ESEGIËL 36:37-38
ESEGIËL 36:37-38 Bybel vir almal (ABA)
Die Here, Hy wat Here is, sê: “Wanneer die volk Israel bid en dit vir My vra, dan sal Ek hulle baie laat word, so baie soos die mense se skape en bokke. Hulle sal word soos die skape en bokke van die mense wat aan My behoort, soos die skape en bokke in Jerusalem wanneer dit feestyd is. Die stede wat nou net hope klippe is, sal vol skape en bokke wees. Die mense sal weet dat Ek die Here is.”
ESEGIËL 36:37-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
So sê die Here HERE: Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape. Soos die geheiligde skape, soos die skape van Jerusalem op sy feestye, so sal die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
ESEGIËL 36:37-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
So sê die Here my God: “Ek sal ook nog dít vir Israel doen in antwoord op hulle gebede: Ek sal hulle soos kleinvee laat vermeerder. Die stede wat nou in puin lê, sal net so vol mense wees as wat Jerusalem vol kleinvee is in die feestye, kleinvee vir die offers. Dan sal Israel besef dat Ek die Here is.”
ESEGIËL 36:37-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘So sê my Heer, die HERE: “Ook nog dit sal Ek die huis van Israel toelaat om van My te vra dat Ek dit vir hulle doen: Ek sal hulle vermeerder; soos kleinvee sal die mense wees. Soos gewyde kleinvee, soos die kleinvee by Jerusalem in feestye, so sal die stede wees wat in puin lê – vol kuddes van mense. Dan sal hulle besef dat Ek die HERE is.” ’ ”
ESEGIËL 36:37-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
So sê die HERE: Ek sal nog daaroor navraag doen deur die huis van Israel, om dit vir hulle te doen; Ek sal hulle vermeerder met mense soos 'n kudde. Soos die heilige kudde, soos die kudde van Jerusalem op haar feestye; so sal die verwoeste stede vol word met troppe mense, en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
ESEGIËL 36:37-38 Die Boodskap (DB)
So sê die Here, Esegiël se God: “Ek staan reg om na Israel se gebede te luister as hulle My vra dat Ek al hierdie dinge vir hulle doen. Ja, Ek wil graag doen wat hulle vir My vra. Ek sal die mense in hierdie land so baie laat word soos die skape en beeste in Jerusalem as daar ’n groot fees aan die gang is. Die stede wat nou net bouvalle is, sal vol mense wees soos voorheen. En almal sal erken dat Ek die Here is.”
ESEGIËL 36:37-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“So sê die oppermagtige HERE: Ek staan gereed om in antwoord op Israel se gebede ook dit te doen: Ek maak die volk so baie soos skape. Hulle sal so baie word soos die offerskape wat gedurende feestye Jerusalem se strate vol loop. Die stede wat puinhope was, sal vol mense wees. Dan sal hulle besef dat Ek die HERE is.”