Genesis 35:16-29

Genesis 35:16-29 AFR20

Hulle het van Bet-El af weggetrek, maar daar was nog 'n hele ent pad oor om by Efrata uit te kom, toe Ragel geboorte gegee het. Sy het 'n moeilike bevalling gehad. Terwyl sy so swaar gekry het met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie, want ook hierdie een is 'n seun vir jou.” Terwyl haar lewe wegvloei, want sy was sterwend, het sy hom die naam Ben-Oni gegee. Sy vader het hom egter Benjamin genoem. So het Ragel gesterf; en sy is begrawe langs die pad na Efrata, dit is Betlehem. Jakob het 'n gedenksteen op haar graf opgerig. Dit is die gedenksteen van Ragel se graf tot vandag toe. Israel het toe verder getrek en sy tent opgeslaan anderkant Migdal-Eder. Terwyl Israel in dié streek gebly het, het Ruben by sy vader se byvrou Bilha gaan slaap. Israel het daarvan te hore gekom. Jakob het twaalf seuns gehad. Die seuns van Lea: Ruben, Jakob se eersgeborene, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin. Die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Naftali. Die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is. Jakob het by sy vader Isak aangekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron, waar Abraham en Isak as •vreemdelinge gewoon het. Isak het honderd-en-tagtig jaar lank geleef. Isak het sy asem uitgeblaas en gesterf, en hy is met sy mense verenig – oud en versadig van lewensdae. Sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.

Video for Genesis 35:16-29