HAGGAI 1:1-15

HAGGAI 1:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op 29 Augustus, in die tweede jaar wat Darius koning was, het die HERE die profeet Haggai gebruik om ’n boodskap aan Serubbabel en Jesua oor te dra. Serubbabel, die seun van Sealtiël, was goewerneur van Juda, en Jesua, die seun van Josadak, was die hoëpriester. “Die HERE, die Almagtige, sê: Die mense sê: ‘Die tyd het nog nie aangebreek om die huis van die HERE, die tempel, te herbou nie.’” Die HERE het toe deur die profeet Haggai die volgende boodskap gestuur: “Hoe kan julle in weelderige huise bly terwyl my huis ’n ruïne is? Die HERE, die Almagtige, sê: Dink ’n bietjie na oor hoe sake vir julle staan! Julle het baie aanplantings gedoen, maar die oes was maar skraal. Julle het nou wel kos om te eet, maar julle is nog honger. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle dors te les nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie voldoende om julle warm te hou nie. Julle geld raak weg asof dit gebêre is in ’n broeksak met gate! “Die HERE, die Almagtige, sê: Dink ’n bietjie na oor hoe sake vir julle staan! Gaan haal hout op die heuwels en begin dan my huis herstel. Dit sal My tevrede stel en Ek sal voel dat julle My eer betoon, sê die HERE. Julle het gehoop dat dit ’n goeie oes sal wees, maar dit was maar skraal. Die oes wat julle nog huis toe gebring het, het Ek weggewaai. Waarom? Omdat julle almal besig is om julle eie netjiese huise te bou en dit terwyl my huis in puin lê, sê die HERE, die Almagtige. Dit is die rede hoekom daar nie dou uit die hemel kom nie en die aarde nie graan oplewer nie. Ek is verantwoordelik vir die droogte oor die weivelde en die heuwels. Dit is ’n droogte wat die graan, die druiwe, die olywe en al die ander graangewasse beskadig; ’n droogte wat julle en julle vee sal laat honger lei; ’n droogte wat alles waaraan julle so hard gewerk het, tot niet sal laat gaan.” Die profeet Haggai het die boodskap van die HERE aan die mense oorgedra. Serubbabel, Jesua en al die mense wat in die land agtergebly het, het die boodskap van die HERE hulle God gehoorsaam. Hulle het toe in alle erns die HERE begin aanbid. Die HERE se boodskapper Haggai het toe hierdie boodskap van die HERE vir die mense gebring: “Ek is by julle, sê die HERE!” Hierdeur het die HERE die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua, asook al die HERE se mense wat in die land agtergebly het, baie entoesiasties gemaak. Hulle het na die huis van die HERE, die Almagtige, hulle God gekom en daaraan begin werk. Dit was op 21 September, die tweede jaar wat Darius koning was.

