GENESIS 32:13-32

GENESIS 32:13-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jakob het daar oornag en die volgende môre vat hy toe uit sy besitting 'n geskenk vir sy broer Esau: twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme, dertig kameelkoeie met kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste. Hy het elke trop aan 'n slaaf gegee en gesê: “Trek vorentoe, maar hou 'n afstand tussen die troppe.” Hy het die voorste slaaf beveel: “Wanneer my broer Esau jou kry en jou vra: ‘Wie is jy? Waarvandaan kom jy en aan wie behoort al hierdie goed voor jou?’ moet jy sê: Dit behoort aan Jakob wat aan u onderdanig wil wees. Dit word as geskenk aan Meneer gestuur, en hy kom self ook agter ons aan.” Jakob het dieselfde opdrag aan die tweede slaaf gegee, en ook aan die derde en aan elkeen wat agter 'n trop was. Jakob het vir hulle gesê: “Wat ek vir die voorste gesê het, moet julle almal vir Esau sê as julle by hom kom. Verder moet julle ook nog sê: Jakob kom agter ons aan. Hy wil aan u onderdanig wees.” Jakob het naamlik gedink: met die geskenk wat voor my uit gaan, sal ek probeer om hom in 'n goeie bui te kry. Dan sal ek na hom toe gaan en miskien ontvang hy my dan vriendelik. So is die geskenk voor Jakob uit gestuur, maar hy het die aand in die kamp oorgebly. Die nag het hy opgestaan en sy twee vrouens en sy twee persoonlike slavinne en sy elf kinders gevat en deur Jabbokdrif gegaan. Nadat hy hulle deur die rivier gevat het, het hy ook alles wat hy besit, laat deurgaan. Jakob het alleen daar agtergebly, en 'n man het tot dagbreek met hom gestoei. Toe die man agterkom dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het die man, terwyl hy met hom stoei, vir Jakob teen die heup geslaan sodat dit uit die potjie gespring het. Die man het vir Jakob gesê: “Los my, want die dag breek.” Jakob het geantwoord: “Ek sal jou net los as jy my seën.” Toe vra die man: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “Jakob.” Die man het gesê: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel , want jy het teen God en teen mense 'n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.” Toe sê Jakob: “Sê my tog jou naam,” en die man vra: “Waarom vra jy my naam?” Hy het vir Jakob net daar geseën, en Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie.” Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom. Jakob het mank gebly aan sy heup, en daarom eet die Israeliete tot nou toe nie die senuweebondel wat aan die heup vaskom nie, want die man het vir Jakob teen sy heup geslaan, op die heupsenuwee.

GENESIS 32:13-32 Die Boodskap (DB)

“Here, U het tog self gesê dat U goed vir my sal wees en dat my nageslag baie sal wees. So baie soos die sand van die see. ’n Ontelbare menigte.” Nadat Jakob die nag daar geslaap het, het hy besluit om vir Esau ’n present te gee. Hy wou sommer van sy vee neem en vir Esau gee. Hy het hulle toe mooi afgetel: 200 bokooie en 20 bokramme, 200 ooie en 20 ramme, 30 kameelkoeie met hulle kalwers, 40 koeie en 10 bulle, 20 donkiemerries en 10 donkiehingste. Dit was sy geskenk vir sy broer, Esau. Hy het al die vee in troppe verdeel en ’n leier vir elke trop aangestel. Jakob het hulle nader geroep en gesê: “Julle moet voor loop en ek sal julle volg. Sorg dat daar ’n goeie afstand tussen elke trop is.” Vir die leier van die voorste trop het hy gesê: “Jy moet katvoet loop. As my broer, Esau, jou sien, sal hy jou vra wie jy is, vir wie jy werk, waarheen jy op pad is en wie se vee dit is. “Dan moet jy mooi dink voor jy praat. Sê: ‘Ek werk vir u broer, Jakob. En al die troppe vee is ’n geskenk aan u, meneer Esau. U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.’” Jakob het dieselfde raad vir al die leiers van die ander veetroppe gegee. Hulle moes almal dieselfde vir Esau sê. Almal moes veral onthou om te sê: “U broer, Jakob, is ook sommer hier reg agter ons.” Jakob het by homself gedink: “Dit is goed dat ek al die geskenke vooruitstuur. So kan ek Esau se hart sag maak. As ons mekaar dan sien, vergewe hy my dalk alles.” Jakob het toe die vee vooruitgestuur, maar hyself het die nag in die kamp geslaap. Laatnag het hy wakker geword. Daar en dan besluit hy om Lea en Ragel, Silpa en Bilha, sowel as die elf seuns, deur die rivier te neem. Hulle is toe by die Jabbok se driwwe deur. Toe hy sy familie veilig deur die rivier gekry het, het hy ook al sy besittings gestuur. Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ’n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou. Toe die man sien Jakob is te sterk vir hom, het hy Jakob ’n laaste harde hou op die heup gegee. Dit was so erg dat die heup heeltemal uit sy potjie gespring het. Die man sê toe: “Los my tog nou, want dit is al dagbreek.” Jakob het toe gesê: “Ek sal nie. Voor ek jou los, moet jy my eers seën.” “Wat’s jou naam?” stotter die man. “My naam is Jakob,” het Jakob geantwoord. “Van nou af,” sê die man, “sal hulle jou Israel noem. Nie meer Jakob nie, maar Israel.” Die man het verder gesê: “Vannag het jy teen God en mens geveg, en gewen.” Jakob was verbaas. “Wie is jy nou eintlik? En wat is jou naam?” het hy gevra. “Hoekom vra jy my naam?” het die man gesê. Hy het Jakob geseën en toe is hy weg. “Ek het God vannag gesien en kyk, ek lewe nog,” het Jakob gesê. Hy het die plek toe Pniël genoem. Net toe Jakob van Pniël af wegstap, het die son opgekom. ’n Nuwe tyd het vir Jakob aangebreek. Hy was egter kruppel en het van toe af moeilik geloop.

