HOSEA 3:1-5
HOSEA 3:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het weer met my, Hosea, gepraat. Die Here het gesê: “Jy moet lief wees vir 'n vrou wat vir ander mans lief is en by hulle slaap. Dit is dieselfde met My en die Israeliete. Ek is lief vir hulle, maar hulle dien ander gode. Hulle eet graag die rosyntjiekoeke wat hulle vir die afgode offer.” Ek het toe vir my so 'n vrou gekoop. Ek het 15 stukke silwer betaal en ook een en 'n halwe gomer gars. Ek het vir haar gesê: “Jy moet lank by my bly en jy moenie ontrou wees en by 'n ander man slaap nie. Ek sal ook by jou bly. Jy moet dit doen, want die Israeliete sal ook lank weg wees. Hulle sal nie 'n koning en amptenare hê nie, hulle sal nie offer nie en hulle sal ook nie klip-pale of beelde hê nie. Hulle sal nie vir die beelde kan bid en vra wat sal gebeur nie. “Maar die Israeliete sal later weer terugkom. Hulle sal hulle God die Here soek, en hulle koning Dawid. Hulle sal bewe en hulle sal na die Here toe kom en na die goeie dinge wat Hy vir hulle sal gee wanneer dit die regte tyd is.”
HOSEA 3:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die HERE het vir my gesê: Gaan nog 'n keer, bemin 'n vrou wat bemin word deur haar vriend, maar wat owerspel bedrywe, net soos die HERE die kinders van Israel bemin, terwyl hulle hul tot ander gode wend en versot is op rosynekoeke. Toe het ek haar vir my gekoop vir vyftien sikkels silwer en anderhalf homer gars. En ek het aan haar gesê: Jy sal 'n lang tyd moet stilsit vir my, nie hoereer nie en aan geen man behoort nie; en so ook ek teenoor jou. Want die kinders van Israel sal 'n lang tyd bly sit sonder koning en sonder vors en sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae.
HOSEA 3:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir my gesê: Gaan knoop weer 'n liefdesverhouding aan met 'n vrou wat vir ander mans lief is en egbreuk pleeg, net soos die Israeliete vir wie Ek, die Here, liefhet, ander gode aanhang en lief is vir rosyntjiekoeke. Ek het toe vir my 'n vrou gekry vir vyftien stukke silwer en honderd kilogram gars. Ek het vir haar gesê: “Jy moet 'n lang tyd tot my beskikking wees. Jy mag met niemand hoereer of trou nie, ek sal dit ook nie doen nie.” Net so sal die Israeliete 'n lang tyd moet klaarkom sonder 'n koning en amptenare, sonder offers en klippilare, sonder efodbeeld en afgodsbeeldjies. Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.
HOSEA 3:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het vir my gesê: “Gaan weer, gaan bemin 'n vrou wat bemin word deur 'n vriend, en wat egbreuk pleeg; soos die HERE die Israeliete liefhet, terwyl hulle na ander gode draai en van rosynekoeke hou.” Ek het haar toe vir my gehuur vir vyftien silwerstukke en 'n gomer en 'n letek gars. Ek het vir haar gesê: “Vir 'n lang tyd moet jy by my bly. Jy mag nie hoereer nie, en jy mag nie aan 'n man behoort nie. Ek sal ook so teenoor jou optree.” Want vir 'n lang tyd sal die Israeliete sonder 'n koning en •hoë amptenare, sonder offers en gedenkstene, sonder efod en huisgode moet bly. Daarna sal die Israeliete terugkeer en die HERE, hulle God, soek, en Dawid, hulle koning. Ja, hulle sal bewend na die HERE gaan, en na sy goedheid in die laaste dae.
HOSEA 3:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê die HERE vir my: Gaan nog, en hou 'n vrou lief wat haar vriendin liefhet, maar 'n egbreekster, ooreenkomstig die liefde van die HERE vir die kinders van Israel, wat na ander gode kyk en wynvlae liefhet. Daarom het ek haar vir my gekoop vir vyftien sikkels silwer en vir 'n homer gars en 'n halwe homer gars. En ek het vir haar gesê: Jy sal baie dae vir my bly; jy mag nie hoereer nie, en jy mag nie vir 'n ander man wees nie; so sal Ek ook vir jou wees. Want die kinders van Israel sal baie dae bly sonder 'n koning en sonder 'n vors en sonder 'n offer en sonder 'n beeld en sonder 'n skouerkleed en sonder huisgode. Daarna sal die kinders van Israel terugkeer en die HERE hulle God en Dawid hulle koning soek; en sal die HERE en sy goedertierenheid vrees aan die einde van die dae.
HOSEA 3:1-5 Die Boodskap (DB)
Toe het die Here vir my gesê: “Gaan leer jou vrou van voor af liefkry, al is sy ’n getroude vrou wat rondslaap. Dit is net soos die Here wat die Israeliete liefhet, al loop hulle agter vreemde gode aan. Ek gee vir hulle om al het hulle ’n smaak vir seksuele speletjies en eet hulle broodjies wat van rosyne gemaak is om die afgode te plesier.” Ek het haar toe gaan terugkoop van haar nuwe man. Ek het vir hom geld en 150 kilogram gars en wyn vir haar gegee. Ek het haar gewaarsku: “Jy sal vir ’n hele tyd by die huis moet bly. Jy mag nie rondloop nie. Jy mag nie by ’n ander man slaap nie. Ek sal dieselfde doen. Ek sal aan jou getrou bly. Ek sal nie gaan rondloop nie.” Net so sal die Israeliete vir ’n hele tyd lank sonder ’n koning of ’n leier moet klaarkom. Hulle sal nie iets aan afgode kan offer nie. Daar sal nie regop klippe in die grond geplant wees om by te bid nie. Daar sal ook nie beeldjies of huisgodjies wees om voor raad te vra nie. Daarna sal die Israeliete terugkom. Hulle sal na die Here hulle God begin soek. Hulle sal vra of daar miskien nog afstammelinge van koning Dawid oor is. Aan die einde van die tyd sal hulle versigtig na die Here toe kom. Hulle sal verlang na die goeie dinge wat Hy vir hulle gegee het.
HOSEA 3:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het die HERE vir my gesê: “Gaan haal jou vrou. Bring haar terug na jou toe en bemin haar al het sy ’n verhouding met iemand anders en al pleeg sy owerspel. Want die HERE het steeds vir Israel lief al het hulle ander gode verkies en uitsoekgawes aan hulle geoffer.” Ek het haar toe gekoop vir vyftien stukke silwer en 100 kilogram gars. Toe sê ek vir haar: “Jy moet vir baie dae in my huis bly en nie by ander mans rondslaap nie. In hierdie tyd mag jy met niemand seksuele omgang hê nie, selfs nie met my nie.” Net so sal Israel vir ’n lang tyd sonder koning en leiers, sonder offers en aanbiddingsvoorwerpe, sonder efod of selfs afgodsbeelde wees. Daarna sal die volk terugkeer na die HERE hulle God en na hulle koning, die afstammeling van Dawid. Hulle sal met bewing en ontsag na die HERE toe kom. In die laaste dae sal hulle sy goeie gawes ontvang.