Hebreërs 10:26-34

Hebreërs 10:26-34 AFR20

Want as ons willens en wetens aanhou sonde doen, nadat ons kennis van die waarheid ontvang het, bly daar nie meer 'n offer vir ons sondes oor nie, maar wel 'n verskriklike verwagting van oordeel en intense vuur, wat God se teenstanders gaan verteer. Wanneer iemand die •Wet van Moses verwerp het, het hy gesterf op grond van twee of drie se getuienis, sonder genade. Hoeveel erger straf dink julle sal iemand verdien wat die •Seun van God vertrap het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, gering geag het, en die Gees van genade uitgedaag het? Want ons ken Hom wat gesê het: “Aan My behoort die wraak; Ek sal vergeld.” en ook: “Die Here sal sy volk oordeel.” Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God! Maar onthou die vroeër dae toe julle, nadat julle verlig is, 'n geweldige stryd van lyding deurstaan het. Aan die een kant is julle deur beledigings en deur verdrukking openlik bespotlik gemaak; aan die ander kant het julle julle vereenselwig met dié wat so behandel word. Ook het julle met die gevangenes medelye gehad, en die beslaglegging van julle besittings met vreugde aanvaar, omdat julle weet dat julle 'n beter en blywende besitting het.