GENESIS 18:20-33

GENESIS 18:20-33 Die Boodskap (DB)

Die Here het toe vir Abraham alles vertel. “Ek is op pad Sodom en Gomorra toe,” het Hy gesê. “Hulle sonde skreeu ten hemele. Hulle doen die allerverskriklikste dinge. En Ek het kom kyk wat aangaan en of alles so sleg is. Ek moet uitvind of alles oor Sodom en Gomorra waar is of nie.” Twee van die mans het solank aangestap na Sodom toe terwyl die Here nog ’n rukkie met Abraham gepraat het. Abraham vra Hom toe: “Gaan U almal doodmaak, skuldiges en onskuldiges? Sê nou daar is 50 goeie mense in die stad; gaan U dit nogtans verwoes? Sal U nie die stad ter wille van hierdie 50 spaar nie? U sal mos nie goeie mense saam met slegtes laat ly nie. So iets sal U mos nie doen nie. U wat die goeie regter is van die hele wêreld, sal mos nie skuldiges en onskuldiges saam vernietig nie.” Die Here het gesê: “As daar 50 goeie mense in Sodom is, sal Ek die stad ter wille van hulle spaar.” Abraham het weer gepraat: “Voor U is ek niks nie; net maar stof en as. En tog waag ek om U weer te vra: Sê nou daar is nie heeltemal 50 nie, maar net 45 goeie mense. Sal U dan die stad vernietig? Gaan vyf soveel verskil maak?” “Nee,” sê die Here toe, “as daar 45 is, sal Ek nie die stad vernietig nie.” “En sê maar daar is net 40?” het Abraham gevra. Weer het die Here gesê dat Hy nie die stad sal verwoes nie. Abraham sê toe: “Here, moet tog nie kwaad word as ek weer vra nie, maar sê nou daar is net 30?” Weer het die Here Abraham verseker dat Hy die stad sal spaar. Abraham het weer probeer: “Dis verwaand van my om met die Here te redeneer. Maar as daar net twintig is, Here, wat dan?” Weer het die Here gesê dat Hy die stad nie sal vernietig nie. En Abraham het ’n laaste keer gevra: “Here, moenie kwaad wees nie, maar as daar net tien is, wat dan?” En weer het die Here Abraham gerusgestel dat Hy die stad ter wille van hierdie tien sal spaar. Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy omgedraai en in die rigting van Sodom aangestap. En Abraham het teruggegaan huis toe.

GENESIS 18:20-33 Bybel vir almal (ABA)

Toe sê die Here: “Ek hoor baie mense kla oor die stede Sodom en Gomorra, want daardie mense doen baie sonde. Ek wil afgaan en gaan kyk of hulle regtig doen wat Ek gehoor het. Ek wil dit weet.” Die mans het omgedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog voor die Here gestaan. Abraham kom toe nader en vra: “Sal U die goeie mense saam met die slegte mense straf? Miskien is daar 50 goeie mense in die stad. Sal U hulle ook doodmaak en die hele stad straf as daar 50 goeie mense in die stad is? Sal U die goeie mense saam met die slegte mense doodmaak? U sal nie dieselfde doen met goeie mense en met slegte mense nie. U sal dit nooit doen nie. U, die Regter van die hele aarde, sal reg oordeel.” Toe sê die Here: “As Ek in Sodom 50 goeie mense kry, dan sal Ek al die mense in die stad se sonde vergewe.” Toe sê Abraham weer: “Ek is 'n mens wat van stof en as gemaak is. Ek was bang, maar ek hét met die Here gepraat. Miskien is daar vyf minder as 50 goeie mense. Sal U die hele stad verwoes oor vyf mense?” Toe sê die Here: “Ek sal dit nie verwoes nie as Ek daar 45 goeie mense kry.” Abraham het nog 'n maal met die Here gepraat en gesê: “Miskien is daar 40 goeie mense.” En die Here het gesê: “As daar 40 is, dan sal Ek dit nie doen nie.” Toe sê Abraham: “Asseblief, Here, moenie kwaad word as ek praat nie. Miskien is daar 30 goeie mense.” Die Here het geantwoord: “Ek sal dit nie doen nie as Ek daar 30 goeie mense kry.” Toe sê Abraham: “Ek was bang, maar ek hét met die Here gepraat. Miskien is daar 20 goeie mense.” En die Here sê: “Ek sal die stad nie verwoes nie as daar 20 goeie mense is.” Toe sê Abraham: “Moet asseblief nie kwaad word as ek nog hierdie laaste maal praat nie. Miskien is daar tien goeie mense.” En die Here het gesê: “Ek sal die stad nie verwoes nie as daar tien goeie mense is.” Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan. Abraham het teruggegaan na sy tent.

