Hier is 'n lys van Adam se nageslag. God het die mense gemaak om in sy plek te regeer. Hy het hulle so gemaak dat daar mans en vroue is. Hy het die mense gemaak en hulle geseën, en Hy het hulle “mense” genoem. Toe Adam 130 jaar oud was, het sy vrou weer 'n seun gekry. Hy was soos sy pa, en Adam het hom Set genoem. Nadat Set gebore is, het Adam nog 800 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Adam was 930 jaar oud toe hy gesterf het. Set was 105 jaar oud toe hy pa geword het van Enos. Daarna het Set nog 807 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Set was 912 jaar oud toe hy gesterf het. Enos was 90 jaar oud toe hy pa geword het van Kenan. Daarna het Enos nog 815 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Enos was 905 jaar oud toe hy gesterf het. Kenan was 70 jaar oud toe hy pa geword het van Mahalalel. Daarna het Kenan nog 840 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Kenan was 910 jaar oud toe hy gesterf het. Mahalalel was 65 jaar oud toe hy pa geword het van Jered. Daarna het Mahalalel nog 830 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Mahalalel was 895 jaar oud toe hy gesterf het. Jered was 162 jaar oud toe hy pa geword het van Henog. Daarna het Jered nog 800 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Jered was 962 jaar oud toe hy gesterf het. Henog was 65 jaar oud toe hy pa geword het van Metusalag. Henog het God gedien, hy het naby Hom gelewe. Nadat Henog pa geword het van Metusalag, het Henog nog 300 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Henog het 365 jaar oud geword. Henog het God gedien, hy het naby God gelewe. Maar later was hy nie meer op die aarde nie, want God het hom weggeneem. Metusalag was 187 jaar oud toe hy pa geword het van Lameg. Daarna het Metusalag nog 782 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Metusalag was 969 jaar oud toe hy gesterf het. Lameg was 182 jaar oud toe hy pa geword het. Sy vrou het 'n seun gekry en Lameg het hom Noag genoem. Lameg het gesê: “Ons werk hard met ons hande om kos te kry, want die Here het die grond vervloek. Hierdie seun Noag sal ons help sodat ons kan rus nadat ons so hard moes werk.” Daarna het Lameg nog 595 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad. Lameg was 777 jaar oud toe hy gesterf het. Toe Noag 500 jaar oud was, het hy drie seuns gehad. Hulle name was Sem, Gam en Jafet.
Lees Genesis 5
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 5:1-32
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's