GENESIS 32:13-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jakob het die nag daar oorgebly en ’n geskenk vir Esau uit sy besittings gereed gekry. Dit was 200 bokooie en twintig ramme, 200 skaapooie en twintig ramme, 30 kameelkoeie met hulle kalwers, 40 koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste. Hy het sy slawe beveel om met hulle vooruit te trek, elke groep diere apart, geskei met ’n afstand tussen hulle. Hy het die voorste groep beveel: “Wanneer julle Esau teëkom, sal hy vra: ‘Waarheen gaan julle? Wie se slawe is julle? Wie se diere is dit hierdie?’ Dan moet julle antwoord: ‘Dit behoort aan u dienaar Jakob. Dit is ’n geskenk vir sy meester Esau! Hy kom direk agter ons aan.’” Jakob het dieselfde bevele aan die tweede en die derde groep gegee – en aan elkeen wat saam met ’n trop diere getrek het. “Julle moet elkeen so vir Esau sê: ‘U dienaar Jakob kom direk agter ons aan.’” Jakob se plan was om Esau met die geskenke te paai voordat hulle mekaar ontmoet. “Dalk sal hy dan in ’n goeie bui wees,” het Jakob gehoop. So is die geskenke vooruit gestuur, maar Jakob het die aand in die kamp agtergebly. Gedurende die nag het Jakob opgestaan en sy twee vroue, twee slavinvroue en elf seuns geneem en hulle deur die Jabbokdrif gestuur. Nadat hy hulle na die oorkant toe laat gaan het, stuur hy ook al sy besittings deur. Hy het daar alleen agtergebly. ’n Man het gekom en met hom gestoei tot dagbreek toe. Toe die man sien dat hy hom nie kon onderkry nie het hy Jakob op sy heup geslaan sodat dit uit die potjie spring. Toe sê die man: “Los my nou, die dag begin al breek.” Uitasem sê Jakob: “Ek sal jou net laat gaan as jy my seën.” “Wat is jou naam?” vra die man. Hy antwoord: “Jakob.” “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie,” sê die man vir hom. “Van nou af is dit Israel, want jy het met God en mens geworstel en nie kopgegee nie.” “Wat is jóú naam dan?” vra Jakob hom. “Hoekom vra jy wat my naam is?” antwoord die man. Toe seën hy Jakob net daar. Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: “Ek het God in die gesig gekyk. Tog is my lewe gespaar.” Die son was besig om op te kom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af het hy gehink as gevolg van sy heup. Dis waarom die Israeliete tot vandag toe nie die heupsening eet nie. Dit is ter herinnering aan wat daardie nag gebeur het.

GENESIS 32:13-32 Bybel vir almal (ABA)

Jakob het daardie nag daar geslaap. Hy het van sy goed geneem en hy het 'n present vir sy broer Esau gestuur. Dit was 200 bok-ooie en 20 bok-ramme, 200 skaap-ooie en 20 skaap-ramme, 30 kameel-koeie en hulle kalwers, 40 koeie en 10 bulle, 20 donkie-merries en 10 donkie-hingste. Jakob het die diere vir sy slawe gegee, elke trop diere apart, en hy het vir sy slawe gesê: “Loop voor my, maar hou elke trop diere apart.” Jakob het vir die eerste slaaf gesê: “As my broer Esau by jou kom en hy vra vir jou wie se slaaf is jy, waarnatoe gaan jy en aan wie behoort hierdie trop diere, dan moet jy vir hom sê: ‘Dit behoort aan Meneer se slaaf Jakob. Dit is 'n present wat hy vir Meneer stuur. Hy kom self ook, hy is agter ons.’ ” Jakob het dieselfde vir die tweede slaaf gesê, ook vir die derde slaaf, en vir al die ander slawe wat agter die troppe geloop het. Hy het gesê wat hulle vir Esau moet sê wanneer hulle hom kry. Hulle moes ook vir Esau sê: “Meneer se slaaf Jakob kom ook, hy is agter ons.” Jakob het gedink: Ek stuur die presente vir Esau, want ek wil hom vriendelik maak. As ek by hom kom, dan sal hy miskien vriendelik wees met my. Jakob het eers die presente gestuur en toe het hy self gegaan. Hy het daardie nag in die kamp gebly. Jakob het in die nag opgestaan. Hy het sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf kinders geneem, en hulle het deur die Jabbok-rivier gegaan. Hy het hulle deur die rivier laat gaan en daarna het hy ook sy diere deur die rivier laat gaan. Jakob het alleen agtergebly. 'n Man het gekom en met hom gestoei totdat dit die volgende dag lig begin word het. Toe die man sien dat hy nie vir Jakob kan wen nie, het hy vir Jakob op sy heup geslaan. Jakob se heup het seergekry, en hy het moeilik geloop. Die man sê toe vir Jakob: “Los my, want dit is amper dag.” Maar Jakob antwoord hom: “Jy moet my eers seën, dan sal ek jou los.” Die man het vir Jakob gevra: “Wat is jou naam?” En hy antwoord: “Jakob.” Die man sê toe: “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie, dit sal nou Israel wees. Die naam Israel beteken ‘Jy het met God en met mense gestoei en jy het gewen.’ ” Jakob vra toe: “Sê asseblief vir my, wat is jou naam.” En die man vra: “Hoekom vra jy wat my naam is?” Die man het vir Jakob daar geseën. Jakob het die plek Pniël genoem. Hy het gesê: “Ek het God gesien. Hy was so naby my dat ek sy gesig kon sien, en ek het nie gesterf nie.” Die son het opgekom toe Jakob weggegaan het van Pniël. Jakob het swaar geloop, want sy heup was baie seer. Dit is hoekom die Israeliete nie die senuwees in die heupbeen van 'n dier eet nie, want die man het vir Jakob op sy heup geslaan, op die heupsenuwee.

GENESIS 32:13-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, 'n geskenk geneem vir sy broer Esau: tweehonderd bokooie en twintig bokke, tweehonderd skaapooie en twintig ramme, dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels; en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat 'n plek oop tussen trop en trop. Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s'n is die goed daar voor jou? dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s'n. Dit is 'n geskenk wat hy aan my heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan. En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het, en gesê: Net so moet julle Esau antwoord as julle hom kry — julle moet sê: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het gedink: Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy aangesig sien — miskien sal hy my in guns aanneem. So het die geskenk dan voor hom uit gegaan, maar hy self het dié nag in die laer gebly. En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek: hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het. Maar Jakob het alleen agtergebly, en 'n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pniël verby was; en hy was mank aan sy heup. Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is, tot vandag toe nie, omdat Hy Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.

