ESEGIËL 33:13-32

ESEGIËL 33:13-32 Bybel vir almal (ABA)

As 'n persoon altyd reg gelewe het, en Ek sê hy sal aanhou lewe, dan moet hy nie dink dít sal hom red nie, dan moet hy nie verkeerde dinge begin doen nie, want as hy verkeerd begin lewe, dan sal Ek nie dink aan die tyd toe hy reg gelewe het nie. Hy sal sterf omdat hy verkeerd gedoen het. As 'n persoon altyd verkeerd gedoen het, en Ek sê vir hom hy sal sterf, dit is seker, en hy hou op om sonde te doen en hy doen reg en hy lewe reg, dan sal hy aanhou lewe, hy sal nie sterf nie. Wanneer 'n persoon iets teruggee wat hy geneem het omdat iemand hom nie kon betaal nie, wanneer hy die goed teruggee wat hy by ander mense gevat het, wanneer hy lewe soos Ek wil hê en hy doen nie verkeerd nie, dan sal hy lewe, hy sal nie sterf nie. Ek sal nie dink aan al die sonde wat hy gedoen het nie, Ek sal hom nie daaroor straf nie. Hy doen nou reg en hy lewe reg, daarom sal hy aanhou lewe, dit is seker. Jou mense sê dit is nie reg dat Ek so doen nie, maar dit is húlle wat nie reg doen nie. As iemand altyd reg gelewe het, maar hy hou dan op om reg te lewe en hy doen verkeerd, dan sal hy sterf omdat hy verkeerd gedoen het. En as iemand altyd verkeerd gelewe het, en hy hou dan op om verkeerd te doen en hy doen reg en lewe reg, dan sal hy aanhou lewe omdat hy reg doen en reg lewe. Israel, sê julle Ek doen nie reg nie? Ek sal elkeen van julle oordeel oor wat hy doen.” Dit was die twaalfde jaar nadat ons gevangenes geword het, in die tiende maand, op die vyfde dag van die maand. Iemand wat vry weggekom het uit Jerusalem, het vir my kom sê dat die vyande die stad oorwin het. Die aand voordat die persoon gekom het, het ek gevoel die Here sit sy hand op my. Ek kon toe nie praat nie. Maar toe die persoon die volgende oggend by my kom, het die Here my weer laat praat. Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, die mense wat daar tussen die hope klippe in die land Israel woon, sê: ‘Abraham was net een mens, en hy het die land gekry. Ons is baie mense, die Here sal die land vir ons gee.’ Ek is die Here, Hy wat Here is. Jy moet vir hulle sê dat Ek sê: Julle eet vleis wat nog vol bloed is, julle is lief vir julle afgode, julle vermoor mense. Dink julle Ek moet nou die land vir julle gee? Julle wil al die probleme regmaak met die swaard, met oorlog, julle doen dinge wat Ek haat, julle maak mekaar se vroue onrein. Julle wil die land hê. Dink julle dit is reg? Nee. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Die mense wat oorgebly het en wat daar tussen die hope klippe lewe, hulle sal in oorlog sterf. Ek gee die mense wat buite in die veld is, vir die wilde diere om op te vreet. En die mense wat wegkruip in die berge of in die grotte, sal van pes sterf. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Ek sal die land verwoes, daar sal niemand meer kan woon nie, daar sal niks oorbly van alles waarop hulle trots is en wat hulle beskerm nie. Niemand sal op die berge van Israel loop nie. Hulle het dinge gedoen wat Ek haat. Daarom sal Ek die land verwoes sodat niemand daar kan woon nie. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.” “En jy, mens, jou mense praat oor jou oral langs die mure en by die deure van die huise. Hulle sê vir mekaar: ‘Kom ons gaan hoor watter boodskap die Here vir ons gestuur het.’ Dan kom hierdie volk van My almal na jou toe en hulle kom sit voor jou. Hulle luister na wat jy sê, maar hulle doen dit nie. Hulle sê met hulle mond dat hulle lief is vir jou, maar in hulle harte voel hulle anders, hulle soek die dinge wat die beste is vir hulleself. Jy is vir hulle soos iemand wat mooi sing, hy sing liedjies oor die liefde en hy speel op die lier. Hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen dit nie.

ESEGIËL 33:13-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

As Ek aan die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe, en hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg, dan sal aan al sy geregtighede nie gedink word nie, maar deur sy onreg wat hy doen, daardeur sal hy sterwe. En as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe — en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen — gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie — dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy het reg en geregtigheid gedoen, hy sal sekerlik lewe. Maar die kinders van jou volk sê: Die weg van die Here is nie reg nie, terwyl tog hulle eie weg nie reg is nie. As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sal hy ten gevolge daarvan sterwe. En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid en reg en geregtigheid doen, dan sal hy ten gevolge daarvan lewe. Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Ek sal julle oordeel, elkeen volgens sy weë, o huis van Israel! EN in die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand op die vyfde van die maand, het 'n vlugteling uit Jerusalem na my gekom met die woorde: Die stad is ingeneem! En die hand van die HERE was op my in die aand, voordat die vlugteling gekom het; en Hy het my mond geopen teen die tyd dat hy in die môre na my gekom het. So is dan my mond geopen, en ek was nie meer stom nie. Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, die bewoners van daardie puinhope in die land van Israel spreek en sê: Abraham was 'n eenling, en tog het hy die land as besitting ontvang; maar ons is baie; aan ons is die land as besitting gegee! Daarom, sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Julle eet vleis saam met die bloed en slaan julle oë op na jul drekgode en vergiet bloed — en sal julle die land as besitting ontvang? Julle steun op jul swaard, julle doen gruwels en verontreinig elkeen die vrou van sy naaste — en sal julle die land as besitting ontvang? So moet jy vir hulle sê: So spreek die Here HERE: So waar as Ek leef, die wat in die puinhope is, sal gewis deur die swaard val; en hom wat op die oop veld is, gee Ek aan die wilde diere oor om opgeëet te word; en die wat in die vestings en in die spelonke is, sal deur die pes sterwe. En Ek sal die land 'n wildernis en 'n woesteny maak, en aan sy trotse mag sal 'n einde kom; en die berge van Israel sal woes wees sonder dat iemand daar oorgaan. Dan sal hulle weet dat Ek die HERE is, as Ek die land 'n wildernis en 'n woesteny maak oor al hul gruwels wat hulle bedryf het. En jy, mensekind, die kinders van jou volk wat oor jou gesels langs die mure en in die deure van die huise — hulle spreek die een met die ander, elkeen met sy broer, en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van die HERE uitgaan. En hulle kom na jou toe soos 'n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos 'n minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.

ESEGIËL 33:13-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Wanneer Ek vir 'n goeie mens sê hy sal die lewe behou, en hy vertrou op sy goeie dade en hy pleeg onreg, sal al sy goeie dade nie in sy guns tel nie; hy sal sterf omdat hy onreg gepleeg het. En wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy sal sekerlik sterwe, en hy bekeer hom van sy sonde en hy laat reg geskied en doen reg, hy gee die goed terug wat hy as waarborg vir skuld gevat het, hy betaal terug wat hy geroof het, hy lewe volgens die voorskrifte wat lewe gee en hy pleeg nie onreg nie, sal hy lewe, hy sal nie sterwe nie. Al die sonde wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy laat nou reg geskied en hy doen reg, en daarom sal hy in die lewe bly. “Die mense van jou volk sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ maar dit is hulle wat nie reg optree nie. Wanneer 'n goeie mens sy goeie dade laat vaar en onreg pleeg, sterf hy oor die onreg. Wanneer 'n goddelose afsien van sy slegte dade en reg laat geskied en reg doen, bly hy daaroor in die lewe. Julle sê: ‘Die Here tree nie reg op nie,’ Israel? Ek sal elke mens onder julle oordeel volgens sy doen en late.” Op die vyfde van die tiende maand, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het daar iemand by my aangekom wat uit Jerusalem ontsnap het en vir my gesê: “Die stad is ingeneem!” Die mag van die Here het my in besit geneem die aand voor die ontsnapte gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat voordat die man die oggend by my gekom het. Die Here het my in staat gestel om weer te praat, ek was nie meer stom nie. Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, dié wat daar tussen die puinhope in Israel woon, sê: ‘Abraham was net een mens, en hy het die land as besitting ontvang. Ons is baie; dié land is aan ons gegee as 'n besitting!’ Sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle het aan heidense offermaaltye deelgeneem, julle het by julle afgode hulp gesoek, julle het bloed vergiet, en julle wil die land as besitting hê? Julle staan met die swaard in die hand, julle doen afskuwelike dinge, julle onteer mekaar se vrouens, en julle wil die land as besitting hê? “Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: So seker as Ek leef, wie daar tussen die puinhope is, sal afgemaai word met die swaard; wie in die veld is, sal kos word vir die roofdiere; wie in die berge en grotte skuil, sal aan pes doodgaan. Ek maak die land 'n verlate, verwoeste plek; Ek maak 'n einde aan die mag waarop hulle hulle beroem. Die berge van Israel sal verlate wees; niemand sal daar kom nie. Wanneer Ek die land 'n verlate, verwoeste plek maak oor al die afskuwelike dinge wat hulle gedoen het, sal hulle besef dat Ek die Here is.” “Mens, die mense van jou volk praat oor jou oral langs die mure en by die ingange van die huise. Hulle sê vir mekaar: ‘Kom hoor watter boodskap daar van die Here af gekom het’, hulle kom na jou toe asof dit 'n volksoptog is, hulle gaan sit voor jou, hierdie volk van My, en hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen nie wat jy sê nie. Al wat hulle doen, is om aan die begeertes toe te gee waaroor hulle gedurig praat; hulle is net uit op wins vir hulleself. Jy is vir hulle maar net soos iemand wat met 'n mooi stem liedjies vol begeerte sing en die lier goed speel; hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen niks van wat jy sê nie.

