GENESIS 1:20-31
GENESIS 1:20-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.” God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed. Toe het God hulle geseën: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land.” Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag. Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard.” So het dit gebeur. God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.” So het dit gebeur. Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.
GENESIS 1:20-31 Bybel vir almal (ABA)
God het gesê: “Daar moet baie diere in die water wees en daar moet voëls onder die hemeldak vlieg.” God het die groot seediere gemaak, en alles wat in die see lewe. Hy het ook al die verskillende soorte voëls gemaak. God het gesien dit is goed. God het die diere in die see en die voëls geseën. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet meer word, en die see moet vol diere wees. Daar moet ook baie voëls op die aarde wees.” Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vyfde dag. God het gesê: “Daar moet baie soorte diere op die aarde wees – mak diere, diere wat kruip en wilde diere.” Dit het toe gebeur. God het die diere op die aarde gemaak, wilde diere, mak diere en diere wat kruip. God het gesien dit is goed. God het gesê: “Kom Ons maak 'n mens wat in ons plek kan regeer. Die mens moet hoof wees oor die visse in die see en oor die voëls in die lug. Hy moet ook hoof wees oor die mak diere en oor die hele aarde, en oor al die diere wat op die aarde kruip.” God het toe die mens gemaak om in sy plek te regeer. Hy het die mens gemaak om in sy plek hoof te wees. Hy het die mense so gemaak dat daar mans en vroue is. God het hulle geseën en vir hulle gesê: “Julle moet baie kinders kry en die aarde vol mense maak. Julle moet hoof wees oor die aarde en julle moet regeer oor die visse in die see, oor die voëls in die lug en oor al die diere wat op die aarde beweeg.” God het gesê: “Ek gee nou vir julle al die plante wat saad dra op die hele aarde, en al die bome wat vrugte en saad dra. Dit is die kos wat julle mag eet. Die gras en die groen plante is kos vir al die wilde diere, vir die voëls en al die ander diere wat op die aarde lewe.” Dit het gebeur. God het toe gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die sesde dag.
GENESIS 1:20-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En God het gesê: Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag. En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin 'n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so. Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
GENESIS 1:20-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
God het gesê: “Laat die water wemel met lewende wesens, en laat voëls oor die aarde vlieg langs die hemelgewelf.” God het volgens hulle aard die groot seediere geskep en al die lewende wesens wat rondbeweeg, waarvan die water wemel, en alle vlieënde voëls, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, word meer en vul die water in die seë; en laat die voëls meer word op die land.” En dit was aand en dit was oggend – 'n vyfde dag. God het gesê: “Laat die land lewende wesens voortbring volgens elkeen se aard: mak diere, kruipende diere en wilde diere van die land, volgens elkeen se aard.” Dit het toe so gebeur. God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens elkeen se aard, die mak diere volgens elkeen se aard, en al die diere wat op die grond kruip volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.” God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep. God het hulle geseën; God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit. Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg.” God het gesê: “Kyk, Ek gee vir julle al die gewasse wat saad dra, wat op die oppervlakte van die hele aarde is, en al die bome waaraan daar vrugte is, wat saad dra. Vir julle sal dit as voedsel dien. En vir al die diere van die aarde en vir al die voëls van die hemel en alles wat rondbeweeg op die aarde waarin lewensasem is, gee Ek al die groen gewasse as voedsel.” Dit het toe so gebeur. God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.
GENESIS 1:20-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
God het gesê: Laat die waters oorvloedig voortbring die ontroerende wesens wat lewe het, en voëls wat oor die aarde vlieg in die uitspansel van die hemel. God het groot walvisse gemaak en al die lewende wesens wat beweeg, wat die waters in oorvloed voortgebring het, volgens hulle soorte, en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte; en God het gesien dat dit goed was. God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. Dit was aand en dit was môre die vyfde dag. God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee en kruipende diere en diere van die aarde volgens hulle soorte; en dit het so gebeur. God het die diere van die aarde volgens hulle soorte gemaak en vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die aarde kruip volgens hulle soorte; en God het gesien dat dit goed was. Toe het God gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see, oor die voëls van die hemel, oor die vee en oor al die diere wat op die hele aarde kruip. God het die mens geskape na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. God het hulle geseën, en vir hulle gesê: Wees vrugbaar, vermeerder, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die visse van die see, oor die voëls van die hemel en oor al die lewende wesens wat beweeg op die aarde. God het gesê: Kyk, Ek gee julle al die plante wat saad dra, wat op die hele aarde is, en al die bome wat vrugte dra en wat saad gee; vir julle moet dit voedsel wees. Maar aan al die diere van die aarde en aan al die voëls van die hemel en aan al die diere wat op die aarde kruip, waarin daar lewe is, het Ek al die groen plante as voedsel gegee. Dit het so gebeur. God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en gesien dit was baie goed. Dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
GENESIS 1:20-31 Die Boodskap (DB)
God het gesê: “Laat die waters wemel van alle soorte seediere en laat die voëls oor die lengte en die breedte van die hemelruim rondvlieg.” God het toe die groot seediere gemaak, so ook alle diere wat in die waters leef. God het ook elke denkbare soort voël gemaak. Hy was baie tevrede met al die seediere en voëls wat Hy gemaak het. God het hulle geseën en gesê: “Wees vrugbaar en word baie. Maak nou die water van die see vol met allerhande soorte seediere. En laat die hemelruim en die aarde vol swerms voëls wees.” Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vyfde dag van die skepping. God het gesê: “Laat die aarde verskillende soorte diere oplewer: alle soorte klein- en grootvee, kruipende dinge en wilde diere.” En dit was so. God het toe al die verskillende soorte wilde diere gemaak asook alle soorte klein- en grootvee en al die kruipende dinge op aarde. En God was baie tevrede met die diere wat Hy gemaak het. Toe het God gesê: “Kom Ons maak ’n mens, ’n mens wat iets van My in hom het en selfs ’n bietjie soos Ek lyk. Hy sal oor die visse in die see regeer asook oor die voëls in die hemel. Hy sal die klein- en grootvee asook al die wilde diere tem. Hy sal oor al die kruipende diere op die aarde heers.” God het toe die mens gemaak. En dié mens het iets van God in hom gehad. Dié mens het soos God gelyk. God het ’n man en ’n vrou gemaak. God het hulle toe geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en kry baie kinders, so baie dat julle oral oor die aarde sal bly. Tem die aarde en heers daaroor. Heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en al die diere op die aarde.” God het verder gesê: “Kyk, Ek gee jou elke plant wat saad dra asook elke vrugteboom op aarde as jou kos. En vir al die diere op die land, al die voëls in die lug en al die diere wat op die aarde kruip, gee Ek die groen plante. Dit sal hulle kos wees.” En dit was so. God het alles wat Hy gemaak het, goed bekyk en Hy was baie tevrede daarmee. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die sesde dag van die skepping.
GENESIS 1:20-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het verder beveel: “Laat die waters wemel van lewende wesens en laat voëls bo in die lug oor die aarde vlieg.” God het die groot seediere geskep, al die verskillende soorte wesens wat in die water lewe, asook al die baie soorte voëls. God was tevrede met wat Hy gesien het. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die oseane en laat die voëls op die aarde vermeerder.” Dit het op die vyfde dag gebeur. God het weer beveel: “Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer: mak diere, diere wat kruip en wilde diere – almal na eie aard.” Dit het presies so gebeur. So het God allerlei soorte wilde diere gemaak, mak diere en diere wat op die grond kruip. God het gesien dit was goed. God sê toe: “Laat Ons ’n mens maak wat met Ons ooreenstem om te heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, en oor alles wat op die aarde kruip.” God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde.” Verder sê God: “Let op, Ek het aan julle al die plante wat saad dra, gegee en al die bome wat vrugte en saad gee. Dit is vir julle om van te eet. Maar die groen gras en plante gee Ek aan al die diere op die aarde, die voëls in die lug en die klein diertjies wat op die aarde kruip.” Dit het so gebeur. God het na sy handewerk gekyk en dit was baie goed. Dit alles het God op die sesde dag gemaak.