GENESIS 21:22-34

GENESIS 21:22-34 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd het koning Abimelek en Pikol, die hoof van sy leër, vir Abraham gesê: “God help jou met alles wat jy doen. Jy moet nou belowe dat jy nie vals sal wees teen my of teen my kinders of my nageslag nie. Ek was vriendelik met jou, en jy moet ook vriendelik wees met my en met hierdie land waar jy 'n vreemdeling is.” Abraham het gesê: “Ek belowe.” Later het Abimelek se manne 'n put van Abraham vir hulleself gevat. Abraham het by Abimelek daaroor gekla. Maar Abimelek het gesê: “Ek weet nie wie dit gedoen het nie. Jy het ook nie voorheen vir my daarvan vertel nie. Ek het vandag die eerste maal daarvan gehoor.” Abraham neem toe skape, bokke en beeste, en hy gee dit vir Abimelek. So het hulle twee 'n ooreenkoms gemaak. Maar Abraham het sewe skaap-lammers apart gehou, en Abimelek het vir Abraham gevra: “Wat wil jy doen met daardie sewe lammers wat jy apart gehou het?” Abraham het geantwoord: “Jy moet hierdie sewe lammers van my neem. As jy dit neem, dan sal dit beteken jy weet dat dit ek is wat hierdie put gegrawe het, nie jou manne nie.” Daarom noem hulle die plek Berseba, want hulle twee het daar 'n ooreenkoms gemaak. Hulle het belowe dat hulle nie die ooreenkoms sal breek nie. Nadat hulle die ooreenkoms by Berseba gemaak het, het Abimelek en Pikol, die hoof van sy leër, teruggegaan na die Filistyne se land. Abraham het 'n tamariskboom by Berseba geplant. Hy het die Here, die ewige God, aanbid. Abraham het lank in die Filistyne se land gewoon. Hulle het hom toegelaat om daar te woon.

GENESIS 21:22-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Destyds het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, na Abraham toe gegaan, en Abimelek het vir hom gesê: “God is by jou in alles wat jy aanpak. Beloof my dan nou met 'n eed in die Naam van God dat jy nie vals sal optree teen my of my kinders of my kleinkinders nie, dat jy net so eerbaar sal optree teenoor my en teenoor die land waarin jy nou woon, as wat ek teenoor jou opgetree het.” Toe het Abraham gesê: “Ek beloof dit.” Abraham het toe by Abimelek beswaar gemaak oor die waterput wat deur Abimelek se slawe afgevat is. Toe sê hy vir Abraham: “Ek weet nie wie dit gedoen het nie. Jy het my dit ook nie voorheen vertel nie. Ek hoor nou eers daarvan.” Daarna het Abraham kleinvee en grootvee gevat en vir Abimelek gegee, en hulle twee het 'n ooreenkoms gesluit. Abraham het ook nog sewe skaaplammers uit sy trop uitgekeer, en Abimelek het vir hom gevra: “Wat wil jy maak met die sewe skaaplammers wat jy uitgekeer het?” Abraham het geantwoord: “Jy moet hierdie sewe lammers by my vat en daarmee erken dat ek hierdie put gegrawe het.” Die plek word Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed teenoor mekaar afgelê. Nadat hulle die ooreenkoms by Berseba gesluit het, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na die land van die Filistyne toe, en Abraham het 'n tamarisk by Berseba geplant en daar die Naam van die Here, die ewige God, aangeroep. Abraham het lank in die land van die Filistyne gewoon.

GENESIS 21:22-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In daardie tyd het Abimeleg en Pigol, die bevelvoerder van sy leër, vir Abraham gesê: “God is met jou in alles wat jy doen. Daarom, sweer hier vir my by God dat jy my, my kinders en my nageslag nie sal bedrieg nie. In ooreenstemming met die trou wat ek aan jou bewys het, moet jy ook aan my en aan die land waarin jy as •vreemdeling woon, trou bewys.” Abraham het gesê: “Ek sweer.” Maar Abraham het Abimeleg tereggewys oor 'n put waarop Abimeleg se dienaars beslag gelê het. Abimeleg het geantwoord: “Ek weet nie wie so iets sou doen nie. Jy het my nie daaroor ingelig nie, en ook het ek nie daarvan gehoor nie, tot vandag toe nie.” Abraham het toe kleinvee en beeste geneem en dit vir Abimeleg gegee, en hulle twee het 'n verdrag gesluit. Abraham het egter sewe ooilammers uit die kleinvee eenkant gehou. Abimeleg vra toe vir Abraham: “Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy eenkant hou?” Hy het geantwoord: “Ek doen dit omdat jy sewe ooilammers uit my hand moet aanvaar, sodat dit vir my as getuienis kan dien dat ek hierdie put gegrawe het.” Daarom word daardie plek Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed afgelê. Nadat hulle by Berseba 'n verdrag gesluit het, het Abimeleg en Pigol, die bevelvoerder van sy leër, gereedgemaak en teruggekeer na die land van die Filistyne. Abraham het 'n tamarisk in Berseba geplant en daar die Naam van die HERE, die Ewige God, aangeroep. Abraham het 'n lang tyd as vreemdeling in die land van die Filistyne gewoon.

