na die ander moes die knie voor my mag buig. Karkemis, Hamat, Arpad, Samaria en Damaskus, nie een van hulle kon weerstand bied nie. Ek het lande ingeneem wat selfs nog meer afgode gedien het as Jerusalem en Samaria. Ek het klaar met Samaria en sy gode afgereken, nou is dit Jerusalem en sy gode se beurt!” Wat die koning van Assirië nie besef nie, is dat nadat die Here hom gebruik het om sy doel met Sion en Jerusalem te bereik, Hy teen hom gaan draai en hom gaan straf omdat hy so vol is van homself. Want hy spog mos: “Ek het dit alles op my eie gedoen. Ek is sterk en slim en wêreldwys. Ek het volk na volk platgeloop, hulle voorrade geplunder en hulle mense soos ’n verwoede bul voor my weggestamp en platgetrap. Die koninkryke van die wêreld was vir my soos ’n voëlnessie, ek het hulle rykdom so maklik by hulle afgevat as wat ’n mens eiers uit ’n nes uithaal. Soos ’n verskrikte voël het nie een van hierdie lande ’n vlerk geklap om my te probeer afskrik nie.” Die Here vra egter: Kan ’n byl hom ooit verbeel dat hy belangriker is as die een wat met hom kap? Of kan ’n saag dink hy kan iets afsaag sonder die mens wat hom gebruik? Dis tog nie die lat wat die persoon wat dit opgetel het, rondswaai nie? Kan ’n kierie dalk op sy eie opstaan en loop? Daarom gaan die Here die Almagtige die verwaande mense van Assirië laat krepeer van ellende en al die koning se skatte wat hy bymekaargemaak het, vernietig met ’n onblusbare vuur. God, die Lig van Israel, sal die vuur wees, die heilige God van Israel is die vlam wat hulle onbelangrike mense, die dorings en die onkruid, in ’n oogwink tot as verbrand. Ook Assirië se magtige leër, wat soos ’n magtige bos is wat op vrugbare grond geplant is, sal vernietig word. Die Here sal hulle laat agteruitgaan soos iemand wat deur ’n ongeneeslike siekte aangetas is. Daar sal so min bome in hierdie magtige bos wat Assirië was, oorbly dat selfs ’n klein kindjie hulle sal kan tel. In daardie tyd sal die klein groepie Israeliete wat uit die nageslag van Jakob oorgebly het, nie meer hulp gaan soek by Assirië wat hulle in die grond in vertrap het nie. Nou sal hulle net op die Here, die heilige God van Israel, vertrou. ’n Klein groepie van die nageslag van Jakob sal na hulle magtige God toe terugkom. Alhoewel die bevolking van Israel nou so baie is soos die sand van die see, sal net ’n klein groepie van hulle oorbly en terugkom na hulle land toe. Die Here het klaar besluit om hulle te vernietig en dit is hulle verdiende loon. En dit wat die Here, die Almagtige, besluit het, doen Hy; Hy verander nie van plan nie. Daarom, so sê die Here, die almagtige God, vir sy volk wat in Jerusalem woon: Moenie bang wees vir die Assiriërs nie, selfs al laat hulle julle swaarkry soos destyds toe julle slawe in Egipte was. Dit sal nie te lank aanhou nie, en dan sal Ek al my woede op hulle uithaal en hulle vernietig. Ek, die Here die Almagtige, sal hulle met ’n sweep slaan, soos toe Gideon die Midianiete by die rots van Oreb verslaan het. Ek sal hulle vernietig soos toe Ek die Egiptenaars in die see laat verdrink het toe Moses sy kierie uitgesteek het. Daardie dag sal Ek julle uit die mag van Assirië bevry en die juk van slawerny wat so swaar op julle skouers druk heeltemal wegvat.