ESEGIËL 33:13-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wanneer Ek vir die regverdige sê hy sal beslis bly leef, maar hy vertrou op sy geregtigheid en doen onreg – geen van sy regverdige optrede sal in herinnering geroep word nie; deur die onreg wat hy gedoen het, daardeur sal hy sterf. En wanneer Ek vir die goddelose sê hy sal beslis sterf, maar hy bekeer hom van sy sonde, en hy doen wat reg en billik is – 'n pand gee hy, die goddelose, terug, wat geroof is, vergoed hy, volgens die vaste voorskrifte wat die lewe gee, tree hy op, en hy doen geen onreg nie – sal hy beslis bly leef; hy sal nie sterf nie. Geeneen van die sondes wat hy gedoen het, sal tot sy nadeel in herinnering geroep word nie. Wat reg en billik is, het hy gedoen; hy sal beslis bly leef. “Die mense van jou volk sê, ‘Die optrede van die Heer is onaanvaarbaar.’ Maar húlle optrede is onaanvaarbaar! Wanneer 'n regverdige van sy geregtigheid afwyk en onreg doen, sal hy daardeur sterf. En wanneer die goddelose afwyk van sy goddeloosheid en doen wat reg en billik is, as gevolg daarvan sal hy leef. Julle sê, ‘Die optrede van die Heer is onaanvaarbaar.’ Volgens elkeen se optrede sal Ek julle oordeel, huis van Israel. ” In die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand, op die vyfde van die maand, het iemand wat uit Jerusalem ontvlug het, by my aangekom en gesê: “Die stad is verslaan!” Die hand van die HERE was op my, die aand voor die een wat ontvlug het, daar opgedaag het; en Hy het my mond oopgemaak toe die man die oggend by my aankom. Hy het my mond oopgemaak en ek was nie meer stom nie. Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, dié wat op daardie puinhope in die land Israel woon, sê, ‘Abraham was net een, en hy het die land in besit geneem. Ons is baie, en aan ons is die land gegee as eiendom.’ Daarom, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die HERE: “Julle eet vleis met die bloed nog daarin; julle kyk op na julle afgodsbeelde, en julle vergiet bloed. Sal julle die land besit? Julle het op julle swaarde staatgemaak; julle het afstootlike dinge gedoen en julle het mekaar se vroue verontreinig. Sal julle die land besit?” ’ So moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “So seker as wat Ek leef, hulle wat by die puinhope is, deur die swaard sal hulle val; hy wat in die oop veld is, vir die roofdiere gee Ek hom, sodat hulle hom opvreet; hulle wat in bergvestings en grotte is, deur pessiekte sal hulle sterf. Ek maak die land 'n woesteny, 'n afgryslike plek; sy trotse krag sal tot 'n einde kom. Die berge van Israel sal verlate wees, sonder verbygangers. Hulle sal besef dat Ek die HERE is wanneer Ek die land 'n woesteny maak, 'n afgryslike plek, weens al die afstootlike dade wat hulle gepleeg het.” ’ “En wat jou betref, mensekind, die mense van jou volk praat oor jou met mekaar, langs die mure en by die ingange na die huise. Die een praat met die ander, elkeen met sy volksgenoot, en sê, ‘Kom hoor wat is die woord wat van die HERE uitgaan!’ Dan kom hulle in skares by jou aan, en my volk gaan sit voor jou en hulle luister na jou woorde, maar hulle voer dit nie uit nie. Ja, met hulle monde doen hulle hartstogtelik mee, maar hulle harte is net agter hulle onregmatige wins aan. Kyk, jy is vir hulle soos 'n hartstogtelike lied, 'n mooi klank, soos iemand wat mooi speel op snaarinstrumente: Hulle hoor jou woorde, maar om dit te doen, bestaan nie by hulle nie.

