EKSODUS 4:18-26

EKSODUS 4:18-26 Die Boodskap (DB)

Moses het eers teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het vir hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my mense in Egipte om te kyk of hulle ooit nog lewe.” “Sekerlik,” het hy gesê, “jy kan gerus maar gaan.” Die Here het reeds in Midian vir Moses die versekering gegee: “Jy kan maar teruggaan Egipte toe. Die mense wat na jou gesoek het om jou dood te maak, leef lankal nie meer nie.” Moses het sy vrou en sy seun bymekaargemaak. Hulle is op donkies daar weg, terug Egipte toe. Hy het die stok waaroor God met hom gepraat het, in sy hand vasgehou. Die Here het vir Moses ’n opdrag gegee: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao van die land toe gaan. Jy moet voor hom al die wondertekens doen wat Ek vir jou gegee het om te doen. Ek sal die farao egter hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. Jy moet dan vir hom sê: ‘Die Here sê: Israel is my oudste seun, my seun wat eerste gebore is. Ek het jou laat weet dat jy my seun moet toelaat om te gaan om My in die woestyn te aanbid. Jy het geweier om hom te laat gaan. Ek gaan daarom nou jóú oudste en eerste seun laat doodgaan.’” Die Here het op Moses afgekom waar hy die nag langs die pad geslaap het. Die Here wou hom doodmaak. Sy vrou Sippora vat toe ’n mes wat van klip gemaak was en besny haar seun. Sy gooi toe die velletjie wat sy van haar seun afgesny het voor Moses se voete neer met die woorde: “Jy is my bruidegom. Jy word met bloed beskerm.” Toe sy sê “bruidegom wat met bloed beskerm word” het sy na die besnydenis verwys. Die Here het Moses toe laat staan.

EKSODUS 4:18-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moses het teruggegaan na sy skoonpa, Jetro, toe. Hy het hom gevra: “Ek wil asseblief teruggaan na my familie in Egipte. Ek weet nie eers of hulle nog leef nie.” “Jy kan met graagte gaan,” het Jetro vir Moses gesê. Terwyl Moses nog in Midian was, het die HERE vir hom gesê: “Moenie bang wees om na Egipte toe terug te gaan nie. Almal wat jou wou doodmaak, is alreeds dood.” Moses het toe sy vrou en seuns bymekaargekry, hulle op ’n donkie laat klim en die reis terug na Egipte toe begin. Hy het die herderstok, waaroor God met hom gepraat het, in sy hand gehou. Die HERE het weer vir Moses gesê: “Wanneer jy terug is in Egipte, moet jy na die farao toe gaan. Doen dan die tekens wat Ek jou geleer het. Ek sal hom hardkoppig maak. Hy sal weier om die volk te laat trek. Dan moet jy vir hom sê: ‘So sê die HERE: Israel is my oudste seun. Ek het jou beveel om my seun toe te laat om te gaan om My te aanbid. Jy het egter geweier om hom te laat gaan; daarom gaan Ek nou jou oudste seun doodmaak.’” Moses en sy gesin het langs die pad oorgeslaap. Die HERE het na Moses toe gekom om hom dood te maak. Sy vrou, Sippora, het ’n skerp mes gevat en haar seun se voorvelletjie daarmee afgesny. Sy het dit teen Moses se geslagsdeel gedruk en vir hom gesê: “Jy is nou my bruidegom wat met bloed beskerm word.” (Toe sy Moses ’n “bruidegom wat met bloed beskerm word” genoem het, het sy na die besnydenis verwys.) Die HERE het hom hierna met rus gelaat.