GENESIS 21:22-34 Die Boodskap (DB)

Ongeveer dieselfde tyd het Abimelek en sy leërhoof, Pikol, Abraham besoek en gesê: “Abraham, God is altyd naby aan jou. Wat jy ook al doen, Hy is by jou. Dit is waarom jy my vandag iets voor God moet beloof. Jy moet my jou woord gee dat jy altyd vir my goed sal wees. Ook vir my kinders en hulle kinders, ook vir hierdie land en al sy mense. Onthou, ek was ook vir julle goed. Destyds toe jy en jou vrou by ons was, was ek goed vir julle.” Abraham het geantwoord: “Goed, ek beloof dit.” Abraham het Abimelek egter van ’n slegte voorval by ’n waterput vertel. Abimelek se manne het op ’n dag die put vir hulleself gevat en Abraham se mense kon dit toe nie meer gebruik nie. Abimelek was ontsteld hieroor en het gesê: “Ek weet nie wie so iets gedoen het nie. Waarom het jy my nie vroeër vertel nie? Dit is die eerste woord wat ek daarvan hoor.” Toe het Abraham skape en beeste gevat en vir Abimelek gegee. Hulle het ’n ooreenkoms met mekaar gemaak. Abraham het toe sewe skaaplammers in die trop gevang. Abimelek het hom verbaas gevra: “Wat doen jy nou? Wat beteken hierdie sewe skaaplammers wat jy eenkant gesit het?” Abraham het geantwoord: “Met hierdie skaaplammers wat ek jou gee, wil ek vir jou sê dat ek self hierdie put gegrawe het en dat dit myne is.” Tot vandag toe word hierdie plek Berseba genoem (wat “put van sewe” of “put van eed” beteken). Dit is waar Abraham en Abimelek ooreengekom het om altyd vir mekaar goed te wees. Na die ooreenkoms by Berseba het Abimelek en sy leërhoof, Pikol, weer na die Filistyne se land teruggekeer. Abraham het ’n tamarisk by Berseba geplant en daar gebid. Hy het die Here, die ewige God, daar aangeroep. Abraham het nog vir baie jare in die land van die Filistyne gewoon.

GENESIS 21:22-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Omstreeks hierdie tyd kom Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, op besoek by Abraham. “Dit is baie duidelik dat God jou help in alles wat jy doen,” sê Abimelek. “Belowe my met ’n eed in God se Naam dat jy nie oneerlik teenoor my sal optree nie, ook nie teenoor my kinders of my kleinkinders nie. Ek was lojaal aan jou; belowe nou dat jy ook aan my en hierdie land lojaal sal wees solank jy lewe.” Abraham antwoord hom: “Nou goed, ek belowe!” Hy het egter by Abimelek beswaar gemaak oor ’n waterput wat Abimelek se slawe met geweld van hom afgeneem het. “Dis die eerste keer dat ek hiervan hoor,” sê Abimelek. “Ek het nie die vaagste benul wie dit gedoen het nie. Hoekom het jy my nie al eerder gesê nie?” Abraham gee toe kleinvee en beeste vir Abimelek en hulle sluit ’n ooreenkoms met mekaar. Maar toe Abraham nog sewe ooilammers eenkant sit, vra Abimelek: “Wat doen jy nou met die ooilammers?” Abraham antwoord: “Neem dit. Dis ’n sigbare teken dat jy erken dat ek hierdie put gegrawe het.” Sedert dié voorval staan die put bekend as Berseba, die put van die eed, want dis waar hulle ’n eed teenoor mekaar afgelê het. Ná die sluiting van die ooreenkoms, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na hulle tuiste in die land van die Filistyne. Abraham plant toe ’n tamarisk by Berseba en het die HERE, die ewige God, daar aanbid. Abraham het nog vir ’n lang tyd in die land van die Filistyne gewoon.