Hebreërs 11:30-39

Hebreërs 11:30-39 DB

Op dieselfde manier het die mure van Jerigo inmekaargesak nadat God se mense sewe dae lank elke dag om die stad getrek het. En dan was daar nog Ragab, die straatvrou. Sy het in God geglo en die Israelitiese spioene gehelp. Daarom het God haar nie saam met al die ander ongehoorsame mense van die stad doodgemaak nie. Wat meer hoef ek nog te sê? Ek kan heeldag besig bly om nog sulke voorbeelde te gee. Dink maar net aan Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en al die ander manne wat God se boodskap moes verkondig. Omdat hulle God vertrou het, het hulle konings op hulle plek gesit, gedoen waarvan God hou en gekry wat God beloof het. Leeus kon party van hulle nie verskeur nie, vure kon ander nie brand nie en mense kon party van hulle nie met swaarde doodmaak nie. Hoewel sommige hopeloos en swak gelyk het, het God hulle sterk gemaak. Ander het weer soos tiere in oorloë geveg en die leërs van vreemde magte verwilder. Dit het ook gebeur dat vroue wie se dierbares dood was hulle weer lewendig teruggekry het. Maar daar was ook ander wat eerder gekies het om gemartel te word as om onder sekere voorwaardes losgelaat te word. Hulle het daarna uitgesien om na die dood op te staan in ’n baie beter lewe by God. Party is uitgejou en geslaan, terwyl ander geboei in die tronk gegooi is. Die lysie word langer: van hulle is met klippe doodgegooi, ander is in stukke gesaag of met swaarde doodgekap. Met party het dit so sleg gegaan dat hulle net ’n skaap- of bokvelletjie gehad het om aan te trek. Hulle het nie eens behoorlik kos gehad om te eet nie, en waar hulle ook al gekom het, het mense hulle weggejaag en sleg behandel. Hulle het in die wildernis gaan bly en in grotte en gate weggekruip. Die wêreld het nie regtig besef wie hulle is nie, want dan sou hulle geweet het dat hierdie mense baie beter as hulle was. Hoewel daar soveel mooi dinge oor hierdie mense gesê is omdat hulle so op God vertrou het, het hulle ook nog nie alles gekry wat God vir hulle beloof het nie.