Esegiël 47
47
Lewegewende water
1 Die man het my teruggeneem na die ingang van die •tempel. Kyk, water het onder die drumpel van die tempel uitgestroom aan die oostekant, die voorkant van die tempel was immers aan die oostekant. Die water het onder die tempel uit, aan die regterkant, suid van die altaar, afgevloei. 2Hy het my deur die noordelike poort uitgeneem en my buite-om laat gaan na die buitepoort wat oos front. Kyk, water het uitgeborrel aan die regterkant.
3Toe die man in 'n oostelike rigting wegstap, was daar 'n maatlyn in sy hand. Hy het duisend el afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat enkeldiep was. 4Hy het nog 'n duisend afgemeet en my die water laat oorsteek – water wat kniediep was. Hy het duisend el afgemeet en my laat oorsteek – water wat heupdiep was. 5Hy het nog 'n duisend afgemeet – 'n stroom wat ek nie kon oorsteek nie. Ja, die water het gestyg – water waarin 'n mens kon swem, 'n stroom wat nie oorgesteek kon word nie. 6Hy het vir my gevra: “Sien jy dit, mensekind?”
Hy het my weer na die stroom se wal laat terugkeer. 7 Toe ek weer terug is daar, kyk, toe is daar op die stroom se walle 'n groot aantal bome, aan albei kante. 8Die man sê toe vir my: “Hierdie water vloei weg na die oostelike streek, en loop dan af na die Araba, en kom by die see uit. In die see waar dit uitvloei, word die water vars. 9Daar sal allerhande lewende wesens wees wat krioel – oral waar die stroom kom, sal hulle leef; en daar sal groot hoeveelhede vis wees. Want waar hierdie water kom, sal die soutwater vars word. Alles sal leef waar die stroom kom. 10Daar sal vissers langs die see staan, van En-Gedi af tot by En-Eglajim. Daar sal droogmaakplekke vir sleepnette wees. Daar sal geweldig baie soorte vis wees, net soos die vis in die Groot See.
11“Sy moerasse en kuile sal egter nie vars word nie; vir soutontginning is dit bestem. 12 Aan weerskante van die stroom, op sy walle, sal allerhande vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verwelk nie, en hulle vrugte sal nie opraak nie. Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei. Hulle vrugte sal as voedsel dien en hulle blare tot genesing.”
Grense van die land
13 So sê my Heer, die Here: “Dit is die grense waarbinne julle die land moet vererf aan die twaalf stamme van Israel. Josef kry twee afgemete dele. 14Julle moet dit as erfdeel neem, elkeen met dieselfde grootte uit die land waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan julle voorvaders te gee. Hierdie land word aan julle toegewys as erfdeel.
15“Dit is dan die grense van die land:
Aan die noordekant is dit vanaf die Groot See met die pad na Getlon, Lebo-Hamat, Sedad, 16Berota, Sibrajim, wat tussen die gebiede van Damaskus en Hamat lê, en Gaser-Enon wat op die grens van Gauran lê. 17Die grens is vanaf die see tot by Gaser-Enon, aan die grens van Damaskus. Die noordelikste punt is die grens by Hamat. Dit is die noordekant.
18Aan die oostekant is dit vanaf 'n punt tussen Gauran en Damaskus; en tussen Gilead en die land Israel vorm die Jordaan die grens na die Oostelike See tot by Tamar. Dit is die oosgrens.
19Aan die suidekant is dit suidwaarts vanaf Tamar tot by die water van Meriba-Kades en met die Spruit na die Groot See. Dit is die suidgrens aan die suidekant.
20Aan die westekant vorm die Groot See die grens tot by 'n punt regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.”
Verdeling van die land
21 “Julle moet hierdie land onder julle verdeel, onder die stamme van Israel. 22Dit moet so gebeur: Julle moet dit as erfdeel aan julleself toewys en aan die •vreemdelinge wat tydelike verblyf tussen julle het en kinders verwek het by julle. Hulle geld vir julle as gebore Israeliete, as deel van die Israeliete. Saam met julle moet 'n erfdeel aan hulle toegewys word tussen die stamme van Israel. 23By die stam waar die vreemdeling tydelike verblyf het, daar moet julle hom sy erfdeel gee.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
Tans Gekies:
Esegiël 47: AFR20
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.
Bybel in Afrikaans 2020-vertaling met Deuterokanonieke Boeke © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.