GENESIS 21:8-21

GENESIS 21:8-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die kind het grootgeword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham 'n groot fees gehou. Toe Sara die seun wat Hagar die Egiptiese slavin vir Abraham in die wêreld gebring het, sien lag, sê sy vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erf nie.” Abraham het ter wille van sy seun Ismael baie sleg gevoel oor wat sy gesê het, maar God het vir Abraham gesê: “Moenie sleg voel oor die kind en oor jou slavin nie. Luister na alles wat Sara vir jou sê, want uit Isak sal jou nageslag gebore word. Tog sal Ek die seun van die slavin 'n nasie laat word, want hy is jou kind.” Vroeg die volgende môre het Abraham kos gevat en 'n velsak water en dit vir Hagar gegee. Hy het dit saam met die kind op haar rug gesit en haar weggestuur. Sy is toe weg en het in die Bersebawoestyn rondgeswerf. Toe die water in die velsak opraak, het sy die kind onder 'n doringbos neergesit en 'n entjie daarvandaan gaan sit, omtrent so ver as 'n mens met 'n pyl en boog kan skiet, want sy het gedink: ek wil nie sien as die kind doodgaan nie. Terwyl sy so daar sit, het sy begin huil. God het die kind hoor huil, en die Engel van God het uit die hemel na Hagar geroep en vir haar gesê: “Wat is dit, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor. Staan op, tel die kind op en troos hom, want Ek sal hom 'n groot nasie laat word.” Toe het God haar oë oopgemaak en sy het 'n put met water gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en vir die kind water gegee. God was by die kind en hy het groot geword. Hy het in die woestyn gewoon en het handig geword met die pyl en boog. Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy ma het hom met 'n vrou uit Egipte laat trou.

GENESIS 21:8-21 Bybel vir almal (ABA)

Die kind Isak het grootgeword en opgehou om aan Sara te drink. Op daardie dag, toe Sara vir Isak gespeen het, het Abraham 'n groot fees gehou. Toe sien Sara dat Ismael lag. Ismael was die seun wat Hagar, die slavin uit Egipte, vir Abraham gekry het. Sara sê toe vir Abraham: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg. Hierdie seun van die slavin mag nie erf saam met my seun Isak nie.” Abraham het gedink dit is verkeerd wat Sara gesê het oor sy seun Ismael. Maar God het vir Abraham gesê: “Moenie dink dit is verkeerd wat Sara gesê het oor jou seun en oor jou slavin nie. Luister na alles wat sy vir jou sê, want die nageslag van Isak sal jóú nageslag wees. Maar Ek sal die seun van jou slavin ook 'n volk laat word, want hy is jou kind.” Abraham het vroeg die volgende oggend brood en 'n velsak vol water geneem en hy het dit vir Hagar gegee. Hy het dit op haar skouer gesit en hy het haar en die kind weggestuur. Hagar het gegaan en sy het in die Berseba-woestyn rondgeswerf. Toe die water in die velsak op was, het sy die kind onder 'n boompie neergesit. Sy het 'n bietjie verder gaan sit, omtrent so ver soos 'n mens met 'n pyl kan skiet. Sy het gesê: “Ek wil nie sien hoe my kind sterf nie.” Sy het 'n bietjie verder gaan sit en sy het hard begin huil. God het gehoor dat die seun huil. Die Engel van God het uit die hemel met Hagar gepraat en Hy het vir haar gevra: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het gehoor dat die seun huil daar waar hy lê. Staan op en tel jou kind op. Help hom, want Ek sal hom 'n groot volk laat word.” God het Hagar se oë oopgemaak, en sy het 'n fontein gesien. Sy het die velsak vol water gaan maak en sy het haar seun daarvan laat drink. God was altyd by Ismael. Hy het grootgeword en in die woestyn gewoon. Hy het geleer om baie goed met 'n pyl en boog te skiet. Hy het in die Paran-woestyn gewoon. Sy ma het vir hom 'n vrou uit Egipte gekry, en hy het met haar getrou.

