Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim, en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän.
Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Toe steel Ragel haar pa se afgodsbeeldjies. Jakob het ook vir Laban die Arameër bedrieg deur hom nie te vertel van sy vlug nie.
Jakob het gevlug met alles by hom. Hy het deur die Eufraatrivier getrek en koers gekies Gileadberg toe. Drie dae later is aan Laban vertel dat Jakob gevlug het. Laban het die mans in sy familie saamgevat en vir Jakob agternagesit. Na sewe dae het Laban hom ingehaal by Gileadberg.
Dié nag het God in 'n droom na Laban die Arameër toe gekom en vir hom gesê: “Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê!”
Toe Laban by Jakob kom, was sy kamp opgeslaan by Gileadberg, en Laban-hulle het ook daar kamp opgeslaan. Hy het vir Jakob gesê: “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg en my dogters weggevat asof hulle krygsgevangenes is. Waarom het jy in die geheim gevlug? Jy het my bedrieg en my niks vertel nie. Ek sou jou laat vertrek het met 'n fees en met liedere, met tamboeryne en met liere. Jy het my nie eens toegelaat om my kleinkinders en my dogters te groet nie. Jy het 'n ongehoorde ding gedoen. Ek het die mag om julle kwaad aan te doen, maar die God van jou voorvaders het verlede nag vir my gesê: ‘Wees versigtig met wat jy vir Jakob sê.’ Maar nou, as jy weggetrek het net omdat jy so baie verlang na jou familie, waarom het jy dan my gode gesteel?”
Toe sê Jakob vir Laban: “Ek het gevlug, want ek was bang, ek het gedink u sal u dogters van my af wegvat. Maar die een by wie u u gode kry, moet sterf. Kyk hier waar ons familie bystaan wat daar van u by my is en vat dit saam terug.”
Jakob het nie geweet dat Ragel die gode gesteel het nie.
Laban het niks in Jakob se tent gekry nie, ook nie in dié van Lea en in dié van die twee persoonlike slavinne nie. Laban is toe uit Lea se tent uit na Ragel s'n toe. Ragel het die afgodsbeeldjies gevat en onder die kameelsaal gesit en daarop gaan sit. Laban het haar hele tent behoorlik gefynkam maar niks gekry nie. Toe sê Ragel vir hom: “Pa moet tog nie vir my kwaad word nie, want ek kan nie vir Pa opstaan nie: ek is siek, soos dit maar elke maand met 'n vrou gaan.”
Laban het toe verder rondgesoek, maar nie die afgodsbeeldjies gekry nie.
Toe word Jakob kwaad en hy verwyt vir Laban: “Wat het ek verkeerd gedoen? Waar het ek oortree dat u my agternagesit het? U het my besittings gefynkam. Wat het u gekry wat uit u huis kom? Sit dit hier voor ons familie neer sodat hulle as regters tussen ons twee kan optree.
“Dis nou twintig jaar dat ek by u was. U skaapooie en u bokooie het gereeld gelam, en ek het nie u skaapramme geslag nie. Wat deur wilde diere verskeur is, het ek nie na u toe gebring nie, ek moes dit vervang. Wat oordag of in die nag gesteel is, het u van my geëis. Bedags het die hitte my verrinneweer en snags die koue, ek kon nie slaap nie. Dis nou twintig jaar dat ek in u huis is: veertien jaar het ek vir u gewerk vir u twee dogters en ses vir kleinvee uit u trop, en u het my betaling kort-kort verander. As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die Beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.”
Laban het vir Jakob geantwoord: “Dit is my dogters en my kinders en my kleinvee: alles wat jy hier sien, is myne. Waarom sou ek vandag my dogters of die kinders wat deur hulle in die wêreld gebring is, iets aandoen? Kom ons maak liewer 'n ooreenkoms. Laat daar 'n getuienis wees om ons daaraan te herinner.”
Toe vat Jakob 'n klip en sit dit regop neer as herinneringsklip. Hy het vir die mense by hom gesê: “Maak nog klippe bymekaar.” Hulle het dit gedoen en 'n kliphoop gepak. Toe het hulle daar by die kliphoop geëet. Laban het die kliphoop genoem: Jegar-Sahaduta , en Jakob het dit genoem: Galed .
Laban het toe gesê: “Hierdie kliphoop word vandag vir ons 'n getuienis,” en hy het dit Galed genoem. Laban het ook nog gesê: “Dit is Mispa , want die Here hou 'n oog oor ons wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie. Dan sal jy nie my dogters mishandel nie en ook nie vir jou nog vrouens vat nie. Wanneer daar niemand anders by ons is nie, sal God getuie wees in die saak tussen ons.”
Verder het Laban vir Jakob gesê: “Kyk na hierdie kliphoop en kyk na die klippilaar wat ek regop gesit het. Dit staan tussen ons. Hierdie kliphoop is 'n teken en die klippilaar is 'n teken: ek sal nie hier verbygaan na jou toe om jou aan te val nie, en jy sal nie hier verbykom om my aan te val nie. Die God van Abraham, die God van Nahor, die God van hulle twee se vader sal as regter optree.”
Toe het Jakob 'n eed afgelê in die Naam van die Beskermer van Isak. Jakob het daar op die berg geoffer en toe het hy die mense by hom genooi om te eet. Nadat hulle klaar geëet het, het hulle daar by die berg oornag. Vroeg die volgende môre het Laban sy kleinseuns en sy dogters met seënwense gegroet. Hy het toe vertrek, terug huis toe.