ESEGIËL 36:6-15

ESEGIËL 36:6-15 Bybel vir almal (ABA)

Daarom, jy moet my boodskap bring oor die land Israel, jy moet praat en jy moet vir die berge en die heuwels, vir die waterslote en die valleie sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Nou praat Ek, Ek is baie kwaad en ontsteld omdat die volke julle verneder het. Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek tel my hand op en Ek belowe dat Ek die volke rondom julle sal verneder. En julle, Israel-berge, die bome op julle sal takke kry en vrugte dra vir my volk Israel, want my volk sal gou terugkom. Ja, Israel-berge, Ek is hier by julle. Ek sal vir julle sorg. Mense sal werk en saai op julle. Ek sal baie mense op julle laat woon, die hele volk Israel sal hier woon. Hulle sal die stede wat nou net hope klippe is, weer bou en hulle sal daar woon. Ek sal die mense en die diere op julle baie laat word. Hulle sal baie word en vrugbaar wees. Ek sal mense op julle laat woon soos voorheen en Ek sal dit beter laat gaan met julle, beter as voorheen. Julle sal weet dat Ek die Here is. Ek sal weer mense op julle laat loop, my volk Israel sal op julle loop. Hulle sal julle vir hulleself neem, en julle sal aan hulle behoort. Julle sal nie weer hulle kinders laat sterf nie.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Israel-berge, die mense sê julle eet mense op, hulle sê julle laat julle mense se kinders sterf. Daarom sê Ek: Julle sal nie weer mense op-eet nie, julle sal nie weer julle mense se kinders laat sterf nie.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. Die Here het gesê: “Ek sal keer dat die ander volke julle nie weer beledig en spot nie. Julle sal nie weer julle mense se kinders laat sterf nie.”

ESEGIËL 36:6-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Daarom, profeteer oor die land van Israel, en spreek tot die berge en die heuwels, tot die klowe en die dale: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek spreek in my ywer en in my grimmigheid, omdat julle die smaad van die nasies gedra het. Daarom, so sê die Here HERE, hef Ek my hand op: Waarlik, die nasies wat rondom julle is — hulle sal hul smaad dra. Maar julle, o berge van Israel, sal jul takke gee en jul vrugte dra vir my volk Israel; want hulle koms is naby. Want kyk, Ek kom na julle en wend My na julle toe, en julle sal bewerk en besaai word. En Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, almal saam; en die stede sal bewoon en die puinhope opgebou word. Ja, Ek sal mense en diere op julle vermenigvuldig, en hulle sal vermenigvuldig en vrugbaar wees; en Ek sal julle laat bewoon soos in jul voortyd en aan julle weldoen meer as in julle vroeër dae, en julle sal weet dat Ek die HERE is. En Ek sal mense op julle laat loop, my volk Israel; en hulle sal jou in besit neem, en jy sal vir hulle 'n erfenis wees en hulle verder nie meer kinderloos maak nie. So spreek die Here HERE: Omdat hulle vir julle sê: 'n Menseter is jy en een wat sy eie nasie kinderloos maak — daarom sal jy nie meer mense opeet en jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE. En Ek sal nie meer teen jou laat hoor die skimp van die nasies nie, en die smaad van die volke sal jy nie meer dra nie; en jy sal jou nasie nie meer laat struikel nie, spreek die Here HERE.

ESEGIËL 36:6-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Tree op as profeet vir die land Israel en sê vir die berge, die heuwels, die klowe, die valleie: So sê die Here my God: Ek praat in woede, in toorn oor die vernedering wat julle deur die nasies aangedoen is!” So sê die Here my God: “Ek lê 'n eed af dat die nasies rondom julle self verneder sal word! Maar julle, berge van Israel, moet sorg dat daar bome met takke en vrugte is vir my volk Israel, hulle terugkoms is naby. Ek sal na julle omsien en vir julle sorg: julle sal bewerk en beplant word. Ek sal sorg dat daar baie mense op julle woon, die hele Israel. Die stede sal weer bewoon word, die puinhope herbou word. Ek sal sorg dat daar baie mense en diere op julle is, en hulle sal vrugbaar wees en vermeerder. Ek laat mense op julle woon soos vroeër, dit sal met julle beter gaan as vroeër en julle sal besef dat Ek die Here is. Ek sal weer mense op julle laat loop: my volk Israel. Hulle sal julle in besit neem as hulle eiendom en julle sal hulle nie weer kinderloos laat word nie.” So sê die Here my God: “Die mense sê van julle, berge van Israel, dat julle mense opvreet en dat julle julle bewoners afskud. Maar julle sal nie weer mense opvreet nie en nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God. “Ek sal nie toelaat dat julle weer die vernederende aanmerkings van ander nasies moet aanhoor en deur hulle verkleineer word nie. Julle sal nie weer julle bewoners afskud nie,” sê die Here my God.