ESEGIËL 33:13-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

As Ek aan die regverdige sê dat hy sekerlik sal lewe; as hy op sy eie geregtigheid vertrou en onreg doen, sal aan al sy geregtigheid nie gedink word nie; maar oor sy ongeregtigheid wat hy gedoen het, sal hy daarvoor sterwe. Weer as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe; as hy hom bekeer van sy sonde en doen wat reg en reg is; As die goddelose die pand teruggee, gee weer wat hy beroof het, wandel in die insettinge van die lewe sonder om onreg te doen; hy sal sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Geen van sy sondes wat hy gedoen het, sal hom genoem word nie: hy het gedoen wat geoorloof en reg is; hy sal sekerlik lewe. Maar die kinders van jou volk sê: Die weg van die HERE is nie gelyk nie, maar hulle weg is nie gelyk nie. Wanneer die regverdige hom bekeer van sy geregtigheid en onreg doen, sal hy ook daardeur sterwe. Maar as die goddelose hom bekeer van sy boosheid en doen wat reg en reg is, sal hy daardeur lewe. Maar julle sê: Die weg van die HERE is nie gelyk nie. O huis van Israel, Ek sal julle oordeel, elkeen volgens sy weë. En in die twaalfde jaar van ons ballingskap, in die tiende maand, op die vyfde dag van die maand, het een wat uit Jerusalem ontsnap het, na my gekom en gesê: Die stad is verslaan. En die hand van die HERE was oor my in die aand, voordat die vrygeraakte gekom het; en hy het my mond oopgemaak totdat hy in die môre na my gekom het; en my mond het oopgegaan, en ek was nie meer stom nie. Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, die wat in daardie puinhope van die land van Israel woon, spreek en sê: Abraham was een, en hy het die land geërf; maar ons is baie; die land word ons as erfdeel gegee. Daarom, sê vir hulle: So spreek die HERE HERE; Julle eet met die bloed en slaan julle oë op na julle drekgode en vergiet bloed; en sal julle die land in besit neem? Julle staan op julle swaard, julle doen gruwels, en julle verontreinig elkeen sy naaste se vrou; en sal julle die land in besit neem? Sê so vir hulle: So spreek die HERE HERE; So waar as Ek leef, sekerlik sal die wat in die puinhope is, deur die swaard val, en hom wat in die oop veld is, sal Ek aan die diere gee om opgeëet te word, en die wat in die forte en in die spelonke is, sal deur die pes. Want Ek sal die land 'n woesteny maak, en die praal van sy sterkte sal ophou; en die berge van Israel sal 'n wildernis word, sodat niemand deurtrek nie. Dan sal hulle weet dat Ek die HERE is, as Ek die land 'n woesteny gelê het vanweë al hulle gruwels wat hulle gedoen het. Ook, jy mensekind, die kinders van jou volk praat nog steeds teen jou by die mure en in die deure van die huise, en spreek mekaar, elkeen met sy broer, en sê: Kom tog en luister wat is die woord wat van die HERE uitgaan. En hulle kom na jou toe soos die volk kom, en hulle sit voor jou as my volk, en hulle hoor jou woorde, maar hulle sal dit nie doen nie; want met hul mond bewys hulle baie liefde, maar hul hart loop agter hul hebsug aan. En kyk, jy is vir hulle soos 'n baie lieflike lied van een wat 'n aangename stem het en goed kan speel op 'n instrument; want hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie.