GENESIS 18:20-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot, en hulle sonde is waarlik baie swaar. Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet. Toe het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die HERE. En Abraham het nader gekom en gesê: Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring? Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie? Toe sê die HERE: As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad, dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil. En Abraham antwoord en sê: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek alhoewel ek stof en as is. Miskien sal daar aan die vyftig regverdiges vyf ontbreek; sal U ter wille van vyf die hele stad verwoes? En Hy antwoord: Ek sal dit nie verwoes as Ek daar vyf-en-veertig vind nie. En hy het nog verder met Hom gespreek en gesê: Miskien sal daar veertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die veertig nie doen nie. Verder sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie, en mag ek nog iets sê. Miskien sal daar dertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit nie doen as Ek daar dertig vind nie. Toe sê hy: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek. Miskien sal daar twintig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die twintig nie verwoes nie. Toe sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie en laat my net hierdie keer mag spreek. Miskien sal daar tien gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie. En die HERE het weggegaan toe Hy opgehou het om met Abraham te spreek, en Abraham het na sy woonplek teruggekeer.

GENESIS 18:20-33 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe sê die Here: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot! Ek wil gaan kyk sodat Ek kan weet of hulle ooreenkomstig die geroep wat tot by My gekom het, gehandel het of nie.” Die mans het weggedraai Sodom toe, maar die Here het by Abraham bly staan. Abraham het toe nader gekom na die Here toe en gevra: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie? U sal tog nie so iets doen en die regverdiges saam met die goddeloses om die lewe bring nie! U sal tog nie die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” Toe sê die Here: “As Ek vyftig regverdiges in Sodom kry, sal Ek die hele plek spaar oor hulle.” Abraham het gesê: “Ek is maar net stof en as, en tog het ek gewaag om met die Here te praat. Sê nou die regverdiges is vyf minder as vyftig: sal U die hele stad vir vyf verdelg?” Hierop antwoord die Here: “Ek sal dit nie verdelg as Ek vyf en veertig daar kry nie.” Toe praat Abraham weer met die Here: “Miskien sal daar veertig gevind word,” en die Here sê: “Ook oor veertig sal Ek dit nie doen nie.” Abraham sê toe: “Moet tog nie kwaad word as ek nog 'n keer praat nie, Here. Miskien sal daar dertig te kry wees,” en die Here sê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar kry nie.” Maar Abraham sê: “Ek bly waag om met die Here te praat. Miskien word daar twintig gekry,” en die Here sê: “Oor die twintig sal Ek dit nie verdelg nie.” Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.” En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.” Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en Abraham het na sy plek toe teruggegaan.

GENESIS 18:20-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE sê toe: “Die hulpgeroep oor Sodom en Gomorra is werklik groot, en hulle sonde is werklik uitermate swaar. Ek wil afgaan en kyk of wat hulle gedoen het, volledig ooreenstem met die noodkreet oor die stad wat tot My gekom het, en indien nie, dan wil Ek dit weet.” Die manne het daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan. Maar Abraham het nog voor die HERE bly staan. Abraham gaan toe nader en vra: “Gaan U werklik •regverdiges saam met goddeloses verdelg? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad; sal U nogtans die stad verdelg en nie die plek vergewe ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie? U sal tog nooit so iets doen nie – om regverdiges saam met goddeloses te laat sterf, asof regverdiges soos goddeloses is! U sal tog nooit! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” Die HERE het Abraham geantwoord: “As Ek in Sodom, in die stad, vyftig regverdiges vind, sal Ek die hele plek vergewe ter wille van hulle.” Abraham antwoord toe en sê: “Kyk, ek het my verstout om met my Heer te praat, terwyl ek stof en as is. Dalk ontbreek vyf van die vyftig regverdiges. Sal U net oor vyf die hele stad verdelg?” Hy het geantwoord: “Ek sal dit nie verdelg as Ek daar vyf-en-veertig regverdiges vind nie.” Abraham het toe voortgegaan om met die HERE te praat; hy het gesê: “Miskien word daar veertig gevind?” Die HERE het geantwoord: “Ter wille van die veertig sal Ek dit nie doen nie.” Daarop sê hy: “My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog praat; dalk word daar dertig gevind.” Die HERE het gesê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar vind nie.” Abraham sê toe: “Kyk, ek het dit gewaag om met my Heer te praat. Dalk word daar twintig gevind?” Hy het geantwoord: “Ter wille van twintig sal Ek die stad nie verdelg nie.” Toe sê hy: “My Heer moet tog nie kwaad word nie! Ek wil nog net dié keer praat. Dalk word daar tien gevind.” Die HERE het gesê: “Ter wille van die tien sal Ek dit nie verdelg nie.” Die HERE het weggegaan toe Hy klaar met Abraham gepraat het. En Abraham het teruggegaan na sy woonplek.

GENESIS 18:20-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê die HERE: Omdat die geroep van Sodom en Gomorra groot is, en omdat hulle sonde baie swaar is; Ek sal nou afgaan en kyk of hulle heeltemal gehandel het volgens die geroep daarvan wat na my toe gekom het; en so nie, sal ek weet. En die manne het hulle aangesig daarvandaan omgedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog voor die aangesig van die HERE gestaan. En Abraham het nader gekom en gesê: Sal jy ook die regverdige saam met die goddelose vernietig? Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad; sal U ook die plek vernietig en nie spaar vir die vyftig regverdiges wat daarin is nie? Dit is ver van jou af om so te doen, om die regverdige saam met die goddelose dood te maak, en dat die regverdige moet wees soos die goddelose, wat ver van jou af is: Sal die Regter van die hele aarde nie reg doen nie? En die HERE het gesê: As Ek in Sodom vyftig regverdiges in die stad vind, sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil. En Abraham het geantwoord en gesê: Kyk tog, ek het dit op my geneem om met die HERE te spreek, wat maar stof en as is. Miskien sal daar vyf ontbreek van die vyftig regverdiges; sal U die hele stad verwoes weens gebrek aan vyf? En hy sê: As ek daar vyf en veertig vind, sal ek dit nie vernietig nie. En hy het weer met hom gespreek en gesê: Miskien sal daar veertig gevind word. En hy sê: Ek sal dit ter wille van veertig nie doen nie. En hy sê vir hom: Laat die HERE nie toornig wees nie, en ek sal spreek: Miskien sal daar dertig gevind word. En hy sê: Ek sal dit nie doen as ek daar dertig kry nie. En hy het gesê: Kyk nou, ek het my aangeneem om met die HERE te spreek: Miskien sal daar twintig gevind word. En hy sê: Ek sal dit ter wille van twintig nie vernietig nie. En hy sê: Laat die HERE tog nie toornig wees nie, en ek sal nog net hierdie een keer spreek: Miskien sal tien daar gevind word. En hy sê: Ek sal dit ter wille van tien nie vernietig nie. En die HERE het op pad gegaan toe Hy opgehou het om met Abraham te praat, en Abraham het na sy plek teruggekeer.

GENESIS 18:20-33 Die Boodskap (DB)

Die Here het toe vir Abraham alles vertel. “Ek is op pad Sodom en Gomorra toe,” het Hy gesê. “Hulle sonde skreeu ten hemele. Hulle doen die allerverskriklikste dinge. En Ek het kom kyk wat aangaan en of alles so sleg is. Ek moet uitvind of alles oor Sodom en Gomorra waar is of nie.” Twee van die mans het solank aangestap na Sodom toe terwyl die Here nog ’n rukkie met Abraham gepraat het. Abraham vra Hom toe: “Gaan U almal doodmaak, skuldiges en onskuldiges? Sê nou daar is 50 goeie mense in die stad; gaan U dit nogtans verwoes? Sal U nie die stad ter wille van hierdie 50 spaar nie? U sal mos nie goeie mense saam met slegtes laat ly nie. So iets sal U mos nie doen nie. U wat die goeie regter is van die hele wêreld, sal mos nie skuldiges en onskuldiges saam vernietig nie.” Die Here het gesê: “As daar 50 goeie mense in Sodom is, sal Ek die stad ter wille van hulle spaar.” Abraham het weer gepraat: “Voor U is ek niks nie; net maar stof en as. En tog waag ek om U weer te vra: Sê nou daar is nie heeltemal 50 nie, maar net 45 goeie mense. Sal U dan die stad vernietig? Gaan vyf soveel verskil maak?” “Nee,” sê die Here toe, “as daar 45 is, sal Ek nie die stad vernietig nie.” “En sê maar daar is net 40?” het Abraham gevra. Weer het die Here gesê dat Hy nie die stad sal verwoes nie. Abraham sê toe: “Here, moet tog nie kwaad word as ek weer vra nie, maar sê nou daar is net 30?” Weer het die Here Abraham verseker dat Hy die stad sal spaar. Abraham het weer probeer: “Dis verwaand van my om met die Here te redeneer. Maar as daar net twintig is, Here, wat dan?” Weer het die Here gesê dat Hy die stad nie sal vernietig nie. En Abraham het ’n laaste keer gevra: “Here, moenie kwaad wees nie, maar as daar net tien is, wat dan?” En weer het die Here Abraham gerusgestel dat Hy die stad ter wille van hierdie tien sal spaar. Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy omgedraai en in die rigting van Sodom aangestap. En Abraham het teruggegaan huis toe.

GENESIS 18:20-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe sê die HERE vir Abraham: “Die boosheid van die mense van Sodom en Gomorra het rugbaar geword, want hulle doen alles wat sondig is. Ek wil afgaan om te gaan kyk of dit waar is of nie. Dan sal Ek vir seker weet.” Terwyl twee van die mans toe verder gaan in die rigting van Sodom, het die HERE nog ’n rukkie by Abraham bly staan. Abraham het nadergekom en gevra: “Sal U die onskuldiges saam met die skuldiges uitroei? Sê nou daar is 50 onskuldige mense in die stad. Sal U nie die stad ter wille van hulle spaar nie? U sal tog sekerlik nie die onskuldiges saam met die skuldiges laat doodgaan nie! Hoekom sou U die onskuldiges en die skuldiges almal oor een kam skeer? U sal dit tog sekerlik nie doen nie! Moet die regter van die hele aarde dan nie doen wat reg is nie?” Die HERE antwoord: “As Ek 50 onskuldige mense in Sodom kry, sal Ek ter wille van hulle die hele stad spaar.” Abraham het toe weer gepraat: “Aangesien ek gewaag het om met die Here te praat, al is ek maar net stof en as, laat my toe om weer te praat. Sê nou daar is 45? Sal U die stad verwoes net omdat daar vyf minder is?” Die HERE antwoord hom: “As Ek 45 kry, sal Ek dit nie verwoes nie.” Abraham het verder aangedring: “Veronderstel daar is net 40?” Die HERE antwoord: “Ek sal dit ter wille van 40 nie verwoes nie.” “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie, Here,” het Abraham gepleit. “Laat my toe om te praat. Wat daarvan as daar net 30 is?” Die HERE sê: “As Ek 30 daar vind, sal Ek dit nie verwoes nie.” Abraham het weer gevra: “Terwyl ek dit gewaag het om met U te praat, Here, laat my tog voortgaan. Wat as daar net twintig onskuldiges is?” Die HERE sê vir hom: “Ek sal dit nie verwoes as daar twintig is nie.” Uiteindelik sê Abraham: “Here, moet tog nie kwaad word nie. Ek sal net nog hierdie een keer praat. Sê nou daar is net tien?” En die HERE sê: “Ter wille van tien mense sal Ek dit nie verwoes nie.” Daarna het die HERE sy gesprek met Abraham beëindig en weggegaan. Abraham het na sy tent toe teruggegaan.