JESAJA 10:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Verwoesting wag vir die onregverdige regters, vir hulle wat onregverdige wette uitvaardig. Hulle ontneem die armes en verdruktes van regverdige regspraak. Ja, hulle besteel weduwees en weeskinders. Wat gaan julle doen die dag as Ek verwoesting uit ’n ver land na julle toe stuur? Na wie toe sal julle dan draai vir hulp? Waar sal julle skatte veilig wees? Dan sal Ek julle nie help nie! Julle sal soos gevangenes struikel, of tussen die dooies lê. Maar selfs dan sal die HERE se woede nie afgekoel wees nie. Sy vuis is nog reg om te slaan. “Verwoesting wag vir Assirië, die sweep waarmee Ek straf. Sy militêre krag is ’n stok in my hand. Ek stuur Assirië teen hierdie goddelose klomp mense. Hy sal hulle namens My straf. Hy sal hulle kom plunder, hulle soos modder onder sy voete vertrap. Maar die koning van Assirië sal nie weet dat Ek hom stuur nie. Hy sal dink dat hy die mense aanval as deel van sy plan om die hele wêreld te verower.” Hy sal sê: “Elkeen van my prinse sal een van die dae ’n koning wees wat oor ’n verowerde land regeer. Ons sal Kalne net soos Karkemis verwoes. Hamat sal voor ons val soos Arpad. En ons sal Samaria vernietig net soos ons Damaskus vernietig het. Ja, ons het baie koninkryke verwoes wie se gode veel sterker is as Jerusalem en Samaria s’n. As ons Samaria en haar gode vernietig het, sal ons Jerusalem ook verwoes!” Nadat die Here die koning van Assirië gebruik het om sy doel in Jerusalem te bereik, sal Hy teen die koning van Assirië draai en hom straf, want hy is trots en arrogant. Hy spog: “Deur my eie krag en slimmigheid het ek hierdie oorloë gewen. Deur my eie krag het ek baie lande gevange geneem, hulle konings doodgemaak en hulle skatte weggedra. Omdat ek groot is, het ek hulle rykdomme geplunder soos eiers in ’n nes geplunder word. Ek het koninkryke bymekaargemaak soos ’n boer eiers bymekaarmaak. Niemand kan ’n vlerk teen my oplig of sy mond oopmaak om te probeer protesteer nie!” Kan die byl grootpraat dat hy sterker is as die een wat hom gebruik? Of is ’n saag groter as die een wat saag? Kan ’n sweep slaan sonder dat ’n hand dit beweeg? Kan ’n kierie op sy eie loop? Luister mooi, koning van Assirië! Omdat jy aanhou grootpraat, gaan die HERE, die Almagtige, ’n plaag onder jou trotse soldate stuur. ’n Vuur sal jou heerlikheid aan die brand steek. Die HERE, die Lig van Israel en die Heilige Een, sal die vuur wees wat hulle vernietig. In een nag sal Hy daardie dorings en dissels verbrand. Assirië se groot leër is soos ’n groot woud en vrugbare landerye, maar dit sal vernietig word. Die HERE sal Assirië se soldate volledig verwoes, en hulle sal wegkwyn soos siek mense in ’n plaag. Net ’n paar van die groot leër sal oorleef, so min dat ’n kind hulle sal kan tel! HERE Ten einde laaste sal almal wat oor is in Israel en Juda die HERE, die Heilige Een van Israel, vertrou. Hulle sal nie meer staatmaak op Assirië, wat hulle kan vernietig nie. ’n Oorblyfsel van Israel sal terugkom na die magtige God. Selfs al is die volk van Israel so baie soos die sand op die strand, sal slegs ’n klein groepie daardie tyd terugkom. Die HERE het besluit om sy volk te vernietig en sy besluit is regverdig. Ja, die oppermagtige HERE, die Almagtige, het klaar besluit om hulle te verdelg. Daarom, so sê die oppermagtige HERE: “My volk in Jerusalem, moenie bang wees vir die Assiriërs wanneer hulle julle verdruk soos die Egiptenaars lank terug gedoen het nie. Dit sal nie lank aanhou nie. Binnekort sal my woede teen julle ophou, en dan sal my woede hulle vernietig.” Die HERE, die Almagtige, sal hulle met sy sweep slaan, soos Hy gedoen het toe Gideon die Midianiete by die Orebrots verslaan het, of toe die HERE sy kierie opgelig het en die Egiptiese leër laat verdrink het. In daardie dag sal die HERE die gevangenskap van sy volk beëindig. Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers aftel en dit stukkend breek.