HEBREËRS 11:30-39
HEBREËRS 11:30-39 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete het in God geglo, en daarom het die mure van Jerigo geval nadat die Israeliete sewe dae lank om die mure van Jerigo geloop het. Ragab, die prostituut, het in God geglo, en daarom het sy gesê dat die spioene van die Israeliete welkom is by haar, daarom het sy nie gesterf nie. Ek sal nie nog iets sê nie, dit is nie nodig nie, want dit sal baie lank neem om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel en die profete. Hulle almal het in God geglo, en daarom het hulle die konings van ander lande oorwin. Hulle het gedoen wat reg is, hulle het gekry wat God vir hulle belowe het. Hulle het in God geglo en daarom kon leeus nie hulle bekke oopmaak om hulle te byt nie. Hulle het groot vure doodgemaak, hulle het vry weggekom toe mense hulle wou doodmaak met die swaard. Hulle was swak, maar hulle het sterk geword, hulle was baie sterk soldate en hulle het die leërs van die vyande laat vlug. Vroue het hulle mense wat gesterf het, teruggekry uit die dood omdat God hulle weer laat lewe het. Mense het gelowiges so seer gemaak dat hulle gesterf het. Hierdie gelowiges wou nie sê dat hulle opgehou het om in God te glo nie. As hulle dit gesê het, dan sou hulle vry kon weggaan. Maar hierdie mense wat so gesterf het, het geglo dat God hulle weer sal laat lewe in 'n beter lewe. Mense het ander gelowiges gespot en met 'n sweep geslaan, hulle het die gelowiges ook geboei en in die tronk gesit. Mense het hulle met klippe doodgegooi, met 'n saag in stukke gesaag, met 'n swaard doodgemaak. Ander gelowiges het rondgeloop in klere van skaapvelle en bokvelle. Hulle het nie kos en klere gehad nie, mense het hulle laat swaarkry en het hulle baie seer gemaak. Hierdie mense wat in God geglo het, was te goed vir die mense van die wêreld. Hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en in grotte en gate in die grond. Die Ou Testament sê vir ons dat God tevrede was met al hierdie voorouers van ons omdat hulle in Hom geglo het. Maar Hy het nie vir hulle die dinge gegee wat Hy belowe het nie.
HEBREËRS 11:30-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was. Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het. En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het. Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om 'n beter opstanding te kan verkry. Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel — die wêreld was hulle nie werd nie — hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond. En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie
HEBREËRS 11:30-39 Afrikaans 1983 (AFR83)
Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het. Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie. En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig word. Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe. En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie
HEBREËRS 11:30-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Deur geloof het die mure van Jerigo geval, nadat daar vir sewe dae rondom die stad getrek is. Deur geloof het Ragab, die prostituut, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het. En wat moet ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, en ook van Samuel en die profete – hulle wat deur geloof koninkryke verower het, wat gedoen het wat reg is, wat beloftes verkry het, wat die bekke van leeus toegestop het, wat die geweld van vuur geblus, die skerpte van die swaard ontvlug het, wat krag ontvang het in hulle swakheid, wat magtig geword het in oorlogvoering, wat slagordes van vreemdes afgeweer het. Vroue het hulle dooies deur opstanding terugontvang; ander weer is gemartel toe hulle nie die vrylating wou aanvaar nie, sodat hulle 'n beter opstanding kon verkry; nog ander het die toets van bespotting en slae verduur, en boonop van boeie en gevangenskap. Hulle is gestenig, middeldeur gesaag; deur teregstelling met die swaard het hulle gesterf, in skaapvelle het hulle geswerf, in bokvelle, behoeftig, verdruk, mishandel – die wêreld was hulle nie werd nie – terwyl hulle in verlate plekke en oor berge rondgeswerf het, en in grotte en in gate in die grond. En hoewel daar oor al hierdie mense vanweë hulle geloof met lof getuig is, het hulle nie die belofte ontvang nie
HEBREËRS 11:30-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Deur geloof het die mure van Jerigo geval nadat hulle omtrent sewe dae lank omsingel was. Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie omgekom saam met die ongelowiges nie, toe sy die spioene met vrede ontvang het. En wat sal ek nog sê? want die tyd sou my ontbreek om van Gedeon en van Barak en van Simson en van Jeftae te vertel; ook van Dawid en Samuel en van die profete: wat deur die geloof koninkryke onderwerp het, geregtigheid bewerk het, beloftes verkry het, die bekke van leeus gestop het, Die geweld van vuur geblus, die skerpte van die swaard ontvlug, uit swakheid sterk gemaak, dapper geword in die stryd, omgedraai om die leërs van die vreemdelinge te vlug. Vroue het hulle dooies opgewek ontvang, en ander is gemartel en het nie verlossing aanvaar nie; sodat hulle 'n beter opstanding kan verkry: En ander het tereggestaan op wrede bespottings en geselinge, ja, boeie en gevangenisstraf. Hulle is gestenig, hulle is uitmekaar gesaag, is versoek, is met die swaard gedood; hulle het rondgedwaal in skaapvelle en bokvelle; behoeftig, geteisterd, gepynig word; (Waaraan die wêreld nie waardig was nie): hulle het rondgedwaal in woestyne en in berge en in holtes en grotte van die aarde. En nadat hulle almal deur die geloof 'n goeie verslag verkry het, het hulle die belofte nie aangeneem nie.
