GENESIS 5:1-32
GENESIS 5:1-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIT is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is. Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud was, het hy 'n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agthonderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, negehonderd-en-dertig jaar, en hy het gesterwe. Toe Set honderd-en-vyf jaar oud was, het hy die vader van Enos geword. En Set het ná die geboorte van Enos nog agthonderd-en-sewe jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Set negehonderd-en-twaalf jaar, en hy het gesterwe. Toe Enos negentig jaar oud was, het hy die vader van Kenan geword. En Enos het ná die geboorte van Kenan nog agthonderd-en-vyftien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Enos negehonderd-en-vyf jaar, en hy het gesterwe. Toe Kenan sewentig jaar oud was, het hy die vader van Mahalálel geword. En Kenan het ná die geboorte van Mahalálel nog agthonderd-en-veertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Kenan negehonderd-en-tien jaar, en hy het gesterwe. Toe Mahalálel vyf-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Jered geword. En Mahalálel het ná die geboorte van Jered nog agthonderd-en-dertig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Mahalálel agthonderd-vyf-en-negentig jaar, en hy het gesterwe. Toe Jered honderd-twee-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog geword. En Jered het ná die geboorte van Henog nog agthonderd jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Jered negehonderd-twee-en-sestig jaar, en hy het gesterwe. Toe Henog vyf-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Metúsalag geword. En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog driehonderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Henog driehonderd-vyf-en-sestig jaar. En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem. Toe Metúsalag honderd-sewen-en-tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg geword. En Metúsalag het ná die geboorte van Lameg nog sewehonderd-twee-en-tagtig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Metúsalag negehonderd-nege-en-sestig jaar, en hy het gesterwe. Toe Lameg honderd-twee-en-tagtig jaar oud was, het hy 'n seun verwek en hom Noag genoem, want hy het gesê: Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het. En Lameg het ná die geboorte van Noag nog vyfhonderd-vyf-en-negentig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Lameg sewehonderd-sewen-en-sewentig jaar, en hy het gesterwe. En Noag was vyfhonderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam en Jafet.
GENESIS 5:1-32 Bybel vir almal (ABA)
Hier is 'n lys van Adam se nageslag. God het die mense gemaak om in sy plek te regeer. Hy het hulle so gemaak dat daar mans en vroue is. Hy het die mense gemaak en hulle geseën, en Hy het hulle “mense” genoem. Toe Adam 130 jaar oud was, het sy vrou weer 'n seun gekry. Hy was soos sy pa, en Adam het hom Set genoem. Nadat Set gebore is, het Adam nog 800 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Adam was 930 jaar oud toe hy gesterf het. Set was 105 jaar oud toe hy pa geword het van Enos. Daarna het Set nog 807 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Set was 912 jaar oud toe hy gesterf het. Enos was 90 jaar oud toe hy pa geword het van Kenan. Daarna het Enos nog 815 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Enos was 905 jaar oud toe hy gesterf het. Kenan was 70 jaar oud toe hy pa geword het van Mahalalel. Daarna het Kenan nog 840 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Kenan was 910 jaar oud toe hy gesterf het. Mahalalel was 65 jaar oud toe hy pa geword het van Jered. Daarna het Mahalalel nog 830 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Mahalalel was 895 jaar oud toe hy gesterf het. Jered was 162 jaar oud toe hy pa geword het van Henog. Daarna het Jered nog 800 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Jered was 962 jaar oud toe hy gesterf het. Henog was 65 jaar oud toe hy pa geword het van Metusalag. Henog het God gedien, hy het naby Hom gelewe. Nadat Henog pa geword het van Metusalag, het Henog nog 300 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Henog het 365 jaar oud geword. Henog het God gedien, hy het naby God gelewe. Maar later was hy nie meer op die aarde nie, want God het hom weggeneem. Metusalag was 187 jaar oud toe hy pa geword het van Lameg. Daarna het Metusalag nog 782 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Metusalag was 969 jaar oud toe hy gesterf het. Lameg was 182 jaar oud toe hy pa geword het. Sy vrou het 'n seun gekry en Lameg het hom Noag genoem. Lameg het gesê: “Ons werk hard met ons hande om kos te kry, want die Here het die grond vervloek. Hierdie seun Noag sal ons help sodat ons kan rus nadat ons so hard moes werk.” Daarna het Lameg nog 595 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Lameg was 777 jaar oud toe hy gesterf het. Toe Noag 500 jaar oud was, het hy drie seuns gehad. Hulle name was Sem, Gam en Jafet.
