GENESIS 24:1-51
GENESIS 24:1-51 Bybel vir almal (ABA)
Abraham was al baie oud. Die Here het Abraham baie ryk gemaak. Abraham het vir sy hoofslaaf, die slaaf wat al sy goed opgepas het, gesê: “Sit asseblief jou hand onder my heup en belowe voor die Here, die God van die hemel en die aarde. Belowe dat jy nie my seun sal laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete tussen wie ek woon nie. Belowe dat jy na my eie land en my familie sal gaan en dat jy daar vir my seun Isak 'n vrou sal gaan haal.” Toe sê die slaaf vir Abraham: “Maar miskien sal die vrou nie saam met my na hierdie land wil kom nie. Moet ek dan jou seun laat teruggaan na Mesopotamië, die land van waar jy kom?” Abraham het vir die slaaf gesê: “Jy moet nooit my seun na daardie land laat teruggaan nie. Die Here, die God van die hemel wat my uit my pa se familie en uit my geboorteland laat trek het, het met my gepraat en Hy het vir my belowe: ‘Ek sal hierdie land vir jou nageslag gee.’ Die Here sal sy engel stuur en jy sal hom volg, sodat jy vir my seun daar in my eie land 'n vrou kan kry. As die vrou nie saam met jou wil kom nie, dan kan jy nie doen wat jy belowe het nie. Maar jy moet nooit my seun daarnatoe laat teruggaan nie.” Die slaaf sit toe sy hand onder sy eienaar Abraham se heup en hy belowe dat hy sal doen wat Abraham gevra het. Die slaaf neem toe tien kamele van sy eienaar en hy gaan. Hy het baie presente van Abraham saamgeneem. Hy het na die land Mesopotamië gegaan, na die stad waar Nahor gewoon het. Een middag laat het die slaaf die kamele laat rus by 'n fontein buite die stad. Dit was die tyd wanneer die meisies elke dag water kom haal het. Die slaaf het gebid: “Here, God van my eienaar Abraham, U moet asseblief vandag 'n goeie ding met my laat gebeur en U moet goed wees vir my eienaar Abraham. Kyk, ek staan hier by die fontein, en die meisies kom uit die stad om water te kom skep. Ek sal vir 'n meisie vra: ‘Hou asseblief jou waterkruik sodat ek kan drink.’ As sy dan sê: ‘Jy mag drink, en ek sal jou kamele ook laat drink,’ dan sal ek weet U het haar gekies vir u dienaar Isak. Dan sal ek ook weet dat U doen wat U vir my eienaar belowe het.” Hy was besig om dit te sê, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra. Sy was die dogter van Betuel, en Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka. Die jong meisie was baie mooi, en sy het nog nie by 'n man geslaap nie. Sy het afgegaan na die fontein en sy het haar waterkruik volgemaak en weer boontoe gekom. Die slaaf het na haar toe gehardloop en gevra: “Gee my asseblief 'n bietjie water uit jou waterkruik.” Sy het gesê: “Drink, Meneer.” Sy het die waterkruik gou tot op haar hand laat sak en sy het vir hom water gegee om te drink. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal ook vir jou kamele water skep totdat hulle genoeg gedrink het.” Sy gooi toe gou die water van haar kruik in die drinkbak en hardloop weer af na die fontein om water te skep. So het sy vir al die kamele water gegee. Die slaaf het na haar gekyk om te sien of die Here vir hom die regte vrou gewys het of nie. Toe die kamele klaar gedrink het, neem die man 'n goue ring wat 'n halfsikkel weeg, en sit dit aan haar neus. Hy het twee goue armbande geneem, elke armband het tien sikkels geweeg, en hy het dit aan haar arms gesit. Hy vra toe: “Wie se dogter is jy? Sê asseblief vir my, is daar slaapplek vir ons in jou pa se huis?” Sy het vir hom gesê: “Ek is 'n dogter van Betuel. Hy is die seun van Milka en Nahor. Daar is baie strooi en voer by ons, en ook slaapplek.” Die slaaf het gekniel en voor die Here gebuig en gesê: “Ek prys U, Here, God van my eienaar Abraham. U was goed vir my eienaar en U het gedoen wat U belowe het. U het my gelei na my eienaar se broer toe.” Die dogter het huis toe gehardloop en sy het vir haar ma gaan vertel wat gebeur het. Rebekka het 'n broer gehad. Sy naam was Laban. Laban het na die man toe gehardloop by die fontein. Hy het die neusring gesien en die armbande aan sy suster se arms. Toe hy hoor sy suster Rebekka vertel wat die man gesê het, het hy na die man toe gegaan. Die man het by die kamele by die fontein gestaan. Laban sê toe vir hom: “Kom saam. Die Here het jou geseën. Hoekom staan jy hier buite? Ek het al klaar die huis gereedgemaak vir jou en ook die plek vir die kamele.” Hy het die man huis toe gebring, die kamele losgemaak en vir hulle strooi en kos gegee. Hy het vir die man water gegee om sy voete te was en ook vir die ander mans wat by hom was. Hulle bring toe ook vir die man kos, maar hy sê: “Ek mag nie eet nie, ek moet eers vertel hoekom ek gekom het.” En Laban sê: “Praat.” Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die Here het my eienaar baie geseën, en hy het ryk geword. Die Here het skape en bokke en beeste vir hom gegee, en ook silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. “My eienaar se vrou Sara het 'n seun gekry toe sy al oud was, en Abraham het vir die seun alles gegee wat hy het. Maar my eienaar het vir my gesê: ‘Ek woon in die land van die Kanaäniete, maar ek wil nie hê my seun moet met een van hulle dogters trou nie.’ “Ek moes dit belowe. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet na my pa se familie toe gaan, na my eie mense toe, en jy moet daar vir my seun 'n vrou gaan haal.’ Ek het vir my eienaar gesê: ‘Maar miskien sal die vrou nie saam met my wil kom nie.’ En hy het toe vir my gesê: ‘Ek dien die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en Hy sal jou help om by my eie mense vir my seun 'n vrou te kry, by my pa se familie. As jy by my familie kom en hulle wil haar nie vir jou gee nie, dan kan jy nie doen wat jy vir my belowe het nie.’ Ek het vandag by die fontein gekom en ek het gebid: ‘Here, God van my eienaar Abraham, help my om reg te kry wat ek moet doen. Ek is nou hier by die fontein en ek sal vir die meisie wat water kom skep, sê: “Laat my asseblief 'n bietjie water uit jou waterkruik drink.” En as sy vir my sê: “Jy mag drink, en ek sal vir jou kamele ook water skep,” dan sal ek weet sy is die vrou wat die Here vir my eienaar se seun gekies het.’ Ek het nog nie klaar gebid nie, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra en sy het afgegaan na die fontein en water geskep. Ek sê toe vir haar: ‘Laat my asseblief water drink.’ Sy het dadelik haar waterkruik laat sak en vir my gesê: ‘Drink, en ek sal vir jou kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink, en sy het vir die kamele ook water gegee. Ek het vir haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ En sy het gesê: ‘Ek is Betuel se dogter. Betuel is Nahor en Milka se seun.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. Ek het gekniel en ek het die Here, die God van my eienaar Abraham, geprys. Hy het my reg gelei om die dogter van my eienaar se broer vir sy seun te kry. En nou, as julle goed wil wees vir my eienaar, sê dit vir my. Of as julle nie wil nie, sê dit ook vir my, sodat ek kan weet wat ek moet doen.” Toe sê Laban en Betuel vir hom: “Hierdie plan kom van die Here. Ons kan nie vir jou ja of nee sê nie. Hier is Rebekka voor jou. Neem haar en gaan terug, sodat sy die vrou van jou eienaar se seun kan word. Dit is wat die Here gesê het.”
