GENESIS 8:1-14

GENESIS 8:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

God het aan Noag gedink, ook aan al die wilde en mak diere wat saam met hom in die ark was. Toe het God 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het tot rus gekom. Die fonteine van die •oerwater en die vensters van die hemel is gesluit, en die stortreën uit die hemel is teruggehou. Die water het geleidelik van die aarde af teruggevloei. Die water het ná verloop van honderd-en-vyftig dae minder geword. In die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, het die ark op die Araratberge tot rus gekom. Die water het geleidelik minder geword, tot in die tiende maand. In die tiende maand, op die eerste dag van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword. Ná verloop van veertig dae het Noag die ark se luik wat hy gemaak het, oopgemaak, en 'n kraai losgelaat. Maar dié het heen en weer bly vlieg totdat die water van die aarde af weggedroog het. Toe het Noag 'n duif wat by hom was, losgelaat om te sien of die water oor die aardbodem verminder het. Die duif kon nêrens 'n rusplek vir sy pote kry nie, en het na hom teruggekeer in die ark. Daar was immers nog water oor die hele oppervlakte van die aarde. Hy het sy hand uitgesteek, die duif gevang en by hom in die ark ingeneem. Hy het daarna nog sewe dae gewag en weer die duif uit die ark losgelaat. Die duif het teen laatmiddag na hom teruggekeer; en kyk, daar was 'n vars olyfblaar in sy bek! Noag het toe geweet dat die water oor die aarde verminder het. Hy het nog sewe dae gewag en die duif losgelaat, maar die duif het nie weer na hom teruggekeer nie. In die seshonderd-en-eerste jaar van Noag se lewe, op die eerste dag van die eerste maand, was die water van die aarde af weggedroog. Noag het die deksel van die ark verwyder en gesien: Kyk, die grondoppervlak was droog! In die tweede maand, op die sewe-en-twintigste dag van die maand, was die aarde droog.

GENESIS 8:1-14 Bybel vir almal (ABA)

God het gedink aan Noag en die diere wat saam met hom in die ark was. God het 'n wind oor die aarde laat waai. Die water het minder geword en begin sak. Die fonteine het toegegaan, en dit het opgehou reën. Die water het minder en minder geword en weggesak. Na 150 dae het die water baie vlakker geword. Op die sewentiende dag van die sewende maand het die ark op die Ararat-berge gaan lê. Die water het nog minder en minder geword, en op die eerste dag van die tiende maand kon die mense in die ark die boonste punte van die berge sien. Ná nog 40 dae het Noag die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het. Hy het 'n kraai laat uitvlieg. Maar die kraai het aangehou vlieg totdat die water opgedroog het. Toe het Noag 'n duif laat uitvlieg om uit te vind of die water weggevloei het van die grond af. Die duif het nie 'n plek gekry waar hy kon gaan sit nie, en hy het teruggekom na die ark, na Noag toe. Die water was nog oor die aarde. Toe die duif terugkom, het Noag sy hand uitgesteek en hy het die duif gevang. Hy het die duif weer in die ark ingebring. Noag het nog sewe dae gewag. Hy het die duif toe weer laat uitvlieg. Daardie aand het die duif na hom toe teruggekom, en daar was 'n vars olyfblaar in sy bek. Noag het toe geweet die water het baie minder geword. Hy het nog sewe dae gewag. Toe het hy weer die duif laat uitgaan, maar die duif het nie na hom toe teruggekom nie. Toe Noag 601 jaar oud was, op die eerste dag van die eerste maand, was die water weg. Noag het die ark oopgemaak en gesien die grond het begin droog word. Op die sewe-en-twintigste dag van die tweede maand was die aarde droog.

GENESIS 8:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN God het gedink aan Noag en aan al die wilde diere en al die vee wat saam met hom in die ark was; en God het 'n wind oor die aarde laat waai, sodat die waters gesak het. Ook die fonteine van die watervloed en die sluise van die hemel het toegegaan, en die stortreën uit die hemel het opgehou. Toe het die waters geleidelik van die aarde teruggegaan, en die waters het afgeneem aan die end van honderd-en-vyftig dae. En die ark het in die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, op die gebergte van Árarat gerus. En die waters het geleidelik afgeneem tot die tiende maand. In die tiende maand, op die eerste van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword. Toe het Noag aan die end van veertig dae die venster oopgemaak van die ark wat hy gebou het, en 'n kraai uitgestuur wat gedurig heen en weer gevlieg het totdat die waters weggedroog het van die aarde af. Daarop laat hy 'n duif van hom af wegvlieg om te sien of die waters oor die aarde verminder het. Maar die duif het geen rusplek vir die holte van sy voet gevind nie en na hom teruggekeer in die ark; want die waters was oor die hele aarde. So het hy dan sy hand uitgesteek en hom gegryp en in die ark by hom gebring. Daarna het hy weer sewe dae gewag. Toe stuur hy die duif weer uit die ark. En die duif het teen die aand na hom gekom, en daar was 'n groen olyfblad in sy bek! Toe merk Noag dat die waters oor die aarde verminder het. Daarna wag hy weer sewe dae en stuur die duif uit. Maar hy het nie weer na hom teruggekeer nie. In die seshonderd-en-eerste jaar, in die eerste maand, op die eerste van die maand, het die waters weggedroog van die aarde af. En Noag het die deksel van die ark weggeneem en uitgekyk, en die aarde was droog — in die tweede maand, op die sewen-en-twintigste dag van die maand, was die aarde droog.

GENESIS 8:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was, en God het 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek. Die fonteine van die groot waters en die vensters van die hemel is toegemaak, en die stortreën uit die hemel het opgehou. Die water het al hoe meer weggesak van die aarde af. Na honderd en vyftig dae het die water so gesak dat die ark op die sewentiende van die sewende maand op die Araratberge tot rus gekom het. Die water het aangehou sak en op die eerste van die tiende maand het die bergtoppe sigbaar geword. Veertig dae later het Noag die venster wat hy vir die ark ingesit het, oopgemaak en 'n kraai losgelaat, maar dit het heen en weer gevlieg totdat die water op die aarde opgedroog het. Noag het toe 'n duif losgelaat om te probeer vasstel of die water al van die aarde af verdwyn het. Maar oral op die aarde was daar nog water, en die duif kon nie 'n rusplekkie kry vir die holte van sy voet nie en het na Noag toe in die ark teruggekom. Hy het dit toe met sy hand gevang en in die ark teruggesit. Noag het toe nog sewe dae gewag en weer die duif uit die ark uit losgelaat. Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom, nogal met 'n varsgeplukte olyfblaar in sy bek. Toe het Noag geweet dat die water op die aarde opdroog. Hy het nog sewe dae gewag en die duif losgelaat, maar dit het nie weer na hom toe teruggekom nie. Op die eerste dag van die eerste maand van die ses honderd en eerste jaar van Noag was die water op die aarde heeltemal weggedroog. Noag het die luik van die ark oopgemaak en uitgekyk. Die hele aarde was droog. Op die sewe en twintigste van die tweede maand was die aarde droog

GENESIS 8:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

God het aan Noag gedink en aan al die lewende wesens en aan al die vee wat saam met hom in die ark was; Ook die fonteine van die watervloed en die vensters van die hemel is toegehou, en die reën uit die hemel is teruggehou; Die waters het voortdurend van die aarde af teruggekeer, en aan die einde van die honderd-en-vyftig dae het die waters afgeneem. Die ark het in die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, op die berge van Ararat gerus. Die waters het gedurig afgeneem tot die tiende maand: in die tiende maand, op die eerste dag van die maand, is die toppe van die berge gesien. En aan die einde van veertig dae het Noag die venster van die ark wat hy gemaak het, oopgemaak. Hy het 'n kraai uitgestuur wat heen en weer gegaan het totdat die waters van die aarde af opgedroog het. Hy het ook 'n duif van hom af uitgestuur om te sien of die water van die grond af afgeneem het; Maar die duif het geen rusplek vir haar voetsool gevind nie, en sy het na hom teruggekeer in die ark, want die waters was op die hele aarde; toe steek hy sy hand uit, neem haar en trek haar by hom in die ark in. Hy het nog sewe dae gebly; en hy het weer die duif uit die ark uitgestuur; Die duif het die aand by hom ingekom; en kyk, in haar mond was 'n olyf blaar wat afgepluk is; en Noag het geweet dat die waters van die aarde af verminder het. En hy het nog sewe dae gebly; en die duif uitgestuur; wat nie meer na Hom teruggekeer het nie. Dit het gebeur in die ses honderdste en eerste jaar, in die eerste maand, die eerste dag van die maand, het die waters van die aarde af opgedroog; en Noag het die deksel van die ark verwyder en gekyk, en kyk, die oppervlak van die grond was droog. En in die tweede maand, op die sewe en twintigste dag van die maand, het die aarde opgedroog.

GENESIS 8:1-14 Die Boodskap (DB)

God het aan Noag en sy mense in die ark gedink, ook aan al die diere saam met hom. God het toe ’n sterk wind oor die watermassa gestuur en die watervlak het stadig maar seker begin sak. Al die onderaardse fonteine het opgehou om te vloei. Al die donker reënwolke het verdwyn en dit het ophou reën. Bietjie vir bietjie het die water toe begin wegsak. Na 150 dae het die watervlak al soveel gesak dat die ark by die berg Ararat gaan staan het. Dit het op die sewentiende dag van die sewende maand gebeur. Tot die tiende maand het die watervlak bly daal sodat ’n mens al die bergpieke in die verte kon sien. Nog 40 dae later het Noag die ark se luik oopgemaak en ’n kraai laat uitvlieg. Dit het heen en weer oor die water gevlieg totdat die water uiteindelik opgedroog het. Noag wou weet of die aarde al droog was; daarom het hy ’n rukkie later ’n duif uitgestuur. Die duif kon nêrens gaan sit nie omdat daar oral water was en het na die ark toe teruggevlieg. Noag het sy hand uitgesteek en die duif het daarop gaan sit. Hy het die duif in die ark gebring. ’n Week later het hy weer die ark se luik oopgemaak en die duif uitgestuur. Teen die aand se kant het die duif teruggekom met ’n vars geplukte olyfblaartjie in sy bek. Toe het Noag geweet die water het in die grond weggesak. Hy het egter nog ’n week gewag en toe weer die duif uitgestuur. Dit het nie weer teruggekom nie. In Noag se 601ste jaar, op die eerste dag van die eerste maand, het die water al so weggesak dat ’n mens die droë grond kon sien. Noag het die ark se deur oopgemaak en gesien die aarde is droog.

GENESIS 8:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar God het gedink aan Noag en al die mense en diere by hom in die ark. Hy het ’n sterk wind oor die water laat waai en die watervloed het begin afneem. Die onderaardse waterbronne het opgehou om uit te borrel en die stortreën het bedaar. Geleidelik het die vloedwaters gesak. Na 150 dae het die watervlak só gesak dat die ark op die Araratberge vasgesit het, vyf maande nadat dit begin reën het. Twee en ’n halwe maande later het ander bergspitse sigbaar geword namate die water gesak het. 40 dae later het Noag die venster wat hy in die ark gemaak het, oopgemaak en ’n kraai uitgelaat. Die kraai het heen en weer gevlieg totdat die aarde droog was. Daarna het hy ’n duif uitgelaat om te kyk of daar enige droë grond was. Maar die duif kon nêrens gaan sit nie omdat die water nog te hoog was. Daarom het dit na die ark toe teruggekom. Noag het sy hand uitgesteek, die duif gevang en dit weer in die ark ingebring. Sewe dae later het Noag weer die duif uitgelaat. Teen die aand was die duif weer daar met ’n vars olyfblaar in die bek. Noag het besef dat die water nou al heelwat gesak het. ’n Week later het hy nog ’n keer die duif uitgelaat, maar hierdie keer het dit nie na hom toe teruggekom nie. Toe Noag 601 jaar oud was, tien en ’n half maande nadat die vloed begin het, het Noag die luik van die ark oopgemaak en gesien dat die aarde besig was om droog te word. Nog twee maande het verbygegaan en uiteindelik was die aarde droog genoeg.