HEBREËRS 10:26-34

HEBREËRS 10:26-34 Bybel vir almal (ABA)

Want as ons sonde doen en ons weet dat ons sonde doen, maar ons doen dit nadat ons geleer het en weet wat die waarheid is, dan sal 'n sonde-offer nie meer help om ons sondes te vergewe nie. Nee, dan moet ons bang wees omdat ons weet dat God ons sal oordeel, sy straf sal wees soos 'n baie warm vuur wat almal verbrand wat teen God is. Wanneer twee of drie getuies sê dat iemand ongehoorsaam was aan die Wette van Moses, dan moet daardie persoon sterf. As dit so is, wat dink julle sal gebeur met die persoon wat dink dat die Seun van God nie belangrik is nie? Of wat dink julle sal gebeur met die persoon wat dink dat die bloed onrein is, die bloed wat wys dat God 'n verbond met julle gemaak het? Dit is hierdie bloed, die bloed van die Seun, waarmee God die persoon gewy het wat so dink. En wat dink julle sal gebeur met iemand wat slegte dinge gesê het van die Heilige Gees wat goeie dinge vir ons gee? God sal so iemand baie swaarder straf as iemand wat nie geluister het na die Wette van Moses nie. Want ons weet wie hierdie woorde gesê het: Dit is Ék wat mense sal straf oor wat hulle verkeerd gedoen het. Hy het ook gesê: Die Here sal sy volk oordeel. Almal moet bang wees wanneer God oordeel, die God wat lewe. Maar julle moet onthou dat julle baie swaar gekry het in daardie tyd toe julle gelowiges geword het, maar julle het aangehou om in Christus te glo. Party maal het mense slegte dinge gesê van julle en hulle het vir julle gespot en vir julle laat swaarkry, maar ander dae het julle swaargekry omdat julle vriende was met mense wat ook so swaar gekry het. Want julle was ook jammer vir die gevangenes. En toe mense julle goed gevat het, het julle dit aanvaar en julle het nie opgehou om bly te wees nie. Julle het dit gedoen omdat julle geweet het dat God vir julle iets gegee het wat beter is, en julle sal dit altyd hê.

HEBREËRS 10:26-34 Die Boodskap (DB)

As ons die regte pad leer ken het, en dan aanhou om moedswillig dinge te doen waarvan God nie hou nie, is daar nie meer ’n offer wat sal maak dat God Hom nie aan die sondes sal steur nie. Al wat vir so iemand oorbly, is om die verskriklike woorde van God te hoor: “Jy is skuldig,” en dan die gloeiende vuur in te stap wat die vyande van God gaan verteer. Met die wet van Moses was dit al so dat iemand sonder genade doodgemaak is as twee of drie persone saam gesê het dat hulle die persoon iets verkeerds sien doen het. Wat dink jy sal dan iemand tref as hy sy neus optrek vir die Seun van God? Daarvan kan ons seker wees: hy verdien dit om so swaar gestraf te word. Hy het nie net die Seun van God beledig nie, maar ook gemaak asof die bloed waarmee Jesus die nuwe ooreenkoms gesluit het, onbelangrik is. So het hy die Gees in die gesig gevat wat vir hom so ’n groot geskenk verniet wou gee. Ons ken Hom wat gesê het: “Ek sal straf uitdeel soos dit moet, Ek sal mense terugbetaal vir die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Verder het Hy ook gesê: “Die Here is die Een wat sal besluit wat met sy volk gaan gebeur.” Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê. Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie. Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is. Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie.