HAGGAI 1:12-15
HAGGAI 1:12-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het Serubbabel seun van Sealtiël, en die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en almal wat van die volk oorgebly het, ter harte geneem wat die Here hulle God gesê het, wat die profeet Haggai in opdrag van die Here hulle God gesê het. Die volk was vervul met ontsag vir die Here. Haggai die boodskapper van die Here het in opdrag van die Here vir die volk gesê: Ek is by julle, sê die Here. Die Here het toe vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het, aangevuur, en hulle het die werk aan die huis van hulle God, die Here die Almagtige, aangepak. Hulle het daarmee begin op die vier en twintigste van die sesde maand.
HAGGAI 1:12-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Serubbabel, seun van Sealtiël, en Josua, die hoëpriester en seun van Jehosadak, en almal wat oor was van die volk, het geluister na die stem van die HERE hulle God en ag geslaan op die woorde van Haggai, die profeet, toe die HERE hulle God hom gestuur het. Die volk was bang vir die HERE, maar Haggai, die boodskapper van die HERE, het in opdrag van die HERE vir die volk gesê: “Ek is met julle! Dit is die uitspraak van die HERE.” Toe het die HERE Serubbabel, seun van Sealtiël en streekgoewerneur van Juda, en Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en almal wat oor was van die volk, begeester. Hulle het begin om die werk aan die huis van die HERE, Heerser oor alle magte, hulle God, aan te pak. Dit het gebeur op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius.
HAGGAI 1:12-15 Bybel vir almal (ABA)
Serubbabel en die hoëpriester Jesua en al die mense wat nog gelewe het, het gehoor wat hulle God die Here gesê het. Hulle het die boodskap gehoor wat die profeet Haggai vir hulle gebring het. Die volk het toe bang geword vir die Here. Haggai het 'n boodskap van die Here vir die volk gebring en gesê: “Ek is by julle, sê die Here.” Die Here het hulle harte verander. Toe wou Serubbabel, die goewerneur van Juda, en Jesua, die hoëpriester, en almal wat nog gelewe het, die werk graag doen. Hulle het gekom en hulle het die tempel begin bou, die tempel van hulle God die Here wat oor alles regeer. Dit was op die 24ste dag van die sesde maand in die tweede jaar nadat Darius koning geword het.
HAGGAI 1:12-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem van die HERE hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet, volgens die opdrag waarmee die HERE hulle God hom gestuur het; en die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die HERE. Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE. En die HERE het die gees van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God. Dit was op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van koning Daríus.
HAGGAI 1:12-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Serubbabel, die seun van Sealtiël, en Josua, die seun van Josédek, die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk geluister na die stem van die HERE hulle God en die woorde van die profeet Haggai, soos die HERE hulle God gestuur het hom, en die volk het gevrees voor die aangesig van die HERE. Toe het Haggai, die boodskapper van die HERE, in die boodskap van die HERE aan die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE. En die HERE het die gees van Serubbabel, die seun van Sealtiël, die goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Josédek, die hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek; en hulle het gekom en werk gedoen in die huis van die HERE van die leërskare, hulle God, Op die vier en twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van koning Daríus.
HAGGAI 1:12-15 Die Boodskap (DB)
Haggai het gedoen wat die Here gesê het. Hy het met die mense van Juda gepraat en gesê wat die Here wou hê hulle moes hoor. Serubbabel, wat nou die hoof van die land was, die hoëpriester Jesua en al die mense wat in die land was, het positief gereageer op wat die Here hulle God te sê gehad het. Die mense van Juda het weer besluit om die Here met hulle hele hart te dien. Die Here het toe weer vir Haggai gebruik om vir die volk die belofte te gee dat Hy by hulle sal bly. Die Here het vir Serubbabel, Jesua en die mense wat uit Babel teruggekom het, soveel moed en energie gegee dat hulle aan die werk gespring het om die huis van Here reg te maak. Die werk het op 21 September 520 v.C. begin in die tweede jaar wat Darius koning was.
HAGGAI 1:12-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die profeet Haggai het die boodskap van die HERE aan die mense oorgedra. Serubbabel, Jesua en al die mense wat in die land agtergebly het, het die boodskap van die HERE hulle God gehoorsaam. Hulle het toe in alle erns die HERE begin aanbid. Die HERE se boodskapper Haggai het toe hierdie boodskap van die HERE vir die mense gebring: “Ek is by julle, sê die HERE!” Hierdeur het die HERE die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua, asook al die HERE se mense wat in die land agtergebly het, baie entoesiasties gemaak. Hulle het na die huis van die HERE, die Almagtige, hulle God gekom en daaraan begin werk. Dit was op 21 September, die tweede jaar wat Darius koning was.