HEBREËRS 5:5-11

HEBREËRS 5:5-11 NLV

Net so het Christus ook nie vir Homself die waardigheid van hoofpriester toegeëien nie. Nee, Hy is aangewys deur die Een wat vir Hom gesê het: “Jy is my Seun. Vandag het Ek jou Vader geword.” En op ’n ander plek het God vir Hom gesê: “Jy is priester vir ewig volgens die priesterorde van Melgisedek.” Terwyl Jesus hier op aarde was, het Hy hard uitgeroep en met trane by God gesmeek en gepleit, want God sou Hom van die dood kon red. God het Hom verhoor deurdat Hy die angs vir die dood van Hom weggeneem het. Selfs al was Hy die Seun, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. Op hierdie manier het Hy volmaaktheid bereik sodat Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword het. So het God Hom dan amptelik verklaar as Hoofpriester volgens die priesterorde van Melgisedek. Aangaande Jesus ons Hoofpriester het ons nog baie om vir julle te sê. Dis egter moeilik om dit aan julle te verduidelik omdat julle so traag is om te leer.