ESEGIËL 18:30-32
ESEGIËL 18:30-32 Bybel vir almal (ABA)
Daarom sal Ek elkeen van julle oordeel oor wat hy gedoen het. Julle moet julle lewe verander en julle moet ophou om opstandig te wees. As julle dit nie doen nie, dan sal julle sonde soos 'n klip wees, en julle sal daaroor val.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. Julle moet ophou om opstandig te wees, julle moet 'n nuwe hart en 'n nuwe gees kry. Mense van Israel, hoekom wil julle sterf? Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek wil nie hê dat mense moet sterf nie, Ek wil hê hulle moet hulle lewe verander sodat hulle kan aanhou lewe.”
ESEGIËL 18:30-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here HERE. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie 'n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie. Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.
ESEGIËL 18:30-32 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek gaan julle oordeel, Israel, elkeen volgens sy eie optrede,” sê die Here my God. “Bekeer julle, bekeer julle van al julle oortredings, sodat die sonde nie julle val bewerk nie. Laat vaar al julle oortredings en kry 'n nuwe gesindheid, 'n nuwe gees. Waarom wil julle sterf, Israel? Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie,” sê die Here my God, “maar dat hy hom bekeer en bly lewe.”
ESEGIËL 18:30-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom sal Ek julle oordeel, huis van Israel, elkeen volgens sy optrede, ” is die uitspraak van die Heer, die HERE. “Bekeer julle! Draai weg van al julle oortredings, sodat dit nie vir julle 'n struikelblok word wat sondeskuld meebring nie. Werp al julle oortredings van julle af weg, dit waarmee julle oortree het, en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees. Waarom moet julle sterf, huis van Israel? Ja, Ek vind nie vreugde in die dood van een wat moet sterf nie,” is die uitspraak van die Heer, die HERE. “Bekeer julle en leef!”
ESEGIËL 18:30-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die HERE HERE. Bekeer julle en bekeer julle van al julle oortredinge; so sal ongeregtigheid nie jou ondergang wees nie. Werp al julle oortredinge waarmee julle oortree het, van julle af weg; en maak vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees; want waarom sal julle sterwe, o huis van Israel? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die HERE HERE. Daarom bekeer julle en lewe.
ESEGIËL 18:30-32 Die Boodskap (DB)
“Ek gaan elke mens oordeel volgens wat hy gedoen het,” sê die Here, die God van Esegiël. “Draai daarom weg van die slegte pad af. Moenie dat julle slegte dade julle lewe kos nie. Hou op om teen My in opstand te wees. Vra My om vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe binneste te gee. Hoekom wil julle op die slegte pad aanhou totdat Ek julle doodmaak? Ek wil nie dat julle doodgemaak word nie, mense van Israel. Draai om en loop agter My aan, en lewe,” sê die Here, die God van Esegiël.
ESEGIËL 18:30-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Daarom, mense van Israel, sal Ek elkeen van julle oordeel ooreenkomstig wat julle doen, sê die oppermagtige HERE. Draai om! Draai weg van julle sondes af! Moenie dat dit julle vernietig nie! Plaas al julle opstandigheid agter julle, en kry vir julleself ’n nuwe hart en ’n nuwe gees. Want hoekom wil julle sterf, mense van Israel? Ek wil nie dat julle doodgaan nie, sê die oppermagtige HERE. Draai terug en lewe!”