Haggai 1:1-15

Haggai 1:1-15 AFR20

In die tweede regeringsjaar van koning Darius, op die eerste dag van die sesde maand, het die woord van die HERE by monde van die profeet Haggai gekom tot Serubbabel, seun van Sealtiël en •streekgoewerneur van Juda, en tot Josua, die hoëpriester en seun van Jehosadak: “So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Hierdie volk sê die tyd is nog nie ryp om die HERE se huis te herbou nie.’ ” Die woord van die HERE het gekom by monde van die profeet Haggai: “ Is die tyd dan wel vir julle ryp om in huise met houtpanele te woon, terwyl hierdie huis 'n bouval is? Daarom,” so sê die HERE, Heerser oor alle magte, “neem ter harte wat julle beleef het: Julle het baie gesaai, maar dit het min opgelewer; julle eet, maar word nie versadig nie; julle drink, maar julle dors word nie geles nie; julle trek aan, maar word nie warm nie. Wie homself uithuur, doen dit vir 'n beursie vol gate.” So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Neem ter harte wat julle beleef het: Gaan teen die berge uit, bring hout en herbou my huis; dit sal vir My vreugde verskaf en Ek sal daardeur verheerlik word.” Dit is wat die HERE sê. “Julle verwag baie, maar kyk, julle kry bloedweinig. As julle iets huis toe bring, blaas Ek dit weg. “En waarom? Omdat my huis 'n bouval is, terwyl elkeen van julle rondhardloop vir sy eie huis.” Dit is die uitspraak van die HERE, Heerser oor alle magte. “Daarom het die hemel bo júlle die dou teruggehou en die aarde sy opbrengs. Ek het droogte uitgeroep oor die land en oor die heuwels, oor die koring, die •nuwe wyn en die olie, oor alles wat die grond oplewer; oor mens en dier en alles wat met moeite tot stand gebring is.” Serubbabel, seun van Sealtiël, en Josua, die hoëpriester en seun van Jehosadak, en almal wat oor was van die volk, het geluister na die stem van die HERE hulle God en ag geslaan op die woorde van Haggai, die profeet, toe die HERE hulle God hom gestuur het. Die volk was bang vir die HERE, maar Haggai, die boodskapper van die HERE, het in opdrag van die HERE vir die volk gesê: “Ek is met julle! Dit is die uitspraak van die HERE.” Toe het die HERE Serubbabel, seun van Sealtiël en streekgoewerneur van Juda, en Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en almal wat oor was van die volk, begeester. Hulle het begin om die werk aan die huis van die HERE, Heerser oor alle magte, hulle God, aan te pak. Dit het gebeur op die vier-en-twintigste dag van die sesde maand, in die tweede regeringsjaar van koning Darius.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Haggai 1:1-15

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid