HEBREËRS 9:15-28
HEBREËRS 9:15-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond begaan is. As iemand sterf en hy laat ’n testament na, kry niemand enigiets voordat die testateur werklik as dood bewys is nie. ’n Testament word tog eers geldig by afsterwe; solank die testateur nog lewe, het dit geen regsgeldigheid nie. Dit verduidelik ook waarom die eerste verbond nie sonder bloed ingestel is nie. Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk voorgehou het, het hy die bloed van kalwers en bokke met water verdun en sowel die wetboek as die hele volk met behulp van rooi wol en hisoptakkies besprinkel. Daarop het hy verklaar: “Hierdie bloed bekragtig die verbond wat God met julle gesluit het.” En op dieselfde manier het hy bloed gesprinkel op die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens. Ons kan inderdaad sê dat volgens die wet feitlik alles met bloed gereinig word. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie. Dit is waarom die aardse verbondstent en alles daarin – wat maar net afbeeldings van die dinge in die hemel is – met die bloed van diere gereinig moes word. Maar die hemelse dinge self het ’n baie beter soort offerande as hierdie nodig gehad. Christus het immers tot in die hemel self ingegaan om nou as ons voorspraak voor God te verskyn. Hy het nie in die aardse heiligdom ingegaan nie – dit is tog maar net ’n namaaksel van die ware een. Hy het ook nie in die hemel ingegaan om Homself oor en oor te offer soos die aardse hoofpriester jaar na jaar in die Allerheiligste moes ingaan om die bloed van diere te offer nie. Anders sou Christus mos telkens weer moes sterf van die begin van die wêreld af! O nee, Hy het nou, met die voleinding van die tye, eens en vir altyd verskyn om deur sy offer die sonde vir altyd weg te neem. Soos elke mens bestem is om net een keer te sterf en daarna kom die oordeel, net so is Christus ook net een keer geoffer om baie mense se sonde weg te neem. Hy sal weer kom, maar dan nie met die oog op die verlossing van sonde nie. Hierdie keer sal Hy verskyn om almal wat gretig na sy koms uitsien, finaal te verlos.
HEBREËRS 9:15-28 Bybel vir almal (ABA)
Christus het gesterf om mense vry te maak, God het hulle nie gestraf oor die dinge wat hulle verkeerd gedoen het in die tyd van die ou verbond nie. Daarom is Hy die Middelaar van die nuwe verbond. God het mense gekies, en Christus het die nuwe verbond gebring sodat daardie mense vir altyd alles kan kry wat Hy vir hulle belowe het. Wanneer 'n persoon 'n testament gemaak het, dan moet die mense wat sy goed erf, eers wag tot daardie persoon dood is, want mense kan eers doen wat die testament sê wanneer die persoon wat dit gemaak het, dood is. 'n Testament beteken niks wanneer die persoon wat dit gemaak het, nog lewe nie. Daarom, toe God die eerste verbond met die volk gemaak het, was daar ook bloed. Want nadat Moses vir die volk vertel het van al die reëls van die wette, het hy die bloed van kalwers en bokke saam met water geneem. Hy het hisop-takkies vasgemaak met rooi wol en hy het bloed en water gespat op die boek van die wette en op die hele volk, en hy het gesê: “ Dit is die bloed wat wys dat God 'n verbond gemaak het met julle. God het gesê julle moet doen wat die verbond vir julle sê.” Moses het ook so bloed gespat op die tempel-tent en op al die dinge waarmee die priesters hulle werk gedoen het. Ja, die wette sê dat die priesters amper alles moet reinig met bloed. God vergewe nie sonde as daar nie bloed vloei nie. Die dinge in die tempel-tent hier op die aarde het gelyk soos die dinge in die hemel. Daarom moes die priesters hierdie dinge op die aarde reinig met hierdie dinge waaroor ons nou gepraat het. Maar iemand moet die dinge in die hemel self reinig met beter offers, dit moet beter wees as die offers wat die aardse tempel-tent gereinig het. Dit is mense wat hierdie tempel-tent hier op die aarde gebou het, en hierdie tempel-tent lyk soos die ware tempel-tent in die hemel. Maar Christus het nie ingegaan in die tempel-tent op die aarde nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan. Christus het daar ingegaan om by God te wees. Christus het ingegaan om ons te help. Die hoëpriester gaan elke jaar in die hoog-gewyde kamer in om bloed te offer, maar hy offer nie sy eie bloed nie. Christus het in die hemel ingegaan, maar nie om baie maal te offer soos die hoëpriester nie, Hy het Homself net een maal ge-offer. As Christus Homself meer as een maal ge-offer het, dan moes Hy baie maal gely het vandat God die wêreld gemaak het. Nee, Christus het nou een maal verskyn aan die einde van hierdie tyd om die sondes weg te neem. Hy het Homself ge-offer om die sondes weg te neem. Al die mense moet een maal sterf, en daarna sal God hulle oordeel. So het die Christus Homself ook net een maal ge-offer om die sondes van baie mense weg te neem. Maar wanneer Hy die tweede maal verskyn, dan sal Hy nie kom om te sterf en om sonde weg te neem nie, Hy sal dan kom om die mense te red wat vir Hom wag.
HEBREËRS 9:15-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daarom is Hy Middelaar van 'n nuwe testament, sodat, terwyl daar 'n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. Want waar 'n testament is, moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker aangekondig word; want 'n testament is geldig by sterfgevalle, aangesien dit nooit van krag is so lank as die testamentmaker nog leef nie. Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie; want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het. En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel. En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie. Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. Want Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom met hande gemaak, 'n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn; ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie, want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen. En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.
HEBREËRS 9:15-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom is Hy ook die Middelaar van 'n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. Dit is soos met 'n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, want 'n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag so lank as hy nog leef nie. Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.” Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed besprinkel. Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie. Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele gereinig word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom wat deur mense gemaak is en net 'n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou ter wille van ons voor God te verskyn. Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. 'n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir dié wat Hom verwag.
HEBREËRS 9:15-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Aangesien daar 'n dood was, as losprys vir die oortredings, ten tyde van die eerste testament, is Hy juis daarom Middelaar van 'n nuwe testament, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. Waar 'n testament ter sprake is, is dit nodig om die dood van die een wat dit gemaak het, te bevestig. 'n Testament tree tog deur die dood in werking, aangesien dit nooit van krag is solank die een wat dit gemaak het, nog leef nie. Daarom is ook die eerste verbond nie sonder bloed ingewy nie. Immers, nadat elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk bekend gemaak is, het hy die bloed van die bulkalwers en die bokramme saam met water geneem, en met helderrooi wol en marjolein het hy die boekrol self, en ook die hele volk besprinkel, terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle bepaal het.” En op dieselfde wyse het hy die tabernakel en al die godsdienstige voorwerpe met die bloed besprinkel. Feitlik alles is volgens die wet met bloed gereinig; ja, sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie. Dit was dus nodig dat die afbeeldings van wat in die hemele is, deur hierdie dinge gereinig word – maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. Want Christus het nie 'n mensgemaakte heiligdom, 'n nabootsing van die ware een, binnegegaan nie, maar die hemel self, om nou ter wille van ons voor God te verskyn; ook nie sodat Hy Homself herhaaldelik sou offer nie – anders as die hoëpriester, wat jaar ná jaar in die Heilige met 'n ander se bloed ingaan – aangesien Hy dan dikwels, van die grondlegging van die wêreld af, sou moes ly. Maar nou, by die volheid van die tye, het Hy eens en vir altyd verskyn om met sy offer die sonde ter syde te stel. En net soos dit bestem is vir mense om slegs een maal te sterf, en daarna kom die oordeel, so sal •Christus, nadat Hy eenmalig geoffer is om die sondes van baie te dra, 'n tweede maal verskyn aan hulle wat Hom verwag, nie weens sonde nie, maar om hulle te verlos.
HEBREËRS 9:15-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daarom is hy die middelaar van die nuwe testament, sodat die wat geroep is, deur die dood, vir die verlossing van die oortredinge wat onder die eerste testament was, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. Want waar 'n testament is, moet daar ook noodwendig die dood van die testateur wees. Want 'n testament is van krag nadat die mens gesterf het; anders is dit glad nie van krag solank die testateur leef nie. Daarop is ook nie die eerste testament sonder bloed ingewy nie. Want nadat Moses elke bevel volgens die wet aan die hele volk gespreek het, het hy die bloed van kalwers en bokke geneem, met water en bloedrooi wol en hisop, en hy het die boek sowel as die hele volk gesprinkel. En gesê: Dit is die bloed van die testament wat God aan julle opgelê het. Verder het hy die tabernakel sowel as al die gereedskap van die bediening met bloed besprinkel. En byna alles word deur die wet met bloed gereinig; en sonder bloedvergieting is geen vergifnis nie. Dit was dus nodig dat die voorbeelde van dinge in die hemele hiermee gereinig moes word; maar die hemelse dinge self met beter offers as hierdie. Want Christus het nie ingegaan in die heiligdomme wat met hande gemaak is, wat die gestaltes van die ware is nie; maar in die hemel self, om nou vir ons voor God te verskyn. Eok nie dat hy homself dikwels sou offer nie, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed van ander; Want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af, maar nou het Hy een maal aan die voleinding van die wêreld verskyn om die sonde weg te doen deur sy offer. En soos dit aan die mense bestem is om een maal te sterwe, maar daarna die oordeel: So is Christus eenmaal geoffer om die sondes van baie te dra; en aan die wat Hom verwag, sal Hy vir die tweede keer sonder sonde verskyn tot redding.
HEBREËRS 9:15-28 Die Boodskap (DB)
Hy is die Een wat die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense kom maak het. Nou kan almal vir wie God na Hom toe geroep het, alles by Hom kry wat Hy belowe het, want hulle is nou sy kinders. Daarvoor het Jesus self gesorg. Hy het alles gegee wat God gevra het om die verkeerde dinge te vergewe wat die mense gedoen het. Dit geld selfs vir die mense onder die ou ooreenkoms. Dit gaan net soos met ’n testament. Die een wat die testament gemaak het, moet eers doodgaan voor die testament in werking kom. Solank hy nog leef, geld die testament nog nie. Die ooreenkoms wat God met sy mense gemaak het, werk soos ’n testament. Toe God die eerste ooreenkoms met die mense gemaak het, het daar bloed geloop. Julle onthou mos dat Moses eers elke reël wat in die wet gemaak is, vir die volk voorgelees het. Toe vat hy wol wat rooi gekleur is en takkies van ’n hisopplant en sprinkel daarmee die bloed van kalwers en bokke saam met water oor die boek waarin die reëls staan en oor al die mense. Hy sê toe: “God het met julle ’n ooreenkoms gemaak en julle moet daarby bly. Dié bloed is die bewys van die ooreenkoms.” Toe het Moses die bloed gaan sprinkel op die Heilige plek en alles wat daarin vir die diens van God gebruik is. Die wet bepaal tog dat omtrent alles so met bloed besprinkel moes word om aanvaarbaar te wees vir God. God vergewe nie sondes as daar nie bloed geloop het nie. Die aardse Heilige plek en alles daarin is maar soos ’n skaduwee van die hemelse Heilige plek. As die aardse plek so met bloed vir God aanvaarbaar gemaak is, was daar vir die hemelse Heilige plek ’n baie beter offer nodig. Christus is nie sommer in ’n heilige plek in wat deur mense gemaak is en net soos ’n skaduwee van die regte een is nie. Nee, Hy is in die hemel self na God toe om ons saak daar by God namens ons te gaan stel. Die hoëpriester op aarde moes ook natuurlik elke jaar in die Heiligste deel ingaan met die bloed van diere. Christus is egter nie weer en weer in die hemel in om Homself elke keer van voor af te offer nie. Dan moes Hy mos van die begin af oor en oor gely het. Nee, Christus het maar een maal gekom toe die tyd daarvoor ryp was. Toe het Hy Homself vir God geoffer en so klaargespeel met al ons sondes. Net soos ’n mens maar een maal sterf en dan voor God moet gaan staan om sy oordeel aan te hoor, so het Jesus net een maal gesterf. Sy sterwe was soos ’n offer waarmee Hy gesorg het dat God al die verkeerde dinge oorsien wat baie mense gedoen het. Christus sal weer kom, maar hierdie keer nie om vir al die verkeerde dinge wat ons doen te kom boet nie. Hy sal dan kom om almal wat vir Hom wag na God toe te neem.