HAGGAI 1:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het met Serubbabel en Jesua gepraat. Hy het die profeet Haggai gestuur om vir hulle 'n boodskap te bring. Dit was op die eerste dag van die sesde maand in die tweede jaar nadat Darius koning geword het. Serubbabel was die goewerneur van Juda en hy was die seun van Sealtiël. Jesua was die hoëpriester en hy was die seun van Josadak. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Hierdie mense sê dit is nog nie die regte tyd om die tempel van die Here weer te bou nie.” Die Here het vir Haggai gestuur om vir hulle 'n boodskap te bring: Die Here het gesê: “Is dit reg dat julle in julle pragtige huise woon, die huise wat julle met hout mooi gemaak het? Kyk, my tempel staan nie meer nie, dit is net 'n hoop klippe.” En nou sê die Here wat oor alles regeer: “Dink oor alles wat met julle gebeur het: Julle het baie koring gesaai, maar julle het min koring afgesny. Julle het geëet, maar julle was nog honger. Julle het gedrink, maar julle was nog dors. Julle het klere aangetrek, maar julle het nog koud gekry. Julle het hard gewerk vir ander mense, maar julle het nie geld nie.” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Dink oor wat met julle gebeur het en gaan haal hout op die berg en bou my tempel. Dan sal Ek bly wees daaroor en dan kan die mense My daar eer.” Dit het die Here gesê. Die Here sê: “Julle het gehoop daar sal baie koring wees wat julle kan afsny, maar julle het min gekry. Toe julle dit huis toe gebring het, het Ek dit laat verdwyn. Hoekom?” Die Here wat oor alles regeer, sê: “Ek het dit gedoen omdat my tempel nie meer staan nie. Dit is net 'n hoop klippe, maar julle almal werk hard net om julle eie huise te bou. Daarom het die grond droog geword en dit het min koring gegee. Ek het droogte gestuur oor die land en oor die berge en oor die koring, die wyn en die olie. Ek het droogte gestuur oor alles wat in die grond groei, ook oor die mense en oor die diere, oor al die werk van die mense.” Serubbabel en die hoëpriester Jesua en al die mense wat nog gelewe het, het gehoor wat hulle God die Here gesê het. Hulle het die boodskap gehoor wat die profeet Haggai vir hulle gebring het. Die volk het toe bang geword vir die Here. Haggai het 'n boodskap van die Here vir die volk gebring en gesê: “Ek is by julle, sê die Here.” Die Here het hulle harte verander. Toe wou Serubbabel, die goewerneur van Juda, en Jesua, die hoëpriester, en almal wat nog gelewe het, die werk graag doen. Hulle het gekom en hulle het die tempel begin bou, die tempel van hulle God die Here wat oor alles regeer. Dit was op die 24ste dag van die sesde maand in die tweede jaar nadat Darius koning geword het.

HAGGAI 1:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN die tweede jaar van koning Daríus, op die eerste dag van die sesde maand, het die woord van die HERE deur die diens van die profeet Haggai gekom tot Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en tot Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en gesê: So spreek die HERE van die leërskare: Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie. So het die woord van die HERE dan gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê: Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het: julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in 'n stukkende beurs te steek. So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het! Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek 'n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die HERE. Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop. Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings teruggehou. En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense en oor die diere en oor alle arbeid van die hande. Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem van die HERE hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet, volgens die opdrag waarmee die HERE hulle God hom gestuur het; en die volk was vervul met vrees voor die aangesig van die HERE. Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE. En die HERE het die gees van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God. Dit was op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van koning Daríus.

HAGGAI 1:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het deur die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en tot die hoëpriester Jesua seun van Josadak. Dit was op die eerste dag van die sesde maand in die tweede regeringsjaar van koning Darius. So sê die Here die Almagtige: Hierdie volk sê dit is nie nou die tyd om die tempel te herbou nie. Toe het die woord van die Here weer deur die profeet Haggai gekom: Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê? Daarom, so sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur. Julle het baie gesaai, maar min geoes; julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie; julle het gedrink, maar dors gebly; julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie; julle is soos 'n dagloner wat sy loon in 'n stukkende beursie steek. So sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur. Gaan haal hout in die berg en herbou my huis sodat Ek my eer kan ontvang en tevrede kan wees, sê die Here. Julle het 'n groot oes verwag, maar min gekry, en wat julle nog huis toe gebring het, het Ek laat verdwyn. Waarom? vra die Here die Almagtige. Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te werk. Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het. Ek het droogte laat kom oor die land en oor die berge, oor die koring, die wyn en die olie en oor die opbrengs van die land, oor mens en dier en oor alles waarmee die mens hom besig hou. Toe het Serubbabel seun van Sealtiël, en die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en almal wat van die volk oorgebly het, ter harte geneem wat die Here hulle God gesê het, wat die profeet Haggai in opdrag van die Here hulle God gesê het. Die volk was vervul met ontsag vir die Here. Haggai die boodskapper van die Here het in opdrag van die Here vir die volk gesê: Ek is by julle, sê die Here. Die Here het toe vir Serubbabel, seun van Sealtiël en goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua seun van Josadak, en vir almal wat van die volk oorgebly het, aangevuur, en hulle het die werk aan die huis van hulle God, die Here die Almagtige, aangepak. Hulle het daarmee begin op die vier en twintigste van die sesde maand.

