Hebreërs 6:4-12

Hebreërs 6:4-12 AFR20

Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring; aangesien hulle wat hulleself betref, die •Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak. Want grond wat die reën indrink wat telkens daarop val, en 'n bruikbare oes voortbring vir hulle om wie se ontwil dit bewerk word, ontvang God se seën. Maar wanneer dit dorings en dissels voortbring, is dit nutteloos en naby vervloeking. Die einde daarvan is verbranding. Maar selfs wanneer ons só praat, geliefdes, is ons, wat julle betref, oortuig van beter dinge wat betrekking het op verlossing. God is immers nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet van julle arbeid, en van die liefde wat julle vir sy Naam betoon het, deurdat julle die •heiliges bedien het – en nog steeds bedien – nie. Ons begeer dat elkeen van julle enduit dieselfde ywer sal toon om tot volle sekerheid van die hoop te kom, sodat julle nie traag word nie, maar die voorbeeld volg van hulle wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.