HEBREËRS 6:4-12
HEBREËRS 6:4-12 Bybel vir almal (ABA)
Want as mense weggedraai het van God, dan kan ons hulle nie laat terugdraai na Hom toe nie. Want God het sy lig oor hulle laat skyn, en hulle het gevoel hoe goed die dinge is wat God gee. God het die Heilige Gees vir daardie mense gegee. Hulle is ook mense wat gevoel het dat die boodskap van God goed is en hulle voel nou al klaar dat God sterk is, God wat nou en later sal regeer. Wanneer hierdie mense weggedraai het van God, dan kan ons hulle nie weer laat terugdraai na God toe nie, want hulle kruisig weer die Seun van God, hulle word weer skuldig, en hulle maak sy Naam sleg by die mense. Want wanneer grond baie reën kry en die reën sak diep in die grond, dan groei daar plante in die grond, en die mense wat in die grond werk, kan dit gebruik. Dan seën God die grond. Maar as daar dorings en onkruid groei, dan beteken dit niks, en dan is die tyd naby wanneer God dit sal vervloek. Aan die einde sal vuur die grond en alles daarop verwoes. My vriende, dit is waar dat ons nou al hierdie dinge gesê het, maar ons is baie seker dat dit baie beter gaan met julle en dat God julle sal red. Want God doen nie verkeerd nie, Hy sal nie die dinge vergeet wat julle gedoen het nie, en Hy sal nie vergeet hoe lief julle vir Hom was en hoe julle vir die gelowiges gesorg het en nou nog sorg nie. Maar ons wil baie graag hê dat elkeen van julle altyd hard moet probeer om tot die einde te wys dat julle baie seker is van die dinge wat julle weet en hoop. Julle moet dit doen, julle moenie lui wees in die geloof nie, julle moet doen soos die mense wat gekry het wat God belowe het. Hulle het dit gekry omdat hulle in God geglo het en omdat hulle geduldig gewag het.
HEBREËRS 6:4-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het — om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking — die einde daarvan is verbranding. Maar, geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig, dinge wat saamhang met die saligheid, al spreek ons ook so. Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien. Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.
HEBREËRS 6:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot 'n bespotting. Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur. Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter: dat julle gered sal word. God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.
HEBREËRS 6:4-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die •Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak. Want grond wat die reën indrink wat telkens daarop val, en 'n bruikbare oes voortbring vir hulle om wie se ontwil dit bewerk word, ontvang God se seën. Maar wanneer dit dorings en dissels voortbring, is dit nutteloos en naby vervloeking. Die einde daarvan is verbranding. Maar selfs wanneer ons só praat, geliefdes, is ons, wat julle betref, oortuig van beter dinge wat betrekking het op verlossing. God is immers nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle arbeid, en van die liefde wat julle vir sy Naam betoon het, deurdat julle die •heiliges bedien het – en nog steeds bedien – nie. Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid van die hoop te kom, sodat julle nie traag word nie, maar die voorbeeld volg van hulle wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.
HEBREËRS 6:4-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want dit is onmoontlik vir die wat eens verlig was en van die hemelse gawe gesmaak het en deelagtig geword het van die Heilige Gees, En het die goeie woord van God en die kragte van die toekomstige wêreld gesmaak, As hulle afvallig word, om hulle weer te vernuwe tot bekering; omdat hulle die Seun van God opnuut vir hulleself kruisig en Hom openlik beskaamd maak. Want die aarde wat die reën indrink wat dikwels daarop kom, en kruie voortbring wat geskik is vir hulle deur wie dit bewerk is, ontvang seën van God; Maar wat dorings en distels dra, word verwerp en is naby aan die vloek; wie se einde verbrand moet word. Maar, geliefdes, ons is oortuig van beter dinge van julle en dinge wat met die saligheid gepaardgaan, al sê ons so. Want God is nie onregverdig om julle werk en arbeid van liefde wat julle aan sy Naam bewys het, te vergeet deurdat julle die heiliges gedien en dien nie. En ons wil hê dat elkeen van julle dieselfde ywer aan die dag lê tot die volle sekerheid van hoop tot die einde toe: sodat julle nie traag moet wees nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid die beloftes beërwe.
HEBREËRS 6:4-12 Die Boodskap (DB)
Een ding sal nie gebeur nie: sê nou daar is mense wat saam met julle in die kerk gesit en oor wie die lig van God reeds geskyn het. Hulle het al ’n voorsmaak gekry van die hemel en van wat vir hulle wag, hulle was deel van die werk van die Heilige Gees en hulle ken God se wonderlike boodskap. Hulle het ook al stukkies van die krag ervaar wat met die wederkoms voluit gaan losbreek. En sê nou hulle wil ten spyte van dit alles niks meer met God te doen hê nie en hulle los die kerk? Wel, dit is nie moontlik om hulle weer ’n keer na God toe terug te lei nie. Dit is so goed of hulle in hulleself die Seun van God van voor af gekruisig en Hom voor almal belaglik gemaak het. Laat ek dit vir julle met ’n voorbeeld verduidelik. Sê nou daar is twee stukke grond en op albei stukke grond val daar genoeg reën. Die een stuk grond lewer die pragtigste oes op en die boer is trots daarop. Van so ’n stuk grond hou God en God sal na so ’n stuk grond kyk. Maar die ander stuk grond is net vol nuttelose goed soos dorings en bossies. Dit is hopeloos en niks werd nie. God kan enige oomblik besluit om niks meer met daardie grond te doen te hê nie en om dit aan die brand te steek. My liewe vriende, ek klink miskien kwaai. Nogtans is ek seker dat dit nie so sleg gaan met julle nie. Ek weet julle is God s’n en leef ook soos mense wat gered is. God is regverdig. Hy sal onthou wat julle alles vir Hom doen. Hy weet dat omdat julle Hom liefhet, julle gedurig ander Christene help en altyd reg is om te help waar julle kan. Ek wil graag hê julle moet aanhou om God so ywerig te dien. Hou so aan tot God alles gedoen het wat Hy beloof het. Moenie lui word om God te dien nie. Doen wat die Christene voor julle gedoen het. Hulle het gekry wat God beloof het, omdat hulle geduldig was en op God bly vertrou het.
HEBREËRS 6:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot inkeer te bring – hulle wat God se geskenk ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die lieflikheid van God se woord en die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het. As hulle dan tog hulle rug op God draai, kan hulle nie weer tot inkeer gebring word nie, want wat hulleself betref, kruisig hulle die Seun van God opnuut, en hulle maak Hom openlik tot ’n bespotting. As die grond die reën indrink wat gereeld daarop val en ’n goeie oes vir die landbouers voortbring, rus God se seën daarop. Maar as dit net dorings en dissels oplewer, is dit nutteloos. God sal weldra sy vloek daaroor uitspreek en uiteindelik is dit bestem vir die vuur. Maar, geliefdes, al praat ons so ernstig hieroor, is ons tog wat julle betref daarvan oortuig dat dit nie op julle van toepassing is nie. Ons is positief oor julle en glo dat julle verlos sal word. God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie. Dit is ons hartsbegeerte dat elkeen van julle enduit dieselfde entoesiasme sal vertoon sodat julle toekomsverwagting bewaarheid kan word. Dan sal julle nie traag raak nie. Inteendeel, julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.