GENESIS 5:1-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hier volg die geslagsregister van Adam. Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself. Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle “mens” genoem toe hulle geskep is. Toe Adam 130 was, het hy die vader geword van 'n seun, sy beeld, een soos hyself. Adam het hom Set genoem. Nadat Set vir hom gebore is, het Adam nog 800 jaar geleef en seuns en dogters gehad. Adam was dus 930 jaar toe hy gesterf het. Toe Set 105 was, het hy die vader geword van Enos. Set het na die geboorte van Enos nog 807 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. Set was dus 912 jaar toe hy gesterf het. Toe Enos 90 was, het hy die vader geword van Kenan. Enos het na die geboorte van Kenan nog 815 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. Enos was dus 905 jaar toe hy gesterf het. Toe Kenan 70 was, het hy die vader geword van Mahalalel. Kenan het na die geboorte van Mahalalel nog 840 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. Kenan was dus 910 jaar toe hy gesterf het. Toe Mahalalel 65 was, het hy die vader geword van Jered. Mahalalel het na die geboorte van Jered nog 830 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. Mahalalel was dus 895 jaar toe hy gesterf het. Toe Jered 162 was, het hy die vader geword van Henog. Jered het na die geboorte van Henog nog 800 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. Jered was dus 962 jaar toe hy gesterf het. Toe Henog 65 was, het hy die vader geword van Metusalag. Henog het na die geboorte van Metusalag nog 300 jaar naby God geleef en het seuns en dogters gehad. Henog se ouderdom was dus 365 jaar. Hy het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem. Toe Metusalag 187 was, het hy die vader geword van Lameg. Metusalag het na die geboorte van Lameg nog 782 jaar geleef en het seuns en dogters gehad. Metusalag was dus 969 jaar toe hy gesterf het. Toe Lameg 182 was, het hy die vader geword van 'n seun. Hy het die seun Noag genoem, “want,” het hy gesê, “hierdie seun sal ons opbeur in die harde werk met ons hande en in ons swaarkry op die grond wat deur die Here vervloek is.” Lameg het na die geboorte van Noag nog 595 jaar geleef en hy het seuns en dogters gehad. Lameg was dus 777 jaar toe hy gesterf het. Toe Noag 500 was, het hy die vader geword van Sem, Gam en Jafet.
GENESIS 5:1-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hier volg 'n lys met die familiegeskiedenis van Adam: Die dag toe God Adam geskep het, het Hy hom as afbeelding van God gemaak. Manlik en vroulik het Hy hulle geskep. Hy het hulle geseën en hulle “mens” genoem, die dag toe Hy hulle geskep het. Toe Adam 130 jaar oud was, het hy 'n seun verwek wat 'n afbeelding, 'n beeld van hom was. Hy het hom Set genoem. Die lewensdae van Adam was ná Set se geboorte nog 800 jaar, en hy het seuns en dogters verwek. Adam het altesaam 930 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Set 105 jaar oud was, het hy Enos verwek. Nadat hy Enos verwek het, het Set nog 807 jaar lank geleef; en hy het seuns en dogters verwek. Set het altesaam 912 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Enos 90 jaar oud was, het hy Kenan verwek. Nadat hy Kenan verwek het, het Enos nog 815 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Enos het altesaam 905 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Kenan 70 jaar oud was, het hy Mahalalel verwek. Nadat hy Mahalalel verwek het, het Kenan nog 840 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Kenan het altesaam 910 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Mahalalel 65 jaar oud was, het hy Jered verwek. Nadat hy Jered verwek het, het Mahalalel nog 830 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Mahalalel het altesaam 895 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Jered 162 jaar oud was, het hy Henog verwek. Nadat hy Henog verwek het, het Jered nog 800 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Jered het altesaam 962 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Henog 65 jaar oud was, het hy Metusalag verwek. Nadat hy Metusalag verwek het, het Henog driehonderd jaar lank naby God geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Henog het altesaam 365 jaar lank geleef. Henog het naby God geleef, en hy was nie meer daar nie, want God het hom weggeneem. Toe Metusalag 187 jaar oud was, het hy Lameg verwek. Nadat hy Lameg verwek het, het Metusalag nog 782 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Metusalag het altesaam 969 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Lameg 182 jaar oud was, het hy 'n seun verwek. Hy het hom Noag genoem en gesê: “Hierdie een sal ons troos oor ons werk en die geswoeg met ons hande, oor die grond wat die HERE vervloek het. ” Nadat Lameg Noag verwek het, het hy nog 595 jaar lank geleef, en hy het seuns en dogters verwek. Lameg het altesaam 777 jaar lank geleef, en hy het gesterf. Toe Noag 500 jaar oud was, het hy Sem, Gam en Jafet verwek.
GENESIS 5:1-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dit is die boek van die geslagte van Adam. Op die dag toe God die mens geskape het, het Hy hom na die gelykenis van God gemaak; Man en vrou het Hy hulle geskape; en hulle geseën en hulle Adam genoem op die dag toe hulle geskape is. En Adam het honderd-en-dertig jaar gelewe, en hy het 'n seun verwek na sy gelykenis, na sy beeld; en hom Set genoem: En die dae van Adam nadat hy Set verwek het, was agt honderd jaar; en hy het seuns en dogters verwek. En al die dae wat Adam gelewe het, was nege honderd en dertig jaar, en hy het gesterwe. Set het honderd en vyf jaar gelewe en die vader van Enos. Set het ná die geboorte van Enos nog agt honderd en sewe jaar gelewe en seuns en dogters verwek. En al die dae van Set was nege honderd en twaalf jaar, en hy het gesterwe. Enos het negentig jaar gelewe, en hy was die vader van Kenan. Enos het ná die geboorte van Kenan nog agt honderd en vyftien jaar gelewe en seuns en dogters verwek. En al die dae van Enos was nege honderd en vyf jaar, en hy het gesterwe. Kenan het sewentig jaar gelewe, en hy was die vader van Mahalalel. En Kenan het ná die geboorte van Mahalalel nog agt honderd en veertig jaar gelewe en seuns en dogters gehad. En al die dae van Kenan was nege honderd en tien jaar, en hy het gesterwe. En Mahalalel het vyf en sestig jaar gelewe en die vader van Jered. Mahalalel het ná die geboorte van Jared nog agt honderd en dertig jaar gelewe en seuns en dogters verwek. En al die dae van Mahalalel was agthonderd vyf en negentig jaar, en hy het gesterwe. Jered het honderd twee en sestig jaar gelewe, en hy het die vader van Henog gehad. Jered het ná die geboorte van Henog nog agt honderd jaar gelewe en seuns en dogters verwek. En al die dae van Jered was negehonderd twee en sestig jaar, en hy het gesterwe. Henog het vyf en sestig jaar gelewe en toe die vader van Metúsalag geword. Henog het met God gewandel nadat hy Metusalag verwek het, drie honderd jaar en seuns en dogters verwek. Al die dae van Henog was drie honderd vyf en sestig jaar; Henog het met God gewandel, en hy was nie; want God het hom geneem. Metusalag het honderd sewe en tagtig jaar gelewe en die vader van Lameg geword. Metusalag het ná die geboorte van Lameg nog sewe honderd twee en tagtig jaar gelewe en het seuns en dogters verwek. En al die dae van Metúsalag was nege honderd nege en sestig jaar, en hy het gesterwe. Lameg het honderd twee en tagtig jaar gelewe, en hy het 'n seun verwek. En hy het hom Noag genoem en gesê: Hy sal ons troos oor ons werk en moeite van ons hande vanweë die aarde wat die HERE vervloek het. Lameg het ná die geboorte van Noag nog vyf honderd vyf en negentig jaar gelewe en seuns en dogters verwek. En al die dae van Lameg was sewe honderd sewe en sewentig jaar, en hy het gesterwe. Noag was vyf honderd jaar oud, en Noag was die vader van Sem, Gam en Jafet.
