GALASIËRS 3:1-14

GALASIËRS 3:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor – julle voor wie se oë Jesus •Christus voorheen as gekruisigde uitgebeeld is? Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? Is julle so dwaas? Julle het met die Gees begin; wil julle nou met die vlees eindig? Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! Gee Hy dan vir julle die Gees, en verrig Hy kragtige dade onder julle, op grond van die uitvoering van die wet, of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham. En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof regverdig sou verklaar, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën. Trouens, diegene wat op die uitvoering van die wet staatmaak, val onder 'n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie hou by alles wat in die Wet geskryf staan, en dit nie uitvoer nie.” En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Die mens wat hierdie dinge doen, sal hierdeur leef.” •Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet deurdat Hy in ons plek 'n vervloeking geword het, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.” Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus, na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.

GALASIËRS 3:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Julle in Galasië moenie so dom wees nie! Ek het vir julle gepreek en so goed verduidelik dat Jesus Christus gekruisig is. Maar dit lyk vir my iemand het julle getoor en julle koppe deurmekaar gemaak. Daar is een baie belangrike ding wat julle moet onthou: God het vir julle die Heilige Gees gegee. Hoekom? Nie omdat julle doen wat die wette sê nie, maar omdat julle die goeie boodskap gehoor en geglo het. Julle moenie so dom wees nie! Toe julle begin glo het, het die Heilige Gees in julle begin werk, maar nou wil julle die werk met julle eie krag klaarmaak. Daar het so baie dinge met julle gebeur, en nou lyk dit of dit alles niks gehelp het nie. Ek hoop nie so nie! God gee vir julle die Heilige Gees en God doen wonderwerke in julle gemeentes. Hoekom doen Hy dit? Hy doen dit omdat julle die goeie boodskap gehoor het en dit glo, nie omdat julle doen wat die wette sê nie. Dit het ook met Abraham gebeur: Hy het God geglo en God het hom vrygespreek van sy sonde. Daarom moet julle dit weet: Die kinders van Abraham is die mense wat in Christus glo. Die Ou Testament het lank gelede gesê dat God die heidene sal vryspreek van hulle sonde omdat hulle glo. Daarom het God hierdie goeie boodskap vir Abraham gegee: Ek seën jou, en daarom sal Ek ook al die heidene seën. Daarom moet julle dit weet: God het vir Abraham geseën en God seën almal wat glo soos Abraham glo. Daar is mense wat dink God spreek hulle vry omdat hulle doen wat die wette sê, maar God vervloek hulle. Want in die Ou Testament is geskryf: God vervloek elkeen wat nie alles doen wat in die wette geskryf is nie. Ja, dit is waar. God spreek nie mense vry omdat hulle doen wat die wette sê nie. As mense doen wat die wette sê, dan spreek God hulle nie vry nie. Want in die Ou Testament is geskryf: Wanneer God mense vryspreek omdat hulle glo, dan sal hulle lewe. Die wette vra nie dat mense moet glo nie, die wette vra dat die mense moet doen wat die wette sê. Want in die Ou Testament is geskryf: Elkeen wat doen wat die wette sê, sal lewe omdat hy dit gedoen het. Ja, God vervloek almal wat nie doen wat die wette sê nie. Maar God het ons nie vervloek nie, Hy het Christus vervloek in ons plek. Want in die Ou Testament is geskryf: God vervloek elkeen wat aan 'n houtpaal hang. En so het Christus ons vrygemaak. Daarom kon die heidene God se seën kry, die seën wat Hy vir Abraham belowe het en wat Hy nou vir hulle gee omdat hulle aan Christus Jesus behoort. Daarom kon ons wat glo, die Heilige Gees kry, die Gees wat God vir ons belowe het.

GALASIËRS 3:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

O, ONVERSTANDIGE Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang — sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.

GALASIËRS 3:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as 't ware aan die kruis kon sien hang! Net een ding wil ek van julle weet: Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? Was al julle swaarkry dan verniet? Dit kon tog nie verniet gewees het nie! Hy wat julle met die Heilige Gees toerus en kragtig onder julle werk, doen Hy dit omdat julle die wet onderhou of omdat julle die evangelie glo? So was dit ook met Abraham: “Hy het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is. Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring: “In jou sal al die nasies geseën word.” Dit is dus dié wat glo, wat saam met die gelowige Abraham geseën word. Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.” En dat niemand op grond van die wet deur God vrygespreek word nie, is duidelik, want “hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” By die wet gaan dit egter nie om die geloof nie, maar om die daad, want daar staan: “Hy wat dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is.” Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.

GALASIËRS 3:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

O, dwase Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, voor wie se oë Jesus Christus klaarblyklik geopenbaar is, onder julle gekruisig? Net dit wil ek van julle leer: Het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die gehoor van die geloof? Is julle so dwaas? het julle in die Gees begin, is julle dan nou deur die vlees volmaak? Het julle so baie dinge tevergeefs gely? as dit nog tevergeefs is. Hy dan wat julle die Gees bedien en wonders onder julle doen, doen hy dit uit die werke van die wet of deur die gehoor van die geloof? Net soos Abraham God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Weet julle dan dat die wat uit die geloof is, hulle kinders van Abraham is. En die Skrif, wat voorsien het dat God die heidene sou regverdig deur die geloof, het voor die evangelie aan Abraham verkondig en gesê: In jou sal al die nasies geseën word. So word dan die wat uit die geloof is, geseën met die getroue Abraham. Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat in die boek van die wet geskrywe is om dit te doen nie. Maar dat niemand deur die wet voor God geregverdig word nie, dit is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. En die wet is nie uit die geloof nie, maar: Die mens wat dit doen, sal daarin lewe. Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word, want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n boom hang! Sodat die seën van Abraham oor die heidene kan kom deur Jesus Christus; sodat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.

GALASIËRS 3:1-14 Die Boodskap (DB)

Dit lyk my julle klomp Galasiërs het intussen die kluts heeltemal kwytgeraak. Ek begin my afvra of iemand julle nie dalk getoor het nie. Vroeër is die goeie nuus so duidelik aan julle verkondig dat julle Jesus Christus met julle eie oë aan die kruis kon sien hang. Wat het intussen skeefgeloop? Sê my, hoe het julle deel gekry in die krag van die Heilige Gees? Was dit deur te doen wat die wet sê? Of deur die goeie nuus te glo? Ja, natuurlik: deur te glo! Julle is regtig die kluts kwyt. Julle het vroeër reg begin: in die krag van die Heilige Gees. En nou? Nou eindig julle in julle eie krag. Was alles wat julle moes deurmaak ter wille van julle geloof dan heeltemal verniet? Dit kan mos nie waar wees nie! God wat julle met sy Gees vervul het en wat groot wonders onder julle doen, doen nie hierdie dinge omdat julle die wet so streng gehoorsaam nie. Of hoe? Nee, Hy doen hierdie dinge onder julle omdat julle die evangelie glo. Dink aan Abraham. Hy het in God geglo. Daarom was sy verhouding met Hom reg. Weet julle, ons almal wat in God glo, is ook Abraham se kinders. Die Bybelskrywers het lankal geweet dat God mense uit ander volke wat in Hom glo, van hulle sondes sou vryspreek. Abraham het ook hierdie goeie nuus gehoor. Daar is vir hom gesê: “Jou geloof sal nog maak dat al die volke op aarde eendag God se seën beleef.” Weet julle, ons almal wat glo, val onder die gelukkiges wat nou deel het in die seëninge wat God aan Abraham gegee het. Dit net omdat hierdie een man bereid was om God op sy woord te neem. Almal wat probeer om self by God uit te kom deur te doen wat die wet sê, staan onder God se vloek, want daar staan in die Bybel geskryf: “God vervloek elkeen wat nie tot in die fynste besonderhede alles doen wat in die wet opgeskryf is nie.” Hierdie uitspraak wys vir ons dat niemand hulle saak met God self kan regmaak deur bloot net te doen wat die wet sê nie. Die Bybel sê immers: “Elkeen wie se verhouding met God reg is omdat hulle in Hom glo, sal lewe!” Die wet het niks met geloof te make nie, maar met dit wat ’n mens doen. Dit is presies soos daar in die Bybel staan: “Elkeen wat alles doen wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Gelukkig hoef ons nie meer alles self te probeer doen nie. Christus het ons daarvan kom vrymaak. Hy het God se vloek wat rus op almal wat nie stiptelik doen wat die wet vra nie, op sy eie skouers geneem. Dit het aan die kruis gebeur. Daar het Christus in ons plek ’n vervloekte geword. Die Bybel sê mos: “God vervloek elkeen wat aan ’n houtpaal hang.” Maar die goeie nuus is dat Christus Jesus se dood vir mense uit ander volke die kans bied om nou ook deel te hê aan die seëninge wat God vroeër oor Abraham uitgestort het. Maar dis nie al nie. Ons wat in Christus glo, het ook die Heilige Gees ontvang, presies net soos God ons belowe het.

GALASIËRS 3:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

O, dwase Galasiërs! Wie het julle getoor? Christus is dan só duidelik vir julle beskryf dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang! Ek wil net dit vir julle vra: Het julle die Gees ontvang deur die wet te onderhou of deur te glo wat julle gehoor het? Hoe kan julle so dwaas wees? Wil julle dit wat die Gees in julle begin het, nou uit eie krag probeer klaarmaak? Was al die goeie dinge wat julle beleef het, dan tevergeefs? Dit kon tog nie tevergeefs gewees het nie! Vra julle dus af: Het God die Gees vir julle gegee en wonders onder julle bewerk omdat julle die wet onderhou of omdat julle geglo het wat julle gehoor het? So was dit ook met Abraham: “Hy het God geglo en God het hom vrygespreek.” Julle moet dus insien: Die ware kinders van Abraham is hulle wat glo. Verder het die Skrif vooruit gesien dat God nie-Jode deur geloof sou vryspreek. Daarom is die Goeie Nuus vooraf aan Abraham bekendgemaak: “Deur jou sal al die volke geseën wees.” Almal wat glo, word gevolglik geseën saam met die gelowige Abraham. Maar elkeen wat op die onderhouding van die wet vertrou om deur God vrygespreek te word, is vervloek. Die Skrif sê mos: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die boek van die wet geskryf staan nie.” Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: “Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.” Maar by die wet speel geloof geen rol nie, want daar staan: “Wie dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus toe Hy vir ons ’n vervloekte geword het. Daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n paal hang.” Dit wat Christus Jesus gedoen het, het tot gevolg dat ook die nie-Joodse nasies deel kry aan Abraham se seën. Dit beteken dat ons deur die geloof die Gees wat belowe is, ontvang.