GENESIS 21:8-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het 'n groot maaltyd berei op die dag toe Isak gespeen is. Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot; en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie. En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun. Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag genoem word. Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot 'n nasie maak, omdat hy jou kind is. Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en 'n sak met water geneem en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Berséba. En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp en geloop en op 'n afstand gaan sit so ver as 'n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op 'n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween. Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is. Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom 'n groot nasie maak. Daarop het God haar oë geopen, en sy sien 'n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink. En God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en 'n boogskutter geword: hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem.

GENESIS 21:8-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die kind het gegroei en is gespeen. Abraham het op die dag toe Isak gespeen is, 'n groot feesmaal gehou. Sara sien toe dat Hagar, die Egiptiese vrou, se seun, wat sy vir Abraham in die wêreld gebring het, spottend lag. Sy het vir Abraham gesê: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun, saam met Isak, erf nie.” Maar die saak was heeltemal verkeerd in Abraham se oë, omdat dit sy seun was. God het egter vir Abraham gesê: “Laat die saak van die seun en jou slavin nie verkeerd wees in jou oë nie. Alles wat Sara vir jou sê – luister na haar! Want daar sal na jou nageslag met die naam van Isak verwys word. Maar ook die seun van die slavin sal Ek tot 'n nasie maak, omdat hy jou nageslag is.” Abraham het die môre vroeg opgestaan. Hy neem toe brood en 'n sak water, en gee dit vir Hagar. Hy het dit op haar skouer gesit en ook die kind, en haar toe weggestuur. Sy het vertrek, en in die woestyn van Berseba rondgedwaal. Toe die water in die sak opraak, het sy die kind onder een van die struike neergesit. Sy loop toe en gaan sit aan die ander kant, so ver weg as wat mens met 'n pyl kan skiet, want sy het gedink: “Ek wil nie die dood van die kind aanskou nie.” Terwyl sy so daar sit, het sy hardop begin huil. God het die seun se gehuil gehoor. Toe roep die •Engel van God na Hagar uit die hemel en vra vir haar: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die gehuil van die seun, daar waar hy is, gehoor. Staan op, tel die seun op en hou hom styf vas, want tot 'n groot nasie wil Ek hom maak.” God maak toe haar oë oop, en sy sien 'n put! Sy loop toe, maak die watersak vol en laat die seun drink. God was met die seun, en hy het opgegroei. Hy het in die woestyn gewoon, en hy het 'n boogskutter geword. Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem.

GENESIS 21:8-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die kind het grootgeword en is gespeen, en Abraham het 'n groot feesmaal gehou op dieselfde dag dat Isak gespeen is. En Sara het gesien hoe die seun van Hagar, die Egiptenaar, wat sy vir Abraham gebore het, spot. Daarom sê sy vir Abraham: Verdryf hierdie slavin en haar seun, want die seun van hierdie slavin sal nie saam met my seun, Isak, erfgenaam word nie. Die saak was baie ernstig in Abraham se oë vanweë sy seun. God het vir Abraham gesê: Laat dit nie sleg wees in jou oë vanweë die seun en vanweë jou slavin nie; In alles wat Sara aan jou gesê het, luister na haar stem; want in Isak sal jou nageslag genoem word. Ek sal ook uit die seun van die slavin 'n nasie maak, want hy is jou nageslag. Abraham het die môre vroeg opgestaan en brood en 'n kruik water geneem en dit aan Hagar gegee en dit op haar skouer en die kindjie gesit en haar weggestuur; en sy het weggegaan en in die woestyn rondgedwaal. Berseba. Die water in die bottel was op, en sy het die kind onder een van die struike gegooi. Sy het gegaan en haar teenoor hom gaan sit, 'n entjie verder, soos 'n boogskoot; want sy het gesê: Laat my nie die dood van die kind sien nie. En sy het teenoor hom gaan sit en haar stem verhef en geween. God het die stem van die seun gehoor; en die engel van God het na Hagar uit die hemel geroep en vir haar gesê: Wat is dit met jou, Hagar? Moet nie vrees nie; want God het die stem van die seun gehoor waar hy is. Staan op, lig die seun op en hou hom in jou hand; want Ek sal hom 'n groot nasie maak. God het haar oë geopen, en sy het 'n fontein met water gesien; en sy het gegaan en die kruik vol water gemaak en die seuntjie laat drink. God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gaan woon en 'n boogskutter geword. En hy het in die woestyn Paran gewoon, en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem.

GENESIS 21:8-21 Die Boodskap (DB)

Isak het grootgeword en sy ma het later opgehou om hom te borsvoed. Die dag toe dit gebeur, het Abraham ’n groot fees gehou. Sara het gesien dat Ismael eenmaal vir Isak lag. Ismael was Abraham se kind by die Egiptiese vrou Hagar. Sara het Abraham beveel: “Smyt hierdie Egiptiese vrou en haar kind onmiddellik uit. Haar kind kan verseker nie saam met my kind erf nie.” Abraham was baie ongelukkig, want hy was lief vir Ismael. Maar God het vir hom gesê: “Moenie so ongelukkig oor die seun en sy ma wees nie. Maak soos Sara gesê het, want deur Isak sal Ek jou nageslag bou. Met Hagar en Ismael sal dit ook goed gaan. Uit hom sal daar ’n groot nasie kom, want hy is jou kind.” Die volgende dag is Hagar en Ismael toe daar weg. Vroegoggend het Abraham ’n klompie broodrolletjies gepak en ’n watersak volgemaak. Hy het alles op Hagar se rug gesit, hulle gegroet en weggestuur. Hy het gesien hoe hulle in die verte verdwyn. Hagar het in die Bersebawoestyn rondgedwaal. Hulle water het opgeraak. Sy het die kind onder ’n bos neergesit. Sy het eenkant toe gestap, omtrent so ver as wat ’n mens met ’n pyl kan skiet. Sy wou nie sien hoe haar kind doodgaan nie. Terwyl sy daar eenkant sit, het sy begin huil. God het gehoor toe die kind huil en deur sy Engel uit die hemel gesê: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees jou kind gaan sterf nie. God het hom gehoor daar waar hy onder die struike lê. Gaan tel hom op en troos hom, want Ek sal hom nog eendag ’n groot nasie maak.” Toe het God Hagar se oë laat oopgaan en sy het ’n fontein met helder water gesien. Sy het die watersak volgemaak en die seun ook laat drink. God was naby Ismael en hy het grootgeword. Hy het in die woestyn gewoon en was ’n goeie jagter. Hy het in die omgewing van die Paranwoestyn gewoon en sy ma het vir hom ’n Egiptiese vrou gekry.

GENESIS 21:8-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Isak het groter geword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ’n groot fees gereël om die geleentheid te vier. Maar toe Sara opmerk hoe die seun van Abraham en Hagar vir Isak staan en lag, het sy by Abraham aangedring: “Raak ontslae van die slavin en haar seun! Ek sal nie toelaat dat hy, die seun van ’n slavin, die erfporsie met my seun, Isak, deel nie!” Dit het Abraham hewig ontstel, want Ismael was tog ook sy seun. Maar God sê vir Abraham: “Moenie oor die seun en jou slavin ontsteld word nie. Doen soos Sara vra, want uit Isak sal jou nageslag voortgesit word. Ek sal egter ook die nageslag van Hagar se seun tot ’n groot nasie maak, want hy is jou seun.” Die volgende oggend het Abraham vroeg opgestaan. Hy het padkos voorberei en ’n velsak met water oor Hagar se skouers gehang. Toe stuur hy haar en hulle seun weg. Sy het doelloos in die wildernis van Berseba rondgedwaal. Toe die water op was, het sy die seun in die koelte van ’n bos gelos. Sy self het ’n entjie daarvandaan gaan sit, so ver as wat ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet. “Ek wil nie sien hoe my seun sterf nie,” het sy in trane gesê. Maar God het die seun hoor huil. Toe roep die engel van God vir Hagar uit die hemel: “Hagar, wat is verkeerd? Moenie bang wees nie! God het die seun gehoor huil daar waar hy onder die bos lê. Gaan na hom toe en vertroos hom, want Ek gaan sy nageslag ’n groot nasie maak.” Toe maak God Hagar se oë oop en sy sien ’n put met water. Sy het haar watersak vol gemaak en vir die seun water gegee om te drink. God was met die seun. Hy het in die Paranwoestyn grootgeword en ’n knap boogskutter geword. Sy ma het gesorg dat hy later met ’n Egiptiese meisie trou.