GENESIS 31:17-55
GENESIS 31:17-55 Bybel vir almal (ABA)
Jakob het toe gegaan. Hy het sy kinders en sy vroue op kamele laat klim en hy het al sy diere saamgeneem, ook al sy goed wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het. Hy het na Kanaän gegaan, na sy pa Isak toe. Laban het sy skape en bokke gaan skeer, en toe het Ragel die beeldjies van haar pa se afgode gesteel. Jakob het vir Laban bedrieg, want hy het nie vir Laban vertel dat hy wil vlug nie. Jakob het al sy goed geneem en gevlug. Hy het deur die Eufraat-rivier getrek en na die Gilead-berg gegaan. Drie dae later het Laban uitgevind dat Jakob gevlug het. Laban het die mans in sy familie saamgeneem en hulle het vir Jakob gevolg en gejaag. Ná sewe dae het hulle hom by die Gilead-berg gekry. Daardie nag het Laban gedroom dat God na hom toe kom en vir hom sê: “Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.” Toe Laban by Jakob kom, het Jakob klaar sy tent by die Gilead-berg opgeslaan. Laban en sy manne het hulle tente ook daar opgeslaan. Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en jy het my dogters soos gevangenes weggevat. Hoekom het jy soos 'n skelm gevlug en my bedrieg en niks gesê nie? Ek sou jou laat gaan het en ons sou vrolik gewees het. “Ons sou gesing het en musiek gemaak het met tamboeryne en liere. “Jy het weggegaan, en ek kon nie my kleinseuns en my dogters groet nie. Jy het verkeerd gedoen. Ek kan jou straf as ek wil, maar die God van julle pa het gisteraand met my gepraat en gesê: ‘Jy moet pasop wat jy vir Jakob sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie.’ Dit is goed as jy weggaan omdat jy so baie verlang na jou pa se familie, maar hoekom het jy my beeldjies gesteel?” Jakob het vir Laban gesê: “Ek het gevlug, want ek was bang en ek het gedink jy sal miskien jou dogters wegvat van my. As jy jou beeldjies hier by iemand kry, dan mag daardie persoon nie lewe nie. Jy mag self soek voor al jou mense wat hier is en jy mag die beeldjies terugvat.” Jakob het nie geweet dat Ragel die beeldjies gesteel het nie. Laban het toe gesoek in Jakob se tent en in Lea se tent en in die twee slavinne se tente, maar hy het niks gekry nie. Hy gaan toe uit Lea se tent na Ragel se tent. Ragel het die beeldjies in 'n sak weggesteek en sy het bo-op die sak gaan sit. Laban het oral in al die tente gesoek, maar hy het niks gekry nie. Ragel het vir haar pa gesê: “Pa moenie kwaad word vir my as ek nie vir Pa opstaan nie. Ek menstrueer.” Laban het verder gesoek, maar hy het niks gekry nie. Toe het Jakob kwaad geword en hy het hard met Laban gepraat. Hy het vir Laban gevra: “Wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gedoen? Hoekom het jy my gevolg en gejaag? Jy het in al my goed gesoek. Het jy iets gekry wat uit jou huis kom? As jy iets gekry het, sit dit dan hier neer voor my familie en jou familie, sodat hulle kan sê wie was reg, ek of jy. Ek was 20 jaar lank by jou. Jou skaap-ooie en jou bok-ooie het gereeld lammers gekry, en ek het nie jou ramme geslag om te eet nie. Wanneer die roofdiere 'n dier van jou doodgebyt het, dan het ek nie die dooie dier vir jou gebring nie. Ek moes een van my diere in sy plek gee. Wanneer diewe in die dag of in die nag van jou diere gesteel het, dan moes ek een van mý diere gee vir elkeen van daardie diere. Ek het baie swaar gekry. In die dag het die son my gebrand en in die nag het ek baie koud gekry. Ek kon nie slaap nie. Ek het nou 20 jaar vir jou gewerk. Ek het 14 jaar lank gewerk om jou twee dogters te kry, en ses jaar om skape en bokke van jou te kry. Jy het my betaling tien maal verander. As die God van my pa my nie gehelp het nie, dan sou jy my weggestuur het en jy sou niks vir my gegee het nie. Die God van Abraham en die God wat vir Isak beskerm het, het gesien dat ek swaarkry. Hy het gesien hoe hard ek gewerk het, en Hy het gisteraand gesê wie is reg, ek of jy.” Toe sê Laban vir Jakob: “Hierdie dogters is my dogters en hierdie kinders is my kinders en hierdie skape en bokke is my skape en bokke. Alles wat jy sien, is myne. Ek mag nie aan my dogters of hulle kinders iets doen wat sleg is nie. Kom ons twee maak 'n ooreenkoms wat sê wat ons aan mekaar moet doen.” Jakob neem toe 'n klip en hy sit dit regop sodat dit 'n gedenksteen kan wees wat hulle sal help om die ooreenkoms te onthou. Jakob sê toe vir sy familie: “Bring nog klippe.” Hulle het 'n hoop klippe opmekaar gepak. Toe het hulle daar by die hoop klippe geëet. Laban het die plek Jegar-Sahaduta genoem en Jakob het dit Galed genoem. Toe sê Laban: “Hierdie hoop klippe wys vandag dat ons saam besluit het om reg te doen aan mekaar.” Daarom het hulle dit Galed genoem. Laban het die plek ook Mispa genoem. Hy het gesê: “Die Here sal kyk dat dit reg gaan tussen ons, ook wanneer ons mekaar nie sien nie. God sal weet wanneer jy slegte dinge doen aan my dogters of wanneer jy met ander vroue trou, ook wanneer daar niemand anders by ons is nie.” Laban het vir Jakob gesê: “Hier is die hoop klippe en hier is die gedenksteen wat ek regop gesit het. Hierdie hoop klippe en die gedenksteen is die tekens dat ons nie slegte planne sal hê wanneer ons hier verbygaan na mekaar toe nie. Die God van jou voorvader Abraham en die God van my voorvader Nahor sal altyd sê wie is reg, ek of jy.” Jakob het toe gesê die God wat sy pa Isak beskerm het, is die getuie van die ooreenkoms. Jakob het op die berg 'n offer gebring vir die Here. Hy het sy familie geroep om saam te kom eet. Hulle het geëet en hulle het daardie nag op die berg geslaap. Die volgende oggend vroeg het Laban sy kleinseuns en sy dogters gegroet en geseën. Toe het hy teruggegaan huis toe.
GENESIS 31:17-55 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele, en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kanaän. Onderwyl Laban gaan om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode van haar vader gesteel. En Jakob het Laban, die Arameër, mislei deur hom nie te vertel dat hy wou vlug nie. So het hy dan gevlug met alles wat hy gehad het: hy het hom klaargemaak en deur die Eufraat gegaan en sy aangesig gerig na die gebergte van Gílead. En op die derde dag kry Laban die tyding dat Jakob gevlug het. Daarop het hy sy broers saam met hom geneem en hom agternagejaag, 'n afstand van sewe dae, en hom ingehaal in die gebergte van Gílead. Maar God het na Laban, die Arameër, in die nag gekom in 'n droom en vir hom gesê: Pas nou op dat jy met Jakob geen goed of kwaad spreek nie. En Laban het Jakob ingehaal; Jakob het sy tent al opgeslaan gehad in die gebergte, en Laban met sy broers het dit opgeslaan in die gebergte van Gílead. Toe vra Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy my mislei en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer het? Waarom het jy stilletjies gevlug en my mislei en my dit nie vertel nie, dat ek jou met vrolikheid en liedere, met tamboeryn en siter kon weggebring het? Ook het jy my nie toegelaat om my seuns en dogters te soen nie. Nou het jy dwaas gehandel. Dit is in my mag om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het verlede nag met my gespreek en gesê: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad te spreek nie. Nou is jy dan eenmaal aan trek, omdat jy so erg verlang het na die huis van jou vader — maar waarom het jy my gode gesteel? Toe antwoord Jakob en sê vir Laban: Omdat ek bevrees was, want ek het gedink u sal miskien u dogters met geweld van my wegneem. Die een by wie u u gode vind — hy mag nie lewe nie! Ondersoek wat by my is, in teenwoordigheid van ons broers, en neem dit vir u. Maar Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie. Toe gaan Laban in die tent van Jakob en in die tent van Lea en in die tent van die twee slavinne, maar hy het niks gekry nie; en toe hy uit die tent van Lea uitgaan, kom hy in die tent van Ragel. Maar Ragel het die huisgode geneem en dit in die kameelsaal weggepak en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deurgevoel, maar niks gekry nie. Daarop sê sy vir haar vader: My heer moet nie baie kwaai kyk nie, omdat ek nie vir u kan opstaan nie; want dit gaan met my volgens die reël van die vroue. En hy het gesoek maar die huisgode nie gekry nie. Toe word Jakob kwaad, en hy het met Laban getwis; en Jakob het geantwoord en vir Laban gesê: Wat is my oortreding, wat is my sonde, dat u my so vurig agternagesit het? Nou dat u al my goed deurgevoel het — wat het u van al u huisraad gevind? Sit dit hier neer voor my broers en u broers, en laat hulle oordeel tussen ons twee. Twintig jaar was ek nou by u. U skaap- en bokooie het geen misdrag gehad nie, en die ramme van u kleinvee het ek nie geëet nie. Wat die wilde diere verskeur het, het ek nie na u gebring nie: ek moes dit vergoed; van my hand het u dit geëis, of dit al bedags gesteel is of snags gesteel is. Ek was 'n man wat bedags deur die hitte verteer is en snags deur die koue, en my slaap het gevlug van my oë. Twintig jaar was ek nou in u huis; veertien jaar het ek u gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee; en u het my loon tien maal verander. As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie — ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel. Toe antwoord Laban en sê vir Jakob: Die dogters is my dogters, en die seuns is my seuns, en die kleinvee is my kleinvee, ja, alles wat jy sien, is myne; maar my dogters — wat sal ek hulle vandag kan aandoen of aan hulle seuns wat hulle gebaar het? Kom dan nou, laat ons 'n verbond sluit, ek en jy, dat dit 'n getuie tussen my en jou kan wees. Daarop het Jakob 'n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig. En Jakob het aan sy broers gesê: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe gaan haal en 'n hoop gemaak en daar op die hoop geëet. En Laban het dit Jegar-Sahadúta genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem. Toe sê Laban: Hierdie hoop is vandag 'n getuie tussen my en jou. Daarom het hulle dit Gal-ed genoem, en ook Mispa, omdat hy gesê het: Mag die HERE wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie. As jy my dogters mishandel, en as jy vroue neem by my dogters, dan is geen mens by ons nie: Kyk, God is getuie tussen my en jou. Verder sê Laban vir Jakob: Daar is dié hoop klippe, en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het — hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jý na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie. Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak. Toe het Jakob 'n offer gebring op die gebergte en sy broers genooi om brood te eet. En hulle het brood geëet en die nag in die gebergte oorgebly. En Laban het die môre vroeg opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Daarna het Laban vertrek en teruggekeer na sy woonplek.
GENESIS 31:17-55 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim, en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies. Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie. Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe. Drie dae later is aan Laban vertel dat Jakob gevlug het. Laban het die mans in sy familie saamgevat en vir Jakob agternagesit. Na sewe dae het Laban hom ingehaal by Gileadberg. Dié nag het God in 'n droom na Laban die Arameër toe gekom en vir hom gesê: “Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê!” Toe Laban by Jakob kom, was sy kamp opgeslaan by Gileadberg, en Laban-hulle het ook daar kamp opgeslaan. Hy het vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en my dogters weggevat asof hulle krygsgevangenes is. Waarom het jy in die geheim gevlug? Jy het my bedrieg en my niks vertel nie. Ek sou jou laat vertrek het met 'n fees en met liedere, met tamboeryne en met liere. Jy het my nie eens toegelaat om my kleinkinders en my dogters te groet nie. Jy het 'n ongehoorde ding gedoen. Ek het die mag om julle kwaad aan te doen, maar die God van jou voorvaders het verlede nag vir my gesê: ‘Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê.’ Maar nou, as jy weggetrek het net omdat jy so baie verlang na jou familie, waarom het jy dan my gode gesteel?” Toe sê Jakob vir Laban: “Ek het gevlug, want ek was bang, ek het gedink u sal u dogters van my af wegvat. Maar die een by wie u u gode kry, moet sterf. Kyk hier waar ons familie bystaan wat daar van u by my is en vat dit saam terug.” Jakob het nie geweet dat Ragel die gode gesteel het nie. Laban het niks in Jakob se tent gekry nie, ook nie in dié van Lea en in dié van die twee persoonlike slavinne nie. Laban is toe uit Lea se tent uit na Ragel s'n toe. Ragel het die afgodsbeeldjies gevat en onder die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Laban het haar hele tent behoorlik gefynkam maar niks gekry nie. Toe sê Ragel vir hom: “Pa moet tog nie vir my kwaad word nie, want ek kan nie vir Pa opstaan nie: ek is siek, soos dit maar elke maand met 