HAGGAI 1:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die tweede regeringsjaar van koning Darius, op die eerste dag van die sesde maand, het die woord van die HERE by monde van die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en •streekgoewerneur van Juda, en tot Josua, die hoëpriester en seun van Jehosadak: “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Hierdie volk sê die tyd is nog nie ryp om die HERE se huis te herbou nie.’ ” Die woord van die HERE het gekom by monde van die profeet Haggai: “ Is die tyd dan wel vir julle ryp om in huise met houtpanele te woon, terwyl hierdie huis 'n bouval is? Daarom,” so sê die HERE, Heerser oor alle magte, “neem ter harte wat julle beleef het: Julle het baie gesaai, maar dit het min opgelewer; julle eet, maar word nie versadig nie; julle drink, maar julle dors word nie geles nie; julle trek aan, maar word nie warm nie. Wie homself uithuur, doen dit vir 'n beursie vol gate.” So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Neem ter harte wat julle beleef het: Gaan teen die berge uit, bring hout en herbou my huis; dit sal vir My vreugde verskaf en Ek sal daardeur verheerlik word.” Dit is wat die HERE sê. “Julle verwag baie, maar kyk, julle kry bloedweinig. As julle iets huis toe bring, blaas Ek dit weg. “En waarom? Omdat my huis 'n bouval is, terwyl elkeen van julle rondhardloop vir sy eie huis.” Dit is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. “Daarom het die hemel bo júlle die dou teruggehou en die aarde sy opbrengs. Ek het droogte uitgeroep oor die land en oor die heuwels, oor die koring, die •nuwe wyn en die olie, oor alles wat die grond oplewer; oor mens en dier en alles wat met moeite tot stand gebring is.” Serubbabel, seun van Sealtiël, en Josua, die hoëpriester en seun van Jehosadak, en almal wat oor was van die volk, het geluister na die stem van die HERE hulle God en ag geslaan op die woorde van Haggai, die profeet, toe die HERE hulle God hom gestuur het. Die volk was bang vir die HERE, maar Haggai, die boodskapper van die HERE, het in opdrag van die HERE vir die volk gesê: “Ek is met julle! Dit is die uitspraak van die HERE.” Toe het die HERE Serubbabel, seun van Sealtiël en streekgoewerneur van Juda, en Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en almal wat oor was van die volk, begeester. Hulle het begin om die werk aan die huis van die HERE, Heerser oor alle magte, hulle God, aan te pak. Dit het gebeur op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius.

HAGGAI 1:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In die tweede jaar van koning Daríus, in die sesde maand, op die eerste dag van die maand, het die woord van die HERE deur die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, die seun van Sealtiël, die goewerneur van Juda, en tot Josua, die seun van Josédek, die hoëpriester, sê: So spreek die HERE van die leërskare en sê: Hierdie volk sê: Die tyd het nie gekom nie, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word. Toe kom die woord van die HERE deur die profeet Haggai en sê: Is dit tyd vir julle, o julle, om in julle beskutte huise te woon, en hierdie huis lê puin? Nou dan, so sê die HERE van die leërskare: Oorweeg jou maniere. Julle het baie gesaai en min ingebring; julle eet, maar julle het nie genoeg nie; julle drink, maar julle word nie versadig met drank nie; julle beklee julle, maar daar is niemand warm nie; en hy wat loon verdien, verdien loon om dit in 'n sak met gate te gooi. So sê die HERE van die leërskare: Oorweeg jou maniere. Gaan op na die berg en bring hout en bou die huis; en Ek sal behae daarin hê en My verheerlik, spreek die HERE. Julle het baie gewag, en kyk, dit het min geword; en toe julle dit huis toe bring, het ek daarop geblaas. Hoekom? spreek die HERE van die leërskare. Ter wille van my huis wat puin lê, en julle hardloop elkeen na sy huis toe. Daarom is die hemel oor jou van dou teruggehou, en die aarde van sy vrugte. En ek het 'n droogte geroep oor die land en oor die berge en oor die koring en oor die mos en oor die olie en oor wat die grond voortbring, en oor mense en oor vee en oor al die arbeid van die hande. Toe het Serubbabel, die seun van Sealtiël, en Josua, die seun van Josédek, die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk geluister na die stem van die HERE hulle God en die woorde van die profeet Haggai, soos die HERE hulle God gestuur het hom, en die volk het gevrees voor die aangesig van die HERE. Toe het Haggai, die boodskapper van die HERE, in die boodskap van die HERE aan die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE. En die HERE het die gees van Serubbabel, die seun van Sealtiël, die goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Josédek, die hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek; en hulle het gekom en werk gedoen in die huis van die HERE van die leërskare, hulle God, Op die vier en twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar van koning Daríus.

