GENESIS 35:16-29

GENESIS 35:16-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarna het hulle van Bet-el af weggetrek. En toe daar nog 'n kort ent pad was om by Efrat te kom, moes Ragel baar; en sy het dit swaar gehad by die bevalling. En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: Wees nie bevrees nie, want dit is ook 'n seun vir u. En toe haar siel uitgaan — want sy het gesterwe — noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem. So het Ragel dan gesterwe; en sy is begrawe op die pad na Efrat, dit is Betlehem. En Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig; dit is die gedenkteken van die graf van Ragel tot vandag toe. En Israel het weggetrek en sy tent opgeslaan aan die ander kant van Migdal-Eder. En terwyl Israel in dié land woon, het Ruben gegaan en met Bilha, sy vader se byvrou, gemeenskap gehad. En Israel het dit gehoor. En die seuns van Jakob was twaalf. Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en Levi en Juda en Íssaskar en Sébulon. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin. En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Náftali. En die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. En Jakob het by sy vader Isak gekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Abraham as vreemdeling vertoef het, en ook Isak. En die dae van Isak was honderd-en-tagtig jaar. En Isak het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is by sy volksgenote versamel, oud en afgeleef. En sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

GENESIS 35:16-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hulle het van Bet-El af weggetrek, maar daar was nog 'n hele ent pad oor om by Efrata uit te kom, toe Ragel geboorte gegee het. Sy het 'n moeilike bevalling gehad. Terwyl sy so swaar gekry het met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie, want ook hierdie een is 'n seun vir jou.” Terwyl haar lewe wegvloei, want sy was sterwend, het sy hom die naam Ben-Oni gegee. Sy vader het hom egter Benjamin genoem. So het Ragel gesterf; en sy is begrawe langs die pad na Efrata, dit is Betlehem. Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig. Dit is die gedenksteen van Ragel se graf tot vandag toe. Israel het toe verder getrek en sy tent opgeslaan anderkant Migdal-Eder. Terwyl Israel in dié streek gebly het, het Ruben by sy vader se byvrou Bilha gaan slaap. Israel het daarvan te hore gekom. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea: Ruben, Jakob se eersgeborene, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin. Die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Naftali. Die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. Jakob het by sy vader Isak aangekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Abraham en Isak as •vreemdelinge gewoon het. Isak het honderd-en-tagtig jaar lank geleef. Isak het sy asem uitgeblaas en gesterf, en hy is met sy mense verenig – oud en versadig van lewensdae. Sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

GENESIS 35:16-29 Die Boodskap (DB)

Jakob en sy mense is weer weg van Bet-El af. Terwyl hulle eendag getrek het, het Ragel, wat verwagtend was, skielik geweldige pyn gehad. Hulle was nog ’n hele entjie van Efrata af toe dit so erg geword het dat Ragel begin kraam het. Toe die geboortepyne op hulle ergste was, het die vroedvrou vir Ragel gesê: “Mevrou, moenie meer bang wees nie, want dit is ’n seuntjie.” Maar Ragel was besig om te sterf van die komplikasies met die geboorte. Met haar laaste kragte het sy die seuntjie Ben-Oni genoem. Dit beteken “seun van pyn en smart”. Jakob het later sy naam na Benjamin, “seun van geluk en voorspoed”, verander. Ragel is daar dood. Sy is langs die grootpad na Efrata begrawe. Hulle noem die plek vandag nog Betlehem. Jakob het ’n grafsteen op haar graf gesit, wat nou nog daar staan. Israel is toe verder en het uiteindelik by Migdal-Eder kamp opgeslaan. In hierdie tyd het daar iets verskrikliks gebeur. Ruben, Israel se oudste seun, het by sy pa se byvrou, Bilha, gaan slaap. En Israel het dit uitgevind. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea was Ruben, die oudste, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin. Die seuns van Bilha, die vrou wat vir Ragel gewerk het, was Dan en Naftali. Die seuns van Silpa, die vrou wat vir Lea gewerk het, was Gad en Aser. Hierdie is dan die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. Na baie jare het Jakob weer sy pa, Isak, gesien. Isak het toe in Mamre gewoon. Die plek word ook Kirjat-Arba of deesdae Hebron genoem. Net soos sy pa, Abraham, het Isak ook lang tye hier gewoon. Isak het 180 jaar oud geword. Hy het ’n ou man geword en het in ’n goeie ouderdom gesterf. Esau en Jakob het hom toe by sy mense begrawe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid