Abraham was al baie oud. Die Here het Abraham baie ryk gemaak.
Abraham het vir sy hoofslaaf, die slaaf wat al sy goed opgepas het, gesê: “Sit asseblief jou hand onder my heup en belowe voor die Here, die God van die hemel en die aarde. Belowe dat jy nie my seun sal laat trou met 'n dogter van die Kanaäniete tussen wie ek woon nie. Belowe dat jy na my eie land en my familie sal gaan en dat jy daar vir my seun Isak 'n vrou sal gaan haal.”
Toe sê die slaaf vir Abraham: “Maar miskien sal die vrou nie saam met my na hierdie land wil kom nie. Moet ek dan jou seun laat teruggaan na Mesopotamië, die land van waar jy kom?”
Abraham het vir die slaaf gesê: “Jy moet nooit my seun na daardie land laat teruggaan nie. Die Here, die God van die hemel wat my uit my pa se familie en uit my geboorteland laat trek het, het met my gepraat en Hy het vir my belowe: ‘Ek sal hierdie land vir jou nageslag gee.’ Die Here sal sy engel stuur en jy sal hom volg, sodat jy vir my seun daar in my eie land 'n vrou kan kry. As die vrou nie saam met jou wil kom nie, dan kan jy nie doen wat jy belowe het nie. Maar jy moet nooit my seun daarnatoe laat teruggaan nie.”
Die slaaf sit toe sy hand onder sy eienaar Abraham se heup en hy belowe dat hy sal doen wat Abraham gevra het.
Die slaaf neem toe tien kamele van sy eienaar en hy gaan. Hy het baie presente van Abraham saamgeneem. Hy het na die land Mesopotamië gegaan, na die stad waar Nahor gewoon het.
Een middag laat het die slaaf die kamele laat rus by 'n fontein buite die stad. Dit was die tyd wanneer die meisies elke dag water kom haal het.
Die slaaf het gebid: “Here, God van my eienaar Abraham, U moet asseblief vandag 'n goeie ding met my laat gebeur en U moet goed wees vir my eienaar Abraham. Kyk, ek staan hier by die fontein, en die meisies kom uit die stad om water te kom skep. Ek sal vir 'n meisie vra: ‘Hou asseblief jou waterkruik sodat ek kan drink.’ As sy dan sê: ‘Jy mag drink, en ek sal jou kamele ook laat drink,’ dan sal ek weet U het haar gekies vir u dienaar Isak. Dan sal ek ook weet dat U doen wat U vir my eienaar belowe het.”
Hy was besig om dit te sê, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra. Sy was die dogter van Betuel, en Betuel was die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka. Die jong meisie was baie mooi, en sy het nog nie by 'n man geslaap nie. Sy het afgegaan na die fontein en sy het haar waterkruik volgemaak en weer boontoe gekom.
Die slaaf het na haar toe gehardloop en gevra: “Gee my asseblief 'n bietjie water uit jou waterkruik.”
Sy het gesê: “Drink, Meneer.”
Sy het die waterkruik gou tot op haar hand laat sak en sy het vir hom water gegee om te drink. Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal ook vir jou kamele water skep totdat hulle genoeg gedrink het.”
Sy gooi toe gou die water van haar kruik in die drinkbak en hardloop weer af na die fontein om water te skep. So het sy vir al die kamele water gegee.
Die slaaf het na haar gekyk om te sien of die Here vir hom die regte vrou gewys het of nie. Toe die kamele klaar gedrink het, neem die man 'n goue ring wat 'n halfsikkel weeg, en sit dit aan haar neus.
Hy het twee goue armbande geneem, elke armband het tien sikkels geweeg, en hy het dit aan haar arms gesit.
Hy vra toe: “Wie se dogter is jy? Sê asseblief vir my, is daar slaapplek vir ons in jou pa se huis?”
Sy het vir hom gesê: “Ek is 'n dogter van Betuel. Hy is die seun van Milka en Nahor. Daar is baie strooi en voer by ons, en ook slaapplek.”
Die slaaf het gekniel en voor die Here gebuig en gesê: “Ek prys U, Here, God van my eienaar Abraham. U was goed vir my eienaar en U het gedoen wat U belowe het. U het my gelei na my eienaar se broer toe.”
Die dogter het huis toe gehardloop en sy het vir haar ma gaan vertel wat gebeur het. Rebekka het 'n broer gehad. Sy naam was Laban. Laban het na die man toe gehardloop by die fontein. Hy het die neusring gesien en die armbande aan sy suster se arms. Toe hy hoor sy suster Rebekka vertel wat die man gesê het, het hy na die man toe gegaan. Die man het by die kamele by die fontein gestaan. Laban sê toe vir hom: “Kom saam. Die Here het jou geseën. Hoekom staan jy hier buite? Ek het al klaar die huis gereedgemaak vir jou en ook die plek vir die kamele.”
Hy het die man huis toe gebring, die kamele losgemaak en vir hulle strooi en kos gegee. Hy het vir die man water gegee om sy voete te was en ook vir die ander mans wat by hom was.
Hulle bring toe ook vir die man kos, maar hy sê: “Ek mag nie eet nie, ek moet eers vertel hoekom ek gekom het.”
En Laban sê: “Praat.”
Toe sê hy: “Ek is 'n slaaf van Abraham. Die Here het my eienaar baie geseën, en hy het ryk geword. Die Here het skape en bokke en beeste vir hom gegee, en ook silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies.
“My eienaar se vrou Sara het 'n seun gekry toe sy al oud was, en Abraham het vir die seun alles gegee wat hy het. Maar my eienaar het vir my gesê: ‘Ek woon in die land van die Kanaäniete, maar ek wil nie hê my seun moet met een van hulle dogters trou nie.’
“Ek moes dit belowe. Hy het vir my gesê: ‘Jy moet na my pa se familie toe gaan, na my eie mense toe, en jy moet daar vir my seun 'n vrou gaan haal.’ Ek het vir my eienaar gesê: ‘Maar miskien sal die vrou nie saam met my wil kom nie.’ En hy het toe vir my gesê: ‘Ek dien die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en Hy sal jou help om by my eie mense vir my seun 'n vrou te kry, by my pa se familie. As jy by my familie kom en hulle wil haar nie vir jou gee nie, dan kan jy nie doen wat jy vir my belowe het nie.’ Ek het vandag by die fontein gekom en ek het gebid: ‘Here, God van my eienaar Abraham, help my om reg te kry wat ek moet doen. Ek is nou hier by die fontein en ek sal vir die meisie wat water kom skep, sê: “Laat my asseblief 'n bietjie water uit jou waterkruik drink.” En as sy vir my sê: “Jy mag drink, en ek sal vir jou kamele ook water skep,” dan sal ek weet sy is die vrou wat die Here vir my eienaar se seun gekies het.’ Ek het nog nie klaar gebid nie, toe kom Rebekka daar. Sy het haar waterkruik op haar skouer gedra en sy het afgegaan na die fontein en water geskep. Ek sê toe vir haar: ‘Laat my asseblief water drink.’ Sy het dadelik haar waterkruik laat sak en vir my gesê: ‘Drink, en ek sal vir jou kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink, en sy het vir die kamele ook water gegee. Ek het vir haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ En sy het gesê: ‘Ek is Betuel se dogter. Betuel is Nahor en Milka se seun.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. Ek het gekniel en ek het die Here, die God van my eienaar Abraham, geprys. Hy het my reg gelei om die dogter van my eienaar se broer vir sy seun te kry. En nou, as julle goed wil wees vir my eienaar, sê dit vir my. Of as julle nie wil nie, sê dit ook vir my, sodat ek kan weet wat ek moet doen.”
Toe sê Laban en Betuel vir hom: “Hierdie plan kom van die Here. Ons kan nie vir jou ja of nee sê nie. Hier is Rebekka voor jou. Neem haar en gaan terug, sodat sy die vrou van jou eienaar se seun kan word. Dit is wat die Here gesê het.”