ESEGIËL 33:13-32 Die Boodskap (DB)

Sê nou daar is mense wat reg doen en Ek het vir hulle gesê dat hulle sal lewe, maar hierdie mense begin dan slegte dinge doen. Hulle dink dalk dat Ek hulle steeds sal laat bly lewe. Hulle dink dat die goeie wat hulle gedoen het, hulle steeds sal red. Maar Ek sê vir jou: Ek sal niks onthou van al die goeie dade wat hulle gedoen het nie. Ek sien net die slegte raak wat hulle nou doen. En sê nou maar daar is mense wat sleg is en aanhou om die slegte te doen. En dan waarsku Ek hulle dat hulle doodgemaak sal word omdat hulle so sleg is. Maar hierdie mense draai dan om en doen nie meer verkeerde dinge nie. Hulle doen wat Ek sê. As iemand hulle iets geskuld het, het hulle dalk iets waardevols gevat totdat daardie mens wat by hulle geleen het, die skuld kan betaal. Nou gee hierdie mense daardie waardevolle besittings terug. En as hulle iets gesteel het, gaan gee hulle dit ook terug. Hierdie mense doen wat Ek beveel. Ek sal hierdie mense dan nie doodmaak nie. Hulle sal lewe. Ek sal hulle nie die slegte dinge wat hulle vroeër gedoen het, verwyt nie. Ek sal hulle nie daarvoor straf nie. Ek sal nooit eens weer dink aan die slegte wat hulle gedoen het nie, want hulle het nou begin doen wat goed en reg is. Daarom sal hulle vir seker lewe. “Jou mense sê: ‘Die Here maak nie reg met mense nie!’ Maar dit is hierdie mense wat nie reg maak nie. Ek sê weer: slegte mense sal doodgemaak word oor die slegte dinge wat hulle doen. As mense wat die goeie doen, die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word. Maar as mense wat sleg doen, ophou daarmee en begin doen wat Ek sê, sal hulle lewe. En nou sê julle dat Ek nie reg doen nie? Dit terwyl Ek oor elke mens sal oordeel volgens wat hy gedoen het!” Op die agtste Januarie 585 v.C., toe ons al twaalf jaar lank gevangenes in ’n vreemde land was, het ’n man by my aangekom. Hy het uit Jerusalem gevlug. Hy het kom sê: “Jerusalem het geval!” Die vorige aand het die Here Hom op ’n spesiale manier aan my bekendgemaak. Toe kon ek weer praat, want ek was mos vir ’n lang ruk stom. Toe hierdie man die volgende oggend by my aankom, kon ek met hom praat. Toe het die Here my beveel wat om te sê. “Mens, almal wat tussen die stede van Juda bly wat in puin lê, sê: ‘Die land is ons s’n. Abraham was net een mens, en die Here het die hele land vir hom gegee. Ons is tog baie meer as hy. Die land is nou ons eiendom!’ “Sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê: Julle hou aan om my voorskrifte te verwerp. Julle eet julle vleis op maniere wat Ek beveel het julle nie mag nie. Julle offer saam met die mense van ander nasies aan hulle afgode. En julle hardloop na die afgode toe as julle hulp nodig het. Julle maak mense dood wat onskuldig is. En nou eis julle dat Ek hierdie land vir julle moet gee? Julle wil my land vir julleself hê? Julle is ’n klomp moordenaars! Julle buig voor afgode! Julle slaap by ander mans se vroue! Moet Ek dan nou hierdie land vir julle gee? “Sê vir hierdie spul mense wat die Here, die God van Esegiël, van hulle dink: So seker as wat Ek leef, julle sal daar tussen julle stede wat net bouvalle is, doodgemaak word. Ek sorg dat julle in die oorlog doodgaan. As iemand in die oop veld bly, sal die wilde diere hom vang en opvreet. Daardie mense wat in grotte en ander veilige plekke probeer wegkruip, sal van siektes doodgaan. Ek sal julle land vernietig. Julle sal niks oorhê waarop julle trots kan wees nie. Julle het gedink julle is so sterk. Daarvan sal niks oorbly nie. Ek breek selfs jou berge af sodat niemand meer oor die berge hoef te trek nie. Jou land sal gelyk soos die see wees as Ek daarmee klaar is. Ek straf selfs jou land oor jou slegte dade. Daardie dag as Ek jou land in ’n bouvallige ruïne verander het, sal hulle weet dat Ek die Here is. “Mens, jou volk skinder oor jou agter jou rug. Hulle lag en spot met jou as jy dit nie sien nie. Hulle sê: ‘Kom ons skeer die gek met Esegiël! Kom ons maak of ons wil hoor wat sy God vir ons te sê het!’ Dan kom staan hulle voor jou. Hulle maak asof hulle belangstel in wat Ek vir hulle wil sê. Hulle maak of hulle luister as jy praat. Maar hulle stel nie vir een oomblik belang om te doen wat Ek vir hulle sê nie. Hulle praat asof hulle My liefhet. Maar kom Ek sê vir jou: hierdie volk is net vir een ding lief. Geld! Hulle hardloop net agter geld aan. Dis al waarin hulle belangstel. Hulle lag lekker oor alles wat jy oor hulle kwytraak. Jy is vir hulle soos iemand wat ’n mooi stem het en liefdesliedjies sing. Dis vir hulle mooi. En hulle klap vir jou hande. Maar hulle doen niks wat jy sê nie. Jy is maar net soos iemand wat mooi musiek op die een of ander instrument maak. Hulle hoor wat jy sê, maar dis by die een oor in en by die ander een uit.