'n vrou gaan.” Laban het toe verder rondgesoek, maar nie die afgodsbeeldjies gekry nie. Toe word Jakob kwaad en hy verwyt vir Laban: “Wat het ek verkeerd gedoen? Waar het ek oortree dat u my agternagesit het? U het my besittings gefynkam. Wat het u gekry wat uit u huis kom? Sit dit hier voor ons familie neer sodat hulle as regters tussen ons twee kan optree. “Dis nou twintig jaar dat ek by u was. U skaapooie en u bokooie het gereeld gelam, en ek het nie u skaapramme geslag nie. Wat deur wilde diere verskeur is, het ek nie na u toe gebring nie, ek moes dit vervang. Wat oordag of in die nag gesteel is, het u van my geëis. Bedags het die hitte my verrinneweer en snags die koue, ek kon nie slaap nie. Dis nou twintig jaar dat ek in u huis is: veertien jaar het ek vir u gewerk vir u twee dogters en ses vir kleinvee uit u trop, en u het my betaling kort-kort verander. As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die Beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.” Laban het vir Jakob geantwoord: “Dit is my dogters en my kinders en my kleinvee: alles wat jy hier sien, is myne. Waarom sou ek vandag my dogters of die kinders wat deur hulle in die wêreld gebring is, iets aandoen? Kom ons maak liewer 'n ooreenkoms. Laat daar 'n getuienis wees om ons daaraan te herinner.” Toe vat Jakob 'n klip en sit dit regop neer as herinneringsklip. Hy het vir die mense by hom gesê: “Maak nog klippe bymekaar.” Hulle het dit gedoen en 'n kliphoop gepak. Toe het hulle daar by die kliphoop geëet. Laban het die kliphoop genoem: Jegar-Sahaduta , en Jakob het dit genoem: Galed . Laban het toe gesê: “Hierdie kliphoop word vandag vir ons 'n getuienis,” en hy het dit Galed genoem. Laban het ook nog gesê: “Dit is Mispa , want die Here hou 'n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie. Dan sal jy nie my dogters mishandel nie en ook nie vir jou nog vrouens vat nie. Wanneer daar niemand anders by ons is nie, sal God getuie wees in die saak tussen ons.” Verder het Laban vir Jakob gesê: “Kyk na hierdie kliphoop en kyk na die klippilaar wat ek regop gesit het. Dit staan tussen ons. Hierdie kliphoop is 'n teken en die klippilaar is 'n teken: ek sal nie hier verbygaan na jou toe om jou aan te val nie, en jy sal nie hier verbykom om my aan te val nie. Die God van Abraham, die God van Nahor, die God van hulle twee se vader sal as regter optree.” Toe het Jakob 'n eed afgelê in die Naam van die Beskermer van Isak. Jakob het daar op die berg geoffer en toe het hy die mense by hom genooi om te eet. Nadat hulle klaar geëet het, het hulle daar by die berg oornag. Vroeg die volgende môre het Laban sy kleinseuns en sy dogters met seënwense gegroet. Hy het toe vertrek, terug huis toe.
GENESIS 31:17-55 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jakob het toe gereedgemaak, sy kinders en sy vroue op kamele getel en al sy vee aangejaag – al sy besittings wat hy bekom het, sy eie veestapel wat hy bekom het in Paddan-Aram – om na Isak, sy vader, na die land Kanaän te gaan. Toe Laban gegaan het om sy kleinvee te skeer, het Ragel die huisgode gesteel wat aan haar vader behoort. Jakob het Laban, die Arameër, se vertroue geskend deurdat hy hom nie ingelig het dat hy gaan vlug nie. Hy het gevlug met alles wat aan hom behoort. Hy het gereedgemaak, die Rivier oorgesteek en koers ingeslaan in die rigting van die bergland van Gilead. Op die derde dag is daar aan Laban berig gebring dat Jakob gevlug het. Hy het toe sy familielede saam met hom geneem en Jakob agternagesit, sewe dagreise lank. Toe was hy op sy hakke in die bergland van Gilead. God het egter in 'n droom in die nag na Laban, die Arameër, gekom en vir hom gesê: “Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie. ” Laban het Jakob ingehaal. Jakob het sy kamp opgeslaan in die bergland, en Laban met sy familielede het hulle kamp opgeslaan in die bergland van Gilead. Laban sê toe vir Jakob: “Wat het jy gedoen? Jy het my vertroue geskend en my dogters soos krygsgevangenes weggevoer. Waarom het jy in die geheim gevlug en my vertroue geskend? Jy het my nie ingelig nie. Ek sou jou weggesien het met vreugde en liedere, met tamboeryne en liere. Maar jy het my nie die geleentheid gegee om my kleinseuns en my dogters te soen nie. Jy het nou 'n dwase ding gedoen. Dit is binne my mag om julle kwaad aan te doen; maar die God van julle vader het verlede nag vir my gesê, ‘Pasop dat jy nie in enige woordewisseling met Jakob betrokke raak nie.’ Maar nou is jy vasbeslote op pad omdat jy so erg verlang na jou ouerhuis. Waarom het jy dan my gode gesteel?” Jakob het hom verweer en vir Laban gesê: “Ek het weggegaan omdat ek bang was! Want ek het gedink anders sal jy jou dogters met geweld van my afneem. By wie ook al jy jou gode vind – hy mag nie bly leef nie. Voor ons familielede sê ek, ‘Wys uit wat van jou by my is, en neem dit vir jou!’ ” Jakob het nie geweet dat Ragel dit gesteel het nie. Laban het in Jakob se tent ingegaan, ook in Lea se tent en dié van die twee slavinne, maar niks gekry nie. Toe hy uit Lea se tent kom, het hy in Ragel se tent ingegaan. Ragel het egter die huisgode geneem, dit in die saalsak van 'n kameel gesteek en daarop gaan sit. Laban het alles in die tent deursoek, maar niks gekry nie. Ragel sê toe vir haar vader: “Moet my nie kwaad aankyk nie, my heer, omdat ek nie vir u kan opstaan nie, want dit is met my soos dit soms met vroue is.” Hy het deeglik gesoek, maar kon nie die huisgode kry nie. Jakob het kwaad geword en sy saak teenoor Laban gestel. Jakob het homself verdedig en vir Laban gesê: “Wat is my oortreding? Wat het ek verkeerd gedoen dat jy so op my spoor is? Want jy het al my goed deursoek! Wat het jy, van enigiets wat uit jou huis kom, gevind? Sit dit dan hier voor my familielede en jou familielede neer, sodat hulle tussen ons twee kan beslis. Twintig jaar was ek nou by jou gewees. Jou skaapooie en jou bokooie het nie misgeboortes gehad nie. Die ramme van jou kleinvee het ek nie geëet nie. Diere wat verskeur is, het ek nie na jou geneem nie; ek moes self die skade ly. Uit my hand het jy geëis wat bedags gesteel is en snags gesteel is. So het dit met my gegaan: Bedags het die hitte my verteer, en die koue snags. Slaap het van my oë weggevlug. So was dit vir my twintig jaar lank in jou huis. Ek het vir jou veertien jaar gewerk vir jou twee dogters, en ses jaar vir jou kleinvee; en jy het my vergoeding tien keer verander. As die God van my voorvader, die God van Abraham, die Vrees van Isak, nie vir my was nie, ja, dan sou jy my nou met leë hande weggestuur het. Maar my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande – God het dit gesien, en verlede nag daaroor beslis.” Laban reageer toe daarop en sê vir Jakob: “Die dogters is my dogters, en die kinders is my kinders, en die kleinvee is my kleinvee. Alles wat jy sien, behoort aan my. Maar my dogters, hoe kan ek hulle vandag iets aandoen, of hulle kinders wat hulle in die wêreld gebring het? Kom dan nou, laat ons 'n ooreenkoms aangaan, ek en jy, en dit sal 'n getuie wees tussen my en jou.” Jakob het toe 'n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig. Jakob het ook vir sy familielede gesê: “Maak klippe bymekaar!” Hulle het toe klippe geneem en op 'n hoop gepak. Daar by die klipstapel het hulle geëet. Laban het dit Jegar-Sahaduta genoem, maar Jakob het dit Gal-Ed genoem. Laban het gesê: “Hierdie klipstapel is vandag 'n getuie tussen my en jou.” Daarom is dit Gal-Ed genoem, en ook Mispa, omdat hy gesê het: “Mag die HERE waghou tussen my en jou wanneer ons mekaar nie meer sien nie. As jy my dogters verneder, en as jy benewens my dogters nog vroue neem – al is daar geen mens by ons nie – besef dan: God is getuie tussen my en jou.” Laban sê toe ook vir Jakob: “Hier is hierdie klippe, en hier is die gedenksteen wat ek opgerig het tussen my en jou. Hierdie stapel klippe is 'n getuie en die gedenksteen is 'n getuie: Ek mag beslis nie by hierdie klipstapel verbytrek na jou toe nie, en jy mag beslis nie by hierdie klipstapel en hierdie gedenksteen verbytrek na my toe met kwade bedoelings nie. Die God van Abraham en die god van Nahor, hulle sal tussen ons beslis.” Dit is die God van hulle voorvader. Jakob het 'n eed afgelê by die Vrees van sy vader Isak. Daarna het Jakob 'n offerdier geslag op die berg, en sy familielede genooi om 'n maaltyd te eet. Hulle het die maaltyd geëet en die nag op die berg oorgebly. Laban het vroeg die oggend opgestaan, sy kleinseuns en sy dogters gesoen en hulle geseën. Toe het Laban weggegaan en teruggekeer na sy plek.