GENESIS 32:13-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jakob het daardie nag daar oorgebly. Toe het hy uit wat hy bekom het, vir sy broer Esau 'n geskenk gehaal: tweehonderd bokooie en twintig bokramme, tweehonderd skaapooie en twintig skaapramme, dertig kameelkoeie in melk met hulle kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien donkiehingste. Hy het dit onder die toesig van sy slawe geplaas – trop vir trop elkeen op sy eie. Hy het vir sy slawe gesê: “Trek voor my uit, maar hou 'n afstand tussen trop en trop.” Hy het die eerste een opdrag gegee: “As my broer Esau jou teëkom en vir jou vra, ‘Aan wie behoort jy; waarheen gaan jy, en aan wie behoort daardie diere voor jou?’ moet jy sê, ‘Dit behoort aan u dienaar, aan Jakob. Dit is 'n geskenk, gestuur vir my heer, vir Esau. Kyk, hy is ook self agter ons.’ ” Hy het aan sowel die tweede en die derde slaaf, asook aan almal wat agter die troppe loop, opdrag gegee: “Julle moet hierdie selfde woorde vir Esau sê wanneer julle hom teëkom, en julle moet ook sê, ‘Kyk, u dienaar Jakob is agter ons.’ ” Want hy het gedink: Ek wil hom tot bedaring bring met die geskenk wat voor my uit gaan; daarna sal ek hom persoonlik ontmoet. Miskien aanvaar hy my. Die geskenk het voor hom uit gegaan, maar hy self het daardie nag in die kamp oornag. In daardie nag het hy opgestaan, sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf seuns geneem en deur die drif van die Jabbok gegaan. Hy het hulle geneem, hulle deur die spruit laat gaan, en alles wat aan hom behoort, laat deurgaan. Jakob het alleen agtergebly, en 'n man het met hom geworstel tot dagbreek toe. Toe hy sien dat hy Jakob nie kan oorweldig nie, het hy hom op sy heupgewrig getref. Jakob se heup is in die worsteling met hom ontwrig. Hy het gesê: “Laat my gaan, want die dag breek.” Maar Jakob het gesê: “Ek sal u nie laat gaan nie, tensy u my seën.” Toe vra hy: “Wat is jou naam?” En hy antwoord: “Jakob.” Toe sê hy: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel. Want jy het met God en mense stryd gevoer, en het oorwin.” Jakob vra toe en sê: “Maak asseblief u Naam bekend!” Maar hy het geantwoord: “Waarom vra jy dan my Naam?” Hy het hom toe daar geseën. Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered.” Hy het die son sien opkom net toe hy by Pnuel verbygaan. Hy was mank aan sy heup. Daarom eet die Israeliete tot vandag toe nie die seningrige spier wat aan die heupgewrig vas is nie, omdat hy die heupgewrig van Jakob, die seningrige spier, getref het.

GENESIS 32:13-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy het daardie selfde nag daar oornag; en van wat by hom gekom het, het hy 'n geskenk vir sy broer Esau geneem; Twee honderd bokke en twintig bokke, twee honderd ooie en twintig ramme, Dertig melk kamele met hulle vullens, veertig koeie en tien bulle, twintig esels en tien vullens. En hy het hulle in die hand van sy dienaars gegee, elke troppe afsonderlik; en aan sy dienaars gesê: Trek voor my uit en sit 'n spasie tussen trop en trop. Hy het die vooraanstaandes bevel gegee en gesê: Wanneer my broer Esau jou ontmoet en jou vra en sê: Wie s'n is jy? en waarheen gaan jy? en wie s'n is hierdie voor jou? Dan moet jy sê: Hulle behoort aan U dienaar Jakob; dit is 'n geskenk wat aan my heer Esau gestuur is, en kyk, hy is ook agter ons. En so het hy die tweede en die derde en almal wat die troppe gevolg het bevel gegee en gesê: So moet julle met Esau spreek as julle hom kry. Kyk, U kneg Jakob is agter ons. Want hy het gesê: Ek sal hom kalmeer met die geskenk wat voor my uitgaan, en daarna sal ek sy aangesig sien; miskien sal hy van my aanvaar. Daarom het die geskenk voor hom uit gegaan en self die nag in die geselskap oorgebly. En hy het daardie nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf seuns geneem en deur die Dwaal van Jabbok getrek. Hy het hulle geneem en hulle oor die spruit gestuur en wat hy gehad het, gestuur. Jakob het alleen agtergebly; en daar het 'n man met hom geworstel tot die aanbreek van die dag. En toe hy sien dat hy hom nie oorwin het nie, het hy die holte van sy heup aangeraak; en die holte van Jakob se heup was uit die gewrig toe hy met hom geworstel het. En hy sê: Laat my gaan, want die dag breek aan. En hy sê: Ek sal jou nie laat gaan as jy my nie seën nie. En hy sê vir hom: Wat is jou naam? En hy sê: Jakob! En hy sê: Jou naam sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; En Jakob het hom gevra en gesê: Vertel my tog U Naam. En hy sê: Waarom vra jy na my Naam? En hy het hom daar geseën. En Jakob het die plek Pniël genoem, want ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en my lewe is bewaar. En toe hy verby Pniël getrek het, het die son oor hom opgekom, en hy het op sy heup gestop. Daarom eet die kinders van Israel tot vandag toe nie van die verskeurde sening wat op die heup holte is nie, omdat hy die holte van Jakob se heupbeen aangeraak het in die sening wat gekrimp is.