ESEGIËL 33:13-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

As Ek vir regverdige mense sê hulle sal lewe, maar hulle begin dan sonde doen en verwag dat hulle regte optrede van die verlede hulle sal red, dan sal niks van hulle goeie dade onthou word nie. Ek sal hulle oor hulle sondes vernietig. As Ek vir bose mense sê hulle sal doodgaan, maar hulle draai weg van hulle sondes en doen wat reg en goed is, soos die goed teruggee wat hulle as waarborg vir skuld gehou het, of terugbetaal wat hulle gesteel het, lewe volgens die wette wat lewe bring en nie doen wat verkeerd is nie; as hulle dit doen, sal hulle beslis lewe en nie doodgemaak word nie. Hulle sondes sal nie teen hulle gehou word nie. Hulle doen wat reg en goed is, en hulle sal verseker lewe. “Jou mense sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar dis julle wat nie regverdig optree nie! As mense wat regverdig is, wegdraai en die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word. En wanneer mense wat verkeerd doen, wegdraai en begin doen wat goed en reg is, sal hulle lewe. Mense van Israel, julle sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar Ek oordeel elkeen van julle volgens sy of haar dade.” Op 8 Januarie, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het ’n man wat uit Jerusalem ontsnap het, na my toe gekom en gesê: “Die stad het geval!” Die vorige aand het die HERE aan my verskyn en my mond oopgemaak sodat ek kon praat toe die man die volgende oggend by my kom. Toe het die HERE vir my gesê: “Mensekind, die mense van Juda wat tussen die puinhope in die land Israel bly, sê: ‘Abraham was net een mens, en tog het hy die hele land gekry. Ons is baie. Die land behoort nou aan ons gegee te word!’ Sê vir die mense die oppermagtige HERE sê: Julle eet vleis met bloed daarin, aanbid afgode en vermoor onskuldiges. Julle is moordenaars, afgodsdienaars en egbrekers! Behoort die land aan julle gegee te word? “Sê vir hulle die oppermagtige HERE sê: So seker as Ek leef, die mense wat tussen die puinhope leef, sal deur die swaard doodgemaak word. Dié wat in die oop veld bly, sal deur wilde diere doodgemaak word. Dié wat in forte en grotte wegkruip, sal van siekte doodgaan. Ek vernietig die land en die mense se trots. Hulle mag sal gebreek word. Israel se berge sal verlate lê. Niemand sal daaroor trek nie. Die dag as Ek die land verwoes het oor hulle walglike dade, sal hulle weet dat Ek die HERE is. “Mensekind, jou mense praat agter jou rug. Hulle praat oor jou in hulle huise en by hulle deure. Hulle sê: ‘Kom, laat ons gekskeer! Kom ons gaan hoor wat die profeet ons vertel wat die HERE sê!’ Hulle kom en luister ewe vroom na jou prediking, maar hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Met hulle monde bely hulle liefde, maar hulle harte is net agter geld aan. Jy vermaak hulle soos iemand wat liefdesliedjies met ’n mooi stem sing of goeie musiek maak. Hulle hoor wat jy sê, maar doen dit nie!

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid