HEBREËRS 5:5-11
HEBREËRS 5:5-11 Die Boodskap (DB)
Jesus het ook nie vir Homself die belangrike werk van hoëpriester gevat nie. God het vir Hom gesê: “Jy is my Seun en Ek is jou Vader van vandag af,” of soos God op ’n ander plek sê: “Jy sal vir altyd ’n priester wees; Jy sal ’n priester wees soos Melgisedek dit was.” Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen. En God het dit gedoen omdat Jesus Homself met soveel oortuiging in God se hand geplaas en Hom gehoorsaam het. Al was Jesus sy Seun, het Hy ervaar wat dit beteken om regtig gehoorsaam te wees deurdat Hy na God bly luister het, al het dit met Hom hoe swaar gegaan. Nadat Hy gewys het dat Hy aan God en net aan Hom gehoorsaam is en nooit iets doen waarvan God nie hou nie, kon Hy die ewige lewe uitdeel aan almal wat na Hom wou luister. God het Hom dan ook aangestel as ’n Hoëpriester, net soos Melgisedek ’n hoëpriester was. Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie.
HEBREËRS 5:5-11 Bybel vir almal (ABA)
So het die Christus ook nie self gekies om eer te kry en om Hoëpriester te wees nie. Nee, God het vir Hom die eer gegee, God het vir Hom gesê: Jy is my Seun, Ek is van vandag af jou Vader. So sê God ook: Jy self sal altyd 'n priester wees, soos Melgisedek 'n priester was. Terwyl Jesus op die aarde gelewe het, het Hy tot God gebid en Hy het gesoebat, ja, Hy het geskree en gehuil. Hy het dit gedoen soos wanneer iemand offers bring vir God. Hy het dit gedoen omdat God vir Hom kan red van die dood. God het geluister na Jesus omdat Jesus vir God geëer het. Dit is waar dat Jesus die Seun van God is, maar Hy het geleer om gehoorsaam te wees toe Hy so swaar gekry het en gesterf het. En toe Jesus gely het en gereed was om Hoëpriester te wees voor God, het Jesus vir altyd die Redder geword van almal wat luister na Hom. Jesus kon dit doen omdat God gesê het dat Jesus 'n hoëpriester moet wees soos Melgisedek. Ons kan baie dinge vir julle hieroor vertel. Maar dit is moeilik om dit vir julle te verduidelik, omdat julle nie gou verstaan nie.
HEBREËRS 5:5-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hý het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. Soos Hy ook op 'n ander plek sê: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs — Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, 'n bewerker van ewige saligheid geword en is deur God genoem 'n hoëpriester volgens die orde van Melgisédek; waaroor ons veel te sê het wat swaar is om te verklaar, omdat julle traag geword het om te hoor.
HEBREËRS 5:5-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader.” En op 'n ander plek sê Hy: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek. In verband hiermee het ons baie te sê wat moeilik is om aan julle te verduidelik, aangesien julle so traag is om te leer.
HEBREËRS 5:5-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
So ook het •Christus nie Homself vereer om Hoëpriester te word nie; die Een wat Hom vereer het, was God, wat vir Hom gesê het: “Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” So sê Hy ook op 'n ander plek: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God. Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. En nadat Hy tot volmaaktheid gebring is, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword, aangesien Hy deur God aangewys is as “Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek”. Hieroor het ons baie om vir julle te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle traag geword het om te luister.
HEBREËRS 5:5-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
So het Christus ook Homself nie verheerlik om 'n hoëpriester te word nie; maar hy wat vir hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. Soos Hy ook op 'n ander plek sê: U is 'n priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Wat in die dae van sy vlees, toe hy gebede en smekinge met sterk geroep en trane geoffer het aan hom wat hom uit die dood kon red, en verhoor is deurdat hy gevrees het; Al was Hy 'n Seun, het Hy tog gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat Hy gely het; En toe Hy volmaak is, het Hy die bewerker van ewige verlossing geword vir almal wat Hom gehoorsaam; Hy is deur God 'n hoëpriester genoem volgens die orde van Melgisédek. Van wie ons baie dinge het om te sê en wat moeilik is om uit te spreek, omdat julle dof is om te hoor.
HEBREËRS 5:5-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Net so het Christus ook nie vir Homself die waardigheid van hoofpriester toegeëien nie. Nee, Hy is aangewys deur die Een wat vir Hom gesê het: “Jy is my Seun. Vandag het Ek jou Vader geword.” En op ’n ander plek het God vir Hom gesê: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Terwyl Jesus hier op aarde was, het Hy hard uitgeroep en met trane by God gesmeek en gepleit, want God sou Hom van die dood kon red. God het Hom verhoor deurdat Hy die angs vir die dood van Hom weggeneem het. Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. Op hierdie manier het Hy volmaaktheid bereik sodat Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword het. So het God Hom dan amptelik verklaar as Hoofpriester volgens die priesterorde van Melgisedek. Aangaande Jesus ons Hoofpriester het ons nog baie om vir julle te sê. Dis egter moeilik om dit aan julle te verduidelik omdat julle so traag is om te leer.