HEBREËRS 11:30-39 Die Boodskap (DB)
Op dieselfde manier het die mure van Jerigo inmekaargesak nadat God se mense sewe dae lank elke dag om die stad getrek het. En dan was daar nog Ragab, die straatvrou. Sy het in God geglo en die Israelitiese spioene gehelp. Daarom het God haar nie saam met al die ander ongehoorsame mense van die stad doodgemaak nie. Wat meer hoef ek nog te sê? Ek kan heeldag besig bly om nog sulke voorbeelde te gee. Dink maar net aan Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en al die ander manne wat God se boodskap moes verkondig. Omdat hulle God vertrou het, het hulle konings op hulle plek gesit, gedoen waarvan God hou en gekry wat God beloof het. Leeus kon party van hulle nie verskeur nie, vure kon ander nie brand nie en mense kon party van hulle nie met swaarde doodmaak nie. Hoewel sommige hopeloos en swak gelyk het, het God hulle sterk gemaak. Ander het weer soos tiere in oorloë geveg en die leërs van vreemde magte verwilder. Dit het ook gebeur dat vroue wie se dierbares dood was hulle weer lewendig teruggekry het. Maar daar was ook ander wat eerder gekies het om gemartel te word as om onder sekere voorwaardes losgelaat te word. Hulle het daarna uitgesien om na die dood op te staan in ’n baie beter lewe by God. Party is uitgejou en geslaan, terwyl ander geboei in die tronk gegooi is. Die lysie word langer: van hulle is met klippe doodgegooi, ander is in stukke gesaag of met swaarde doodgekap. Met party het dit so sleg gegaan dat hulle net ’n skaap- of bokvelletjie gehad het om aan te trek. Hulle het nie eens behoorlik kos gehad om te eet nie, en waar hulle ook al gekom het, het mense hulle weggejaag en sleg behandel. Hulle het in die wildernis gaan bly en in grotte en gate weggekruip. Die wêreld het nie regtig besef wie hulle is nie, want dan sou hulle geweet het dat hierdie mense baie beter as hulle was. Hoewel daar soveel mooi dinge oor hierdie mense gesê is omdat hulle so op God vertrou het, het hulle ook nog nie alles gekry wat God vir hulle beloof het nie.
HEBREËRS 11:30-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omdat die Israeliete geglo het, het hulle vir sewe dae om Jerigo marsjeer en sy mure het ineengestort. Omdat sy geglo het, het Ragab die prostituut die spioene vriendelik ontvang en nie saam met die mense van haar stad, wat aan God ongehoorsaam was, gesterf nie. Wat meer moet ek nog sê? Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van die geloof van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete. Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop, die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan. Vroue het selfs hulle geliefdes uit die dood terugontvang. Ander weer is gemartel, maar wou nie die prys vir hulle vrylating betaal nie omdat hulle die opstanding tot ’n beter lewe wou verkry. Party moes bespotting en géseling verduur, ook arrestasie en gevangenskap. Hulle is met klippe doodgegooi, in twee gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgegaan in skaapvelle en bokvelle, honger en verdruk en mishandel. Hulle was te goed vir hierdie wêreld; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge in grotte geskuil en in gate in die grond. En alhoewel daar oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig is, het nie een van hulle ten volle verkry wat God beloof het nie.