ESEGIËL 36:6-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Daarom, profeteer oor die grondgebied van Israel en sê vir die berge, die heuwels, die stroombeddings en valleie, ‘So sê my Heer, die HERE: “Kyk, in my heilige jaloesie en in my woede praat Ek, omdat julle die vernedering deur nasies moet verduur.” Daarom, so sê my Heer, die HERE: “Ek self het my hand opgehef en gesweer: Wat die nasies rondom julle betref – hulle sal beslis hulle vernedering moet dra; maar julle, berge van Israel, julle sal lote gee en julle sal vrugte dra vir my volk Israel, want hulle koms is naby. Ja, kyk, Ek is by julle, berge. Ek sal My na julle draai, en julle sal bewerk en beplant word. Ek sal mense op julle talryk maak – dit sal die hele huis van Israel wees, hulle almal. Die dorpe sal bewoon word, en die puinhope sal herbou word. Ek sal mense en vee op julle, berge van Israel, talryk maak; hulle sal vermeerder en vrugbaar wees. Ek sal sorg dat julle bewoon word soos in julle vroeëre tye, en aan julle goed doen, meer as aan die begin. Dan sal julle besef dat ek die HERE is. Ek sal mense, my volk Israel, op julle laat loop, en hulle sal julle in besit neem, en julle sal hulle erfenis wees. Julle sal hulle nie weer kinderloos maak nie.” “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Omdat hulle vir julle sê, ‘Land, jy verslind mense, en jy het jou nasie telkens kinderloos gemaak’, daarom, mense sal jy nie weer verslind nie en jou nasie sal jy nie weer kinderloos maak nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “Ek sal jou nie weer die vernedering deur die nasies laat hoor nie; en die bespotting deur volke sal jy nie meer verduur nie. Jou nasie sal jy nie weer laat struikel nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ ”

ESEGIËL 36:6-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Profeteer dan aangaande die land van Israel, en sê aan die berge en die heuwels, die riviere en die dale: So spreek die HERE HERE; Kyk, Ek het gespreek in my ywer en in my grimmigheid, omdat julle die skande van die heidene gedra het. Daarom, so sê die HERE: Ek het my hand opgehef, waarlik, die nasies wat rondom jou is, hulle sal hul skande dra. Maar julle, berge van Israel, julle moet julle takke uitskiet en julle vrugte dra aan my volk Israel; want hulle is naby om te kom. Want kyk, Ek is vir julle, en Ek sal my tot julle bekeer, en julle sal bewerk en gesaai word. En Ek sal mense op julle vermenigvuldig, die hele huis van Israel, dit alles, en die stede sal bewoon word en die puinhope sal gebou word. En Ek sal mense en dier op julle vermenigvuldig; en hulle sal vermeerder en vrug dra; en Ek sal julle vereffen volgens julle ou eiendomme en aan julle beter doen as aan julle begin; en julle sal weet dat Ek die HERE is. Ja, Ek sal mense op jou laat loop, my volk Israel; en hulle sal jou in besit neem, en jy sal hulle erfdeel wees, en jy sal hulle voortaan nie meer van mense beroof nie. So sê die HERE: Omdat hulle vir julle sê: U land verteer die mense en beroof u nasies; Daarom mag jy nie meer mense opeet nie en jou nasies nie meer beroof nie, spreek die HERE HERE. En Ek sal die mense die skande van die nasies nie meer in jou laat hoor nie, en jy sal die smaad van die volke nie meer dra nie, en jy sal jou nasies nie meer laat val nie, spreek die HERE.

ESEGIËL 36:6-15 Die Boodskap (DB)

“Daarom, sê vir die heuwels en berge van Israel, vir die valleie en die gelykveld, Ek, die Here, Esegiël se God, sê van hulle: Ek is kwaad oor wat die nasies rondom jou jou aangedoen het. Hulle het met jou gespot en jou beledig.” Daarom sê die Here, die God van Esegiël: “Ek sweer dat hierdie nasies volgende aan die beurt sal kom. Hulle sal ook gespot en beledig word. Maar die berge van Israel sal dan goeie oeste lewer. Wanneer my volk terugkom in die land, sal daar te veel vrugte wees om te eet. En daardie dag is naby. My volk kom een van die dae terug huis toe! Sien, Ek gee vir jou om. Ek staan gereed om jou te help. Jou landerye sal weer bewerk word. Jy sal weer oeste lewer. Ek sal Israel ’n groot en sterk volk maak. Die stede wat nou net bouvalle is, sal herbou word. Hulle sal vol mense wees. En nie net jou mense nie, maar ook jou skape en beeste sal baie word. Daar sal weer mense op jou bly, berge van Israel. Dit sal met jou beter gaan as ooit tevore. Dan sal jy weet dat Ek die Here is. My volk sal weer op jou rondloop. Ek sal daarvoor sorg. My volk sal die berge erf. Jy sal nooit weer my volk se kinders se dood veroorsaak nie.” So sê die Here, die God van Esegiël: “Die nasies spot julle, berge, en sê julle eet julle eie land se mense op. Maar dit sal nooit weer gebeur nie. Die land sal nie weer sy mense doodmaak nie. Ek sê so, en Ek is die Here, Esegiël se God. Ek sal ook nie toelaat dat daardie vreemde nasies langer met jou spot en oor jou lag nie. Hulle sal nie weer aanmerkings oor julle maak nie. Hierdie land se mense sal nie meer doodgemaak word nie,” sê die Here, die God van Esegiël.