O, dwase Galasiërs! Wie het julle getoor? Christus is dan só duidelik vir julle beskryf dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang! Ek wil net dit vir julle vra: Het julle die Gees ontvang deur die wet te onderhou of deur te glo wat julle gehoor het? Hoe kan julle so dwaas wees? Wil julle dit wat die Gees in julle begin het, nou uit eie krag probeer klaarmaak? Was al die goeie dinge wat julle beleef het, dan tevergeefs? Dit kon tog nie tevergeefs gewees het nie! Vra julle dus af: Het God die Gees vir julle gegee en wonders onder julle bewerk omdat julle die wet onderhou of omdat julle geglo het wat julle gehoor het? So was dit ook met Abraham: “Hy het God geglo en God het hom vrygespreek.” Julle moet dus insien: Die ware kinders van Abraham is hulle wat glo. Verder het die Skrif vooruit gesien dat God nie-Jode deur geloof sou vryspreek. Daarom is die Goeie Nuus vooraf aan Abraham bekendgemaak: “Deur jou sal al die volke geseën wees.” Almal wat glo, word gevolglik geseën saam met die gelowige Abraham. Maar elkeen wat op die onderhouding van die wet vertrou om deur God vrygespreek te word, is vervloek. Die Skrif sê mos: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die boek van die wet geskryf staan nie.” Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: “Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.” Maar by die wet speel geloof geen rol nie, want daar staan: “Wie dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.” Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus toe Hy vir ons ’n vervloekte geword het. Daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n paal hang.” Dit wat Christus Jesus gedoen het, het tot gevolg dat ook die nie-Joodse nasies deel kry aan Abraham se seën. Dit beteken dat ons deur die geloof die Gees wat belowe is, ontvang.
Lees GALASIËRS 3
Luister na GALASIËRS 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: GALASIËRS 3:1-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's