GENESIS 31:17-55 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Jakob opgestaan en sy seuns en sy vroue op kamele laat sit; En hy het al sy vee en al sy besittings wat hy gekry het, die vee van sy verkryging wat hy in Paddan-Aram gekry het, weggevoer om na sy vader Isak te gaan in die land Kanaän. Laban het gegaan om sy skape te skeer, en Ragel het die beelde gesteel wat haar vader s'n was. Jakob het onverhoeds vir Laban, die Arameër, weggesteek, deurdat hy hom nie vertel het dat hy vlug nie. En hy het gevlug met alles wat hy het; en hy het opgestaan en oor die rivier gegaan en sy aangesig na die gebergte Gílead gerig. En op die derde dag is aan Laban meegedeel dat Jakob gevlug het. En hy het sy broers saam met hom geneem en hom sewe dagreise agtervolg; en hulle het hom ingehaal op die gebergte van Gílead. En God het in die nag na Laban, die Arameër, in 'n droom gekom en vir hom gesê: Pas op dat jy nie goed of sleg met Jakob spreek nie. Toe het Laban Jakob ingehaal. En Jakob het sy tent op die berg opgeslaan, en Laban met sy broers het op die berg Gílead opgeslaan. Toe sê Laban vir Jakob: Wat het jy gedoen dat jy vir my onverhoeds gesteel en my dogters weggevoer het as gevangenes wat deur die swaard weggevoer is? Waarom het jy in die geheim weggevlug en van my gesteel; en het my nie gesê dat ek jou kon weggestuur het met vrolikheid en met liedere, met tameletjie en met siter nie? En het jy my nie toegelaat om my seuns en my dogters te soen nie? jy het nou iets dwaas gedoen. Dit is in die mag van my hand om jou kwaad aan te doen; maar die God van jou vader het gisteraand met my gespreek en gesê: Pas op dat jy nie goed of sleg met Jakob spreek nie. En nou, al sou jy weg wou wees, omdat jy baie na jou vader se huis verlang het, waarom het jy tog my gode gesteel? Toe antwoord Jakob en sê vir Laban: Omdat ek bang was, want ek het gesê: Miskien sal jy jou dogters met geweld van my wegneem. By wie jy ook al jou gode vind, laat hom nie lewe nie. Want Jakob het nie geweet dat Ragel hulle gesteel het nie. En Laban het in die tent van Jakob gegaan en in die tent van Lea en in die tente van die twee slavinne; maar hy het hulle nie gevind nie. Toe het hy uit Lea se tent uitgegaan en in Ragel se tent ingegaan. En Ragel het die beelde geneem en dit in die kameel se meubels gesit en daarop gaan sit. En Laban het die hele tent deursoek, maar dit nie gevind nie. Toe sê sy vir haar vader: Laat my heer nie kwaad wees dat ek nie voor U kan opstaan nie; want die gewoonte van vroue is op my. En hy het gesoek, maar die beelde nie gevind nie. En Jakob het kwaad geword en op Laban geteister, en Jakob het geantwoord en vir Laban gesê: Wat is my oortreding? wat is my sonde dat jy my so hard agtervolg het? Terwyl jy al my goed deursoek het, wat het jy van al jou huisraad gevind? stel dit hier voor my broers en jou broers, dat hulle tussen ons albei kan oordeel. Hierdie twintig jaar is ek by jou; jou ooie en jou bokke het hulle kleintjies nie gegooi nie, en die ramme van jou kleinvee het ek nie geëet nie. Wat van die diere verskeur is, het ek nie vir jou gebring nie; Ek het die verlies daarvan gedra; van my hand het U dit geëis, of dit bedags of snags gesteel is. So was ek; bedags het die droogte my verteer en die ryp in die nag; en my slaap het van my oë gewyk. So is ek twintig jaar in U huis; Ek het jou veertien jaar gedien vir jou twee dogters en ses jaar vir jou vee; en jy het my loon tien maal verander. As die God van my vader, die God van Abraham, en die vrees van Isak nie by my was nie, het U my tog leeg weggestuur. God het my ellende en die arbeid van my hande gesien en jou gisteraand bestraf. Toe antwoord Laban en sê vir Jakob: Hierdie dogters is my dogters, en hierdie kinders is my kinders, en hierdie vee is my vee, en alles wat jy sien is myne; en wat kan ek vandag aan hierdie my dogters of aan hulle kinders wat hulle gebore het doen? Kom dan nou, laat ons 'n verbond sluit, ek en jy; en laat dit 'n getuie wees tussen my en jou. En Jakob het 'n klip geneem en dit as 'n pilaar opgerig. Toe sê Jakob aan sy broers: Bring klippe bymekaar; en hulle het klippe geneem en 'n hoop gemaak; en hulle het daar op die hoop geëet. Laban het dit Jegarsahadutha genoem, maar Jakob het dit Galed genoem. Toe sê Laban: Hierdie hoop is vandag 'n getuie tussen my en jou. Daarom is die naam daarvan Galed genoem; en Mispa; want hy het gesê: Die HERE waak tussen my en jou as ons van mekaar afwesig is. As jy my dogters verdruk, of as jy ander vroue naas my dogters neem, is niemand by ons nie; kyk, God is getuie tussen my en jou. Daarop sê Laban vir Jakob: Hier is hierdie hoop, en hier is hierdie gedenksteen wat ek tussen my en jou gegooi het; Hierdie hoop wees getuie, en hierdie gedenksteen wees getuie, dat ek hierdie hoop nie na jou toe sal oorgaan nie, en dat jy nie vir my oor hierdie hoop en hierdie gedenksteen sal deurtrek om skade te berokken nie. Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, oordeel tussen ons. En Jakob het gesweer by die vrees van sy vader Isak. Toe het Jakob op die berg 'n offer gebring en sy broers geroep om brood te eet; en hulle het brood geëet en die hele nag op die berg gebly. En die môre vroeg het Laban opgestaan en sy seuns en sy dogters gesoen en hulle geseën; en Laban het weggegaan en na sy plek teruggekeer.
GENESIS 31:17-55 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jakob het toe sy vroue en kinders op kamele gelaai. Hy het al die lewende hawe en ander besittings wat hy in Paddan-Aram bekom het, bymekaargemaak om na sy pa in die land Kanaän terug te gaan. Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Ragel steel toe haar pa se afgodsbeeldjies en neem dit saam met haar. Hulle het in die geheim vertrek en nie vir Laban gesê dat hulle sou gaan nie. Jakob het al sy besittings saam met hom geneem en die Eufraatrivier oorgesteek op pad na die heuwels van Gilead. Laban het eers drie dae later gehoor dat Jakob gevlug het. Hy het ’n klomp manne van sy familie bymekaargeroep en Jakob agternagesit. Sewe dae later het hy Jakob-hulle tussen die heuwels van Gilead ingehaal. Gedurende die nag het God egter in ’n droom aan Laban die Arameër verskyn en vir hom gesê: “Pas op wat jy vir Jakob sê!” Laban het Jakob ingehaal waar hy tussen die heuwels van Gilead kamp opgeslaan het. Nie te ver daarvan af nie het Laban ook kamp opgeslaan. “Wat het jy aangevang?” vra Laban. “Jy het my bedrieg en my dogters soos oorlogsbuit weggevoer. Hoekom het jy in die geheim gevlug? Ek sou ’n afskeidsfees gereël het met vreugdevolle tamboeryne en liere. Hoekom het jy nie toegelaat dat ek my dogters en kleinkinders groet nie? Jy het baie dwaas opgetree! Ek kon jou doodgemaak het, maar die God van jou voorouers het aan my verskyn en vir my gesê: ‘Pas op wat jy vir Jakob sê!’ Ek kan nog verstaan as jy gegaan het omdat jy baie na jou ouerhuis verlang. Maar hoekom het jy dan my huisgode gesteel?” “Ek is haastig daar weg omdat ek bang was,” antwoord Jakob. “Ek het vir myself gesê: ‘Hy sal my doodmaak en sy dogters met geweld van my wegneem.’ Maar wat die huisgode betref, dié persoon by wie u dit kry, moet sterf! Ek sê voor ons familie: As julle enigiets kry wat aan Pa behoort, sal ek dit sonder teëpraat teruggee.” Maar Jakob het nie geweet dat Ragel die huisgode gevat het nie. Laban het eers na Jakob se tent toe gegaan om daar te soek. Toe is hy na Lea s’n, en daarna het hy die tente van die twee slavinvroue deursoek, maar niks gekry nie. Toe gaan hy na Ragel se tent. Sy het intussen die beeldjies onder die kameelsaal weggesteek en daarop gaan sit. Laban het ook haar tent deeglik deursoek, maar niks gekry nie. “Verskoon my dat ek nie opstaan nie, Pa,” verduidelik sy. “Ek is siek van my maandstonde.” Laban het verder gesoek, maar kon nie die beeldjies kry nie. Jakob het toe baie kwaad geword en met Laban getwis: “Wat is my oortreding? Pa het my agternagesit asof ek ’n misdadiger is. Pa het alles wat ek besit, deursoek. Nou, wys my wat het Pa gekry wat aan u behoort! Sit dit hier voor ons familie neer sodat almal dit kan sien. Laat hulle dan besluit wie is reg! “Twintig jaar lank was ek by Pa en al die tyd het ek u skape en bokke opgepas sodat hulle gereeld gelam het. In al die jare het ek nie één van u ramme vir my gevat om te eet nie. Ek het nooit die kleinvee wat deur wilde diere verskeur is na u toe gebring nie. Ek moes dit self vervang. Pa het my laat betaal vir elke dier wat gesteel is, of dit nou my skuld was of nie. Deur skroeiende hitte in die dag en ysige slaaplose nagte het ek vir u gewerk. Vir twintig jaar het ek u gedien, veertien jaar daarvan vir Pa se twee dogters en ses jaar om my eie kudde op te bou. Maar Pa het my vergoeding tien keer verander! Trouens, was dit nie vir die genade van die God van my voorouers nie, die God van Abraham en die Beskermer van Isak nie, sou Pa my sonder vergoeding weggestuur het. Maar God het my swoeg en swaarkry raakgesien. Dis hoekom Hy aan Pa verskyn het en in my guns uitspraak gegee het.” Laban antwoord toe vir Jakob: “Hierdie vroue is my dogters, en hierdie kinders is my kleinkinders, en hierdie vee wat jy het, alles wat jy sien, kom van my af. Waarom sou ek dan my eie dogters en kleinkinders kwaad aandoen? Kom ons, ek en jy, sluit eerder ’n ooreenkoms en laat dit ’n getuienis wees tussen my en jou.” Toe vat Jakob ’n klip en sit dit regop as ’n gedenkteken. Hy het ook vir die mense by hom gesê om klippe bymekaar te maak en op ’n hoop te stapel. Hulle het toe langs die hoop gaan sit en saam geëet. Hulle het dit die “Kliphoop van Getuienis” genoem, in Laban se taal Jegar-Sahaduta en in Jakob se taal Galed. “Hierdie kliphoop sal dien as getuienis van ons ooreenkoms,” het Laban verklaar. Die plek is ook Mispa genoem, want Laban het gesê: “Die HERE sal waghou oor my en jou wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie. As jy my dogters sleg behandel of as jy ander vroue neem, selfs as daar niemand anders by ons is nie – onthou, God is ’n getuie tussen my en jou. Kyk na hierdie hoop klippe en hierdie klippilaar wat ek opgerig het. Dit staan as getuies tussen ons. Ek sal nie hier verbygaan om teen jou uit te trek nie, en jy mag nie hier verbykom om my te kom aanval nie. Die God van ons voorouers, die God van jou oupa Abraham en die God van my oupa Nahor, sal as regter tussen ons optree as enigeen van ons die ander een kwaad wil aandoen.” Jakob het toe ’n eed afgelê by die Beskermer van sy pa, Isak, dat hy die grens sou eerbiedig. Toe het Jakob ’n offer vir God gebring en almal genooi om deel te neem aan ’n fees. Na hulle geëet het, het hulle daar in die heuwels oornag. Laban het die volgende oggend vroeg opgestaan, sy kleinseuns en sy dogters met ’n seënwens gegroet, en teruggegaan huis toe.