HAGGAI 1:1-15 Die Boodskap (DB)

Die Here wou ’n boodskap aan Serubbabel en Jesua stuur en daarvoor het Hy Haggai gebruik. Serubbabel was in hierdie stadium die hoof van Juda en Jesua was die hoëpriester. Serubbabel se pa se naam was Seältiel en Josadak was Jesua se pa. Dit het gebeur op 29 Augustus 520 v.C. in die tweede jaar wat Darius koning was. Niemand het soveel mag as die Here nie. Hy sê dat die mense van Juda die tempel weer moet opbou. Hulle was gevang en uit hulle land uit weggevat na Babel toe. Nou is hulle terug in hulle land. Maar vandat hulle terug is, het hulle nog nie weer daaraan gedink om die Here se tempel te herbou nie. Daarom wil Hy hê dat Haggai ’n paar dinge vir hulle moet sê. Hy wil weet of die mense van Juda reg maak deur in hulle spoghuise te bly terwyl sy huis nog verwoes lê. Die Here sê vir die mense van Juda: “Dink mooi na oor wat op die oomblik aan die gang is. Julle het baie saad op die landerye gesaai, maar die oes wat julle ingebring het, was maar klein. Julle het wel kos om te eet, maar dit laat julle nie juis versadig voel nie. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle tevrede te stel nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie genoeg om julle warm te maak nie. Die geld wat julle vir julle daaglikse werk kry, verdwyn ook so vinnig asof daar ’n gat in julle beursie is.” Die Here sê weer: “Dink mooi na oor wat aan die gang is. Gaan haal hout in die berge en begin om my tempel reg te maak. Ek sal baie bly wees as my huis weer reggemaak is. Dan sal die mense weer daarheen kan gaan en My daar kan dien, sê die Here. Julle het ’n groot oes verwag, maar dit het nie veel opgelewer nie. Die bietjie wat julle ingesamel het, het Ek laat verdwyn. Hoekom, dink julle, gebeur dit? vra Ek die Here wat mag het wat met niks en niemand vergelyk kan word nie. Dit is omdat my tempel nog verwoes lê terwyl julle almal besig is om aan julle eie huise te werk. Dit is julle eie skuld dat dit nie reën nie en niks wil groei nie. Dit is Ek wat droogte oor die land gebring het. Dit het ’n effek op die berge, die graanlande, die wingerde, die olyfboorde, die oeste en wat ook al uit die grond groei. Die droogte raak ook mens en dier en alles waarvoor julle gewerk het.” Haggai het gedoen wat die Here gesê het. Hy het met die mense van Juda gepraat en gesê wat die Here wou hê hulle moes hoor. Serubbabel, wat nou die hoof van die land was, die hoëpriester Jesua en al die mense wat in die land was, het positief gereageer op wat die Here hulle God te sê gehad het. Die mense van Juda het weer besluit om die Here met hulle hele hart te dien. Die Here het toe weer vir Haggai gebruik om vir die volk die belofte te gee dat Hy by hulle sal bly. Die Here het vir Serubbabel, Jesua en die mense wat uit Babel teruggekom het, soveel moed en energie gegee dat hulle aan die werk gespring het om die huis van Here reg te maak. Die werk het op 21 September 520 v.C. begin in die tweede jaar wat Darius koning was.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid