Jakob het daardie nag daar oorgebly. Toe het hy uit wat hy bekom het, vir sy broer Esau 'n geskenk gehaal: tweehonderd bokooie en twintig bokramme, tweehonderd skaapooie en twintig skaapramme, dertig kameelkoeie in melk met hulle kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien donkiehingste. Hy het dit onder die toesig van sy slawe geplaas – trop vir trop elkeen op sy eie. Hy het vir sy slawe gesê: “Trek voor my uit, maar hou 'n afstand tussen trop en trop.” Hy het die eerste een opdrag gegee: “As my broer Esau jou teëkom en vir jou vra, ‘Aan wie behoort jy; waarheen gaan jy, en aan wie behoort daardie diere voor jou?’ moet jy sê, ‘Dit behoort aan u dienaar, aan Jakob. Dit is 'n geskenk, gestuur vir my heer, vir Esau. Kyk, hy is ook self agter ons.’ ”
Hy het aan sowel die tweede en die derde slaaf, asook aan almal wat agter die troppe loop, opdrag gegee: “Julle moet hierdie selfde woorde vir Esau sê wanneer julle hom teëkom, en julle moet ook sê, ‘Kyk, u dienaar Jakob is agter ons.’ ” Want hy het gedink: Ek wil hom tot bedaring bring met die geskenk wat voor my uit gaan; daarna sal ek hom persoonlik ontmoet. Miskien aanvaar hy my. Die geskenk het voor hom uit gegaan, maar hy self het daardie nag in die kamp oornag.
In daardie nag het hy opgestaan, sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf seuns geneem en deur die drif van die Jabbok gegaan. Hy het hulle geneem, hulle deur die spruit laat gaan, en alles wat aan hom behoort, laat deurgaan. Jakob het alleen agtergebly, en 'n man het met hom geworstel tot dagbreek toe. Toe hy sien dat hy Jakob nie kan oorweldig nie, het hy hom op sy heupgewrig getref. Jakob se heup is in die worsteling met hom ontwrig. Hy het gesê: “Laat my gaan, want die dag breek.” Maar Jakob het gesê: “Ek sal u nie laat gaan nie, tensy u my seën.” Toe vra hy: “Wat is jou naam?” En hy antwoord: “Jakob.” Toe sê hy: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel. Want jy het met God en mense stryd gevoer, en het oorwin.” Jakob vra toe en sê: “Maak asseblief u Naam bekend!” Maar hy het geantwoord: “Waarom vra jy dan my Naam?” Hy het hom toe daar geseën.
Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered.”
Hy het die son sien opkom net toe hy by Pnuel verbygaan. Hy was mank aan sy heup. Daarom eet die Israeliete tot vandag toe nie die seningrige spier wat aan die heupgewrig vas is nie, omdat hy die heupgewrig van Jakob, die seningrige spier, getref het.