GENESIS 5:1-32 Die Boodskap (DB)
Hier is ’n lys van Adam se afstammelinge: Toe God die mense gemaak het, het Hy hulle op so ’n manier gemaak dat hulle na Hom gelyk het. Hy het hulle as ’n man en ’n vrou gemaak, hulle geseën en hulle “mens” genoem die dag toe Hy hulle gemaak het. Toe Adam 130 jaar oud was, het hy pa geword van ’n seun wat net soos hy gelyk het. Adam het hom Set genoem. Na Set se geboorte het Adam nog 800 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Adam was dus 930 jaar oud toe hy dood is. Toe Set 105 was, is sy seun Enos gebore. Set het na Enos se geboorte nog 807 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Set was dus 912 jaar oud toe hy dood is. Toe Enos 90 was, is sy seun Kenan gebore. Enos het na Kenan se geboorte nog 815 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Enos was dus 905 jaar oud toe hy dood is. Toe Kenan 70 was, is sy seun Mahalalel gebore. Kenan het na Mahalalel se geboorte nog 840 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Kenan was dus 910 jaar oud toe hy gesterf het. Toe Mahalalel 65 was, is sy seun Jered gebore. Mahalalel het na Jered se geboorte nog 830 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Mahalalel was dus 895 jaar oud toe hy dood is. Toe Jered 162 was, is sy seun Henog gebore. Jered het na Henog se geboorte nog 800 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Jered was dus 962 jaar toe hy oorlede is. Toe Henog 65 was, is sy seun Metusalag gebore. Henog het sy hele lewe lank baie naby aan God geleef. Na die geboorte van Metusalag het hy nog 300 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Henog se ouderdom was dus 365 jaar. Henog het baie naby aan God geleef, so naby dat hy op ’n dag net nie meer daar was nie. Hy was weg, want God het hom kom haal. Toe Metusalag 187 was, is sy seun Lameg gebore. Metusalag het na die geboorte van Lameg nog 782 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Metusalag was dus 969 jaar toe hy gesterf het. Toe Lameg 182 was, is sy seun gebore. Hy het die seun Noag genoem en gesê: “Hy gaan ons nog moed inpraat as ons sukkel en moeg gewerk is. Hy gaan ons nog troos as ons so swaarkry op die aarde wat die Here vervloek het.” Lameg het na die geboorte van Noag nog 595 jaar geleef en ook nog ander seuns en dogters gehad. Lameg was dus 777 jaar oud toe hy dood is. Noag was 500 jaar oud toe sy seuns, Sem, Gam en Jafet, gebore is.
GENESIS 5:1-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die volgende is ’n lys van Adam se afstammelinge. Toe God mense geskep het, het Hy hulle na sy beeld gemaak. Hy het hulle manlik en vroulik gemaak. Hy het hulle toe “mens” genoem en hulle geseën. Toe Adam 130 jaar oud was, is sy seun Set gebore. Hy was die ewebeeld van sy pa. Ná die geboorte van Set het Adam nog 800 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy was 930 jaar oud toe hy dood is. Toe Set 105 jaar oud was, is sy seun Enos gebore. Ná die geboorte van Enos het Set nog 807 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy was 912 jaar oud toe hy dood is. Toe Enos 90 jaar oud was, is sy seun Kenan gebore. Ná die geboorte van Kenan het Enos nog 815 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy was 905 jaar oud toe hy dood is. Toe Kenan 70 jaar oud was, is sy seun Mahalalel gebore. Ná die geboorte van Mahalalel het Kenan nog 840 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy was 910 jaar oud toe hy dood is. Toe Mahalalel 65 jaar oud was, is sy seun Jered gebore. Ná die geboorte van Jered het Mahalalel nog 830 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy was 895 jaar oud toe hy dood is. Toe Jered 162 jaar oud was, is sy seun Henog gebore. Ná die geboorte van Henog het Jered nog 800 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy was 962 jaar oud toe hy dood is. Toe Henog 65 jaar oud was, is sy seun Metusalag gebore. Ná die geboorte van Metusalag het Henog nog 300 jaar in ’n noue verhouding met God gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy het 365 jaar gelewe. Hy het sy lewe lank baie naby aan God gelewe. Toe het hy verdwyn, want God het hom weggeneem. Toe Metusalag 187 jaar oud was, is sy seun Lameg gebore. Ná die geboorte van Lameg het Metusalag nog 782 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy was 969 jaar oud toe hy dood is. Toe Lameg 182 jaar oud was, is sy seun Noag gebore. Lameg het hierdie seun Noag genoem, want hy het gesê: “Hy sal ons opbeur in die vermoeiende handewerk wat ons moet doen op die grond wat die HERE vervloek het.” Ná die geboorte van Noag het Lameg nog 595 jaar gelewe. Hy het ook ander seuns en dogters gehad. Hy was 777 jaar oud toe hy dood is. Toe Noag 500 jaar oud was, het hy drie seuns gehad, naamlik Sem, Gam en Jafet.