ESEGIËL 47:9-10
ESEGIËL 47:9-10 Bybel vir almal (ABA)
Oral waar die rivier vloei, sal daar baie diere wees, al die soorte diere en baie visse. Wanneer hierdie water in die see kom, dan sal die see se water vars word. Waar die rivier se water kom, daar sal alles lewe. Vissermanne sal langs die see staan van En-Gedi tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle die visnette droogmaak. Daar sal so baie verskillende soorte visse wees soos in die Middellandse See, en daar sal báie visse wees.
ESEGIËL 47:9-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En al die lewende wesens wat wemel, oral waar die dubbele stroom kom, sal lewe; en daar sal 'n menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen gekom het; en dié waters sal gesond word, en alles sal lewe waar die stroom kom. Ook sal vissers daaraan staan, van Éngedi af tot by En-Eglaim: 'n droogmaakplek vir die nette sal dit wees; na hulle soorte sal daar visse in wees soos die visse van die Groot See, 'n menigte.
ESEGIËL 47:9-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Waar die stroom ook kom, sal dit wemel van al die soorte diere en sal daar baie vis wees. Die water loop af na die Dooie See toe en sal die see vars maak. Waar die stroom kom, sal alles lewe. Daar sal vissers langs die Dooie See staan van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Dit sal 'n plek wees waar hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Groot See, en net so baie.
ESEGIËL 47:9-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar sal allerhande lewende wesens wees wat krioel – oral waar die stroom kom, sal hulle leef; en daar sal groot hoeveelhede vis wees. Want waar hierdie water kom, sal die soutwater vars word. Alles sal leef waar die stroom kom. Daar sal vissers langs die see staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Daar sal droogmaakplekke vir sleepnette wees. Daar sal geweldig baie soorte vis wees, net soos die vis in die Groot See.
ESEGIËL 47:9-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit sal gebeur dat alles wat lewe, wat beweeg, waar die riviere ook al kom, sal lewe; en daar sal 'n baie groot menigte visse wees, omdat hierdie waters daarheen sal kom, want hulle sal genees word; en alles sal lewe waar die rivier kom. En dit sal gebeur dat die vissers daarop sal staan van Engedi tot by Eneglaim; hulle sal 'n plek wees om nette uit te sprei; hulle visse sal wees volgens hulle soorte, soos die visse van die Groot See, uitermate baie.
ESEGIËL 47:9-10 Die Boodskap (DB)
Oral waar hierdie water kom, wemel dit van al die soorte diere. En in die water is daar baie vis, want dit is vars, skoon water. In die Dooie See leef niks nie omdat die water dood is. Hierdie water sal die Dooie See se water weer vars maak. Oral waar hierdie water kom, sal alles lewe. Weet jy wat? Langs die Dooie See sal die vissers bankvas staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Waar voorheen geen lewe was nie omdat die water dood was, sal nou elke denkbare soort vis volop wees. Oral langs die Dooie See sal die vissers hulle nette droogmaak. Daar sal net soveel soorte vis wees as in die Middellandse See.
ESEGIËL 47:9-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Oral waar hierdie rivier loop, bring dit lewe. Vis sal volop wees, want hierdie water sal die soutwater vars maak. Waar die water ook al vloei, sal alles lewe. Vissermanne sal langs die oewers van die Dooie See staan en visvang, van En-Gedi tot by En-Eglajim. Die oewers sal vol nette wees wat in die son drooggemaak word. Allerhande soorte vis sal in die Dooie See wees, net soos in die Middellandse See!