HOSEA 9:10-17

HOSEA 9:10-17 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het gesê: “Ek was bly oor die mense van Israel, so bly soos oor druiwe wat 'n mens in die woestyn kry, so bly soos oor die eerste vye aan 'n jong vyeboom. Maar hulle voorvaders het die skande-afgod gaan dien by die stad Baäl-Peor, en hulle het net so stink en sleg geword soos die afgod. “Alles sal verdwyn waarop die mense van Efraim trots was. Dit sal wees soos wanneer 'n duif wegvlieg en nie terugkom nie. Die mense van Efraim sal nie meer kinders kry nie. En wanneer hulle probeer om die kinders wat hulle het, groot te maak, dan sal Ek die kinders doodmaak. Daar sal niemand oorbly nie. Dit sal sleg gaan met hulle wanneer Ek hulle los en weggaan. Die mense van Efraim was vir My soos jong palmbome in goeie grond, maar nou moet die mense van Efraim hulle kinders bring sodat iemand hulle kan doodmaak.” Die profeet Hosea het gebid en gesê: “Here, wat sal U doen met die mense van Israel? Dít is wat U moet doen: Hulle vroue moenie meer kinders kry nie.” Die Here het gesê: “Die mense van Israel het by die stad Gilgal begin om sonde te doen. Ek het hulle daardie tyd begin haat omdat hulle verkeerd gedoen het. Ek sal hulle nou wegjaag uit my tempel, want Ek wil nie meer lief wees vir hulle nie. Hulle amptenare wil nie luister na My nie. Die mense van Efraim het geword soos wingerdstokke wat siek is en wat nie druiwe dra nie, hulle wortels is droog. Die mense van Efraim kry nie kinders nie, en as hulle miskien kinders kry, dan sal Ek die kinders doodmaak.” Die profeet Hosea het gesê

HOSEA 9:10-17 Die Boodskap (DB)

“Toe Ek destyds op Israel afgekom het, was Ek so opgewonde soos iemand wat in die woestyn loop en skielik op druiwe afkom. Toe Ek julle voorouers ontmoet het, was dit soos iemand wat na ’n vyeboom gaan en die eerste vroeë vye aan die boom kry. Maar by Baäl-Peor het hulle vir Baäl gekies. Hulle het toe vir My net so afstootlik geword soos hierdie afgod vir wie hulle so lief is. “Die respek wat ander mense vir Efraim gehad het, sal verdwyn. Dit sal wees soos ’n voël wat wegvlieg. Sy vroue sal nie meer kinders hê nie. Hulle sal nie weer babas verwag nie. Hulle sal dit selfs nie eens regkry om weer te verwag nie. Selfs die kinders wat hulle het om groot te maak sal doodgaan. Hulle sal glad geen kinders meer oorhê nie. Daar gaan groot teëspoed oor hulle kom as Ek die dag besluit om niks meer met hulle te doen te hê nie. “Efraim het vroeër vir My gelyk soos ’n jong plantjie wat baie groot gaan word as jy dit in vrugbare grond plant. Nou moet Efraim soos ’n plant afgesny word. Hy moet sy kinders wegstuur om doodgemaak te word.” Wat kan ’n mens by die Here vra vir mense met wie dit so gaan? Al wat ek kan vra, is dat hulle liewer nie kinders moes gehad het om so te verloor nie. Die Here sê: “Al hulle verkeerde dinge het by Gilgal begin. Ek het daar al gesien dat Ek nie van hulle hou nie. Ek gaan hulle uit my land wegjaag omdat hulle sulke verkeerde dinge doen. Ek het hulle nie meer lief nie. Al hulle leiers is mense wat net hulle eie kop wil volg. “Efraim is soos ’n plant waarvan die wortels iets oorgekom het. Sy wortels het begin doodgaan. Hy kan nie meer vrugte dra nie. Selfs al dra hy nog vrugte en al bring hy nog kinders in die wêreld, sal Ek die kinders laat doodgaan. Dis verby met hulle kinders, al is hulle ook hoe lief vir die kinders.” Ek het toe gesê: “God het hulle weggegooi. Hulle het nie na die Here geluister nie. Hulle word mense wat nie ’n plek het om te bly nie. Hulle swerf rond onder die nasies.”

HOSEA 9:10-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Israel, toe Ek jou die eerste keer teëgekom het,” sê die HERE, “was dit soos om druiwe in die woestyn te kry. Toe Ek jou voorgeslagte gesien het, was dit soos om die eerste ryp vye van die seisoen te sien. Maar toe hulle by Baäl-Peor kom, het hulle My verlaat en hulle aan daardie skandelike afgod verbind. Hulle het gou net so veragtelik geword soos die afgod wat hulle gedien het. Soos ’n voël wegvlieg, so sal die aansien van Israel verdwyn: daar sal geen kinders, geen swangerskap en geen bevrugting wees nie. Selfs as julle kinders tog bly lewe en grootword, sal Ek hulle van julle wegneem sonder dat een oorbly. Ellende wag vir hulle wanneer Ek wegdraai en hulle alleen agterlaat! Israel was vir My soos Tirus, geplant in ’n weiland. Maar nou sal Israel hulle kinders uitbring om doodgemaak te word.” Gee vir hulle, HERE – wat sal U vir hulle gee? Gee vir hulle baarmoeders wat nie geboorte gee nie en borste sonder melk! Die HERE sê: “Al hulle boosheid het by Gilgal begin. Daar het Ek hulle begin haat oor hulle bose dade. Ek sal hulle uit my huis verdryf. Ek sal hulle nie meer liefhê nie, want al hulle leiers is in opstand teen My. Israel is getref. Sy wortels het verdroog; hy sal nie meer vrugte dra nie. En al bring hulle kinders in die wêreld, sal Ek hulle kinders wat hulle so liefhet, laat omkom.” My God het hulle verwerp omdat hulle nie na Hom geluister het nie. Hulle sal swerwelinge wees onder die nasies.