Jesaja 10:1-27

Jesaja 10:1-27 AFR20

Wee hulle wat vaste voorskrifte van onreg uitvaardig, skrywers wat voortdurend iets neerskryf wat moeite besorg – om die regte van armes te dwarsboom, om die magteloses van my volk van hulle reg te ontneem, sodat weduwees hulle buit kan word, en hulle die vaderloses kan beroof. Wat gaan julle doen op die dag van afrekening, tydens die storm wat uit die verte aankom? Na wie sal julle vlug vir hulp, en waar gaan julle julle rykdom agterlaat? Niks daarvan nie! Hulle sal tussen gevangenes die rug buig, en tussen gesneuweldes val. Ondanks dit alles het sy toorn nie bedaar nie, en bly sy hand steeds uitgestrek. “Wee Assirië, die stok van my toorn! My verontwaardiging – 'n staf is dit in hulle hand. Teen 'n nasie, vervreem van God, stuur Ek hom; teen die volk op wie my gramskap rus, gee Ek hom volmag, om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om van hulle 'n vertrapte ding, soos die kleigrond van strate, te maak. Maar hy het dit nie so bedink nie, sy hart het dit nie so beplan nie; want sy voorneme was om uit te delg, om tallose nasies uit te roei. Hy het immers gesê, ‘Is my bevelvoerders nie almal konings nie? Is Kalno nie soos Karkemis, en Hamat soos Arpad of Samaria soos Damaskus nie? Soos my hand die koninkryke van nuttelose afgode bekom het, hulle wie se gesnede beelde dié van Jerusalem en Samaria oortref het – sal ek dan nie met Jerusalem en haar afgode maak net soos ek met Samaria en haar nuttelose afgode gemaak het nie?’ ” En dan, wanneer my Heer al sy werk op die berg Sion en in Jerusalem voltooi het, sal Hy afreken met die vrug van die grootheidswaan van die koning van Assirië en met die verwaande blik in sy oë, omdat hy gesê het: “Met die krag van my hand het ek opgetree, en in my wysheid – ja, ek het insig. Ek verwyder die grense van volke, hulle voorraadkamers plunder ek, en, as die sterke, slaan ek wie op trone sit, neer. Asof dit 'n voëlnes is, het my hand die rykdom van die volke bekom; soos mens eiers insamel wat in 'n nes agtergelaat is, het ek die hele aarde ingesamel. Daar was nie 'n vlerk wat geklap het, 'n bek wat oopgegaan of getjirp het nie.” Kan 'n byl spog teen die een wat met hom kap; of kan 'n saag hom groot hou teen die een wat met hom saag, asof 'n stok die een swaai wat hom optel, of 'n staf die een optel wat nie hout is nie? Daarom sal die Heer, die HERE, Heerser oor alle magte, onder Assirië se vet mense 'n uitterende siekte instuur, en onder sy geëerdes sal 'n brand uitbreek wat soos 'n egte vuur sal brand. Die Lig van Israel sal 'n vuur word, en sy Heilige 'n vlam. Die vlam sal brand en hulle onkruid en doringstruike op een dag verteer. Dit sal die geëerdes van sy bos en wingerd vernietig – siel sowel as liggaam. Dit sal wees soos 'n invalide wat wegkwyn. Wat oorbly van die bome van sy bos, sal so min wees dat 'n kind dit sal kan neerskryf. Op daardie dag sal hulle wat oorgebly het van Israel, en hulle van die huis van Jakob wat vrygekom het, nie verder steun op die een wat hulle slaan nie, maar met getrouheid steun op die HERE, die Heilige van Israel. 'n Oorblyfsel sal terugkeer, die oorblyfsel van Jakob, na die Magtige God. Ja, al was jou volk, Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel daarvan sal terugkeer. Vernietiging is bepaal, in geregtigheid stroom dit – ja, volslae vernietiging is wat bepaal is. My Heer, die HERE, Heerser oor alle magte, gaan dit midde-in die hele land voltrek. Daarom, so sê my Heer, die HERE, Heerser oor alle magte: “My volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir Assirië nie! Hy slaan jou met 'n stok; hy lig 'n staf op teen jou, op dieselfde manier as Egipte. Ja, nog net 'n rukkie, dan sal die vervloeking tot 'n einde kom, en my toorn sal gerig wees op hulle uitwissing.” Die HERE, Heerser oor alle magte, sal 'n sweep oor hom swaai soos met die aanval op Midian by die rots van Oreb. Sy staf sal oor die see wees; Hy sal dit ophef op dieselfde manier as in Egipte. Op daardie dag sal Assirië se las van jou skouer val, sy juk van jou nek, ook die strop van die juk voor die skof.