Die kind het gegroei en is gespeen. Abraham het op die dag toe Isak gespeen is, 'n groot feesmaal gehou. Sara sien toe dat Hagar, die Egiptiese vrou, se seun, wat sy vir Abraham in die wêreld gebring het, spottend lag. Sy het vir Abraham gesê: “Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun, saam met Isak, erf nie.” Maar die saak was heeltemal verkeerd in Abraham se oë, omdat dit sy seun was. God het egter vir Abraham gesê: “Laat die saak van die seun en jou slavin nie verkeerd wees in jou oë nie. Alles wat Sara vir jou sê – luister na haar! Want daar sal na jou nageslag met die naam van Isak verwys word. Maar ook die seun van die slavin sal Ek tot 'n nasie maak, omdat hy jou nageslag is.”
Abraham het die môre vroeg opgestaan. Hy neem toe brood en 'n sak water, en gee dit vir Hagar. Hy het dit op haar skouer gesit en ook die kind, en haar toe weggestuur. Sy het vertrek, en in die woestyn van Berseba rondgedwaal.
Toe die water in die sak opraak, het sy die kind onder een van die struike neergesit. Sy loop toe en gaan sit aan die ander kant, so ver weg as wat mens met 'n pyl kan skiet, want sy het gedink: “Ek wil nie die dood van die kind aanskou nie.” Terwyl sy so daar sit, het sy hardop begin huil. God het die seun se gehuil gehoor. Toe roep die •Engel van God na Hagar uit die hemel en vra vir haar: “Wat is fout, Hagar? Moenie bang wees nie, want God het die gehuil van die seun, daar waar hy is, gehoor. Staan op, tel die seun op en hou hom styf vas, want tot 'n groot nasie wil Ek hom maak.” God maak toe haar oë oop, en sy sien 'n put! Sy loop toe, maak die watersak vol en laat die seun drink.
God was met die seun, en hy het opgegroei. Hy het in die woestyn gewoon, en hy het 'n boogskutter geword. Hy het in die Paranwoestyn gewoon, en sy moeder het vir hom 'n vrou uit Egipteland geneem.