Aangesien daar 'n dood was, as losprys vir die oortredings, ten tyde van die eerste testament, is Hy juis daarom Middelaar van 'n nuwe testament, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. Waar 'n testament ter sprake is, is dit nodig om die dood van die een wat dit gemaak het, te bevestig. 'n Testament tree tog deur die dood in werking, aangesien dit nooit van krag is solank die een wat dit gemaak het, nog leef nie. Daarom is ook die eerste verbond nie sonder bloed ingewy nie. Immers, nadat elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk bekend gemaak is, het hy die bloed van die bulkalwers en die bokramme saam met water geneem, en met helderrooi wol en marjolein het hy die boekrol self, en ook die hele volk besprinkel, terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle bepaal het.” En op dieselfde wyse het hy die tabernakel en al die godsdienstige voorwerpe met die bloed besprinkel. Feitlik alles is volgens die wet met bloed gereinig; ja, sonder bloedvergieting vind geen vergifnis plaas nie.
Dit was dus nodig dat die afbeeldings van wat in die hemele is, deur hierdie dinge gereinig word – maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. Want Christus het nie 'n mensgemaakte heiligdom, 'n nabootsing van die ware een, binnegegaan nie, maar die hemel self, om nou ter wille van ons voor God te verskyn; ook nie sodat Hy Homself herhaaldelik sou offer nie – anders as die hoëpriester, wat jaar ná jaar in die Heilige met 'n ander se bloed ingaan – aangesien Hy dan dikwels, van die grondlegging van die wêreld af, sou moes ly. Maar nou, by die volheid van die tye, het Hy eens en vir altyd verskyn om met sy offer die sonde ter syde te stel. En net soos dit bestem is vir mense om slegs een maal te sterf, en daarna kom die oordeel, so sal •Christus, nadat Hy eenmalig geoffer is om die sondes van baie te dra, 'n tweede maal verskyn aan hulle wat Hom verwag, nie weens sonde nie, maar om hulle te verlos.