GENESIS 24:1-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Abraham was oud en ver op sy dae, en die HERE het Abraham in alles geseën. Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup, dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie; maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak 'n vrou te neem. Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou my nie wil volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in die land waaruit u weggetrek het? En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen bring nie. Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee — Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar 'n vrou gaan haal. Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie. Toe lê die dienaar sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, en hy het vir hom gesweer, met die oog op hierdie saak. En die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan met allerhande kosbare goed van sy heer by hom: hy het klaargemaak en na Mesopotámië, na die stad van Nahor, getrek. En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by 'n put, teen die aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep, en gesê: HERE, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer. Hier staan ek by die fontein, terwyl die dogters van die manne van die stad uitkom om water te skep. Laat dít nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink — dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het. Hy het nog nie klaar gespreek nie, of daar kom Rebekka uit wat vir Bétuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, gebore is, met haar kruik op haar skouer. En die dogter was baie mooi van aansien, 'n jongmeisie, en geen man het haar beken nie. En sy het afgedaal na die fontein en haar kruik volgemaak en weer opgekom. Toe loop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink. En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand afsak en laat hom drink. Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het. Dadelik het sy toe haar kruik in die drinkbak leeggemaak en weer na die put geloop om te skep en vir al sy kamele geskep. En die man het haar stilswyend betrag om te weet of die HERE sy weg voorspoedig gemaak het of nie. En toe die kamele genoeg gedrink het, neem die man 'n goue ring, 'n halfsikkel in gewig, en twee armbande vir haar hande, tien sikkels goud in gewig. En hy sê: Wie se dogter is jy? Vertel my tog. Is daar plek vir ons in die huis van jou vader om te vernag? Toe antwoord sy hom: Ek is die dogter van Bétuel, die seun van Milka wat sy vir Nahor gebaar het. Verder sê sy vir hom: Daar is ook strooi en voer in oorvloed by ons, ook plek om te vernag. Toe buig die man hom neer en aanbid die HERE met die woorde: Geloofd sy die HERE, die God van Abraham, my heer, wat sy goedertierenheid en sy trou aan my heer nie onttrek het nie. Wat my aangaan, die HERE het my op die weg gelei na die huis van die broers van my heer. Daarna het die dogter geloop en in die huis van haar moeder vertel wat daar gebeur het. En Rebekka het 'n broer gehad met die naam van Laban, en Laban het uitgeloop na die man buite by die fontein. Want toe hy die ring en die armbande aan die hande van sy suster sien en die woorde van sy suster Rebekka hoor, naamlik: So het die man met my gespreek — het hy na die man gegaan, terwyl hy nog daar staan by die kamele by die fontein, en gesê: Kom in, geseënde van die HERE! Waarom staan jy buitekant terwyl ek die huis reggemaak het en ook plek vir die kamele? En die man het in die huis ingekom — die kamele is afgesaal en vir die kamele is strooi en voer gegee, en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was. Daarop het hulle ete voor hom neergesit; maar hy het gesê: Ek sal nie eet voordat ek my saak voorgedra het nie. En hy antwoord: Spreek maar. Toe sê hy: Ek is die dienaar van Abraham. En die HERE het my heer baie geseën, sodat hy groot geword het, en aan hom kleinvee en beeste, silwer en goud, slawe en slavinne en kamele en esels gegee. En Sara, die vrou van my heer, het vir my heer 'n seun gebaar nadat sy al oud was; en hy het aan hom alles oorgegee wat hy besit. En my heer het my laat sweer en gesê: Jy moet vir my seun geen vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie; maar jy moet gaan na die huis van my vader en na my geslag en vir my seun 'n vrou gaan haal. Toe het ek aan my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie. Maar hy het my geantwoord: Die HERE voor wie se aangesig ek gewandel het, sal sy engel met jou saamstuur, en Hy sal jou weg voorspoedig maak, sodat jy vir my seun 'n vrou uit my geslag en uit die huis van my vader kan gaan haal. Dan sal jy ontslae wees van die eed aan my: as jy by my geslag kom en hulle haar aan jou nie wil gee nie, dan is jy ontslae van die eed aan my. Ek het toe vandag by die fontein gekom en gesê: HERE, God van Abraham, my heer, as U dan my weg waar ek op gaan, voorspoedig wil maak — ek staan hier by die fontein — laat dít nou tog gebeur: die jongmeisie wat uitkom om te skep en aan wie ek sal sê: Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink — en wat my sal antwoord: Drink u self, en ook vir u kamele sal ek skep — sý is die vrou wat die HERE vir die seun van my heer bestem het. Ek het nog nie klaar in my hart gespreek nie of daar het Rebekka uitgekom met haar kruik op die skouer en na die fontein afgedaal en geskep. Ek het toe vir haar gesê: Laat my tog drink! En sy het dadelik haar kruik van haar laat afsak en gesê: Drink, en ek sal u kamele ook laat drink. En ek het gedrink, en sy het ook die kamele laat drink. Toe vra ek haar en sê: Wie se dogter is jy? En sy antwoord: Die dogter van Bétuel, die seun van Nahor wat Milka vir hom gebaar het. Daarop het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar hande, en ek het my in aanbidding neergebuig voor die HERE en die HERE geloof, die God van Abraham, my heer, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer vir sy seun te gaan haal. As julle dan nou guns en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my; en so nie, sê dit vir my, dat ek regs of links kan gaan. Toe antwoord Laban en Bétuel en sê: Van die HERE kom die saak; ons kan jou daar geen kwaad of goed van spreek nie. Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy 'n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die HERE gespreek het.
GENESIS 24:1-51 Afrikaans 1983 (AFR83)
Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën. Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup dat jy vir my met 'n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie; jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar 'n vrou gaan haal vir my seun Isak.” Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?” Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie. Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met 'n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun 'n vrou van my land af sal kan bring. As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.” Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met 'n eed beloof om dit alles te doen. Die slaaf het tien van sy eienaar se kamele gevat en ook allerlei mooi geskenke en vertrek na Mesopotamië toe, na die stad toe waar Nahor gewoon het. Daar het hy die kamele by 'n fontein buite die stad laat kniel. Dit was laat middag, teen die tyd dat die vrouens uitkom om water te skep. Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham. Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep. As ek vir 'n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.” Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan. Sy was die dogter van Betuel, seun van Milka die vrou van Nahor, Abraham se broer. Die meisie was baie mooi, 'n jongmeisie met wie 'n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan tot by die fontein en haar kruik vol gemaak en teruggeklim. Toe hardloop die slaaf haar tegemoet en sê vir haar: “Laat my tog 'n bietjie water uit jou kruik drink.” En sy sê: “Drink gerus, Meneer!” Sy laat toe gou haar kruik rus op haar hand, en laat hom water drink. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal vir die kamele ook gaan water skep dat hulle genoeg kan drink.” Sy het gou haar kruik in die krip leeg gemaak en toe fontein toe gehardloop om nog water te skep. Sy het vir al die kamele geskep. Die man het haar in stilte aangekyk om vas te stel of die Here hom in sy onderneming laat slaag het of nie. Toe die kamele klaar gedrink het, sit hy 'n goue ring van ses gram aan haar neus en twee goue armbande van honderd en vyftien gram aan haar arms, en hy vra: “Wie se dogter is jy? Sê my tog, is daar in jou pa se huis plek vir ons om te oornag?” Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun wat deur Milka vir Nahor in die wêreld gebring is.” Verder het sy gesê: “Ons het baie strooi en kameelvoer, en daar is plek om te oornag.” Toe het die man gekniel en tot die Here gebid: “Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.” Die meisie het na haar ma se huis toe gehardloop en alles gaan vertel. Rebekka het 'n broer gehad met die naam Laban. Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms en haar hoor vertel wat die man alles vir haar gesê het, het hy na die man toe gehardloop by die fontein buite die stad. Toe hy by hom kom, het die man nog by die kamele gestaan, langs die fontein. Laban het vir hom gesê: “Kom saam! Jy is 'n man wat deur die Here geseën is. Waarom bly jy hier buite staan? Ek het vir jou plek reggemaak in my huis, en daar is ook plek vir die kamele.” Die man is toe saam huis toe, en Laban het die kamele laat afsaal en vir hulle voer gegee en strooi om op te lê. Vir die man het hy water gegee om sy voete te was en ook vir die mense by hom. Toe hulle vir die man kos bring om te eet, sê hy: “Ek sal nie eet voor ek my opdrag uitgevoer het nie.” Laban het gesê: “Praat gerus!” Toe sê die man: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam. My eienaar het my 'n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie. Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun 'n vrou gaan haal.’ Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’ en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy 'n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis. Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’ “Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming. Hier staan ek by die fontein waar 'n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my 'n bietjie water uit haar kruik te laat drink, en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar. “Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met 'n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog 'n bietjie water!’ Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee. Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun. “As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.” Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie. Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”
GENESIS 24:1-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Abraham was oud, gevorderd in jare. Die HERE het Abraham in alle opsigte geseën. Abraham het vir sy slaaf, die oudste in sy huis, wat beheer gehad het oor alles wat aan hom behoort, gesê: “Plaas jou hand onder my heup, sodat ek jou 'n eed kan laat aflê by die HERE, die God van die hemel, en die God van die aarde, dat jy nie vir my seun 'n vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se midde ek woon nie, maar dat jy na my land, na my familie, sal gaan en vir my seun Isak 'n vrou sal gaan haal.” Die slaaf het vir hom gesê: “Miskien wil die vrou my nie volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugneem na die land waaruit u weggetrek het?” Maar Abraham het hom geantwoord: “Pasop dat jy nie my seun daarheen laat terugkeer nie! Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my ouerhuis en die land van my herkoms geneem het, en wat aan my 'n belofte gemaak en dit aan my met 'n eed bevestig het deur te sê, ‘Aan jou nageslag gee Ek hierdie land,’ Hy self sal sy engel voor jou uit stuur, en jy sal daar vir my seun 'n vrou gaan haal. As die vrou jou nie wil volg nie, is jy vry van hierdie eed teenoor my. My seun mag jy net nie daarheen terugneem nie.” Die slaaf het toe sy hand onder Abraham, sy heer, se heup geplaas en vir hom 'n eed afgelê oor hierdie saak. Die slaaf het tien van sy heer se kamele geneem en vertrek, met allerlei kosbaarhede van sy heer by hom. Hy het gereedgemaak en vertrek na Aram-Naharajim, na die dorp van Nahor. Hy het die kamele teen die aand buite die dorp by 'n put laat kniel, die tyd wanneer vroue uitgaan om water te skep. Hy het gesê: “HERE, God van my heer Abraham, laat dit asseblief vandag vir my gebeur, en bewys so troue liefde aan my heer Abraham. Kyk, ek staan by die waterbron, en die dogters van die dorp se mans kom uit om water te skep. Mag dit so gebeur: Die jong meisie vir wie ek sê, ‘Hou asseblief jou kruik skuins dat ek kan drink,’ en wat my dan antwoord, ‘Drink! En ook jou kamele sal ek laat drink’ – dit is sy wat U bestem het vir u dienskneg, vir Isak; en daaraan sal ek weet dat U aan my heer troue liefde bewys het.” Hy het nog nie eers klaar gepraat nie, kyk, toe kom Rebekka – gebore vir Betuel, die seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer – uit met haar kruik op haar skouer. Die jong meisie was beeldskoon, 'n maagd met wie 'n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan na die fontein, haar kruik volgemaak en weer na bo gegaan. Die slaaf het haar tegemoet gehardloop en gesê: “Laat my asseblief 'n bietjie water drink uit jou kruik.” Sy het geantwoord: “Drink, meneer!” Sy het gou haar kruik op haar hand laat sak en hom laat drink. Toe sy hom klaar laat drink het, sê sy: “Ook vir u kamele sal ek water skep, totdat hulle klaar gedrink het.” Sy maak toe gou haar kruik in die drinkbak leeg en haas haar weer na die put om water te skep. Sy het vir al sy kamele water geskep. Die man het haar in stilte dopgehou om uit te vind of die HERE sy reis goed laat afloop het of nie. Toe die kamele klaar gedrink het, haal die man 'n goue neusring uit, wat 'n beka weeg, en vir haar polse ook twee armbande waarvan die gewig tien sikkels goud was. Hy vra toe: “Wie se dogter is jy? Sê my asseblief! Is daar dalk in jou vader se huis vir ons plek om te oornag?” Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun van Milka, wat sy vir Nahor in die wêreld gebring het.” Sy het verder vir hom gesê: “Daar is by ons sowel strooi as baie voer, en ook plek om te oornag.” Die man het gekniel, voor die HERE in aanbidding gebuig en gesê: “Die HERE, die God van my heer Abraham, moet geprys word, Hy wat sy liefde en trou nie van my heer weerhou het nie. Wat my betref: Die HERE het my gelei op die pad na die huisgesin van my heer se broer. ” Die jong meisie het toe gehardloop en by haar moeder se huis hierdie dinge gaan vertel. Rebekka het 'n broer gehad met die naam Laban. Laban het hom gehaas na die man daar buite by die fontein. Toe hy die neusring sien, en ook die armbande aan sy suster se polse, en hy die woorde hoor wat sy suster Rebekka sê, “So het die man met my gepraat,” gaan hy na die man toe. En kyk, hy staan toe nog daar by die kamele langs die fontein! Hy het vir hom gesê: “Kom in, geseënde van die HERE! Waarom sal jy buite bly staan, terwyl ek self die huis en die plek vir die kamele gereedgemaak het?” Die man het die huis binnegegaan. Laban het die kamele losgemaak, strooi en voer vir die kamele gegee en water om sy en die manne wat by hom was, se voete te was. Daar is vir hom iets te ete voorgesit, maar het hy gesê: “Ek sal nie eet voordat ek my saak gestel het nie.” Laban het geantwoord: “Praat maar!” Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die HERE het my heer baie geseën, en hy het ryk geword. Hy het vir hom kleinvee en beeste gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. Sara, die vrou van my heer, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring nadat sy al oud geword het. My heer het alles wat hy besit, vir hom gegee. My heer het my 'n eed laat aflê, ‘Jy mag nie vir my seun 'n vrou neem uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie; maar jy moet na my familie en na my grootfamilie gaan en 'n vrou vir my seun gaan haal.’ Ek het vir my heer gesê, ‘Dalk sal die vrou my nie volg nie.’ Maar hy het vir my gesê, ‘Die HERE voor wie ek leef, sal sy •engel saam met jou stuur, en hy sal jou reis goed laat afloop, en jy sal 'n vrou vir my seun kry by my grootfamilie en my familie. Net dan sal jy vry wees van die eed aan my – as jy na my grootfamilie gaan en hulle gee haar nie aan jou nie. Jy sal dan vry wees van die eed aan my.’ Ek het vandag by die fontein aangekom en gesê, ‘HERE, God van my heer Abraham, as U my reis waarop ek tans is, tog maar goed wil laat afloop! Kyk, ek staan hier by die waterbron; mag dit so wees dat die jong vrou wat uitkom om water te skep en vir wie ek vra, “Laat my asseblief bietjie water drink uit jou kruik,” en sy my dan antwoord, “Drink jy, dan sal ek ook vir jou kamele skep,” dat sy die vrou sal wees wat die HERE vir die seun van my heer bestem het.’ Ek het self nog nie in my hart klaar gepraat nie, kyk, toe kom Rebekka uit met haar kruik op haar skouer, en sy gaan af na die fontein en skep water! Ek sê toe vir haar, ‘Laat my asseblief drink.’ Sy het gou haar kruik van haar skouer afgetel en gesê, ‘Drink! Ek sal ook jou kamele laat drink.’ Ek het toe gedrink, en sy het ook die kamele laat drink. Ek vra haar toe en sê, ‘Wie se dogter is jy?’ Sy het geantwoord, ‘Die dogter van Betuel, seun van Nahor, wat Milka vir hom in die wêreld gebring het.’ Toe het ek die ring aan haar neus en armbande om haar polse gesit. Ek het gekniel en voor die HERE in aanbidding gebuig. Ek het die HERE, die God van my heer Abraham, geprys, Hy wat my op die regte pad gelei het om die kleindogter van my heer se broer vir sy seun te verkry. Daarom, as julle liefde en trou aan my heer wil bewys, sê dit vir my. Maar indien nie, sê dit dan vir my, sodat ek regs of links kan afdraai.” Laban en Betuel het daarop gereageer en gesê: “Van die HERE het die woord uitgegaan; ons kan vir jou nie iets goeds of slegs sê nie. Kyk, Rebekka is voor jou. Neem haar en gaan, sodat sy 'n vrou kan wees vir jou heer se seun, soos die HERE gesê het.”
GENESIS 24:1-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Abraham was oud en verdruk van ouderdom, en die HERE het Abraham in alles geseën. Toe sê Abraham aan sy oudste dienaar van sy huis wat oor alles wat hy het regeer: Sit tog jou hand onder my heup. En ek sal jou laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon, geen vrou sal neem nie. Maar jy moet na my land en na my familie gaan en vir my seun Isak 'n vrou neem. Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou nie bereid wees om my na hierdie land te volg nie; moet ek jou seun terugbring na die land waaruit jy gekom het? Toe sê Abraham vir hom: Pasop dat jy my seun nie daarheen terugbring nie. Die HERE, die God van die hemel, wat my weggeneem het uit die huis van my vader en uit die land van my familie, en wat met my gespreek en vir my gesweer en gesê het: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee; hy moet sy engel voor jou uit stuur, en jy moet daarvandaan vir my seun 'n vrou neem. En as die vrou nie gewillig is om jou te volg nie, dan moet jy van hierdie my eed ontslae raak: bring net my seun daarheen nie terug nie. En die dienaar het sy hand onder die heup van Abraham, sy heer, gelê en vir hom 'n eed oor die saak gesweer. Die dienaar het tien kamele van die kamele van sy heer geneem en weggegaan; want al die goed van sy heer was in sy hand; en hy het opgestaan en na Mesopotamië gegaan, na die stad Nahor. En hy het sy kamele buite die stad laat kniel by 'n fontein in die aand, die tyd wat vroue uitgaan om water te skep. En hy het gesê: HERE, God van my heer Abraham, stuur tog nog vandag vir my, en bewys guns aan my heer Abraham. Kyk, ek staan hier by die waterput; en die dogters van die manne van die stad het uitgekom om water te skep. Laat die meisie vir wie ek sê: Laat tog jou kruik neersit dat ek kan drink; en sy sal sê: Drink, en Ek sal ook jou kamele laat drink. Laat dit sy wees wat jy vir U kneg Isak aangestel het; en daardeur sal ek weet dat jy guns bewys het aan my heer. En voordat hy klaar gepraat het, kom Rebekka uit, wat gebore is vir Betuel, seun van Milka, die vrou van Nahor, Abraham se broer, met haar kruik op haar skouer. Die meisie was baie mooi, 'n maagd, en niemand het haar geken nie; en sy het afgegaan na die put en haar kruik volgemaak en opgekom. Toe hardloop die dienaar haar tegemoet en sê: Laat my tog 'n bietjie water van jou kruik drink. En sy sê: Drink, my heer! en sy het gou haar kruik op haar hand laat sak en hom laat drink. En nadat sy hom klaar laat drink het, sê sy: Ek sal ook vir jou kamele water skep totdat hulle klaar gedrink het. Sy het gou gemaak en haar kruik in die trog leeggemaak en weer na die put gehardloop om water te skep, en het vir al sy kamele geput. Die man wat haar verwonder het, het stilgebly, om te weet of die HERE sy reis voorspoedig gemaak het of nie. En terwyl die kamele klaar gedrink het, neem die man 'n goue oorring van 'n halwe sikkel en twee armbande vir haar hande van tien sikkels goud; Wie se dogter is jy? sê tog vir my: is daar plek in jou vader se huis vir ons om in te vernag? En sy sê vir hom: Ek is die dogter van Betuel, die seun van Milka, wat sy vir Nahor gebaar het. Verder sê sy vir hom: Ons het genoeg strooi, voer en slaapplek. En die man het sy hoof neergebuig en die HERE aanbid. Toe sê hy: Geloofd sy die HERE, die God van my heer Abraham, wat my heer nie verootmoedig het van sy goedertierenheid en sy trou nie; En die meisie het gehardloop en hulle hierdie dinge van haar moeder se huis vertel. En Rebekka het 'n broer gehad, en sy naam was Laban; en Laban het na die man gehardloop, na die put. En dit het gebeur toe hy die oorring en armbande aan sy suster se hande sien, en toe hy die woorde van sy suster Rebekka hoor wat sê: So het die man met my gespreek; dat hy na die man gekom het; en kyk, hy staan by die kamele by die put. En hy sê: Kom in, geseëndes van die HERE; waarom staan jy daarbuite? want Ek het die huis gereed gemaak en plek vir die kamele. En die man het in die huis gekom, en hy het sy kamele losgemaak en vir die kamele strooi en voer gegee en water om sy voete te was en die voete van die manne wat by hom was. En daar is vleis voor hom voorgesit om te eet, maar hy het gesê: Ek sal nie eet voordat ek my opdrag vertel het nie. En hy sê: Spreek voort. En hy sê: Ek is Abraham se dienaar. Die HERE het my heer baie geseën; en hy het groot geword, en hy het aan hom kleinvee en beeste, silwer, goud, slawe, slavinne, kamele en esels gegee. Sara, die vrou van my heer, het vir my heer 'n seun gebaar toe sy oud was, en aan hom het hy alles gegee wat hy het. En my heer het my laat sweer en gesê: Jy mag vir my seun uit die dogters van die Kanaäniete in wie se land ek woon, geen vrou neem nie. Maar jy moet na die huis van my vader en na my familie gaan en 'n vrou vir my seun neem. En ek het vir my heer gesê: Miskien sal die vrou my nie volg nie. En hy het vir my gesê: Die HERE voor wie ek wandel, sal sy engel saam met jou stuur en jou weg voorspoedig maak; en jy moet vir my seun 'n vrou neem uit my geslag en uit my vader se huis. Dan sal jy van hierdie my eed ontslae raak as jy by my familie kom; en as hulle jou nie een gee nie, sal jy vry wees van my eed. En ek het vandag by die put gekom en gesê: HERE, God van my heer Abraham, as U my weg wat ek gaan, nou voorspoedig maak! Kyk, ek staan by die waterput; en as die maagd uitkom om water te skep, en ek vir haar sê: Gee my tog 'n bietjie water van jou kruik om te drink; En sy het vir my gesê: Drink jy albei, en ek sal ook vir jou kamele skep; laat dit die vrou wees wat die HERE vir die seun van my heer aangestel het. Voordat ek klaar in my hart gepraat het, het Rebekka uitgekom met haar kruik op haar skouer; en sy het afgegaan na die put en water geskep; en ek het vir haar gesê: Laat my tog drink. En sy het gou gemaak en haar kruik van haar skouer laat sak en gesê: Drink, en ek sal jou kamele ook laat drink; daarom het ek gedrink, en sy het die kamele ook laat drink. Ek het haar gevra en gesê: Wie se dogter is jy? En sy sê: Die dogter van Betuel, die seun van Nahor, wat Milka vir hom gebaar het; En ek het my hoof neergebuig en die HERE aanbid en die HERE, die God van my heer Abraham, geprys, wat my op die regte weg gelei het om die dogter van my heer se broer na sy seun te neem. En as julle nou vriendelik en waaragtig teenoor my heer wil handel, sê vir my; en so nie, sê vir my; dat ek regs of links kan draai. Toe antwoord Laban en Betuel en sê: Die saak kom van die HERE af; ons kan nie kwaad of goed met jou spreek nie. Kyk, Rebekka is voor jou, neem haar en gaan, en laat sy die vrou van jou heer se seun wees, soos die HERE gespreek het.
GENESIS 24:1-51 Die Boodskap (DB)
Abraham was nou baie oud, maar die Here was naby aan hom en dit het goed met hom gegaan. Op ’n dag het hy sy oudste en betroubaarste werker, die een wat in beheer van al sy geldsake was, nader geroep en vir hom gesê: “Kom sit jou hand op my heup en maak ’n belofte. Jy moet my in die Naam van die Here, die God van die hemel en die aarde, beloof dat jy nie vir my seun ’n Kanaänitiese vrou sal kies uit die mense waartussen ek bly nie. Jy moet na die land toe gaan waar ek vandaan kom. Daar moet jy tussen my eie mense vir my seun Isak ’n vrou gaan soek.” Abraham se werker was ’n bietjie bekommerd en het gevra: “En sê nou die jongmeisie wil nie saam met my kom nie? Moet ek u seun dan terugvat na die land waarvandaan u kom?” “Nee, hoegenaamd nie,” het Abraham gesê. “Moet tog nie dat my seun daarheen gaan nie. Baie lank gelede het die Here, die God van die hemele, my laat wegtrek van my pa se huis en van my mense se land. En die Here het my beloof dat Hy hierdie land waarin ek nou woon, eendag aan my nageslag sal gee. Moet dus nie bang wees nie, want die Here sal sy engel voor jou uitstuur en hy sal jou help om vir Isak ’n vrou te kry. As die jongmeisie nie wil saamkom nie, hoef jy nie verder te soek nie. Dan is jy vry van jou belofte aan my. Jy moet tog net nie my seun daarheen neem nie.” Die werker het sy hand op Abraham se heup gesit en hom opreg beloof om te doen wat hy gevra het. Die werker het toe tien van Abraham se kamele gevat en die beste geskenke, en hy is daar weg. Hy het reguit koers ingeslaan na ’n plek in die noorde van Mesopotamië. Dit was die stad waar Nahor, Abraham se broer, gewoon het. Een middag het die werker uiteindelik daar aangekom. Net buite die stad was daar ’n fontein en hy het die kamele daar laat drink. Dit was teen die aand, die tyd van die dag dat die vroue fontein toe gekom het om water vir die huis te skep. Die werker het gebid en gesê: “Here, U wat die God van my eienaar Abraham is, laat my tog vanmiddag die regte dinge doen en sê. Bewys u liefde vir my meester Abraham. Here, hier staan ek by die fontein en binnekort kom die meisies uit die stad om water te skep. Ek gaan vir een van hulle vra: ‘Gee my asseblief ’n bietjie water uit jou emmer om te drink,’ en as sy sê: ‘Drink gerus en bring ook jou kamele dat ek hulle kan water gee,’ sal ek weet dit is die vrou wat U vir Isak aangewys het. Dit sal ook die teken wees dat U aan meneer Abraham gedink het en dat U al die beloftes aan hom onthou het.” Voordat hy nog klaar gebid het, het Rebekka met ’n waterkruik op haar skouer daar aangekom. Sy was die dogter van Betuel. En Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou, Milka. Rebekka was ’n baie mooi jongmeisie wat nog glad nie by ’n man geslaap het nie. Sy het by die fontein se trappies afgestap, gebuk, haar kruik volgemaak en toe teruggestap. Abraham se werker het haar heeltyd dopgehou en toe gesê: “Kan ek asseblief ’n bietjie van die water in jou kruik kry?” Sy het gesê: “U is welkom, Meneer. Drink gerus.” Sy het vinnig die kruik van haar skouer afgetel en so gehou dat hy kon drink. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek gee sommer vir jou kamele ook water. Hulle kan drink soveel as wat hulle wil.” Sy het toe die res van die kruik se water in die trog gegooi en is op ’n drafstap fontein toe om nog te kry. So het sy aangehou totdat al die kamele klaar gedrink het. Abraham se werker het alles eenkant staan en dophou. Hy wou sien of die Here sy reis voorspoedig sou maak. Na die kamele klaar gedrink het, het hy ’n duur, goue ring gevat en dit vir haar gegee. Hy het ook twee kosbare, groot goue armbande geneem en dit om haar arms gesit. Daarna het hy haar gevra: “Wie is jou pa? Is daar dalk plek in sy huis vir my en my mense om te oornag?” “My pa se naam is Betuel. Hy is die seun van Nahor en Milka. En julle is baie welkom by my pa-hulle. Daar is strooi en kos in oorvloed en ook genoeg slaapplek vir almal.” Toe kon Abraham se werker dit nie meer hou nie. Hy het net daar op sy knieë geval en die Here geloof. “Loof die Here, die God van my eienaar Abraham, want Hy is getrou. Prys Hom, want Hy het gedoen wat Hy belowe het. Maak sy Naam groot, want Hy het my sommer reguit na meneer Abraham se mense toe gelei.” Na die man se gebed is die meisie huis toe en sy het haar ma alles gaan vertel. Rebekka se broer Laban het die storie gehoor en is reguit fontein toe om die man te ontmoet. Laban het die goue ring gesien asook die armbande, en hy het gehoor hoe sy suster van die man vertel. Dit is hoekom hy alles gelos het en vinnig fontein toe is. Daar het hy Abraham se werker gekry wat nog die hele tyd by sy kamele gestaan en wag het. Laban het gesê: “Vriend, kom saam met my huis toe. Jy is deur die Here geseën. Kom, waarom staan jy nog daar? By ons huis is daar baie plek vir jou en jou kamele.” Die man is toe saam met Laban huis toe. Daar gekom, het Laban die kamele afgelaai en vir hulle voer en strooi gegee. Hy het ook vir al die mense water gegee sodat hulle hulle kon was. Laban het ’n klomp kos vir die man gebring, maar dié het gesê: “Voordat ek eet, moet ek julle eers alles vertel.” “Goed dan,” het Laban gesê, “praat dan maar eers.” “Ek werk vir Abraham,” het hy begin. “Die Here het meneer Abraham geseën en hom ’n ryk man gemaak. Hy het hom troppe skape, bokke en beeste gegee asook baie silwer en goud, mans- en vrouewerkers en ook nog ’n klomp donkies en kamele. Sara, my meneer se vrou, het hom op ’n hoë ouderdom ’n seun gegee. En meneer Abraham het alles wat hy het, vir dié kind gegee. My meneer het my toe met ’n eed laat belowe dat ek nooit vir Isak ’n jongmeisie in Kanaän waar ons bly, sal gaan soek nie. Hy het gesê ek moet na sy pa se mense toe gaan, na sy stam, en daar vir Isak ’n vrou loop soek. Ek was bang en het geantwoord: ‘Sê nou sy wil nie saamkom nie? Wat dan?’ Hy het my gerusgestel en gesê: ‘Die Here vir wie ek nog altyd lief was, sal sy engel saamstuur en jou help om vir Isak ’n vrou by my pa se familie te kry. As my familie weier dat sy saam met jou terugkom, is jy vry van jou eed en van al jou verpligtings.’ “Toe ek vanmiddag by die fontein aangekom het, het ek net gebid: ‘Here, U is die God van meneer Abraham, help my asseblief met wat ek moet sê en doen. Here, ek gaan hier by die fontein bly staan en as hier ’n jongmeisie aankom, gaan ek haar vra om vir my water uit haar kruik te gooi. As sy instem en ook water vir my kamele aanbied, sal sy die vrou wees wat U vir my eienaar se seun gekies het.’ “Voor ek klaar gebid het, kom Rebekka met ’n waterkruik op die skouer aangestap. By die fontein het sy met die trappies afgeloop en water geskep. Toe sy wou terugstap, vra ek haar: ‘Kan ek asseblief ’n bietjie water kry?’ Sy het onmiddellik haar kruik afgetel en gesê: ‘Drink gerus. Ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Ek het gedrink en sy het die kamele water gegee. En ek het vir haar gevra: ‘Wie is jou pa?’ en sy het geantwoord: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en Milka.’ Dit is toe dat ek vir haar die ring aan haar neus gesit het asook die armbande wat sy aanhet. Daarna het ek in dankbaarheid voor die Here gebuig en Hom geprys. Ek het die God van meneer Abraham geloof omdat Hy my reguit na Rebekka toe gelei het. Ek het Hom geprys omdat ek een van meneer Abraham se eie mense vir Isak as vrou gekry het. “As u vandag my meester eer en liefhet, moet u dit asseblief vir my sê. As u nie so dink nie, moet u dit ook asseblief vir my sê.” Laban en Betuel het onmiddellik geantwoord: “Hierdie saak is van die Here. Wat ons nou ook al dink of sê, is nie van belang nie, want die Here het alles so laat gebeur. Hier is Rebekka dan. Vat haar saam en laat sy met Abraham se seun Isak trou, soos die Here gesê het.”
GENESIS 24:1-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Teen hierdie tyd was Abraham ’n baie ou man. Die HERE het hom op alle terreine geseën. Op ’n dag sê hy vir die oudste slaaf wat oor sy huishouding aangestel is: “Kom sit jou hand hier, en lê ’n eed af by die HERE, die God van die hemel en die aarde, dat jy nie sal toelaat dat my seun met een van hierdie plaaslike Kanaänitiese meisies trou nie. Gaan liewer na my geboorteland en my bloedverwante en soek daar ’n vrou vir my seun Isak.” Die slaaf antwoord hom: “Sê nou net ek kry nie ’n jong vrou wat bereid is om saam met my te kom nie? Mag ek Isak dan soontoe neem om weer by u bloedverwante te woon?” “Nee!” waarsku Abraham. “Pas op! Jy moet my seun nooit daarheen terugneem nie. Die HERE, die God van die hemel wat my uit my pa se huis en my geboorteland geroep het, het met ’n eed belowe om hierdie land aan my nageslag te gee. Hy sal sy engel voor jou uitstuur en sorg dat jy daar ’n meisie kry wat met my seun sal trou. Maar as sy onwillig is om saam met jou terug te kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie. Maar jy mag my seun nie daarheen terugneem nie.” Die slaaf het toe ’n eed afgelê dat hy Abraham se voorskrifte sou uitvoer. Hy het tien kamele gelaai met allerlei kosbare geskenke van Abraham. Daarna het hy vertrek na Mesopotamië, na die dorp waar Abraham se broer Nahor gewoon het. Daar aangekom, laat hy die kamele kniel by ’n fontein net buite die dorp. Dit was laatnamiddag en tyd dat die vroue uitkom om water te kom haal. “O HERE, God van my meester Abraham,” het hy gebid. “Laat ek suksesvol wees, en bewys u getrouheid aan my meester Abraham. Kyk, hier staan ek by hierdie fontein en die meisies is besig om hierheen te kom om water te kry. Ek sal vir een van hulle water vra om te drink. As sy sê ‘sekerlik, en ek sal sommer ook vir jou kamele water gee om te drink’ – laat dit die een wees wat U gekies het as vrou vir Isak. Dit sal ’n bevestiging wees van u troue liefde teenoor my meester.” Hy was nog besig om te bid toe ’n meisie met die naam Rebekka daar aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Haar pa se naam was Betuel, die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka. Rebekka was ’n besonder mooi meisie en het nog nooit by ’n man geslaap nie. Sy gaan af na die water toe, maak haar kruik vol en kom weer boontoe. Die slaaf hardloop oor na haar toe en vra: “Gee asseblief vir my water om te drink.” “Sekerlik, Meneer, drink gerus,” antwoord sy terwyl sy dadelik die kruik laat sak. Toe hy klaar gedrink het, sê sy vir hom: “Ek sal sommer ook vir u kamele water skep totdat hulle genoeg gehad het!” Sy maak toe gou haar kruik leeg in die drinkbak en gaan vinnig af na die water toe. Sy het aangehou om water vir die kamele aan te dra totdat almal genoeg gedrink het. Die slaaf het haar in stilte dopgehou en gewonder of dit werklik die een is wat die HERE beskik het dat hy moes teëkom. Toe die kamele klaar gedrink het, gee hy haar ’n goue ring van ’n halwe sikkel vir haar neus en twee armbande van tien sikkels goud. “Wie se dogter is jy?” vra hy. “Het jou pa dalk plek waar ons vannag kan slaap?” “My pa se naam is Betuel,” antwoord sy. “My oupa en ouma is Nahor en Milka. En ja, ons het genoeg strooi en voer vir die diere, en ook slaapplek.” Toe buig die man neer en aanbid die HERE. “Aan die HERE, die God van my meester Abraham, kom toe die lof,” sê hy. “Die HERE was goed vir my en getrou aan Abraham, want Hy het my reguit na my meester se bloedverwante toe gelei.” Die meisie hardloop toe na haar huis toe en vertel haar familie alles wat gebeur het. Rebekka se broer se naam was Laban. Hy het die neusring en die armbande gesien wat sy suster dra, en die storie gehoor wat sy vertel het. Daarom hardloop hy haastig na die fontein toe. Die man het nog daar by sy kamele gestaan. Laban sê vir hom: “Kom saam en bly oor by ons. U is ’n geseënde van die HERE. Hoekom sal u hier buitekant die dorp bly staan terwyl ek alreeds vir u slaapplek reggemaak het? Ek het ook plek reg vir u kamele.” Die man gaan toe saam met Laban huis toe. Laban het die kamele afgesaal, vir hulle voer gegee en strooi om op te slaap. Hy het ook vir die slaaf en die mense by hom water gegee om te was. Daarna is aandete bedien. Maar die slaaf sê: “Ek wil nie eet voordat ek vertel het waarom ek hierheen gekom het nie.” “Goed,” sê Laban, “vertel ons wat jy kom doen het.” “Ek is Abraham se slaaf,” verduidelik hy. “Die HERE het hom baie geseën sodat hy ryk geword het. Die HERE het hom troppe kleinvee en beeste gegee, ’n fortuin aan goud en silwer, en baie slawe, kamele en donkies. “Toe Sara, my meester se vrou, alreeds bejaard was, het sy geboorte gegee aan sy seun. My meester het alles wat hy besit aan hom bemaak. Hy het my met ’n eed laat belowe dat ek nie sou toelaat dat Isak met een van die Kanaänitiese meisies trou waar hy woon nie. ‘Gaan liewer na my familie toe en kry daar ’n vrou vir my seun,’ het hy beveel. “‘Maar sê nou ek kan nie ’n meisie kry wat bereid is om saam met my terug te gaan nie?’ het ek gevra. ‘Jy sal,’ het hy gesê, ‘want die HERE voor wie ek lewe, sal sy engel saam met jou stuur sodat jou sending suksesvol sal wees. Jy moet beslis onder my bloedverwante, uit my pa se mense, ’n vrou vir my seun kry. Maar as jy na my bloedverwante gaan en hulle weier dat sy kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie.’ “Vanmiddag, toe ek by die fontein aankom, het ek so gebid: O HERE, God van my meester Abraham, laat my tog asseblief slaag. Hier staan ek nou by die fontein. Ek sal vir ’n meisie wat kom water haal, vra: ‘Gee my asseblief water om te drink!’ As sy vir my sê: ‘Sekerlik, drink gerus, en ek sal sommer vir jou kamele ook water gee!’ – HERE, laat sý die een wees wat U bestem het as vrou vir die seun van my meester. “Ek het skaars so saggies klaar gebid, of ek sien Rebekka aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Sy het afgegaan na die fontein toe en haar kruik vol gemaak. Ek sê toe vir haar: ‘Gee asseblief vir my water om te drink.’ Sy het dadelik die kruik van haar skouer laat afsak sodat ek kon drink en gesê: ‘Sekerlik, Meneer, en ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Dit het sy gedoen. “Toe ek haar vra wie se dogter sy is, het sy gesê: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en sy vrou Milka.’ Dis toe dat ek haar die neusring en armbande gegee het. “Ek het gebuig en die HERE aanbid. Ek het die HERE, die God van my meester Abraham, geloof omdat Hy my op die regte pad gelei het sodat ek ’n vrou uit die familie van my meester se bloedverwante kon kry. Nou wil ek graag weet: Sal julle lojaal en getrou wees aan my meester, of nie? Sê vir my ja of nee sodat ek kan weet wat my te doen staan.” Laban en Betuel het geantwoord: “Dit kom van die HERE af. Wat kan ons dan sê? Hier is Rebekka. Neem haar en gaan. Ja, laat sy die vrou word van jou meester se seun soos die HERE bepaal het.”